24 Maart 2004
ENLIGHTENMENT ...
Daar is n woord noem dit maar X wat Oosterse mistici graag gebruik. Blykbaar is dit n sentrale begrip sowel in Boeddhisme as in Hindoeïsme en ander Oosterse godsdienste. Ek weet nie wat die woord in Sanskrit, Mandaryns of enige ander Oosterse taal is nie Johann Rossouw moet maar sê maar ek weet dat dit in Engels vertaal word as enlightenment. Daaruit sou n mens seker kon aflei dat dit in Duits Aufklärung en in Afrikaans verligting sal heet.
Enlightenment, Aufklärung en verligting verwys in die Weste na die filosofie van die 18de eeu die klassieke teks is Kant se Wat is verligting?. Verligting beteken vir Kant mondigwording dit wat met n mens gebeur wanneer jy vir jouself dink in plaas van om op tradisie en gesag staat te maak.
En in die Ooste? Wie weet, dalk beteken X iets heeltemal anders? Maar dan ook weer nie so anders nie, want wat dit ook al mag beteken, dit is klaarblyklik naby genoeg aan die Westerse begrip om in Engels met dieselfde woord, enlightenment, vertaal te word.
Nou is daar n interessante linguïstiese verskynsel wat ek graag verklaar wil hê. Sodra Afrikaanssprekendes en dit is letterlik net hulle in die hele wêreld wat hierdie vreemde gedrag toon oor X praat, dan gebruik hulle die Engelse woord enlightenment, nie die Afrikaanse verligting nie. Blykbaar is daar dus n subtiele betekenisverskil tussen enlightenment, Aufklärung, verlichting ens enersyds en verligting andersyds wat van so aard is dat eersgenoemde klomp begrippe X toereikend vertaal, maar laasgenoemde nie. Om sake verder te kompliseer, is die verskil tussen eersgenoemde klomp en laasgenoemde egter nou weer nie so groot dat dieselfde probleem hom tov 18de eeuse filosofie voordoen nie daar kan al die woorde, verligting inkluis, gebruik word om na dieselfde ding te verwys. Kennelik is hier n baie gesofistikeerde semantiek aan die werk! Dit is in elk geval die enigste logiese verklaring vir Afrikaanssprekendes se gewoonte om, al Afrikaanspratend, enlightenment eerder as verligting te sê wanneer hulle oor die Boeddha ens praat.
Of sou dit kon wees dat Oosterse spiritualiteit hier by ons meer Amerikaans as Oosters is? Of dalk dat die waarde vir baie dissipels eerder in die eksotiese karakter daarvan as in die substansie lê n eksotisme waarvan die gebruik van n Engelse woord waar n goeie Afrikaanse ekwivalent bestaan as simbool funksioneer? Is enlightenment n merker van die feit dat ons hier met iets weird, cool of far-out te doen het? Sou iets soos verligting te stuffy klink? Is Oosterse spiritualiteit dieselfde as styl of smaak? En wat sou Krishna, Boeddha en die ander hiervan dink?
Ek wonder maar net. Wil iemand my dalk enlighten?
Gerrit Brand
Is dit miskien omdat die Afrikaanse woord verligting swaar dra aan meer as een betekenis? Behalwe dat dit deur die politiek gekaap is, beteken dit, benewens enlightenment, ook relief. n Mens kan verligting van sooibrand, hardlywigheid en kommer ervaar. Illuminasie is ook lelik gekaap. Praat n mens van beligting klink dit weer na Teaterkunde I of restaurant-ambience. Wil iemand my ook enlighten? Deborah
terug