SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Akademie besluit op bekronings vir 2006

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 'n vergadering wat op 31 Maart 2006 plaasgevind het, op die volgende bekronings vir 2006 besluit. Die pryse sal op Saterdagaand 24 Junie 2006 tydens 'n bekroningsplegtigheid wat by die Universiteit van die Vrystaat sal plaasvind, aan die pryswenners oorhandig word. 'n Tweede bekroningsplegtigheid vir die pryswenners in die Suide sal later vanjaar in Stellenbosch plaasvind. Besonderhede sal later bekend gemaak word.

Hierdie verklaring bevat die besonderhede van die bekronings wat vanjaar toegeken word en van die bekroondes. Die bekroondes is, waar moontlik, reeds mondeling oor die bekronings ingelig.

1. HERTZOGPRYS VIR DRAMA
Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike bellettristiese werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde. Alle dramawerk van hoogstaande gehalte wat in die drie kalenderjare wat die bekroning voorafgaan, verskyn het, kom vanjaar vir dié toekenning in aanmerking. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys van 2006 word toegeken aan Deon Opperman vir sy gepubliseerde-drama-oeuvre in Afrikaans, wat die volgende insluit: Boesman, my seun; Magspel; Donkerland; Stille nag; Môre is ’n lang dag; Die teken.

Die prys word geborg deur Rapport.

2. EUGÈNE MARAISPRYS VIR PROSA
Die Eugène Maraisprys word toegeken vir 'n eerste of tweede bellettristiese publikasie in Afrikaans. Die prys is jaarliks beskikbaar en kan net een maal aan 'n bepaalde skrywer toegeken word.

Die prys word toegeken aan Marlize Hobbs vir Flarde. Die prys word geborg deur Rapport en ABSA.

GUSTAV PRELLERPRYS
Die prys is al om die drie jaar beskikbaar vir literatuurwetenskaplike werk in Afrikaans, met inbegrip van letterkundige kritiek.

Die prys word toegeken aan dr Hennie Aucamp.

3. TIENIE HOLLOWAYMEDALJE VIR KLEUTERLITERATUUR
Die medalje is driejaarliks beskikbaar en word toegeken aan die skrywer wat gedurende 'n tydperk deur die Akademieraad bepaal, die beste werk van 'n bevredigende gehalte in Afrikaans gelewer het in die genre van kleuterliteratuur. Die kategorie Kleuterliteratuur sluit boeke in vir kinders onder agt jaar, maar dié omskrywing word nie op 'n te beperkende wyse toegepas nie.

Die prys word toegeken aan Martie Preller en die illustreerders Erica en Andries Maritz vir Diep, diep in ’n donker bos.

5. CJ LANGENHOVENPRYS VIR TAALWETENSKAP
Die prys is driejaarliks beskikbaar vir taalwetenskaplike en/of taalskeppende werk in Afrikaans, met inbegrip van Leksikografie.

Die prys word toegeken aan prof Rudie Botha, professor in Algemene Taalwetenskap, Universiteit Stellenbosch.

Prof Rudie Botha word op internasionale vlak erken vir sy bydraes op die gebied van taalkundige navorsing en onderrig, asook sy lang verbintenis met Nederlandse universiteite. Hy is navorsingsgenoot van die Netherlands Institute for Advanced Study, waar hy koördineerder is van ’n internasionale, multidissiplinêre navorsingspan oor die oorsprong en evolusie van taal. Hy dien vir meer as 34 jaar as departementshoof van Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch en het meer as 300 afgestudeerde magisterstudente gelewer. Sy talryke publikasies getuig van ’n toegewyde loopbaan as akademikus, nasionaal en internasionaal.

6. STALSPRYS
Die Stalsprys vir Geesteswetenskappe word jaarliks toegeken vir 'n hoogstaande publikasie of reeks hoogstaande publikasies, by voorkeur, maar nie uitsluitlik nie, in Afrikaans. Verder word dit toegeken vir individuele of gesamentlike wetenskapsbeoefening en/of die lewering van individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskaps¬beoefening gemaak word. Spanprestasie of bydrae tot spanprestasie, multi- en interdissiplinêre navorsing, en goeie implementerings- of evalueringsnavorsing kan ook in berekening gebring word. Werk wat voor die bekroningsjaar gelewer is, sal vir die bekroning in aanmerking geneem word.

