8 September 2006
SWYS EN SY WIT VOORDEEL ...
My ondervinding is dat dit vir die huidige jonger geslag moeilik is om werklik begrip te hê vir die verlede want dit lê nie in hulle ondervindingsveld nie. Dis seker moeilik om in die blink huise van vandag agter die rekenaar te sit met bakke vol kos, lugreëling, volop drank en plesier en dan begrip te hê vir die swaarkry van die verlede.
Baie mense is aan die stry oor die grondkwessie in beide die RSA en Namibië en die grondslag van alles is die swart mense wat dan nou `grondloos` sou wees. Dat die blankes noodwendig grond van die swart mense sou gesteel het. Wat van die duisende wit mense, veral die mense wat uit die WW2 gekom het, wat `n lewe gevoer het in die land en dood is sonder om ooit die voorreg te gehad het om `n stukkie grond te besit nie? Dit waarin die mense gebly het, was huurgrond of `n huurhuis. En die rede? Hulle het eenvoudig nie die geld gehad om dit te koop nie. Hierdie mense was regtig arm en het arm gesterwe en vele van hulle was in diens van die staat in die een of ander vorm. Uit `n ander hoek gesien, het hulle gemeenskapsdiens gelewer hulle lewens lank. En is hulle vergoed met gratis huise, erwe, goedkoop busvervoer, of wat ook al? Nee. As jy `n huis of `n plaas wou hê, moes jy die geld daarvoor neersit....of soveel skuld maak dat dit jou in die nag skoon bevange maak.
Ekself het nie skoolvervoer geken tot matriek nie. Ons het skool toe gestap, somer en winter. In die laerskool nog kaalvoet ook. In die winter trap jy spore in die ryp en in die somer hol jy middagtyd huis toe van skadukol tot skadukol omdat jou voete brand. Elke nuwe jaar by die laerskool het begin met die kinders wat moet help om die duwweltjies na die reën op die skoolterrein te skoffel. Veral die rugbyveld, wat `n sandveld was, was by die begin van die nuwe seisoen oortrek met duwweltjies en ons het hom so kaalvoet skoon gespeel!
Niemand het eintlik gekla nie, want almal was maar oor die algemeen relatief arm en in dieselfde bootjie. Van die plaasboere was meer welaf, maar hul kinders in die koshuis het nie `n probleem hiermee gehad nie want plaaskinders is oor die algemeen van `n ander staal gemaak as die dorpenaars.
Swys, jy is reg. Ons het arm grootgeword en niemand het ons gehelp om meer welvarend te raak behalwe die wil en harde werk nie. Die huidige gesoek van die grootste deel van die bevolking na `hand outs` maak mens gatvol want jy het uit ondervinding geleer dat geskenke niks werd is as jy dit nie self verdien het nie.
Namib
terug