8 September 2006
WILLA, KADYS, PIETER R EN PASCAL ...
Willa, ek gaan probeer daai boek kry, ‘n ander insig so nou en dan help enige iemand. Dit klink na die moeite werd om te lees.
Kadys, joune ook. Ek hoop gou, ek sukkel om net SêNet te lees, maar sal probeer ‘n plan maak.
Pieter R, dankie vir die skrywe. Ek is so bly jy het “christelike gemeenskap” in die aanhalings geskryf. Ek het Christen vriende, en ek het by die meeste nog net goeie dinge ervaar. Geen veroordeling nie, net verstaan ek is nog steeds net dieselfde mens as wat ek altyd was. Gelukkig weet ek hoe om vriende te kies.
Pascal, baie dankie. Ek wou nie sommer weer in ‘n gesprek oor geloof betrokke raak nie. So baie mense sien dit so anders, en mens voel soms as jy nie dink soos die “erg” Christene nie, is jy heeltemal van die pad af.
Een van die goed wat jy skryf het my al baie laat wonder vir ‘n lang ruk. Jy skryf: “Dis die erkenning teenoor God dat geen goedheid by jou bestaan nie, want alles wat jy doen is steeds deurspek met sonde.”
Ek sukkel met daai stukkie Pascal. Ek ken dit baie goed en is nogal gereeld herinner daaraan. Miskien omdat ek is waar ek is op die oomblik met my geloof, dat dit net nog minder vir my sin maak. Iemand het geskryf oor dat ons volgens God se beeld gemaak is, en dus nie so sleg kan wees as wat ons dink nie.
Ek het al baie keer gaan sit en dink as ek iets vir iemand doen, wat presies maak dat daar tog nog sondes in is. Ek het byvoorbeeld geen verwagtinge van die persoon, ek wil nie iets vir myself daaruit hê nie, so wat is die sonde? Ek kon in erg baie gevalle nie die antwoord kry nie, en het toe maar begin glo dat ek tog baie goeie eienskappe het, waar ek nie sonde doen as ek iets vir iemand doen nie.
Ek glo dis nie wat jy bedoel het nie, maar dit klink so asof ons die heel tyd moet glo dat ons eintlik inherent “sleg” is? Ek is baie eerlik as ek vir jou sê dat ek nie dink ek is nie. Dalk deel van die time-out is om uit te werk of ek bereid is om te glo in iets wat my die heel tyd moet laat voel asof ek altyd “beter” kan word en doen, want eintlik is ek nie ‘n goeie mens nie.
My verstaan van Jesus is te beperk om dit vir my te laat glo.
Groete
Andries Wolmarans
terug