6.1 Stalsprys vir Multi- en Interdissiplinêre spanwerk
Die prys word toegeken aan proff FP Retief en Louise Cilliers, Universiteit van die Vrystaat.

Hierdie toekenning word gedoen op grond van al die interdissiplinêre navorsingsresultate wat hierdie twee navorsers tot dusver gelewer het, maar meer spesifiek hulle publikasie “Health and healing, disease and death in the Graeco-Roman world”, wat gepubliseer is in Acta Theologica, Supplementum 7, 2005 (Universiteit van die Vrystaat). Proff Retief en Cilliers lewer interdissiplinêre navorsing van hoogstaande gehalte tussen twee wyd uiteenlopende vakkundige dissiplines, naamlik Geneeskunde en Geesteswetenskappe (Latyn en Grieks). Dit is uniek binne die Suid-Afrikaanse sowel as die internasionale gemeenskap.

6.2 Stalsprys vir Kunstegeskiedenis
Die prys word toegeken aan dr Frieda Harmsen.

Dr Frieda Harmsen het in publikasies, artikels, lesings en rondleidings oor die jare ’n sinvolle en betekenisvolle bydrae gelewer tot die bevordering van die Suid-Afrikaanse kuns teen die wye agtergrond van haar kennis en opleiding wat betref die wêreld se kunsgeskiedenis. Sy was onderwyseres, dosent aan Unisa (waar ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken is), outeur en redakteur van talle gesaghebbende kunspublikasies.

7. TOON VAN DEN HEEVERPRYS VIR REGSWETENSKAP
Die prys word driejaarliks toegeken vir oorspronklike regskundige werk in Afrikaans en/of vollengte-artikels of ’n artikel van hoogstaande gehalte in Afrikaans wat in geakkrediteerde regstydskrifte verskyn het en/of baanbrekende regsuitsprake in Afrikaans.

Die prys word toegeken aan appèlregter JJF Hefer, president van die Appèlhof tot en met sy aftrede in 2002.

Regter Hefer lewer al vir bykans 50 jaar ’n onmeetbare bydrae tot die uitbreiding en uitbouing van Afrikaans as beide akademiese en regstaal. Oor ’n tydperk van meer as 30 jaar op die regbank het hy ’n toonaangewende rol in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse reg gespeel. Sy uitsprake, waarvan vele in keurige Afrikaans verskyn het, getuig van insigryke regsnavorsing en skerpsinnige beredenering. Hy het in 2001 waargeneem as hoofregter en is in 2004 as buitengewone professor in Privaatreg aan die Universiteit van die Vrystaat aangestel. Sy merkwaardige intreerede getiteld “Billikheid in die Privaatreg” is in die Eeufeesuitgawe van die Tydskrif vir Regswetenskap gepubliseer.

8. EREPENNINGS VAN DIE AKADEMIE
Die Akademie se erepenning is bedoel as erkenning, binne die doelstellings van die Akademie, van besondere prestasie op terreine wat nie suiwer letterkundig of wetenskaplik is nie.

8.1 Die Erepenning vir Musiek word toegeken aan Acáma Fick, voorheen verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

Acáma Fick het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het haar loopbaan begin as onderwyseres in musiek en klasmusiek. Sy is vanaf 1976 tot 2004 lektor aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar onderskei het as koormeester en dosent in musiekwetenskaplike vakke, asook didaktiek van musiekteorie. Sy stig in 1978 die Konservatorium-Dameskoor en later die Stellenbosch Camerata. Talle klankopnames van haar koorwerk is deur die jare opgeneem, onder andere die gewilde Fick in konsert met Afrikaanse koormusiek.

