8 September 2005
DIE NG KERK EN OPSPLITSING ...
Ek reageer graag op die onlangse reeks, en dikwels negatiewe media blootstelling wat die NG Kerk gehad het. Ek noem n paar voorbeelde:
• Debat oor Homoseksualisme en negatiewe berigte daar rondom
• Ds Laurie Gaum
• Ontevrede leraars en studente oor die leer suiwerheid van Teologiese Opleiding
• Debatte oor "Oop Gesprek"
• Gemeenteverklarings vir en teen die belydenis van Belhar
• Skrif interpretasie en Skrifgesag
... om maar net n paar te noem.
In die lig hiervan is ek oortuig daarvan dat die NG Kerk, soos dit vandag struktureel (Algemene Sinode, Sinode, Ring) bestaan, uitgedien is. Kom laat ek dit duideliker stel. Ek glo nié die NG Kerk het geen plek meer in SA nie, ek glo wel dat die voortbestaan van die Algemene SInode, Sinodes en Ringe se tyd uitgedien is. Ek sien dus in my geestesoog dat die NG Kerk as individuele gemeentes regoor ons land bly voortbestaan, maar dan inderdaad as indivudele gemeente, soewerein soos die gereformeerde beginsel in elk geval nog altyd was.
My motivering vir die wegdoening van die strukturele bande van die NG Kerk is as volg:
1. Toe die NG Kerke in 1962 bymekaar gekom het en die Algemene Sinode gevorm het, was dit die regte tyd daarvoor. Dit was n tyd van "saam sit wat bymekaar hoort". Republiekwording was nog vars in die geheue. Dit was ook n tydperk waarin die samelewing op n modernistiese paradigma gefunksioneer het. Besluite is van bo geneem. Daar is geglo dat probleme en bediening beter gedoen kan word as almal saamwerk in een gemeenskaplike doelwit. So het dit gekom dat die Algemene Sinode riglyne neergelê het vir predikante salarisse; besluit het waar en hoe sending- en evangelisasie sal plaasvind en allerlei ander sake en besluite is geneem namens gemeentes. Predikante in Sinodale diens was n amp wat gefloreer het. Sinodale bydraes het die finansiering vir hierdie groot "modernistiese struktuur" gevorm. Hoewel die gereformeerde beginsel steeds gegeld het dat die plaaslike gemeemte soewerein is, was teenkanting teen die Algemene Sinodale besluite, asook teen Sinodale besluite nie regtig geduld nie.
Dis alom bekend dat ons hele samelewing nie meer vandag volgens die modernistiese paradigma funksioneer nie, maar eerder post-modernistiese. Hoewel talle mense n probleem daarmee het, is dit n gegewe feit en eintlik nie iets waaroor mense besluit nie, maar eerder n natuurlike ontwikkeling. Sleutelbegrippe in die Modernistiese paradigma is universaliteit, orde, fokus op die rasionele en rede, eenheid en kontrole. Binne hierdie paradigma het die Algemene Sinode perfek gepas, om orde in gemeentes te bring, enersdenkendes bymekaar te bring, kontrole oor die voortgang en arbeid van die kerk. Die stigting van die Algemene Sinode en al sy strukture het orde gebring. Teenoor dit staan die post-modernisme wat kritiek lewer teenoor die modernisme met sleutelbegrippe soos andersheid, meervoudigheid (teenoor eendersheid), die ineenstorting van hiërargiese strukture. Ons sien dit selfs in ons opvoedingsbeleid. In postmodernisme word die verkryging van kennis nie as n doel opsigself gesien nie, maar hoe daardie kennis gebruik kan word. (Klages, M. Ongedatteer. Postmodernisme. Aanlyn artikel. (14 Augustus 2005). en Kelly, U (1997). Schooling desire: Literacy, cultural ploitics, and pedagogy. Aanlyn artikel. 14 Augustus 2005).
En interessant genoeg, is modernisme een van die teelaardes vir fundamentalisme. "Religious fundamentalism is a strong, even extreme, reaction to modernity, and must be understood in the context of modernism." En volgens hierdie onbekende skrywer bewys hy hoe fundamentalisme in alle godsdiensgroeperinge tans floreer. (Interreligious Dialogue. Aanlyn by hierdie webblad.)
In die post-modenristiese paradigma word besluite nie meer "van bo" (Algemene Sinode, Sinode, Ring) hiërargies geneem nie, maar eerder vanaf die breë instemming van "onder-af". Ons sien dit in hoe gemeentes nie meer berus by die sending- en evangelisasiewerk wat vroeër deur Sinodes verrig is nie, maar eerder self betrokke raak deur sendelinge uit te stuur en te ondersteun wat aan hulle bekend is. Daarmee saam die groeiende ontevredenheid teen hoë Sinodale aanslae. Dit het ook teweeg gebring dat baie Sinode strukture verander het, juis om hierdie nuwe manier van doen te inkorporeer, soos byv die wegdoening van PSDs vir elke dienswerk, die Sinodale Sentrums (wat terloops uitstekend inpas in n modernistiese paradigma), en meer stroombelyne Sinodale vergaderings. Ons sien dit ook in die manier hoe vergaderings deesdae gehou word; weg van die Sinodale Sentrum Sinodesaal waar daar met moderne tegnologie vir of teen gestem word, na n post-modernistiese styl van kleiner groep besprekings en konsensus. Die punt is, ons tyd en manier van doen het plek gemaak vir n struktuur soos die Algemene Sinode/Sinode/Ring.
