10 Junie 2004
EK LAG SAAM, VIR JEANNE GOOSEN ...
“Ek lag my gat af” is vir my ’n biezondere lewensfilosofie. Ek probeer self soveel tyd as moontlik inruim vir my stokperdjie: om te glimlag. (Bloot omdat ek te blerrie lelik lyk as ek voluit lag.)
Met jou sal ek lekker kan gesels, en bietjie baklei ook. Maar dan moet ons saam om ’n pampoen gaan sit, lyk dit my. Dan kan ek ook sommer vir jou vra wat is hierdie ding wat baie mense oor pampoene het. Breytenbach het glad ’n pampoen gaan sit op Marthinus van Jaarsveld se doodskis — wrintie dan nou!
(Maar tog wil ek vrek oor pampoenkoekies. My ma het altyd pampoen gekook vir middagete, met suiker en kaneel, en dan koekies van die oorskiet gemaak vir aandete. Ek het die hele dag geleef vir daardie awendmaal. Maar laat ek herhaal en beklemtoon: dit geld net vir pampoenkoekies).
Nou wil ek darem vir jou sê, JG: ek wil-wil hier en daar met jou verskil oor Afrikaans. Net so ’n opmerkinkie of twee.
Jou waarneming by die skool in Atlantis is baie mooi. Dis betekenisvol dat die kinders so dink, maar dit kan mos nie as gesaghebbend beskou word nie. Afrikaans het nie die statuur bereik wat hy vandag beklee alleenlik omdat arm mense dit gepraat het nie — en ek sê dit met alle respek. Jy en ek kan vandag die luukse smaak van ’n moedertaal in sy huidige vorm juis omdat daar vroeër dae voor gewroeg is, en omdat daar vandag nog hard gewerk word om ten minste dit wat bereik is — op alle vlakke — te bewaar. Ek wil nie ’n klomp voorbeelde noem nie — jy’s immers op hoogte van sake. (Dit klink mos soveel beter as daai hoge “op die hoogte”.)
Maar kyk, as mens aan die voortbestaan van ’n taal dink, dan dink jy ook mos aan dinge soos formele onderwys. ’n Senior onderwysvrou sê nou die dag vir my daar is vandag slegs 2000 onderwysstudente in die land. Blykbaar in totaal. Ek gee dit nou maar aan teen dieselfde prys. (Het jy geweet ’n klomp onderwyskolleges staan leeg?) Nou wonder ’n mens waar gaan Afrikaanse, en Afrikaans-, onderwys oor sê tien jaar staan?
Jou opmerkings oor Afrikaans as ’n “witmenstaal” is ietwat onvolledig (open ended?) Ek persoonlik sien nie ons taal as slegs ’n witmenstaal nie, en ek glo nie dis ’n credo by enige huidige taalfundi of -stryder nie. En ’n goeie argument vir die teendeel, is hoeveel bruinmense (ook swartmense) hulself heelhartig in die “taalstryd” inwerp, op alle vlakke, ook waar dit die handhawing en (hopelike) voortsetting van die hoër funksies van ons almal se taal aanbetref.
Komaan 008: gooi jou strugglenet wyd!
(Luister, ek het lankal jou Pawpaw gekoop, maar probeer myself nog steeds in die psige van ’n hond insaik. Ek moet nou waai — dis pampoentyd, om dr Anton Prinsloo se beroemde anglisisme te gebruik).
Groetnis.
Swys
terug