8.2 Die Erepenning vir Ligte Afrikaanse Musiek word toegeken aan Mynie Grové van Kaapstad.

Mynie Grové begin haar sangloopbaan in 1971 om as een van die sterre in An African Music Odyssey vir Duitse TV op te tree. Sy word kort daarna lid van die Claude Larson-sangers. In 1973 word die duo Mynie en Jan gebore wat musiekliefhebbers betower het, waarna Mynie haar solo-musiekloopbaan in 1980 begin. Met haar veelsydige en gewilde musiekoptredes het sy ’n deel van die Afrikaanse musiektoneel gebly. As liriekskrywer, komponis, musiekregisseur, vervaardiger, sanger en verhoogkunstenaar het sy talle volkskatte bygedra, waarvan vele deur ander Suid-Afrikaanse skrywers opgeneem is. Haar “Ergens in mijn hart” is deur Dana Winner opgeneem en het platinumverkope in Europa behaal. Mynie het al verskeie toekennings vir haar sangtalent, liedjies, rolprentmusiek en bydrae tot die musiekbedryf ontvang.

8.3 Die Erepenning vir Visuele Kunste word toegeken aan Alexander Podlashuc van Kaapstad met erkenning aan Marianne Podlashuc (1932–2004).

Alexander Podlashuc het as individuele kunstenaar diep spore getrap in die veld van tersiêre kunsopleiding in Suid-Afrika. Hy was in 1958 stigterslid van die Bloemfontein-groep. Alexander se formele kunsopleiding ontvang hy van Walter Battiss, Michaelis, Continental School of Art en aan die London Central School of Art, waarna hy kuns onderrig aan die Pretoria Tegniese Kollege. Hy was kunsjoernalis in Bloemfontein en Port Elizabeth en later hoof van die Grafiese Departement by die Kunsskool, Kollege vir Gevorderde Tegniese Onderwys in Port Elizabeth. Sy vrou, Marianne Podlashuc, het haar merk gemaak as uitlegkunstenaar, ontwerper en kunsdosent in Bloemfontein.

8.4 Erepenning vir die bevordering van geskiedenis Hierdie erepenning is bedoel om erkenning te gee aan 'n persoon vir besonder hoogstaande bydrae tot die bevordering van Geskiedenis as dissipline in Suid-Afrika.

Die Erepenning vir die Bevordering van Geskiedenis word toegeken aan prof Johan Bergh.

Prof Johan Bergh van die Departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria is ’n vakman van formaat. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en beskik oor ’n indrukwekkende lys navorsingsuitsette. Hy het reeds talle referate by nasionale en internasionale konferensies gelewer en speel ’n belangrike rol ten opsigte van akademiese vakverenigings en vaktydskrifte. Hy is voorsitter van die Historiese Genootskap van Suid-Afrika en was tussen 1995 en 1997 president van die Suid-Afrikaanse Historiese Vereniging.

8.5 Erepenning vir Afrikaanse Televisiedramas
Die Erepenning vir Afrikaanse Televisiedramas word toegeken aan die regisseur Gerrit Schoonhoven vir Plek van die vleisvreters.

8.6 Erepenning vir Radiohoorspele in Afrikaans
Die Erepenning vir Radiohoorspele in Afrikaans word toegeken aan George Weideman vir Sand.

9. FRANS DU TOITMEDALJE VIR BEDRYFSLEIDING
Die medalje word toegeken aan 'n kandidaat vir sy skeppende bydrae tot die Suid- Afrikaanse bedryfslewe, sy volgehoue uitbouing oor 'n lang tydperk van die terreine waarop hy hom begewe het, vir sy leierskap op die bepaalde terreine en vir die besieling wat daar van hom uitgegaan het om die gebiede verder te ontwikkel.

Die medalje word toegeken aan mnr Ton Vosloo van Kaapstad.

Mnr Ton Vosloo se loopbaan vorder vanaf leerlingjoernalis tot voorsitter van ’n internasionale mediamaatskappy wat op die JE asook die Amerikaanse Nasdaq en die Hongkongse Hang Seng genoteer is. Onder sy leiding neem die waarde van Naspers-aandele toe vanaf ’n openingsprys van R8 stuk tot ongeveer R120 per aandeel. Hy het ook leiding geneem in die stigting van MNet, MWeb, MTN en MIH. Dit is ’n fenomenale mediasuksesverhaal wat aan die Afrikaanse taal ’n aandeel in hierdie uiters mededingende internasionale bedryf gegee het.

