2 Julie 2003
DEBAT OOR MEERTALIGHEID IN HOWE (VERAL VIR GERRIT BRAND) ...
Beste Gerrit
Ek het jou raad gevolg en toe die taaldebat op LitNet nageslaan, daarom dat ek nou hierdie moeë ou koei uit die sloot uit opgrawe.
Eers net dit: ek het my laaste brief oor die onderwerp geskryf sonder dat ek jou (ietwat neerhalende) brief van 8 Mei 2003 gesien het. Dit gebeur ongelukkig seker as mens net nou en dan hier inloer, en verklaar waarom ek hoegenaamd nie met jou punte van kritiek gehandel het nie.
Hoe dit ook al sy, dit het nou vir my duidelik geword presies waar ons paaie skei, en ek wil graag duidelikheid hê oor veral een aspek, nl die kwessie van welke taal die grootste gemene deler in Suid-Afrika is. Jy sal jou herinner dat ek my pleidooi vir Engels as die enkele verslagtaal in ons howe grootliks baseer op my indruk dat Engels die ggd is. Ek plaas die begrip tussen aanhalingstekens omdat jy in jou brief van 8 Mei nie net gestel het dat Engels nie die ggd is nie, maar eintlik die indruk geskep het dat mens nie met die konsep van ggd kan werk nie. Jy het jou brief afgesluit met n neerhalende en dramatiese Gemene deler indeed!
Groot was my verbasing dus toe ek, in navolging van jou raad, die Taaldebat raadpleeg en, onder meer, die bydrae van Andries Van Der Walt van 6 Desember 2001 raaklees waarin hy, namens die Taalsekretariaat, die blye nuus aankondig dat Afrikaans die derde grootste taal in SA is en verder (minder blymoedig) dat Engels, wag vir dit, die GROOTSTE GEMENE DELER is! Dis nou die organisasie wat jy verteenwoordig by MAG, nè?
Dit lyk my ek hoef dus nie my argument te heroorweeg nie. Die eenvoudige vraag is dus tog: moet ons die makliker roete van die ggd volg , of die baie meer gekompliseerde (hoewel lofwaardige) voorstelle tov meertaligheid wat jy bepleit ?
Ek gaan nie my argumente van praktiese uitvoerbaarheid herhaal nie, buiten om weer te sê dat ek maar swarigheid sien vir al ons regters, veral die wittes, as hulle nou skielik n derde taal moet aanleer. Ek moet byvoeg dat so n beleid ten minste groot komiese potensiaal inhou. Ek sal nou nie name noem nie, maar ek kan aan n hele paar regters (as Swys hier lees: Swys, ek sluit landdroste in as ek praat van die regbank) dink wat uiters komies sal lyk as hulle nou skielik moet probeer om hul hofverrigtinge in gebroke Xhosa, Zoeloe, of wat ook al, moet voer.
Terloops, Gerrit, ek moet darem sê dat ek die bydraes, ook joune, op die Taaldebat baie interessant gevind het. Ek weet egter nie of sulke hogere akademiese oefeninge altyd met vrug in die praktyk toegepas kan word sonder taamlik ingewikkelde engineering nie. Partykeer moet mens dinge maar los om natuurlik te ontwikkel soos dit die mensdom pas. In SA, glo ek, vind mense dit gerieflik om taaldiversiteit te oorkom deur Engels te gebruik. Daarom word Engels gebruik as besigheidstaal en ook as vermaaklikheidstaal. Alle openbare geleenthede, soos die hordes vermaaklikheidstoekenningsfunksies (sjoe!), politieke geleenthede (selfs partypolitieke geleenthede van hoofsaaklik swart organisasies soos die ANC, COSATU, ens) vind in Engels plaas. Waarom?
Moet ons nie maar aanvaar dat Engels die ggd is nie en dat met behulp van tolke waar nodig, alle burgers van SA wel geholpe geraak sal kan word nie? Watter tale stel jy voor moet geleer word, wat gebeur as n regter verplaas word (of bloot net wil verhuis) na n ander provinsie waar ander tale die meerderheid is. Wat van die regspraktisyns? Al slaag ek daarin om Xhosa aan te leer, kan ek dan nooit Durban toe trek sonder om van beroep te verander nie? Wat van hofverslae? Hoe gaan oom Koos Poggenpoel wat al donkiejare op Koekenaap praktiseer n beslissing wat in Sotho in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling gerapporteer is verstaan, en hoe gaan hy sy kliënt reg adviseer as hy nie kan nie? Ek raak nog nie eers aan die probleme rondom vaktaal, terminologie (wat sal ons sê vir reprobation en approbation in Venda?) handboeke, ens nie.
Ja, natuurlik sal die afskaffing van Afrikaans as hoftaal tot gevolg he dat minder mense in hul eerste taal gehelp word, maar ek wil glo (onnagevors) dat bykans almal wat Afrikaans as eerste taal het, ook darem die rooitaal kan gooi, en die wat nie kan nie, kan van tolke gebruik maak. Daar bestaan egter myns insiens geen geldige gronde waarom Afrikaans in hierdie opsig bo die ander (nie-Engelse) amptelike tale bevoordeel behoort te word nie.
Ten laaste hoop ek dat jy hierop sal antwoord, in minder neerhalende toon, omdat ek werklik in n werkbare oplossing belangstel.
Groete
Dirk D
terug