11 September 2006
SPOKE EN ENLIGHTENMENT - FRANCOIS ...
Beste Francois,
Weereens baie dankie vir jou vrae.
8/9 skryf jy: "Kan jy aan ons verklaar presies wat hierdie `heilige gees` bv is? Is dit bv `n spook? Daar is Chinese wat al aan my gevra het hoekom ons, Westerling-xztene nou, spoke aanbid...en ook, hoekom is Petrus dan ten spyte van so `n grote wonderwerk wreed gemartel en vermoor...het daar iets geskort met Petrus of met die wonderwerk of met die heulige, agge ek bedoel heilige spook?"
Die Heilige Gees is Satori. Satori is `n Zen Boeddhistiese term vir Enlightenment. Die woord beteken letterlik "verstaan". Satori word soms afgewissel met Kensho. Kensho verwys na die eerste insig van die Boeddha-Natuur, die "Awakening". Kensho is nie `n permanente staat van Enlightenment nie, eerder `n vlugtige, tog helder blik op ons Ware-Bestaan.
Met Kensho ervaar ons die vrymaking van ons aardse natuur, ons sonde. Met Satori word ons wedergebore. Satori is `n diep en blywende Enlightenment. Sonder Satori is "Zen geen Zen". In in elke oomblik van die lewe vind ons Satori. Net soos `n Lotus oopvou moet ons die lewe "oopvou" om Satori daarin te kan sien.
Die Heilige Gees, Die Force, Iswara, Satori, Kensho, Allah, Jahvé, Big Chief, ensovoorts, is alles begrippe en name wat ons in ons mites aan ons Alles-Magtige-Absolute-Onbekende toeken. Net soos ons begrip van spoke, begryp ons die name vir ons Alles-Magtige-Absolute-Onbekende as iets onnatuurlik.
Onnatuurlike dinge skep `n subjektiewe en irrasionele vrees. Hierdie soort vrees is een van die magtigste wapens in die toepas van ideologieë. Protestantisme en die Calvinisme is ideologieë wat hierdie vrees meesterlik uitbuit.
Katolieke en Oosterse Ortodokse beskou die natuurlike menswording van ons Alles-Magtige-Absolute-Onbekende as werklik. Omdat ons Alles-Magtige-Absolute-Onbekende in `n natuurlike formaat aan ons bekend kan wees, bring dit vrede vir elkeen wat aan hierdie mite glo. Dit maak ons werklik vry. Ons hoef nie meer aan spoke wat ons kan bang maak te glo nie!
`n Vriend van my se oupa het by die slagpale gewerk. Sy oupa het die beeste met sy vuis doodgeslaan om die slagpale geld te spaar. Sy oupa is intussen dood. As ek hierdie legende met jou deel, vertel ek nie `n spook storie nie. Dis die natuurlike verhaal van `n lewende mens, al is hy intussen dood. Die mites van Jesus Christus is ook nie spook stories nie.
Mites is nie fiksie of leuens nie. Dis die vertolking van ons bestaan met ons harte. Alle mites is gelyk. Mites maak ons lewe eg. Sonder dit sou die skepping `n leë gebeurtenis gewees het - iets soos Mars. "Niks is niks" in sulke ruimtes.
Francois, daar was al baie Enlightenments en Openbarings. Siddharta Gautama (560-480 BC) is `n Ware Profeet van ons Alles-Magtige-Absolute-Onbekende.
Miskien het jy al Life of Pi deur Yann Martel gelees. Dis ’n ongelooflike reddings verhaal wat afspeel in `n dieretuin vol duiwels, engele, orangoetangs, hiënas, sebras, en `n tier. Na `n skeepsramp land die hele spul saam met Pi, `n Indiese seuntjie, in sy reddingsboot. Hy dryf uiteindelik vir meer as ses maande saam met sy tier op die see rond.
Dis `n roman oor drome en geloof. `n Storie wat jou in God laat glo. Die boek begin met `n toer deur die wêreld se belangrikste gelowe. Pi is `n baie gelowige seun en omhels die Islam, die Hindoe, én die Christelike geloof in sy soeke na betekenis.
Twee Japannese wat die ramp na Pi se redding ondersoek glo Pi natuurlik nie. Volgens hulle is dit eenvoudig té ongelooflik! Die boek sluit af met `n amptelike verslag oor Pi se redding. Dit is pynlik om die dooie poging te lees waarin die lewe verlaag word na iets verklaarbaar.
Kom ons herwaardeer mites, fabels, legendes en sprokies. Dink aan die verhale van die waterslang, die vuurvoël, die mensbobbejaan en die tokkelossie. Daar is "bewyse" dat die waterslang mense steeds dan en wan teen die skouer spoeg. Baie mense het met hulle eie oë die tokkelossie en die mensbobbejaan gesien.
Niks het met Petrus se Enlightenment geskort nie. `n Kers verlig ander maar verteer homself. Dis maar hoe dit is.
In Genade alleen.
Cornelius Henn
terug