Die Finse regering het aan hom dié land se hoogste burgerlike orde, die Orde van die Wit Roos, toegeken vir sy bydrae tot handel en inisiatiewe vir die bevordering van Afrikaans.

10. ELISABETH EYBERSBEURS
Die beurs word deur die Albert Wessels Trust beskikbaar gestel. Dit is jaarliks beskikbaar aan óf Suid-Afrikaanse óf Nederlandse/Vlaamse nagraadse studente, dosente en navorsers in Afrikaans of Nederlands. Die doel met die beurs is om die taal- en kultuurbande tussen die twee lande te bevorder en te versterk.

Die beurs word vanjaar toegeken aan prof Rufus H Gouws, verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch. Prof. Gouws gaan onder leiding van prof PGJ van Sterkenburg navorsing op die terrein van teoretiese leksikografie by die Instituut vir Lexocologie in Nederland onderneem. Die onderwerp van die projek: Die ontwikkeling van woordeboekstrukture vir spesifieke tipologiese kategorieë.

11. DOUW GREEFF-PRYS Die prys word toegeken vir 'n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.

Die prys word toegeken aan prof M Viljoen, E Johannsen en A Panzer van die Departement Fisiologie, Skool vir Geneeskunde, Universiteit van Pretoria, vir hulle artikel “Probiotika: dieet-aanvullende preparate van lewende, niepatogene mikroörganismes” wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, Jaargang 24, nr 1 & 2, 2005 verskyn het.

12. HAVENGAPRYS
Die Havengaprys is 'n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied. Die prys kan net een maal aan 'n persoon toegeken word.

Havengaprys vir Wiskundige, Chemiese of Fisiese Wetenskappe
Die prys word toegeken aan prof DP Laurie van die Departement Toegepaste Wiskunde, Universiteit Stellenbosch.

Benewens akademikus het hy ook bekendheid verwerf as analis van die nasionale verkiesingsuitslae en vir deelname aan die gewilde program Flinkdink. Hy het ’n wiskundige woordverwerkingspakket LATEX ontwerp, met ’n subpakket PMX, wat gebruikers toelaat om bladmusiek te set. Sy onvermoeide werk en geesdrif het van die Suid-Afrikaanse Wiskunde-Olimpiade ’n reusesukses gemaak. Hy lewer ’n konstante stroom publikasies op akademiese gebied, sowel as aktuele rubrieke. Hy ontvang die prys met erkenning van sy fundamentele bydraes tot die berekeningswiskunde op internasionale gebied, sy bydraes tot die popularisering en uitbouing van wiskunde in Suid-Afrika, asook sy bydrae tot die versameling van Afrikaanse wetenskapsliteratuur.

Havengaprys vir Biologiese Wetenskappe
Die prys word toegeken aan prof Ben-Erik van Wyk, Departement Botanie, Universiteit van Johannesburg.

Prof Ben-Erik van Wyk is een van die voorste navorsers op die gebied van medisinale plante in Suid-Afrika. Benewens talle navorsingspublikasies het hy ook ’n reeks boeke oor medisinale en eetbare plante in Suid-Afrika en wêreldwyd geskryf. Hy is nie net by akademiese navorsing betrokke nie, maar het ook uitstekend presteer wat die kommersialisering van medisinale plante betref. Talle nasionale en internasionale toekennings vir sy werk as biologiese wetenskaplike is al aan hom toegeken. Sy fenomenale publikasielys getuig van ’n besonder toegewyde navorsingsloopbaan.

13. EREPENNING VAN DIE FAKULTEIT NATUURWETENSKAP EN TEGNIEK
Die prys word toegeken aan prof JJP Verster, hoof van die Departement Bourekenkunde en Konstruksiebestuur, Universiteit van die Vrystaat. Hy is ook senior vennoot van Verster Berry Vennootskap.

