3 Junie 2004
O KOEK, DEBORAH ...
Pas lees ek jou eet maar koek’-opmerking aan Gerrit
oor veeltalige OTMs. Lees ek jou reg as jy sê: Solank jy maar jou geld kry, kan jy nie gepla wees oor die taal/Die Taal/die tale nie. Al die Babelse keuses irriteer jou net.
SêNetters, ’n oomblikkie stilte vir Deborah. ’n Sug. ’n Getik-tik van die skoen. ’n Spiertjie wat rondom die mondhoeke trek.
Nou goed. Waarmee sal ek wegval?
’n Bekeringspreek? ’n Imbizo? ’n Consciousness-raising
session? ’n Oorwoë en innige gesprek, van mens tot mens? ’n Hipnose-sessie, of ses? ’n Geween en ’n gekners van tande? ’n Vloermoer?
Laat ek die kleine Jacomientjie maar aan die woord stel:
“Maar Ma, die tale op die OTM is dan so liéf! Jy hoef os net een ekstra knoppie te druk, dan kan jy enige taal kies wat jy wil! Of was Deborah maar net gewoond aan die Afrikaans wat vanself op die skerm verskyn
het?”
Maar nou ja, òns praat soos binnelanders. Hier waar ek in die middestad werk, staan ek altyd in ’n lang tou in ons binnenshuise OTM-kasteel. Dan loer ek
onbeskaamd watse tale al die geldspoegsoekers aanvra.
En in ons kontrei is dit: Sesotho. isiZulu. Afrikaans. En soms, net soms: Engels.
Dit maak my so bly as ek sien hoe die man met die blou oorpak en die eelthande hier voor my van die muurmasjien wegstap en Re a Leboha hom nog van agter
af vriendelik toewuif. Dan voel ek: Hier, in die kuberruim, word sy taal, sy kultuur, nou uiteindelik erken. Kyk net hoe behandel die masjien hom met respek! Sien: sy taal het sigbaar geword!
Want tot dusver was ons tale mos soos ons kinders: Hulle moet gehoor word maar nie gesien word nie! Gepraat maar nie geskryf word nie! En tog asseblief, asseblief, net nie gelees word nie! Nie as daar ’n
Meestertaal is wat alles veel beter kan uitskryf nie!
(Terloops, iemand kan gerus — gerus! — weer daardie statistiek van Pansat gaan opdiep wat aantoon dat minder as 40% van alle mense in Suid-Afrika Engels
enigsins verstaan!)
So. Ek hou van die keuse wat die OTM bied. Ek hou van die respek, die bedagsaamheid, wat uit hierdie optrede van die bankgroep spreek.
En bowenalles hou ek daarvan dat ek die
“Afrikaans”-knoppie kan druk sodat ek met Afrikaanse geld al my intermenslike transaksies op straat en
elders, tot nadeel van my algemene bankbalans, kan beklink!
Minniehaha
Ek neem die skrobbering ter harte, MinnieHH. Ek was sommer lus om onkorrek te wees en ’n onbeskofte klip in die bos te gooi. Met die “koek”-aanmerking wou ek darem, soos Gerrit uitwys, te kenne gee dat ek weet waarom dit eintlik gaan. Ek gun diegene vir wie dit belangrik is om in hul eie taal bedien te word, en diegene wat nie Engels magtig is nie, van ganser harte die keuse. — Webvoet-in-die-mond
terug