27 Oktober 2000
SAT VIR DIE SABBAT? ...
In reaksie op Anna-Marie se skrywe van 25 Oktober: daar is dikwels genoeg misbruik gemaak van die konsepte God, Jesus en Heilige Gees deur die Christelike kerke om n mens permanent besig te hou met die aanhaal van voorbeelde. Ek self is kleintyd bedonder deur konsepte soos mens mag nie op Sondae brei nie want dan steek jy die breinaald in Liewe Jesus se oog. Nodeloos om te verduidelik is ek in my volwasse vorm a) iemand wat totaal nie kan brei nie, ek het daardie gedeelte van Huishoudkunde hopeloos gedruip en b) n roekelose Sabbatsontheiliger wat net eenvoudig nooit rus kry nie ... dikwels het ek al gewens ek kon my Sondag bevry van daardie jeugbedondering, want n dag van rus (soos die Chinese met hulle ongeslaagde eksperiment van die sewedag-werksweek op die harde manier geleer het) is wel n goeie idee. Die persoon wat my met die breinaald-storie bedonder het, is egter vergewe daarvoor, en dis nog die heeltyd my punt: ons moet ons voorpersone vergewe, mense, of ons gaan ons lewe lank met die bedonderinge rondloop.
Ons het nog nie eens gepraat oor dinge soos die Spaanse Inkwisisie nie ... soos ek as kommunis vir die misdade van Stalin verantwoordelik gehou moet word, moet ek sekerlik as Katoliek ook moeder staan daarvoor. Voor iemand dit dus voor my kop gooi, moet ek beslis aandui dat ek bewus is van die afgryslike geskiedenis van die kerk daar en op ander plekke. Dit is dit wat my vir jare gekeer het om aan te sluit by n plek wat vandag n goeie plek is, met n verwelkomende atmosfeer vir alle mense, en n speelplek op Sondae vir my kleintjie waar hy ander kindertjies ontmoet soos sy vriendjie Jonah, seuntjie van n ander enkelmoeder (hulle gooi nie meer die enkelmoeders uit nie, julle sien). As dit nie vir die kerk was nie, sou ons nie die lieflike verjaardagpartytjie, van n klompie naweke gelede, bygewoon het nie. Die kerk is vir ons n plekkie, n tuiste, in n andersins redelik koue samelewing.
Anna-Marie se charges teen die kerk van ons jeug staan egter op sterk bene. Voorts het ons in die (Protestantse) kerk geleer dat Boeddhisme en die Hindoe tradisie duiwelskuns is en dat astrologie duiwelskuns is: dit desondanks die feit dat die drie wyse manne uit die Ooste Chaldeërs was wat oor die mees gedetailleerde kennis van die astrologie beskik het en dus die plek en tyd van die Jesus kind se geboorte geken het uit hulle studies van astrologiese kaarte ... vandaar die volg van die Betlehemster tot by die stal waar hulle die kindjie, soos voorspel, gevind het.
Ek het uit nuuskierigheid n studie gemaak van alles okkulties onder die son wat ek kon vind: astrologie, numerologie, I Ching, verskillende alternatiewe genesingstelsels, en tot die gevolgtrekking gekom dat a) God n groter konsep is as wat die kerk van my jeug my toegelaat het om te begryp; b) konsepte soos geeste ... d.w.s. ander geeste as die Heilige Gees self (my gees? Jou gees?) ook meer ingewikkeld is as wat ek geleer is om te begryp. Is daar byvoorbeeld n verskil tussen die konsep siel en die konsep gees? Jung se idee van die collective unconscious (gedeelde onderbewussyn?) is n nuttige een, maar dan is dit slegs omdat Jung dieselfde Oosterse geloofstradisies bestudeer het wat vir my persoonlik die nuttigste was ten opsigte van die bybring van kennis oor die esoteriese werkinge van die menslike gees.
Daar is n boekie getiteld A Souls Journey geskryf deur Peter Richelieu, interessant genoeg is dit oorspronklik in Durban uitgegee: in die boek leer die skrywer onder andere om te kommunikeer met die gees van sy gestorwe broer wat in die (ek dink dit was Eerste) Wêreldoorlog dood is, met die hulp van n Hindoe guru wat hom leer hoe om astrale reise te onderneem. Die skrywer en sy broer sit in n restaurant en die broer rook selfs n astrale sigaret. Daar word vertel dat die wat nie in die vlees gerook het nie, dit ook nie in die astrale werklikheid (waar dit jou geen skade as sodanig berokken nie) kan doen nie. Het dit my beter laat voel oor my rokery? Nie eintlik nie ... daar was egter wel n dag toe n sigaret my lewe gered het, maar dis n ander storie vir n ander dag.
Daarna vertrek die skrywer na ander astral planes ... soos wat jy reis kom jy op meer en meer en meer vlakke van geestelike bestaan uit. Baie dominees sal beslis reken hierdie is duiwelswerk. Ek self leer maar net van alles wat ek in die hande kry ... en doen met graagte verslag daaroor vir die wat seggenskap soek oor dit wat hulle weet.