Prof Basie Verster is dosent en departementshoof van die Departement Bourekenkunde en Konstruksiebestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy verrig baanbrekerswerk om akademiese studie toeganklik te maak by wyse van oorbruggingskursusse en afstandsonderrig. As bourekenaar lewer hy regdeur sy loopbaan groot bydraes om die professie uit te bou, ook deur die vestiging van Acta Structura, ’n geakkrediteerde tydskrif vir die fisiese-ontwikkelingsgemeenskappe (bou-omgewing). As privaat praktiserende bourekenaar vervul hy ’n leidende rol in die bedryf en dien ook as nasionale president van die Vereniging van Suid-Afrikaanse Bourekenaars. Sy internasionale aansien word bevestig met sy aanstelling as direkteur van die International Cost Engineering Council vir Afrika vanaf 1998 en sy aanstelling as president van dié liggaam. Gesamentlike navorsing met die Royal Institute of Chartered Surveyors in Brittanje vind ook onder sy leiding plaas. Hy is ’n bekende en geliefde ondersteuner van sport en ’n ywerige medewerker om gemeenskapsontwikkeling te bevorder.

14. FARMOVS-PRYS VIR FARMAKOLOGIE EN GENEESMIDDELONTWIKKELING
Die prys word toegeken vir voortreflike bydraes tot 'n vertakking of vertakkings van farmakologie en geneesmiddelontwikkeling.

Die prys word toegeken aan prof PJ Milne van die Departement Farmakologie en die Departement Biochemie en Mikrobiologie, NMMU, Port Elizabeth.

Prof Pieter Milne ontvang hierdie toekenning na aanleiding van volgehoue voortreflike bydraes tot farmakologie en geneesmiddelontwikkeling, spesifiek vir sy voortgesette werk op die gebied van sintese en toetsing van verskeie sikliese dipeptiede. Sy Eenheid vir Dipeptiednavorsing word hoog aangeslaan en sy gereelde publikasies in vooraanstaande geakkrediteerde tydskrifte soos Anticancer Research en Journal of Pharmacy and Pharmacology geniet wêreldwye aansien. Hy neem ’n leidende rol op die gebied van farmakologiese geneesmiddelontwikkeling en word in sy bedryf as baanbreker geag.

15. MT STEYNMEDALJE VIR NATUURWETENSKAPLIKE EN TEGNIESE PRESTASIE
Dit is een van die belangrikste eerbewyse van die Akademie vir leierskap op die hoogste vlak op die gebied van die natuurwetenskap en die tegniek. Die prys is 'n kroon op 'n lewenstaak en kan net een maal aan 'n persoon toegeken word. Die toekenning is vir die kandidaat se skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van 'n vertakking of vertakkings van die natuurwetenskap of die tegnologie en wat as 'n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die natuurwetenskap of die tegnologie beskou kan word, en die suksesvolle toepassing daarvan in landsbelang.

Die prys word toegeken aan prof SH von Solms, voorsitter en hoof van die Departement Inligtingstegnologie, Universiteit van Johannesburg.

Prof Basie von Solms het oor ’n tydperk van 35 jaar ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling en vestiging van Rekenaarwetenskap as universiteitsvak. Hy was instrumenteel in die ontwikkeling van leerplanne vir die vak, asook vir ander vakke wat uit Rekenaarwetenskap gegroei het, byvoorbeeld Informatika, Inligtingsekerheid en Inligtingstegnologiebestuur. Sy rekord as studieleier, asook sy persoonlike navorsing, geniet internasionale erkenning. Hy het reeds verskeie bedryfstoekennings ontvang en tree as visepresident van die Internasionale Federasie vir Inligtingverwerking (IFIP) op. Hy is ook die voorsitter van die IFIP se Tegniese Vergadering, wat die aktiwiteite van al 13 tegniese komitees van die IFIP koördineer. Hy is tans betrokke by die vestiging van ’n Streekskonsortium van Rekenaarverenigings in Suider-Afrika.

