18 Februarie 2004
DIE AFRIKANERFORUM ...
Beste Dirk D,
My brief aan Swys elders vandag is in wese ook reeds perspektief op jou voorstel.
Aansluitend wil ek byvoeg dat enige gesprek wat Roodt (nasionaal-sosialisties en Christelik nasionaal?) al twee jaar lank voer, oa namens-my-sonder-my-wete-of- kondonering en met klaarblyklike eensydige ontneming van my reg om persoonlik namens die individu Pieter Erasmus die woord te (mag) voer, is moontlik n gesprek per se en namens daardie soort Afrikaner wat nie genoeg verstand het om die eie woord doelmatig te voer nie en steeds verwag n Verwoerd, n Albert Hertzog of n Jaap Marais moet namens hom / haar praat wyl die enigste eie plig is om op las van die Man vir die Uur vanuit n juigkommando Hosanna! te skreeu wanneer die Profeet die skakelaartjie vir die gekondisioneerde respons druk, is nie n gesprek namens my nie. Wat Roodt dus die afgelope twee jaar hush-hush in die naam van alle Afrikaners voorgegee het, geskied dus vir een volstrek nie in my naam ook nie.
Eerstens distansieer ek my sonder voorbehoud van die eiebelang waarin dr Roodt et al hul gesprekke namens die Afrikaner voer en ook van die feit dat ek in enige opsig n Afrikaner is of in enige opsig met die betrokke vermeende kudde assosieer of identifiseer. Hul modus operandi sowel as hul vals etos staan my as iemand wat in leef en laat leef / ubuntu / audi alteram partem glo, een geen opsig aan nie. Ek is dus nie een van die onse in dr Roodt se Afrikaner-pond nie. Voorts is die Zoid-geslag ook per definisie nie deel van daai nasionaal-sosialistiese kudde nie; en na my beste wete ook nie Max du Preez – al is hy om goeie rede geen maar geen persoonlike vriend van my nie – van Zyl Slabbert – vir wie ek terloops die heel hoogste agting het – Steppenwolf, Swaeltjie, Maryna, Swys en andere. Ek wil hulle ook hoor maar ek gaan nie noodwendig saamstem nie en nimmer lid van enige kudde word.
Ek glo in n gesprek waaraan almal onbevange en as gelykwaardige individue deelneem; waarin elke tweederangse stront wat nie vir hom- of haarself kan dink nie, nie die reg het om jou te vertel jy is n stik stront net omdat hy dink dit plesier die Dan Roodts van hierdie wêreld nie. Slegs so kan die breëre posisie van Afrikaans, die taal – per se en nie enige groep wat homself eiegeregtiglik en in eiebelang goedsmoeds Afrikaner noem nie – in perspektief naas ander gelykwaardige tale gesien word.
Dirk D, ek dink jou voorstel het reeds in die belangrike kleine natuurlike gestalte aangeneem. Ons hou reeds daardie Forum hier op SêNet en ons doen dit juis nie soos dr Roodt ons vertel hy dit reeds twee jaar lank al agter geslote deure über alles doen nie. In hierdie gesprek wat n werklike free for all is, kan elke man en vrou sy of haar werklike kleur wys. Dit gee ons n breë beeld waarmee ons te doen het en so kan elkeen onbevange besluit – en sy gedagtes uitspreek of hy of sy kans sien om saam te seil op hierdie bootjie en of dit maar die bootjie moet bly that never sailed.
Daar is baie waarde in gesprek op die Internet. Potensieel is dit vir almal in die hele Global Village toeganklik want dit geskied nie hush-hush agter n Afrikaner-ystergordyn of met n toevallig-gekose skewe deeltjie van die Volk nie. Was dit nie vir die Internet nie, het ons dalk nog nie eens geweet n self-aangestelde ambassadeur wat in die eiebelang optree praat al so lank op eiegeregtige wyse namens almal van ons nie.
Ek dink dit sou prematuur wees om nou al oor te gaan tot iets meer as bloot dit wat ons reeds het. Hier het ons nie net die voordeel dat almal kan saampraat ter wille van die breëre perspektief nie; dit land ook in Deborah se Argief – dus volledig op rekord.
Ek sou in hierdie stadium hoogstens een tree verder neem. Miskien kan SêNet n afsonderlike ForumNet vir ons skep, presies om hierdie Forum daar voort te sit. Dan is alles wat om die Afrikaanse Taalforum gaan onder een dak en op een rekord; vir die nageslagte om te oordeel wie het hulle dalk vir n pot lensiesop uitverkoop.
Ek is selfs bereid om uit my gewaande rykdom soveel soos R100 per maand van my manna vir my reg tot deelname aan so n afsonderlike Forum te betaal, minstens vir twee jaar lank. Waar ek kan – ek sal nie kon weet hoe nie – is ek selfs bereid om vanuit The Great Gatsby se letterlik klein studeerkamertjie ook nog letterlik gratis te help – as ek kan en as dit moet. Na die twee jaar kan ons rekenskap van ons rentmeesterskap doen en besluit oor die verdere pad en aard van ons Forum oor Afrikaans vorentoe. One small step at a time, rather than a suicidal giant leap down the drain, klink vir my na n gesonde benadering binne die raamwerk van Jan Smuts se raad to let things rather develop naturally.
Maar om die malende massa lawa nou reeds in n bepaalde vorm te wil giet, is om Mount Vesuvius te probeer vertel sy reg op uitbarsting word op las van die gode op die Berg Olympus summier ingetrek.
Sodanige ryp druk is die vinnigste manier van n reeds wankelmoedige Afrikaans finaal vir die honde gooi. Daars genoeg mammies wat sê sny die outjie in twee, maar gee my net my deel.
Pieter Erasmus
terug