Alle dinge moet met n onbelemmerde insig bestudeer word. Om die aard van die lewe te begryp, soos in die woorde van die Boeddha, the causes of these things ... dit is ons almal se werk hierdie.
Basies elke keer as jy droom, het jy n astrale ervaring. Desondanks hierdie feit (soos n koei) het die NG en die Charismatiese kerke die konsep van astrale reise as okkulties en boos bestempel. Daar is natuurlik n verskil tussen n gewone droom wat ons almal ervaar, en die gekontroleerde eksperiment van n reis na n spesifieke plek. Die aard en die wese van die ervaring is egter dieselfde. Ek is self tot n sekere mate van gekontroleerde astrale reis in staat (om deur konsentrasie ast ware uit die liggaam uit te vlieg) na jare van oefening, maar ek doen dit nie meer nie omdat ek te bang is ek verloor my liggaam en kan nie weer terugkom nie. Op n sekere punt moet mens of ophou, of voortgaan met die studie, en dit is problematies om as gewone mens in die gewone lewe te funksioneer en ook as guru deur mure te loop en te vlieg. Julle het egter my Afrikaanse erewoord (vir die wat nog aan so iets glo) dat dit wel moontlik is, en dat dit wel interessant is om Kaapstad toe te vlieg sonder n vliegkaartjie (dit het ek al meermale gedoen). Die eindpunt van die reis is egter astrale Kaapstad en nie werklike Kaapstad nie; vir die wat dit begryp.
Wat is plek en ruimte in elk geval? Wat is die niet? Is hy solied of is hy leeg? Dit is vir my n heel veel beter gesprek as die taaldebat of die oorlogsdebat: dit is n interessante gesprek en mens kan basies tot die einde van die tyd self daaroor gesels. Dit stimuleer ook die denke op die regte manier; sonder die invloed van woede of emosie of selfregverdiging ... die gees van die Boeddha is nie onvergewensgesind nie, en die wese van Jesus ook nie. Dus Ernst, as jy nog hier lees ... Kameraadjie hou dit nie teen jou dat jy vir afsonderlike ontwikkeling gestem het nie. As jy my kan vergewe vir wie ek is ... nee, selfs daarsonder ... vergewe ek jou oor die spook van ou Verwoerd. Dit is slegs op hierdie wyse wat ons iets beters kan word en kan uitstyg bo ons geskiedenis.
Dan is daar nog dinge soos die onderskeid tussen thought forms en werklike geeste ... big subjects, selfs die gurus self is nie altyd seker wat is wat nie.
Die bekrompe houding van die NG Kerk teenoor die kennis en wysheid van ander kulture het gepaard gegaan met n beperkte (limitation ... onthou waarvoor dit staan?) wêreldbeskouing en n politieke ideologie wat mense se denke sodanig geblokkeer en ingeperk het dat hulle God nie sou gehoor het nie, al het Hy ook persoonlik getapdance bo-op die dak van die sale waarin hulle hulle vergaderings gehou het, en Krugerrande deur die dak gegooi om hulle van hulle waansin te probeer afkoop.
Anna-Marie slaag effektief daarin om uit te wys dat bygeloof en heksery nie beperk is tot die swart kulture nie, en dit is n belangrike punt wat ek self wou maak en waarvoor ek haar dankbaar is dat sy my die werk gespaar het.
Voorts wil ek net uitwys dat daar vlakke van begrip is in elke denkstelsel; die Hindoe-tradisie het sy gurus, Islam het byvoorbeeld die esoteriese Sufi tradisie (whirling dervishes), die Joodse geloof het die Kaballistiese mistiek (Etienne Leroux het baie daaroor geskryf en kennis daarvan in sy tekste ingebou; hy het met insig een van sy karakters laat opmerk oor Jesus Christus, misverstaan) ... een Joodse denker het dit uitstekend geformuleer. Jesus Christus is as Ortodokse Jood gebore en het as Reformistiese Jood gesterf. Ek het ook al by geleentheid opgemerk dat die konsep Jews for Jesus vir my net so eienaardig is soos die konsep van n organisasie met n naam soos Xhosas for Mandela.
Jesus het, soos Mandela, n kulturele tradisie getransendeer en n vryheidsboodskap gegee wat vir almal bedoel is, ongeag die grense van etnisiteit of geloof. Die hele konsep van Liberation Theology (vryheidsteologie?) is weer eens n big subject ... ek dink egter nie Anna-Marie moet n sekere gees blameer vir die wanbegrip van diegene wat geroep het nie ... in ieder geval is die antwoord op daardie gebede tot leiding mos gestuur, al hou julle nie almal van die antwoord nie (maar Anna-Marie hou wel daarvan as ek haar skrywes korrek interpreteer, want sy hou nie van die onderdrukking van mense op grond van velkleur nie): julle is mos nou vry, nie waar nie?
Groetnis
Annesu
terug