2. My volgende motivering spreek juis die probleem aan waarmee die Sinodes en Algemene Sinode huidiglik sit, naamlik konsensus oor kontensiuese sake, soos byv homoseksualisme en die Belydenis van Belhar. Ongeag die meriete van elk van hierdie sake, indien elke gemeente "wegbreek" van die Algemene Sinode/Sinode/Ring struktuur, kan hulle die gereformeerde beginsel werklik uitleef naamlik soewereiniteit. Dit beteken dat elke gemeente self kan besluit oor Homoseksualisme, self kan besluit of hulle vir of teen die Belydenis van Belhar is ens. Dit sal vervolgens ook daarote lei dat, waar dit van pas is, gemeentes kan begin saamwerk o.g.v. belydenis en omgewing en nie hoef te wag vir die Algemene Sinde om so n wye besluit te neem wat almal tevrede sal stel nie, iets wat in ons pluralistiese samelewing eintlik nie meer moontlik is nie. Die bediening in n Wes Kaapse omgewing sien totaal anders daarna uit as n bediening in byv Polokwane. Dit is dus byna te veel gevra om n besluit te kry wat beide gemeentes se behoeftes aanspreek. Dieselfde geld vir bedieningstyle soos erediens inrigting en sang. Soewerein hoef geen gemeente te wag vir die Algemene Sinode nie en kan n besluit tot eenwording, samewerking of nie geneem word sonder om die "struktuur" te kompromiteer. Ons sien dit eintlik reeds in verklarings wat gemeentes maak oor die Belydenis van Belhar, Skrifgesag Homoseksualisme, waarmee hulle eintlik (modernisstiese gesproke), die Algemene Sinode se besluit vooruitloop.
Gemeentes kan dan kies om saam te werk met gemeentes en selfs ander kerke (wat ook almeer gebeur) in hul eie omgewing om probleme en behoeftes in hul omgewing aan te spreek, in plaas daarvan om "gedwing" te word om binne Ringsverband saam te werk.
3. So n "opbreek" van die "struktuur" sal ook daartoe lei dat gemeentes kan kies om hul belydenisgrondslag te verbreed. Indien gemeente A die Belydenis van Belhar wil aanvaar, staan dit hulle dan vry, so ook ander wat nie wil nie. Dieselfde geld vir die behoefte by sommige gemeentes om n meer beskrywende naam te kies. Samewerking sal dan geskied op n gekose doelwitte of belydenisgrondslag. Ook eenheid sal heel anders daarna uitsien. Vir jare was daar n inter-kerklike komissie wat eenheid probeer bewerkstellig het tussen die NH Kerke en die Geref Kerke. Omdat almal probeer om algehele eenstemmigheid in hulle onderskeie "Algemene Sinodes" te verkry, sal dit nooit n werklikheid word nie, maar in eie omgewing sou dit kon gebeur dat n dorp/gemeenskap kies om een te word.
Die ironie van alles is dat die beginsel eintlik nog altyd geld, naamlik die soewereiniteit van elke gemeente. Dat gemeentes so geredelik "instem" om gehoor te gee aan die Algemene Sinode/Sinode/Ring is eintlik wesenlik vreemd vir die Gereformeerde beweging, hoewel baie teoloë anders daaroor sal voel. WD Jonker was nog altyd n groot voorstaander vir institusionele eenheid en het voorts ook die kerk as instelling gelykgestel met die liggaam van Christus, terwyl iemand soos Abraham Kuyper die kerk as organisme as die liggaam van Christus beskou maar dit moeilik van die die kerk as instituut sou sê. Kuyper het so n eenheid as n bedreiging vir verskeidenheid gesien, iets wat inderdaad in ons post-moderne samelewing aan die gebeur is. Vir Kuyper was kerkverband n losse konfederasie van selfstandige kerke wat aangegaan word met die oog op bepaalde doeleindes (Theron, PF & Kinghorn, J (1989). Kerk en Kosmos: Huldigingsbundel ter ere van Prof WD Jonker. p. 95). Die grootste beswaar teen hierdie siening sou wees dat die belangrike strewe na eenheid (Joh 17) juis nie tot sy reg kom nie. Ek meen dat gemeentes, wie volledig kerk is (Heyns, JA. 1977. Die Kerk) steeds kan streef na eenheid, maar dan binne sy omgewing waar daar eenderse belange en probleme is. In so n eenheid sal belydenis en bediening die samewerking bepaal, en nie kleur, kultuur of taal nie, of selfs nie n groter institutêre eenheid nie.
Miskien was Abraham Kuyper inderdaad voor sy tyd.
Thabu Pienaar
terug