7 Januarie 2004
ENGFRIKAANS ...
In haar toespraak tydens n colloquium oor Gemixde Afrikaans kom mens agter dat Jackie Nagtegaal weldeeglik besef presies hoeveel van n Juggernaut Engels werklik is. Sy maak tereg die afleiding dat:
… die van ons wat vatbaar is vir suggestie gaan tog die taal van blootstelling in ons daaglikse gebrabbel opneem. Dis mos logies. Die enigste manier om dit te beveg is om te maak soos die Afrikaner nog altyd in tye van krisisse maak: ons trek laer, steek doringtakke tussen die waens en hou die kinders binne en die gevaar buite.
Dit is so. As jy aangeval word, al loods jy n teenaanval, moet jy heel eerste sorg dat jy nie kwesbaar is nie. Die Amerikaners het ook so laer getrek; almal, afhangend van die omstandighede, maak gebruik van die een of ander verdedigingsmeganisme. Die bokser lig sy vuiste, die ridder trek sy harnas aan, buffels vorm n kring om die kallers en koeie, die landheer haal die brug op en die gewone man sit diefwering voor sy vensters en lemmetjiesdraad om sy eiendom. NIEMAND stel homself willens en wetens bloot aan gevaar nie.
Kennelik propageer Jackie nie laertrek nie. So, wat sê sy nou eintlik? Dat ons maar gods water oor gods akker moet laat loop?
Lucas Malan in sy toespraak by dieselfde geleentheid slaan die spyker op die kop: Engfrikaans is n vorm van kruiperigheid.
Jackie is halfpad reg wanneer sy sê sy vermoed dit gaan oor die Engelse oorlog. Daar is seker by heelwat van die ouer mense nog baie onaangename herinneringe oor daardie oorlog en ek twyfel of jy enige van hulle kan kwalik neem dat hulle moeilik aan hierdie verbastering sluk. Ek vermoed daardie selfde gevoel heers ook onder die meeste Hollanders ten opsigte van die Duitsers; haar pa kan haar dalk hieroor inlig. Net so wat betref die Sjinese en die Japannese, die Pole en die Russe, die Hutus en die Tutsis, die Vlaminge en die Wale en die Matabeles en die Shonas om maar n paar te noem. Dit is nie n vreemde verskynsel nie.
Soos ek sê, sys halfpad reg. Dit gaan egter hoofsaaklik om n oorname af te weer. Haar argumente oor Holfrikaans en Xhofrikaans hou nie water nie. Hollands of Xhosa hou geensins n bedreiging vir Afrikaans in nie maar Engels, vanweë sy alomteenwoordigheid, wel. Dit is dan mos logies dat jy jou verdediging gaan toespits op waar die grootste gevaar dreig.
Nog n faktor is die traagheid onder die ander volkere om Afrikaans te praat; hulle verkies Engels omdat, onder andere, Engels nie n hoflikheidsvorm het nie. Met Engels is n ge-jy en -jou by verstek maar in Afrikaans mag die hoflikheid teenoor n vreemde dalk verkeerdelik vertolk word as gedienstigheid of onderdanigheid. Dus, speel veilig en praat Engels. (Die Engelse is natuurlik slim en beskryf hulle taal se gebrek aan n hoflikheidsvorm as dat die ander tale a less developed egalitarian ethic sou hê.)
Die jong en vir suggestie vatbare Afrikaner voel hierdie afkeer aan en in n poging om nie met die omies met die grys pakke geassosieer te word nie, klim hy ast ware van hierdie troontjie af en praat soos n moegoe, n lieplapper. Die jong en maklik beïndrukbare Afrikaner praat dus nie so uit hoofde van n gebrek aan taalvaardigheid nie, hy word ook nie gedwing deur die met n gebrek aan taalvaardigheid om hierdie gemengde taal te gebruik nie nee, hy praat so omdat hy vermoed iemand mag dink hy is aanstellerig.
n Ene Theodore Dalrymple skryf oor hierdie verskynsel (aksente in sy geval) in Engeland (The Spectator, artikel Thick Accents iewers in 2001). Hy stel dit as volg:
It seems to me unlikely that the changes that have come about are the result of any welling up of an insistent or irresistible demand from below. No: this is yet another sign of that peculiar combination of self-hatred and pusillanimity that characterises what Marxists used to call the ruling class.
Hy gaan voort en beskryf hierdie afklim van die gewaande troontjie (in ons geval lieplapper-Afrikaans) as n manifestasie van the now almost obligatory genuflection in the direction of popular culture.
Ek kan Jackie nie eintlik kwalik neem dat sy haar taal so verkrag nie; sys jonk en vatbaar vir suggestie. Ek kan nie Jackie se pa kwalik neem dat hy haar nie aanspreek omdat sy haar Afrikaans so met Engels verbaster nie want hys n Hollander en Hollanders het n heilige ontsag vir Engels en die Engelse. Ek kan nie Jackie se ma kwalik neem dat sy nie met Jackie raas nie want sys Jackie se ma. Dit is egter my gat se deksel dat daar professorinne en goed is wat nie alleen nalaat om Jackie oor die vingers te tik nie maar haar nog sterk in haar kwaad, kan jy glo. Plaas laat hulle vir Jackie sê dis OK om korrek te praat. Dalrymple stel dit mooi: Cultural refinement is suspect precisely because it is by nature elitist, almost no one makes the important distinction between elitism and social exclusivity, which are by no means the same. Aan die ander kant, miskien is hulle (haar ouers) net so vatbaar vir suggestie en praat dalk net soos Jackie.
Ter afsluiting haal ek weer vir Dalrymple aan:
The attack on perceived pronunciation [Standaard-Afrikaans in ons geval] is only a particular instance of the relatavist notion that there is no higher or lower, no better and worse, no correct and incorrect, and therefore nothing to aim at or aspire to.
Ek dink Jackie moet weer die Moenie Steur nie-teken op haar deur gaan sit en nog n slag gaan dink; hierdie ding gaan toe nie oor die jonges en die arty fartys wat net probeer cool wees, of gryspak-omies met bewaring op die brein nie. Jackie het genoeg verstand en talent om nie van allerhande na-aaptegnieke gebruik te maak om in te wees nie.
Groetnis,
Jan Rap
terug