5 Oktober 2004
DIE ALEWIGE DEBAT OOR DIE TOEKOMS VAN AFRIKAANS ...
Die ewigdurende debat oor die toekoms van Afrikaans is vir ons ou bokke nogal interessant. Dit gee ons n kans om nog slimmer te wees, om nog meer ‘belangrike’ teorieë uit te droom, en, natuurlik, om nog meer wyn te drink.
Soos wanneer mens Aardklop toe gaan, want dan kan jy saam met die ander gryskoppe (ek is een van hulle) in die Boeke-Oase gaan sit en so akademies raak dat jy uiteindelik begin glo dat die taal n eksperiment is wat versigtig in n proefbuis bestudeer moet word en elke middag om presies 16:20 (wanneer al die amptenare huistoe gaan) in n donker kluis toegesluit moet word.
Maar wanneer die eindelose retoriek vir dié wat nie verskonings nodig het om nog meer wyn te drink nie, heeltemal te veel word, is dit lekker om die toekoms van Afrikaans op die regte plekke te gaan soek: net so #146;n blok of wat van die Boeke-Oase af, in die New Castillions - n donker gerookte kroeg vol jong mense wat almal, sonder uitsondering, heeltemal te veel gedrink het en heeltemal te veel geraas maak.
Hier kan jy lekker agteroor sit, gemaklik in die wete dat Afrikaans veilig in die hande van hierdie klomp useless, onverantwoordelike, langhare is. Die antwoord is baie makliker om te verstaan as om te beskryf. Hierdie mense – en hulle gaan nog op hierdie planeet rondhang lank nadat die meeste van ons bedreigdes ses voet onder die grond is – werk nie daaraan om Afrikaners te wees nie – hulle ís Afrikaners. Hulle bekommer hulle nie oor Afrikaans nie – hulle leef dit. Hulle besin nie oor die toekoms van die taal nie – hulle verseker dit net. Jannie, die lead vocalist van Bottervis, is n Koos Kombuis-fan, en hy sing baie van Koos se liedjies. As jy wil goosebumps kry, dan moet jy in hierdie kroeg gaan sit en luister hoe al die customers, elkeen van Koos Kombuis se songs, woord vir woord saamsing. As jy dán nog bekommerd oor die taal is, is dit omdat jy die antwoorde in die verkeerde woordeboek soek.
Toe ek n klein seuntjie was, kon ek nie glo dat grootmense ook once upon a time kinders was nie. Noudat ek self aan die oud word is, kan ek dit weer nie verstaan nie. Ek onthou toe ek sestien was hoe vinnig ek my brein kon afdraai as ek net so n suspicion kry dat iemand besig is om met my te manipuleer. Daar was niks – dis nou soos in absoluut fokol – wat jy my kon vertel wat ek nie wou hoor nie.
Die ouer (in albei sinne van die woord) garde het sowaar besluit dat hulle iets kan doen wat hulle ma’s nie met hulle kon regkry nie. As Afrikaans in die moeilikheid is, is dit omdat die puriste hul eie voorkeure in die volgende generasie se kele in wil afdruk. Net so min as wat jy die kinders kan oortuig dat hulle nie met drank, rook en seks moet eksperimenteer nie, net so min gaan jy hulle oortuig om die vervelige, ellelange geskrewes wat vir die korrelkoppe belangrik is, te lees.
Het julle – dis nou die ‘bewaarders’ van die Afrikaanse taal – al vergeet wat met julle ouers gebeur het toe hulle julle probeer oortuig het dat jy eerder Beethoven as die Beatles moet luister? Het julle nie met julle ore teen julle portable radiotjies in die bed gelê en luister na LM Radio nie? En is dit nie wonderbaarlik hoeveel mense uiteindelik uit eie beweging na Beethoven begin luister het nie?
Die toekoms van die taal is veilig – dit is net die toekoms van die taal soos wat julle daarop aandring wat in die moeilikheid is. Dit is menslik om dinge in die rigting te probeer dwing wat jy persoonlik verkies, maar as julle, wat julself as die “intelligentsia” beskou, die taal om ander redes behalwe persoonlike redes wil behou, dan moet julle bietjie julle act opskerp. Julle het n keuse. Dit is óf die Afrikaans wat die jongmense gebruik, óf geen Afrikaans nie. Think about it!
Vincent Pienaar
terug