Expat-uithangplekke! Expats,
LitNet wil weet waar julle uithang. Stuur die naam van jou dorp of stad
“daar in die vreemde” aan expatnet@litnet.co.za,
en laat weet waar julle met ander Suid-Afrikaners kuier.
Jy kan naamloos bydra, of jou naam noem en/of jou e-pos-adres aangee.
Na wat ek verneem, word die Psalms en Gesange wat deur die susterkerke gebruik word, op die oomblik herskryf en herdig. Die nuwe sangbundels gaan glo eersdaags vrygestel word.
Die funeste gevolg gaan wees dat Totius* se lieflike berymings heeltemal uit ons kerke gaan verdwyn en nooit weer gebruik gaan word nie. Ek weet nie hoe klink die nuwe berymings nie, maar kan my nie voorstel dat dit dié van Totius sal ewenaar nie.
Wat kan mooier wees as Psalm 42?
Soos n hert in dorre streke
skreeuend dors na die genot
van die helder waterbeke
skreeu my siel na U, O God!
Ja, my siel dors na die Heer,
na die Lewensbron; wanneer
sal k, ná swerftog en benouing,
God weer sien in klare aanskouing?
Of Psalm 23?
Net soos n herder uittrek met sy skape
en hul laat neerlê in die veld van milde groen,
met sagte hand hul lei langs stille waters
so is die Heer, so het Hy ook aan my gedoen:
Hy laaf my siel en lei my swakke skrede
in vaste spoor van sy geregtighede.
Of Psalm 8?
Daar is geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid
of oral blink u Naam en majesteit.
U het, o Heer, wat troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.
As ek, o Heer, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan
wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die engle om u troon.
[...]
Ja, daars geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid
of oral blink u Naam en majesteit.
Dan praat ek nog glad nie van Psalm 18, Psalm 33, Psalm 46, Psalm 84, ag eintlik alles in die sangbundel nie.
Miskien wil julle ouens wat kerk toe gaan hierdie besluit deur die komitee teëstaan en minstens daarop aandring dat Totius se weergawes naas dié van wie ook al gesing word. Dis dalk tyd vir n volksopstand.
Die aandrang daarop dat alles toeganklik, eenvoudig en modern moet wees, het in die geval van die Bybelvertaling, veral die jongste, afgryslike weergawe, verleentheidswekkende laagtes tot gevolg gehad. As die Bybel self so banaal is, is dit sommer n maklike treetjie vandaar na die smoochy-smoochy Engelse gecroon oor die luidsprekerstelsel in die NG Kerk, nogal ! waarna ek onlangs tydens n vriendin se roudiens in die Ooste van Pretoria moes luister. As ek sy was, het ek by die dominee en die orrelis kom spook tot iets meer classy en minder common uit die kerkgebou opklink.
My indruk hier in Pretoria is dat al die Chanés, Tanyas, Strijgers en Robuerres** hulle laat meesleur deur n Moreletapark-gedrewe, hoendersop-geïnspireerde welvaartsgodsdiens waarin die soort waardes wat Totius versinnebeeld (eenvoud, opregtheid, beskaafdheid) hoegenaamd nie meer geld nie. Swak smaak vier hoogty. Tydens my vriendin se diens was die predikant se enigste metafoor en verwysingsraamwerk ...tatarata! ... Prinses Diana!
Dalk is Totius regtig te far out vir Die Nuwe Afrikaner en sy / haar Kerk. Waarskynlik is Britney Spears meer hulle scene. Maar dan is hulle nou weer te far out vir my!
Om op te som: ek sou almal wat in pragtige gedigte belangstel, ongeag of hulle kerk toe gaan of nie, ten sterkste aanraai om seker te maak dat hulle wel een van die sangbundels met die Totius-berymings bekom., terwyl hulle nog kan.
Self probeer ek nou gereeld van die psalmberymings vir my kind voorlees wanneer sy gaan slaap. Die taal daarin is so wonderlik geskakeerd, so lieflik idiomaties, en die hele pakket so beskaafd dat ek beslis nou lus voel om saam met Totius uit te roep:
Juig al wat leef, juig voor die Heer!
Dien God met blydskap, gee Hom eer;
kom nader voor sy aangesig,
en prys Hom met n lofgedig!
Sela.
* Ter wille van my jonger lesers: Totius was n predikant, dr J D du Toit, wat in Potchefstroom gewoon het. Hy was die seun van S J du Toit, wat in 1875 die Genootskap van Regte Afrikaners tot stand gebring het, en hom so vir die erkenning van Afrikaans as taal beywer het. Totius het in 1920 die opdrag gekry om die Psalms te berym. Hy was toe reeds n wonderlike digter.