12 November 2003
VIR DJ D’ARC ...
Beste DJ,
Op 25 November reageer jy op ’n vorige skrywe van my en sê dat dit “... bietjie vergesog is om die beoefening van wetenskap met die taalgebruik rondom braaivleisvure te vergelyk.” Ek het dit vertolk as ’n beskuldiging, naamlik dat ek wetenskapbeoefening sou vergelyk met taalgebruik rondom braaivleisvure.
As jy sê dit is nie, dan aanvaar ek dit so, jy is immers die ou wat dit geskryf het. Ek kon my ook swak uitgedruk het; ek het maar net bedoel as mens nie jou taal op ALLE gebiede aanwend nie, van wetenskap beoefen tot braaivleis pleeg, gaan jy hom uiteindelik verloor.
Jou teenvoeter hier is: “Wat beteken ’n PhD-verhandeling vir die internasionale wetenskaplike gemeenskap as hy Afrikaans is?” Wel, dink ’n bietjie daaraan: ’n Groot gedeelte van die internasionale wetenskapgemeenskap is Nederlanders of Belge, hulle sal die verhandeling sonder moeite verstaan. Baie Duitsers wat na aan die Nederlandse grens woon kan Nederlands praat en hulle lede van die wetenskapgemeenskap sal ook geen probleem met die Afrikaanse verhandeling hê nie. Dan is daar nog ook die talle Europeërs wat aan die Nederlandse universiteite gestudeer het en ook vir hulle sal die Afrikaans van jou verhandeling nie ’n struikeblok wees nie.
In Amerika, Australië, Nieeu-Seeland, die VK en Kanada sal daar kwalik ’n wetenskaplike wees wat nie ’n Afrikaanse akademikus ken of van weet nie, met die dat ons mense nou hierdie plekke so oorstroom het. So, vir hulle, met ’n bietjie moeite, gaan hierdie verhandeling ook toeganklik wees.
Maar, selfs al word al bogenoemde buite rekening gelaat, as daar iets in die verhandeling is wat een of ander wetenskaplike nodig het om sý verhandeling ’n treffer te maak gaan hy dit lees, al betaal hy ’n Euro per woord om dit te laat vertaal. Dink maar aan Eugene Marais; Maeterlinck sou nooit Die Siel van die Mier gesteel het as dit nie die moeite werd was nie.
Ook het die feit dat Eugene Marais dit in Afrikaans geskryf het geweldig baie, ambassadeursgewys kan jy maar sê, vir die Afrikaner beteken. Ten spyte van die Engelse propaganda tot die teendeel het die wetenskaplike wêreld die Afrikaner begin sien vir die vindingryke wese wat hy wel is.
So, indien daar gereeld Afrikaanse werke van hierdie kaliber verskyn het, sou die internasionale gemeenskap daarop gesit en wag het soos die kinders van die wêreld op die Harry Potter boeke. Hulle sou verhandelings uit die promotors se kantore gaan steel het. Jy kan dus by al bogenoemde mense dan nog al die wetenskaplikes voeg wat spesiaal Afrikaans gaan leer omdat Afrikanerwetenskaplikes sulke baanbrekerswerk doen, en hardnekkig weier om hulle verhandelings in Engels te doen.
Om op te som: ’n PhD-verhandeling in Afrikaans beteken vir die internasionale wetenskapgemeenskap presies net soveel as ’n Engelse ene EN hy is van onskatbare waarde vir die Afrikaner-image. ’n Engelse verhandeling, daarenteen, beteken vir die Afrikaner niks. Nie dat ’n ou wetenskaplike verhandelings skrywe vir beeldbou nie, maar ’n waardevolle neweproduk is nie te versmaai nie.
Laat my egter haas om by te voeg dat dit nie nou op hierdie stadium van ouens soos jy en Ekke verwag kan word om nou skielik hulle verhandelings in Afrikaans te doen nie; individue kan nie nou die sisteem beveg nie. Tog so jammer ons het nie lankal begin nie. Of liewer, ons hét lankal begin, tog so jammer ons het so nege jaar gelede opgehou.
Groetnis,
Jan Rap
terug