SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die ongewing in digwerk

Johann Lodewyk Marais

Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing By die bekendstelling van ’n bundel Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing*

Op Donderdag, 22 Mei 1997, gebeur iets wat die Nederlandstalige wêreld omruk — Herman de Coninck sterf.
    Op daardie oggend verlaat die 53-jarige De Coninck in die geselskap van Vlaamse skrywer Hugo Claus en Nederlandse digter Anna Enquist sy hotel in die Portugese hoofstad Lissabon — op pad na ’n colloquium oor die Nederlandstalige letterkunde. Maar hy sou nooit kon deelneem nie, want kort daarna begin hy sleg voel, draai hom om, sak inmekaar en sterf.
    Soos te verwagte, word sy dood op die voorblaaie van die Vlaamse koerante aangekondig en wyd in die Nederlandse pers gerapporteer. In sowel België as Nederland was De Coninck alom bekend. By sy dood was hierdie man van Antwerpen immers die gewildste digter in die Lae Lande, ’n toeganklike poësiekritikus en die geïnspireerde redakteur van die Nieuw Wereldtijdschrift.
    De Coninck was een van ’n handvol Vlaamse digters wat ’n openbare figuur geword het: baie se “favoriete” digter na wie mense graag gaan luister het as hy uit sy werk voorlees, en iemand wie se mening oor aktuele onderwerpe besondere gewig gedra het. De Coninck se teruggetrokkenheid en droë humorsin het hom ’n boeiende mens gemaak.
    Tydens my besoek aan België gedurende Junie en Julie 1997 was dit vir my duidelik hoeseer De Coninck se dood veral in Vlaandere as ’n skok gekom en ’n leemte gelaat het. Daar was nog steeds talle huldeblyke: in die pers en tydens Poetry on the Road — Dichters in ’t Elzenveld, Vlaandere se belangrikste internasionale poësiefees.
    Maar ook in Suid-Afrika vind De Coninck se dood weerklank. Binne enkele ure na sy dood, nog voordat die Internet en ander media in die openbaar daaroor verslag doen, is dit reeds in die skrywers- en literêre wêreld bekend en dié van ons wat De Coninck en sy werk leer ken het, geskok. ’n Dag of wat later volg berigte, ’n huldiging in die pers en ‘n heruitsending van ‘n De Coninck-onderhoud deur Daniel Hugo.
    Die reaksie op De Coninck se dood het my enigsins verras. Hoekom soveel reaksie op ’n buitelandse skrywer se dood? ’n Antwoord op dié vraag vind ek toe by Joan Hambidge in Beeld (8.7.1997) waarin sy De Coninck as “ook ’n Afrikaanse digter” bestempel — na aanleiding van die keuse uit sy gedigte wat Daniel Hugo in Afrikaans vertaal het en wat onder die titel Liefde, miskien (Queillerie, 1996) in Suid-Afrika uitgegee is. Hierbenewens het De Coninck by ons bekend en geliefd geraak danksy verskeie besoeke aan Suid-Afrika én sy leesbare essays daaroor in sy bundel De cowboybroek van Maria Magdalena (1996). De Coninck het ’n opvallende belangstelling in Suid-Afrika én in Afrikaans gehad. En vir baie was hy ’n gewaardeerde vriend.
    Veelseggend, vir my, is die wyse waarop De Coninck, iemand wat in Nederlands geskryf het, as ’t ware ’n rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem geword het. Op ’n eiesoortige manier het De Coninck, weliswaar op ’n ánder manier as Elisabeth Eybers én in ’n betreklike kort tyd, nóg ’n skrywer in die tussengebied tussen Afrikaans en Nederlands geword. Eybers het inderdaad ’n presedent geskep! Talle van die grense tussen Afrikaans en Nederlands is daarom vir my byna skandelik kunsmatig.
    Groot veranderinge ten opsigte van internasionale betrekkinge het sedert die begin van die negentigerjare in Suid-Afrika plaasgevind. Van die waardevolste hiervan was die heropneem van nouer kontak met die buitewêreld en die herstel van die historiese en kulturele bande van die verlede — ’n tydige wending in ’n wêreld wat toenemend globalisering ervaar. Vanuit ’n Afrikaanse oogpunt was die heropname van kontak met die Lae Lande van groot betekenis.
