8 September 2003
MEERTALIGHEID (VIR GERRIT BRAND) ...
Beste Gerrit
Jou brief van 3 September verwys (aangaande die Novell vs. Microsoft analoog waarop jy uitstekend en inspirerend reageer het op Free Citizen). In hierdie brief vertel jy vir die Afrikaansprekende slapgatte (dis nou die ouens wat sê hulle is Afrikaans maar verkies om alles in Engels te doen omdat dit vir hulle en hulle kinders makliker is) hoe dit eintlik beter is om meertalig te wees. Om terug te gaan na die analoog toe – dis logies dat n persoon meer werd is wat Microsoft probleme SOWEL AS Novell probleme kan oplos.
Jou brief inspireer my om met n groter passie meertalig te wees: nog meer as wat ek self besluit het na aanleiding van n gebeurtenis wat verlede jaar met my gebeur het: By n sekere universiteit is tweedejaar ingenieurswese studente verplig om n voorlegging en optrek van n besigheidsplan in Engels te doen om kamtig te oefen vir wanneer hulle gaan werk. Hulle kan dit nog nie eers ordentlik in hulle eie taal doen nie, nou moet hulle twee spreekwoordelike brûe tegelykertyd oorsteek. In elk geval, ek het per ongeluk daarvan te hore gekom en alles in my vermoë gedoen om die (een van die slapgat Afrikaanssprekendes) dosent te oorreed om eerstetaal Afrikaanssprekendes die geleentheid te gun om die voorlegging in Afrikaans aan te bied. Weke se vergaderings met Studenterade, briewe aan registrateure, later selfs gedreig om die taalombudsman in te kry. Uiteindelik moes die dosent in die klas om verskoning vra en toestemming gee dat Afrikaanssprekendes wel die ding in Afrikaans kan doen. Ek het nou my deel gedoen, nè ... ? SLEGS EEN Afrikaanse groep (uit 12 Afrikaanse groepe, waarvan die Afrikaansprekendes 60% van die totale groep was) het hulle voorlegging in Afrikaans gedoen! Net daar het ek besluit en agtergekom: dit werk nie om vir ander op te kom in taal-verwante goed nie. Eintlik is die meeste van ons Afrikaners slapgatte en dink alles is makliker deur dit in Engels te doen.
Van daardie dag af, is ek nog net so vuur en vlam oor Afrikaans deur dit altyd te praat, maar is nie meer n weldoener vir Afrikaans nie – dit word in elk geval net in mens se gesig teruggegooi deur slapgat Afrikaners (en lui dosente destyds). Baie mense is verbaas wat ek regkry in die sogenaamde Engelse professionele werksomgewing deur slegs Afrikaans te praat. Sonder om n hardegat te wees, uit die aard van die saak.
Baie dankie, Gerrit, vir jou inspirasie: elke Afrikaanssprekende wat homself (ten minste) tweetalig hou, bevoordeel definitief homself: beste van twee (of meer) wêrelde. Die beste van alles is dat eerstetaal Afrikaanssprekendes reeds beter af is – hulle kan albei tale feitlik 100% praat, en in die meeste gevalle selfs beter Engels skryf as eentaliges (dis nou Engelse). Om nie eers te praat van Afrikaanse en Nederlandse literatuur wat se deure, soos jy tereg gesê het, bottoe vir eentaliges is nie.
Voorwaar, mense soos ou Swaeltjie wat hulle kinders wil verengels gaan verseker dit makliker vir hulle kinders maak – dalk die eerste 6 jaar of wat. Maar een ding is verseker: hierdie kinders gaan uitmis (op geleenthede, denke, filosofië, erfenisse).
Groete
Ekke
terug