3 September 2003
NOVELL & MICROSOFT, DEEL II ...
Is Engels waardevoller as Afrikaans?
Jy sê dat “’n taal wat wêreldwyd gebruik kan word voordele het bo
Afrikaans”. Dit is ongetwyfeld so. Jy kan immers met meer mense in die
wêreld kommunikeer mbv so ’n taal. Maar dit is net so waar dat ’n kleiner taal (soos Afrikaans) voordele het bo Engels. Iemand wat Hebreeus of
Swati beheers, het in bepaalde opsigte ’n voorsprong bo iemand wat Engels ken. Hy of sy kan ’n hele klomp tekste lees, programme luister of kyk en met mense kommunikeer wat vir ander ’n geslote boek is.
Iemand wat nie Afrikaans ken nie kan nie Breytenbach se poësie in sy oerglorie geniet nie, kan meer as helfte van die tyd nie kop of stert uitmaak wat op LitNet aangaan nie en is afgesny van Afrikaanssprekende gemeenskappe asook
ander nie-Engelssprekende gemeenskappe waarvan baie lede Afrikaans (maar nie Engels nie) as tweede taal gebruik.
Jou opvatting dat taal “net kommunikasie en selfuitdrukking” is, word
dus weerspreek — nie net deur jou eie bewering dat Engels voordele bo
Afrikaans het nie — maar ook deur die omgekeerde daarvan wat ek hier
probeer illustreer. Feit is, tale is nie uitruilbaar nie. Geen taal kan volledig vir ’n ander instaan nie. Elkeen bied waardevolle dinge wat jy nêrens anders kan kry nie. En dit het niks te doen met ’n groepsidentiteits-obsessie nie. Dit is maar net hoe taal werk.
Hier is ’n analogie om aan te herkou. Met watter kwalifikasie gaan jy
die maklikste ’n werk kry, ’n volop een of ’n skaars een? Iets
soortgelyks geld taalkennis. Om ’n taal te ken wat min ander mense ken, kan baie voordelig wees. Die werke en ander geleenthede waarvoor dié taal nodig is, is weliswaar meer beperk, maar die aantal mense wat die taal
beheers ook. Kortom: Wat is so special daaraan om met Engels reg te kom? Elke Jan Rap en sy maat kan dit doen!
Ek kan persoonlik daarvan getuig dat juis my Afrikaansheid my al uitermate bevoordeel het. Ek kon Nederlands en Duits relatief maklik leer omdat ek Afrikaans is. ’n Lui ou soos ek sou nooit so ver daarmee gekom het as ek ’n onverwante taal soos Engels gepraat het nie. Die gevolg was dat ek in Nederland kon studeer en die meeste daarvan maak, dat ek vertaalwerk uit Nederlands en Duits kan doen, dat ek “internasionale
kontakte” het wat my op allerlei maniere bevoordeel en — miskien die
waardevolste van alles — dat ek Duits en Nederlands kan lees en dus hopelik minder van ’n “einseitiger geistiger Diät” (Gerhard Ebeling) inkry as iemand wat net Engels kan lees. (Hoe arm is sulke mense nie!)
My Afrikaansheid het my ’n unieke angle op die wêreld gegee — en daarmee toegang tot geleenthede wat net vir “mense soos ek” beskore is.
As ons nou weer onthou dat daar geen rede is om te kies tussen Engels
en Afrikaans nie, dan word die regte manier van redeneer nog duideliker:
Elke taal hou sekere voordele in wat ander tale jou nie kan bied nie.
Hoe meer van hulle jy dus leer, hoe beter af is jy: “Soveel tale as ek
kan, ...
Die feit dat elke taal eksklusiewe toegang gee tot bepaalde tekste,
informasie, mense en gemeenskappe het ook implikasies vir jou opmerkings
oor identiteit. Jy sê: “Dankie tog dat ek weet my kinders sal nie hulle identiteit aan taal koppel nie.” Nou ja. Of jou kinders nou bewustelik hul identiteit aan taal gaan koppel of nie, die feit bly staan dat hul identiteit,
soos joune en myne, deur (onder meer) hul taal gevorm gaan word — en reeds gevorm is. Jou opmerking herinner my aan die Engelse dame wat tydens ’n groepbespreking gereageer het op iemand se opmerking “Taal is
identiteit” deur te sê dat dit vir haar nie opgaan nie: Haar eie identiteit het
niks met haar taal te doen nie ... En tog het sy, in die sê daarvan, so
“quitessentially English” geklink!
Dit wat ’n mens lees, die inligting waartoe jy toegang het, die mense
waarteen jy aanskuur en die gemeenskaplike horisonne waarbinne jy
beweeg, het alles ’n invloed op hoe jy dink, voel en optree en hoe jy jouself sien en ervaar — jou identiteit. Ook al kom die woord “taal” nie eenmaal ter sprake in jou antwoord op die vraag “Wie is ek?” nie, dan word die inhoud van daardie antwoord deels bepaal deur die taal of tale waaraan jy blootgestel is.
Jou “Dankie tog ... ” spreek van ’n hoë waardering vir individualiteit, ’n waardering wat ek met jou deel (maak dit ons minder individue?). Paradoksaal genoeg, kan individualiteit — in die sin van “Ek is uniek en ek is special” (en al daai corny dog belangrike goed) — juis geoptimaliseer word deur sterk met sekere kollektiewe erfgoed soos ’n taal te identifiseer — en veral as dit ’n relatief klein en plaaslike taaltjie is. Alles wat uniek en besonders aan dié taal is, kleef immers ook aan jou as die draer en gebruiker daarvan. Engels maak jou soos die meeste
mense; Afrikaans maak jou anders. Die kombinasie van die twee maak jou nog
meer anders. En as jy dan nog sommer ’n bietjie Venda en Deens bygooi,
dan is jy wragtig soos niemand anders nie! Weer eens: “Soveel tale as
ek kan, ... ”
Persoonlike identiteit kan net op een voorwaarde tot stand kom: as die
individu op ’n unieke manier dit wat hy of sy van die voorgeslagte
geërf het en met ander deel, selekteer, kombineer, toeëien en vervorm. As
jy niks het om mee te begin nie, gaan jy ook met niks eindig nie. Die vryheid om te kies wat jy wil doen en wie jy wil wees is waardeloos as daar niks is om uit te kies, om mee te werk nie — ’n kunstenaar sonder materiale en stof beteken niks. Die grootste individualiste — mense wat “hul eie mens” is — is dié met die wydste blootstelling. Mense wat net
Engels praat, sal makliker neig om massamense te wees — volgers en
verbruikers van die voorgegewe, tropdiere wat in ’n kollektiwiteit opgaan en skaars ’n persoonlike identiteit vertoon.
Mense wat met hul harte stewig in hul streek, hul gemeenskap, hul taal ens gewortel staan terwyl hul takke hoog en wyd oor die wêreld uitsprei - hulle is die waarna ons met reg opkyk. Mense wat hul eie verag, verag ook hulself en die bronne van hulle self. Erger nog: hulle gebruik die oë van ander om te kyk, die breine van ander om te dink en die taal van ander om te praat. Van individualiteit is hier nog nouliks sprake. Net van slawerny.
Of wat praat ek (en in watter taal)?
Gerrit Brand. Vryburger
terug