    Ek is self as ’t ware toevallig by hierdie hernieude kontak ingetrek. En wel tydens ’n lesing een middag in Augustus 1994 by die Universiteit van Pretoria toe die Neerlandikus en digter Ad Zuiderent van die Vrije Universiteit in Amsterdam ’n lesing oor die landskap in die onlangse Nederlandse poësie gelewer het. Dit was vir my ’n keerpunt. Enersyds was Zuiderent die eerste Nederlandse digter wat ek in lewende lywe gesien én ontmoet het. Andersyds het hy dié middag oor ’n onderwerp gepraat wat my nogal verras het. Weens die jare lange enigsins negatiewe houding jeens die natuur en die landskap in die Afrikaanse letterkunde, was Zuiderent se onbeskaamde behandeling van ’n tiental landskapsgedigte fassinerend. Ook betekenisvol was die vele ooreenkomste in die werk van digters soos Willem van Toorn, CO Jellema en Zuiderent self (almal digters wie se werk ek tot in daardie stadium glad nie geken het nie!) en die werk van Afrikaanse digters soos TT Cloete, Ina Rousseau, Wilma Stockenström en, het ek gevoel, my eie werk. Vir my was dit duidelik dat Afrikaanse en Nederlandse digters onafhanklik van mekaar op dieselfde manier oor die natuur, die landskap en — meer spesifiek — die omgewing skryf.
    Nadat Zuiderent aan die begin van 1995 ’n tweede reeks lesings in Suid-Afrika aangebied het, het ek hom genader met die gedagte van ’n bundel met Afrikaanse en Nederlandstalige gedigte oor die omgewing — met ons twee as medesamestellers. Gelukkig het hy ingestem! Ons het ook ooreengekom om elkeen ’n inleiding te skryf en om die bundel van kort aantekeninge oor die digters te voorsien.
    Die medewerker-digters is gevra om elkeen minstens een (verkieslik nuwe) gedig vir die bundel voor te lê. Dit moes oor die omgewing handel, maar digters kon self die onderwerp kies. Ons wou terselfdertyd ’n beeld van die belangrikste eietydse digters in die onderskeie lande gee, daarom is ’n reeds gepubliseerde gedig opgeneem waar ’n digter nie ’n nuwe gedig kon skryf nie. Anders as in die geval van bloemlesings waar die samesteller(s) ’n sterk kanoniserende rol speel, het die samestellers hier dus eintlik ’n kleiner rol gespeel.
    Die publikasie van hierdie versamelbundel het aan sowel Afrikaanse as Nederlandstalige digters die geleentheid tot samewerking rondom ’n aktuele tema gebied. Die bundel gee ook, glo ons, ’n aanduiding van die stand van die “groen gesprek” in die poësie van Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere, en van die wyse waarop digters van Suid en Noord (in omgewingsverband is dit twee gelaaide woorde!) tans oor hierdie aktuele onderwerp skryf.
    Dat een van die eerste groot samewerkingsprojekte tussen Afrikaanse en Nederlandstalige digters ná die dekades van isolasie juis met die omgewing te make het, is sekerlik nie onvanpas nie. In die lig van die belangstelling dwarsoor die wêreld in dié onderwerp is dit héél gepas.
    Die bundel wat ons kon publiseer, illustreer hoedat daar ondanks die versnelde modernisering en ontluistering van natuur en landskap opnuut ’n teenbeweging ontstaan wat die sakrale of heilige dimensie van die aarde herontdek — ’n uitspraak wat ek aan Ton Lemaire, die Marthinus Versfeld van die Nederlandse filosofie, ontleen. Daarvan is die meeste van die 70 gedigte oor verskillende fasette van die omgewing, die natuur en die landskap in hierdie bundel myns insiens ’n goeie voorbeeld.

* Rede gelewer tydens die bekendstelling van Johann Lodewyk Marais en Ad Zuiderent (samests.) se Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (Pretoria, JL van Schaik Akademies, 1997) op 25 Julie 1997 by die Kultuurburo van die Universiteit van Pretoria.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.