RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Riemtelegram

Erns Grundling

En die nuwe grootbaas by NB-Uitgewers is ...

“Dit is altyd een van die donkerste geheime ...” So beskryf die skrywer Abraham H de Vries die spanning, opwinding en kantoorfluisteringe wat gewoonlik die aankondiging van ’n nuwe besturende direkteur by NB-Uitgewers vergesel.

En selfs in die Naspers-toring se wandelgange blyk dit ’n goed bewaarde geheim te wees. Of is daar dalk ’n swygverbod? Een werknemer laat blyk dat dit gewoon te dol gaan om nog dáároor ook te wonder — maar gee toe dat daar ’n nuuskierigheid heers.

Só ’n pos is van kardinale belang; dit gaan immers hier oor die persoon wat leiding moet neem van ’n gevestigde uitgewery in ’n tydsgewrig wat baie uitdagings bied en hoë eise stel.

Die huidige besturende direkteur, Helgaard Raubenheimer, sê die aankondiging sal einde Februarie na afloop van ’n direksievergadering gemaak word. Die nuwe persoon sal die pos dan vanaf die begin van die nuwe boekjaar (begin April) vul.

Wie sal dit wees? ’n Jong Turk met ’n boek vol planne, of ’n wyse gryse met al die nodige ervaring? Iemand van binne die maatskappy, of dalk nuwe bloed buite die Naspers-stal? Miskien ’n vrou?

Raubenheimer wou nie veel uitbrei oor enige moontlike kandidate nie, maar het genoem dat dit tyd is “om jonger mense in te span wat reeds op ’n vroeër ouderdom aan hierdie tipe verantwoordelikheid blootgestel word”.

Tot tyd en wyl bly die boeke duister, maar hou gerus hierdie ruimte dop.

* * *

Die Kat(ryn) kom weer!

Goeie nuus vir Song vir Katryn-verslaafdes en volgelinge van Jinx: die nuwe reeks word in April verfilm en sal in Junie, Julie en Augustus op kykNET uitgesaai word. Daar word selfs meer drama en opwinding as in die eerste reeks beloof, en ek het selfs ’n voëltjie hoor fluit dat Katryn swanger gaan word!

Maar dis blote bespiegeling, meen Albert du Plessis van Rhythm Records. Albert is aan die stuur van sake met die tweede klankbaan, waaraan Valiant, Mel Botes en die band Maandag begin werk by Jürgen von Wechmar se Sunset Studios buite Stellenbosch.

Die eerste Song vir Katryn-album het einde November ’n rapsie minder as 25 000 eenhede verkoop, en daar is geen twyfel dat dié album goue status gaan bereik nie.

Hoewel Albert nog slegs na ’n handvol van die snitte tydens vooraf-produksie kon luister, kan Valiant-aanhangers ’n song of twee verwag wat in ’n soortgelyke trant as die materiaal van sy destydse Dorpstraat Revisited gaan wees. Mel Botes (Slab) gaan ook meer betrokke wees by die album, en vier van sy eie songs gaan ook opgeneem word.

* * *

Hoe is Dan Roodt se Kultier gestreep?

“Ons wil die Afrikaanse boek- en CD-bedryf ’n hupstoot gee en groter belangstelling wek vir Afrikaanse kultuurprodukte. Dit moet ’n groot bedryf word in Suid-Afrika, soos dit hoort.”

Só praat Dan Roodt terwyl hy vertel van die splinternuwe Afrikaanse tydskrif wat by die Stellenbosch Woordfees bekendgestel word. Hy is tans besig om saam met ’n redaksie te werk aan die eerste uitgawe van “’n algemene kultuurtydskrif” wat op literêre en breër wyse op skrywers en sangers se doen en late gaan fokus.

Dan noem dit “iets in die lyn van die New Yorker, maar nie so high-brow nie, ’n allegaartjie van dinge”. Hoewel hulle nog in ’n beplanningsfase is, gesels hy met mense soos Leti Kleyn, Andries (Roof) Bezuidenhout, Petrus de Kock, Henning Pieterse en Johann Lodewyk Marais. Hy wou die tydskrif eers Spil noem, maar wil nou graag die naam Kultier aan die redaksie voorlê.

Dan wil met dié tydskrif wegbeweeg van politiek. “Daar is deesdae in elk geval ’n groter belangstelling in Afrikaanse letterkunde en musiek. Die huidige tydskrifmark het heelwat leemtes wat inligting en nuus oor skrywers en sangers betref.”

As alles vlot verloop, word die tydskrif by die Woordfees bekendgestel, waarna dit hopelik landwyd versprei kan word op ’n tweemaandelikse basis.

* * *

Valiant se seun looi nou óók die kitaar

Dit spook weer op Stellenbosch. Maar hierdie spook dwaal nie rond in ’n kerkhof of in stowwerige geboue nie. Hy looi eerder ’n elektriese kitaar en ruk-en-rol tot dagbreek toe.

Spook is niemand anders nie as Robert Nolte, die 11-jarige seun van Valiant Swart. Saam met Adrian van der Merwe en Lucas Swart (seun van Valiant se tromspeler, Vernon Swart), tree dié groep môre (24 Januarie) vir die eerste keer in die openbaar op by die Speelgoed Museum in Markstraat, Stellenbosch. Die gehoor kan ’n mengsel van rock ’n roll, blues en selfs ’n bietjie grunge verwag.

Spook gaan van sy eie songs sing, maar gerugte doen die rondte dat hy ook ’n paar covers van Bob Dylan en Nirvana se “Smells like teen spirit” gaan doen.

Intussen oefen hulle by sy pa se huis dat dit klap. Valiant is in die boonste vertrek besig met vooraf-werk aan die nuwe Song vir Katryn-album en het nou stellig met ’n punk-band te doen op eie bodem. Die omliggende huise se honde weet glo nie hoe om hierdie kakofonie te hanteer nie.

Diegene wat al vir Robert sien “air guitar” speel het by sy pa se vertonings, sal glad nie verbaas wees om van Spook se musiekplanne te hoor nie. Verskeie bekendes in die musiekwêreld (onder andere Francois Kruger, voormalige tromspeler van die Springbok Nude Girls) het al laat blyk dat hy graag Robert se bestuurder sal wil wees.

Toegang vir Spook se optrede môre om 19h00 is R7 en kaartjies sal by die deur beskikbaar wees. Bring gerus verversings saam. Lees meer hieroor by http://www.news24.com/Eikestad/.



23 Januarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.