16. JUNIOR KAPTEIN SCOTT-GEDENKMEDALJE (Plantkunde)
Die prys kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling by 'n Suid-Afrikaanse universiteit vir die MSc-graad, om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe. Vanjaar was die dierkundige wetenskappe aan die beurt.

Die prys word toegeken aan me BA Lubisi van die Universiteit van Pretoria.

Die titel van haar verhandeling is Molecular epidemiology of African swine fever in East Africa en haar promotor was dr ADS Bastos.

17. ERELIDMAATSKAP
Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is ’n toekenning wat min beskore is en is die hoogste toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

17.1 Erelidmaatskap word vanjaar toegeken aan prof AH van Wyk, voormalige rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch.

Hierdie toekenning geskied aan prof Van Wyk op grond van sy besondere akademiese statuur in sowel sy studieloopbaan as sy onderrig- en navorsingsbydrae. Prof Van Wyk het ’n buitengewone bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die regswetenskappe en die regsbeoefening in Suid-Afrika. Sy toonaangewende bydrae tot die ontwikkeling van die universiteitswese word allerweë erken, asook sy lojale verbondenheid tot die bevordering van die hoër funksies van Afrikaans in die wetenskap en die kunste.

17.2 Erelidmaatskap word vanjaar toegeken aan prof AJ Brink, voormalige eerste president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Hierdie toekenning geskied aan prof Brink op grond van sy meriete as toonaangewende akademikus en leermeester van duisende in die geneeskunde. Hy word geëer as vestiger en uitbouer van die Afrikaanse vaktaal in die geneeskunde, as mediese navorser en as navorsingsadministrateur met rigtinggewende bydraes op kritieke tye. Prof Brink het nasionaal en internasionaal 'n reusebydrae tot sy vakgebied gelewer as mediese visioenêre organiseerder en integreerder van akademiese medewerking met betrekking tot die mediese wetenskappe. Benewens sy meer as 150 wetenskaplike publikasies is hy ook betrokke by die redaksies van velerlei wetenskaplike tydskrifte en was die stigter van Cardiovascular Journal of South Africa in 1989, ’n volwaardige internasionale tydskrif geïndekseer op die International Index Medicus. Hy dien in verskeie rade ter bevordering van sy vakgebied en word gekenmerk deur meesleurende inspirasie en onbaatsugtige diens, ook as Afrikaanssprekende patriot.

18. SPESIALE OORKONDE AAN DIE NZAV
Die oorkonde word toegeken as erkenning vir die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) in Amsterdam se betrokkenheid by Suid-Afrika oor ’n tydperk van 125 jaar, in besonder met betrekking tot die taal en kultuur, asook wetenskaplike en ekonomiese bande. Die NZAV het ontstaan uit ’n aantal Nederlandse komitees wat steun verleen het aan die Suid-Afrikaanse Republiek (Transvaal en die Oranje-Vrystaat), die sogenaamde Boererepublieke. Die NZAV het ontwikkel tot een van die belangrikste private kennis- en informasiesentrums oor Suid-Afrika in die buitewêreld. Die NZAV-boekery verteenwoordig onder andere ’n volledige beeld van wat in Afrikaans oor Suid-Afrika verskyn het en het by verskeie geleenthede ’n forum gebied vir die bekendstelling van Suid-Afrikaanse aktiwiteite. Die NZAV vier in 2006 sy 125ste bestaansjaar en was nog altyd in alle opsigte ’n blink uitstalvenster vir Afrikaans en Suid-Afrika.

19. POORT-KOMPETISIE (PUK-Kanselierstrustprys)
Die toekenning van hierdie prys word sedert 1972 tweejaarliks oorweeg vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerlinge in grade 10, 11 en 12. Vanaf 2006 sal hierdie kompetisie jaarliks plaasvind.

Die wenner van die poësie-afdeling is Verishna Bornman van die Hoërskool Reitz vir haar gedig “My hart het ’n website”.

Die wenner van die prosa-afdeling is Adam Heyns van die Hoërskool Menlopark vir sy inskrywing “Chenook”.


LitNet: 4 April 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.