6 Mei 2002
’N HARTSEER DAG IN AFRIKA ...
Na aanleiding van die onnodige en uiteindelik skadelike onderonsie tussen myself en Kerkorrel wil ek net graag meer lig op die gebeure werp:
Eerstens, is die onderhoud wat Hannelie Booyens met my voor vanjaar se KKNK gevoer het, goed gedokter om die indruk te skep dat ek ’n vendetta teen hierdie “BBP” voer. Feit van die saak is dat die onderhoud van ongeveer 40 minute gehandel het oor die stand van Afrikaanse rock vandag en wat my onderskeie produksies by vanjaar se fees sou behels. Ons het hoofsaaklik gepraat oor die jong rockers wat sou optree by Kaktus en die Tassenberg Stalteater, asook oor die uitreiking van die Vloek van die kitaar-album (kompilasie van Afrikaanse rock van 1979 tot 2001).
Die enkele vrae oor Voëlvry en die verlede was vir my ’n issue on the side en nie regtig van belang nie. Inteendeel, ek het nie eers gedink dit sou deel uitmaak van die finale storie nie, juis omdat dit ou irrelevante details bevat. Groot was my ontnugtering toe die finale artikel verskyn.
Feitlik alles het gehandel oor die holruggeryde Voëlvry-dae en omtrent niks oor die hede nie. Verder het ek ook nie gesê dat ek absoluut 100% verantwoordelik was vir die finale lirieke van die songs ter sprake nie. My oorspronklike konsepte en lirieke van die songs was in elk geval baie meer direk en “hardcore” as die hoogheilige Kerkorrel se finale boring weergawes daarvan.
Dit, plus die feit dat dit vir my gevoel het of my eie kreatiwiteit in die proses verkrag is, het my weerhou daarvan om hierdie lirieke te laat registreer by SAMRO. Dis soortgelyk daaraan om met jou “muse” te slaap direk nadat sy ’n groepsverkragting beleef het. Jy het bloot net nie lus om enigiets daarmee te doen te hê na die walglike insident plaasgevind het nie.
Die feit dat hierdie argaïese issue nou opgeduik en maksimaal in die pers vergroot is, is die werk van die kunsredakteur van Die Burger en Booyens se baas. Hy smaak my en Kerkorrel ewe min. Die man is sekerlik geregtig op sy opinies. Hy het gevolglik my en Kerkorrel gerieflik teen mekaar afgespeel. Die oomblik toe ek die artikel sien het ek Kerkorrel gekontak en hom ingelig oor wat aan die gebeur was. Ek het Kerkorrel herhaaldelik versoek dat ons hierdie issue buite die media skik. Hy het egter verkies om vuil wasgoed in die publiek te was.
Nadat hy my belaster en verneder het in die pers was ek genoop om ook in die media my kant van die saak te stel. Ironies genoeg word ek nou daarvan beskuldig dat ek die onderonsie in die media begin het. George Orwell, waar is jy nou!?
Die hartseer deel is dat ’n beweging wat ontsaglik baie daartoe bygedra het dat Suid-Afrika ’n geweldvrye demokratiese oorgang beleef het, nou deur die modder gesleep word. Die Voëlvry-beweging het nie gegaan oor Raaf Rabies se kosbare goue hol nie, maar om Suid–Afrikaners te bevry van ’n bose fascis wie se denkrigting die volk se oë verblind het oor die gruwelike aard van Apartheid. Ons almal: Ek, Koos, Bernoldus, Kerkorrel, Willem, Hanepoot ens het ’n lotsbestemming gehad om te vervul. Ons moes die diaboliese waarheid oor die menseregte-vergrype van PW Botha se Apartheidsregime blitsvinnig by ons eie mense uitkry en die enigste manier was om ondergronds te gaan met Afrikaanse Rock ’n Roll as ons wapen.
Ek is dankbaar, trots en verlig om te sê dat ons uiters geslaag was in ons missie en dat die geslagte na ons vry kon opgroei, sonder die leuens en die sosiale kondisionering van die Broederbond en die Nasionale Party.
Dis juis daarom dat ek vandag so hartseer is dat ’n grootse beweging met sulke edele ideale nou deur die modder gesleep word deur een persoon se selfsugtige behoeftes. Wat my aanbetref kan Rabie al die songs vat wat Hy wil, al die geld wat Hy daaruit gemaak het en al die glorie wat Hy daarmee geniet het neem en dit in Sy rojale kloaak opdruk!
Sela! Ek beskou hierdie aangeleentheid nou as afgehandel.
Terloops, Kerkorrel en Kombuis se belaglike poging om te probeer voorgee dat ek in die verlede leef sal weerspreek word deur objektiewe resensente en senior musiekjoernaliste wat wel die talle jong groepe wat by my produksies opgetree het, kom resenseer het. Dankie dat julle die moeite gedoen het om nuwe talent te kom verken. Verder het die dawerende sukses van vanjaar se jong Kaktus vir almal bewys dat ek deurgaans poog en ook daarin slaag om altyd vernuwing in Afrikaanse Rock te bring.
Die Goue Kalf is inderdaad gekloon!
Dagga-Dirk Uys
Brief versag — Uitvoerende redakteur
terug