24 Mei 2004
TIENS & ENGELSE ADVERTENSIES ...
Beste Tiens
Interessante argument wat jy het, maar, in alle vriendelikheid, koop ek dit nie.
Kyk, as ’n mens in ag neem die astronomiese koste van die vervaardiging van ’n TV-advertensie, en die amper ewe astronomiese tariewe elke keer as ’n advertensie gebeeldsaai word, dan is die koste van stemoorklanking relatief min.
Die sakebeginsel dat die kliënt die belangrikste is, geld seker nog, nie waar nie? (Mens kan natuurlik bespiegel oor wie die adverteerder se kliënt is: die uitsaaistasie, of ek en jy aan die einde van die ketting).
Adverteerders let wel op die behoeftes van ’n teikengehoor — hulle sal byvoorbeeld nie elektriese ware probeer verkoop aan mense wat nie elektrisiteit het nie. En sakelui is terdeë bewus daarvan dat hulle ’n kliënt in sy taal moet aanspreek. (’n Pragtige voorbeeld is Absa se kitsbanke — hier het die Afrikaner nou self die voortou gaan neem).
Maar ongelukkig maak adverteerders misbruik van die gerieflike feit dat die Afrikaanssprekende waarskynlik die mees tweetalige groep in die land is en dat hy die Engels-bombardement sondermeer aanvaar. Terselftertyd is dit ook mos gerieflik om ’n bietjie te besuinig op oorklanking na Afrikaans en die Afrikatale. (Maar hiermee neem hulle die brood uit die monde van ’n klompie vertalers en stemkunstenaars, nè).
Adverteerders en uitsaaiers sal eers begin regopsit as hulle agterkom dat daar ’n opwelling van weerstand teen hul selfvoldaanheid en suinigheid is.
Ek neem kennis van jou opmerking oor TV vir kinders, maar kan ongelukkig nie kommentaar lewer nie, want ek kyk nooit daarna nie.
Laat ek ’n koppietjie rooibos gaan kry.
Groetnis
Swys
terug