RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor Hannes van Zyl se bedanking, twee kilogram te veel, ‘grime art’ en nog meer

Carina Diedericks-Hugo

Stephen Hawking se jongste boek, The Universe in a Nutshell, is een van die ses boeke wat vir die Aventis Prize for Science Books genomineer is. Die Aventis-prys, wat beskryf word as die Bookerprys vir wetenskap, word jaarliks toegeken en die prysgeld beloop £10 000. Hawking se werk oor die kosmologie sal moet kompeteer teen stof, primate, skisofrenie, wedywering in die wetenskap en ione — die onderwerpe van die ander werke wat benoem is.

***

“The Booker will become as British an institution as English muffins in American supermarkets.” Dit was die reaksie van professor Lisa Jardine, voorsitter van die Bookerprys-paneel, nadat dit bekend geword het dat die organiseerders van een van die wêreld se roemrykste literêre pryse dit nou oorweeg om Amerikaanse skrywers die geleentheid te gee om vir die jaarlikse prys in te skryf. Voorheen was die Bookerprys beperk tot inskrywings uit Brittanje, Ierland en die Statebond. Die vrees ontstaan nou dat die Booker gekaap gaan word deur die enorme Amerikaanse mark en die prys “on-Brits” gaan maak. Amper soos Twinings op die rakke van K-Mart.

***

Twee kilogram, of vyf sentimeter, staan tussen die Face of Africa 2000-wenner, Nombulelo Mazibuko, en ’n R1,5 miljoen-kontrak van Elite Models in New York. Die modelagentskap het Mazibuko huis toe gestuur en haar tot einde Julie gegee om die “oortollige” gewig af te skud wat haar verhoed om haar loopbaan as suksesvolle internasionale model voort te sit. Elite het duidelik nog nie van Sophie Dahl gehoor nie.

***

Die dag kom al hoe nader. Die dag kom nader vir Big Brother II. Wanneer Julie aanbreek, gaan ons weer vir drie maande met makabere fassinasie na twaalf vervelige siele staar wat die TV-stelle beset. As ’n voorskou tot die nuwe reeks gaan tien regte, egte bekendes gevra word om deel te neem aan die weeklange Celebrity Big Brother. Tot dusver het Yfm se Bad Boy T, 94.7 Hoëveld Stereo se Sam Cowen, sangeres Gloria Bosman, Bill Flynn en die voormalige Mej Suid-Afrika, Joanne Strauss, ingestem om vir sewe dae Steer’s en Nando’s te eet, in die jacuzzi te kafoefel, te baklei oor skottelgoedwasbeurte en te huil in die diary room. ’n Bekende sal daagliks deur die publiek uitgestem word totdat Celebrity Big Brother 2002 op Sondag 30 Junie gekroon word. Geld wat gedurende dié week gegenereer word deur verskeie insamelingsprojekte, gaan aan die South African Children’s Charity Project geskenk word.

***

Mnr Hannes van Zyl, hoofbestuurder van NB-Uitgewers, het glo bedank. Alhoewel die pos intern binne Nasionale Pers geadverteer is, wag skrywers steeds op ’n amptelike verklaring wat die interessante gerugte sal stuit, al dan nie. ’n Mens wonder oor die skynbare geheimhouding.

***

’n Werker by die New Covent Garden-mark in Londen het ’n unieke manier gevind om die tyd te verwyl en te verseker dat die klante daagliks terugkeer. Ben Long teken tonele — enigiets van ’n boksgeveg tot ’n vrou wat ’n hondjie streel — op die vuil bakwerk van paneelwaens. Long het oornag bekendheid verwerf vir sy sogenaamde “grime art” en naelskraap die Prospects Contemporary Drawing Prize van £10 000 gemis. Die prys is gewen deur Ian Davenport wat verf oor die mure van Londen se Essor-gallery gedrup het.

***

Die strokiesjoernalis Tintin het op sy skepper Hergé se 95ste verjaarsdag op 22 Mei 2002 seëvierend van nóg ’n avontuur teruggekeer. Dié keer was dit uit die kloue van die Chinese owerheid. ’n Projek is verlede jaar aangepak om die Tintin-boeke in Mandaryns te vertaal. Tot die ontsteltenis van Hergé se Belgiese uitgewer Casterman en weduwee, Fanny Remy, is die nuutste titel in die Mandaryn-reeks, Tintin in Tibet, verander na Tintin in Chinese Tibet. Die politiek as handelsmerk …

***

Die show laat die Huisgenoot soos die Economist lyk, maar The Jerry Springer Show het ’n nuwe laagtepunt bereik. In Julie 2000 is ’n episode getitel “Secret Mistresses Confronted” uitgesaai. Ralf Panitz, sy eksvrou Nancy Campbell-Panitz, en Panitz se nuwe vrou, Eleanor, het deelgeneem aan die program. Panitz en Campbell-Panitz was reeds ’n jaar lank geskei, maar het steeds saamgewoon. Op die program het Panitz sy nuwe vrou aan sy huismaat kom wys. Daar was die gebruiklike wedersydse geskel en amperse aanranding op die program, maar dié keer het dit selfs verder gegaan as wat Jerry kon keer. Twee dae later is Nancy Campbell-Panitz se lyk gevind. Ralf Panitz is pas ’n lewenslange vonnis in Florida, VSA, opgelê vir die moord op sy eksvrou.

***

Die oudste onafhanklike uitgewer in die wêreld is na 234 jaar uiteindelik ook opgeslurp deur een van die uitgewersreuse. John Murray, gestig in 1786, was die eerste uitgewer om skrywers soos Jane Austen, lord Byron, Charles Darwin, Arthur Conan Doyle en John Betjeman te publiseer. Die grootliks geglobaliseerde uitgewersbedryf het egter daartoe gelei dat hulle nie meer kon meeding met die groot rolspelers nie en die huidige voorsitter, John Murray VII, het sy familiebesigheid vir £20 miljoen aan Hodder Headline (deel van die WH Smith-groep) verkoop.


Bronne: BBC, Yahoo, IOL, News 24, New York Times, Sunday Times

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.