4 Desember 2001
GOD SMOKKEL MET JOU KOP ...
Piet, ek wil eintlik nie oor godsdiens praat nie, want ek is nie n voorbeeldige Christen nie en ek mag dalk dierbare mense ontstig. Ek laat dus net n paar gedagtes oor die Bybel hier:
Dikwels word predikante voor die strikvraag gestel: Wat gebeur met mense wat nooit met die Bybel in aanraking kom nie?
Die antwoord is vir my heel eenvoudig: God smokkel met jou kop al lees jy nie die Bybel nie en al het jy nog nooit eers van die Bybel gehoor nie. (Bv deur Sy skepping.) God openbaar Homself op verskillende maniere, in verskillende kulture. God is meer as die Bybel, maar deur die Bybel kan jy hopelik iets van God en jouself te wete kom.
Ek verwonder my partykeer aan die maniere wat mense die Bybel lees of verstaan. Dis duisende jare oud. Dis nie n wetenskaplike handleiding nie. Dit is nie n feitelike geskiedenisboek nie. Dis nie n wetboek en reëlboek nie.
Ja, dit is vol probleme. Daar is mites en stories en liefdesgedigte en allerhande goed daarin. En daar is probleme met die samestelling en herkoms van geskrifte. Al wat ek hierop kan sê is So what? Verander dit die basiese boodskap daarin? Nee!
En wat is die boodskap? In kort: Liefde en verlossing. Dit pla my nie of die walvis regtig vir Jona ingesluk het of nie, ek dink dis n wonderlike storie en ek dink dit vertel mens iets, en ek gun my kinders so n wonderlike storie. Party mense kan gewoonlik die literêre reël suspend disbelief volg terwyl hul die grootste kak onder die son lees, maar as dit by die Bybel kom, wil hul moedswilliglik nie.
Party mense voel veilig as hul n vaste verwysingsraamwerk om hul het. Daarom wil hul nie hê mens moet die Bybel en dinge daarin bevraagteken nie. Daarom glo party mense bv in n sesdaagse skepping, en nie in evolusie nie.
Ek het vrede met hierdie mense. Party feministe het n hangup oor God n HY is. As dit hul gelukkig maak kan hul n Bybel koop waarin al die HYe met SYe vervang is. Baie mense voel veilig as hul vaste rituele volg. Dit pla my ook nie, moet net nie die boodskap miskyk nie! In baie NG kerke het daar n swart lappie van die kansel afgehang, met goudgeborduurde letters: GOD IS LIEFDE, en mense het dit misgekyk, en kyk dit nog steeds mis.
Daar is party mense wat inkonsekwenthede in God wil uitwys. Hoe verstaan ons n God van liefde wat wreedhede teenoor bv kinders toelaat? Hoekom is so baie dinge wat lekker is sonde? Ek weet nie, as julle weet, laat weet my tog! Maar dit sit nie in ons broek om alles te verstaan nie, alles in die wereld is nie rasioneel en materieël nie.
Ek het geweet van n webwerf van n ou (hy was n invalide) wat op n amateuragtige wyse al die inkonsekwenthede en leuens van die Bybel probeer uitwys het. Hy het natuurlik vreeslik aandag gekry, van dominees en ontstelde Christene. n Predikant wat ek ken wou hom per e-pos bekeer (soos baie ander), maar ek kon nie help om te dink dat God dmv die Bybel reeds soveel doen om betekenis aan die armsalige man se lewe te gee nie. Ja, die Bybel is selfs n kruk vir party ongelowiges, hoe eensaam sou die man bv nie daarsonder wees nie?
Groete
Onrusstoker
terug