5 September 2006
WAT PRAAT DJY DAN NOU? ...
Daar is twee tipes "eentaliges" wat my suur maak. Wittes en bruines.
Die eerste tipe is die Afrikaanses (of is hulle nou juis Afrikaners, want hulle is meestal wit) wat so aandring daarop om altyd net Afrikaans te praat, en om aan te hou om Afrikaans te praat al weet hulle voor hulle siel dat wie hulle ook al bedien, nie Afrikaans kan praat nie. Ek het dit baie in Gauteng gesien, en in `n mindere mate hier in die Kaap. Hulle sal in `n winkel byvoorbeeld navraag doen in Afrikaans, en dan as die verkoopspersoon in Engels antwoord, aanhou en aanhou in Afrikaans praat. Dit gebeur ook in restaurante en natuurlik, my all time favourite, op vliegtuie. Sommiges sal aandring op diens in Afrikaans, want dit is nou mos amptelik, en die "as-julle-my-geld-wil-hê-dan-bedien-julle-my-in-Afrikaans" attitude oorheers die arme siele se plat koppe.
(Die bogenoemde groep val so min of meer in dieselfde kategorie as die Afrikaanses wat altyd eerste Engels praat in winkels en restaurante. Dan kan jy voor jou siel hoor die arme ding het so een keer elke 5 jaar `n gesprek in Engels, maar nee, dis "sorrie, kên you pleese tell me the today spêsials". ......en dan die beste.....die Afrikaanse waiter antwoord terug in soortgelyke Engels!! Ek stik in my wyn!)
Die tweede tipe eentalige wat my die horries gee, is die Kaapse bruinmense wat nou weer kwansuis nie kan Afrikaans praat nie. Een van my favourite uithangplekke in Kaapstad is Lola`s in Langstraat. `n Mengelmoes van ons mense kry jy altyd daar op die hoeksypaadjie, en uitlanders ook. Een van my favourites is `n outjie uit Jordanië wat ek oorspronklik in Melville leer ken het. So lang maergat. Het altyd een of ander blonde girl. Baie toeriste kuier daar, veral backpackers, want dit is midde-in die backpacker`s lodges buurt. Die waiters wissel van `n drag queen, onwettige uitlanders en enigiemand weird of out of this world anders. So gaan ek en `n bruin vriend van my Donderdagmiddag na werk soontoe. Dis `n mooi dag in die Kaap en windstil. Daar op die sypaadjie tussen die ou Victoriaanse geboue en vlak langs Langstraat se kleurvolle gewoel, maak ons onsself tuis by die ou kombuistafels en stoele. Die jongerige maat van my kom van die Paarl af en het grootgeword daar in die skadu van die Taalmonument, maar werk nou in die buiteland. Die kelnerin kom ons bestelling neem en hy doen navraag ivm iets op die spyskaart, in Afrikaans. Die kelnerin maak asof sy nie verstaan nie en vra in `n Kaapse aksent: "sôrrie, what issit?" Kyk, die man vererg hom vir die girl en vaar uit teen mense wat in die Kaap grootword en dan skielik so stupid is dat hulle net Engels kan praat. Die meisie het oorgeslaan Afrikaans toe tussen `n gemompel deur oor mense wat so insist op Afrikaans. "No mên, our customers is English you know" kap sy nog vir oulaas terug.
Ek likes vir Taliep en sy tipe Afrikaans, want hy praat ons taal soos hy daarmee grootgeword het. En ek hou van my vriend se attitude wat sy Kaapse Afrikaans mooi praat, en nie nonsens vat van pretensieuse mense wat maak asof hulle nie kan Afrikaans praat nie, omdat dit nie cool genoeg vir hulle is nie. Maar hierdie laasgenoemde eentaliges is net so sleg vir my taal soos daai beknopte denkers wat aandring op Afrikaans waar dit werklik nie kan nie.
Ek hoop julle se pitch is reg oor die dinge.
Afrikaan
terug