ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Karooreis

Vincent Pienaar, 2005

My vriend Johan, onlangs afgetree uit 'n suksesvolle loopbaan in die korporatiewe wêreld, is die eienaar van twee vliegtuie, 'n seiljag en 'n verskeidenheid padvoertuie. Dan is daar, behalwe die drie huise wat hy besit en onderhou vir homself en twee eksvrouens, 'n woonstel in Londen vir sy baie suksesvolle rekenmeester-seun wat nooit geld het nie, en, natuurlik, die verpligte tyddeel by San Lameer.

Hy is 'n man wat die Cape to Rio-seiljagwedvaart voltooi het (in 'n span waar hy twintig jaar ouer as die skipper was), hy is alewig op een of ander ski-, boot-, of vliegvakansie, en tog, paradoksaal, dring hy daarop aan dat die reis nie saak maak nie - dit is wat jy doen wanneer jy daar kom wat tel. Dat ek dink dat hy, soos almal van ons, in sy oorgangsjare is, sê ek nie vir hom nie - sy eksvrouens doen dit sonder ophou en ek het geen behoefte om die arme ou se neus daarin te vryf nie - maar hy geniet nog eksotiese klubs, die Europese naglewe, en rekenings van honderde euro's vir sjampanje. Hy hou daarvan, en hy vertel my daarvan.

Ek waai vir die kroegman en hy sit nog twee bottels bier op die toonbank voor ons neer.

Maar hoekom hou hy dan nie van reis nie wil ek weet. Dis te vervelig, verduidelik hy. Daar is niks om te doen nie.

Dit is wat my laat dink dat reis soos geloof is: jy sien wat jy wil, en jy glo wat jy wil. Ek, anders as my vriend, fokus eerder op die meer beskeie plesiertjies van die lewe. Ek noem byvoorbeeld aan hom dat ek onlangs saam met baie goeie vriende - vier volwassenes in 'n 1800 Honda Ballade met lugreëling - twee dae gevat het om baie gemaklik Kaap toe te ry, en dat die ryery deur die Karoo 'n hoogtepunt van die vakansie was.

Hy kyk my skepties aan. Die beste manier om die Karoo te sien, stel hy voor, is uit 'n vliegtuig, twintig duisend voet bo die grond. Dis net vlakte man! dring hy aan.

Vlakte? Wat van die landskap? vra ek. Wat van die ewig veranderende rotsformasies, die geleidelike opbou van hoër en hoër koppies; daar van die middel van die Vrystaat af (waar die woord vlakte tot sy reg kom) deur Colesberg, waar die swartgrys bossies so grof is dat nie eers die skape dit kan eet nie, en so kaal dat jy die beweging van enige iets groter as 'n klipspringer op 'n duisend meter kan bespeur?

Het jy al, wil ek weet, net anderkant die dorp die oostepad in die rigting van Middelburg en Graaff-Reinett gekies, en die Vallei van Verlatenheid gesien, met sy landskap wat die Colesberg-omgewing soos die tuin van Eden laat lyk? En wat van die westepad Kaap toe? Hier duskant Drie Susters kan jy sien dat die plantegroei meer kleur kry en die wind - en ja, dit waai omtrent altyd daar - vatplek kan kry om die plante te laat swaai; nou wel nie soos die digter se "waaigras wat huppel oor die veld" nie, maar tog 'n beweging.

Lank voor Beaufort-Wes is daar genoeg hoë bosse en bome dat die omsigtige bestuurder by die spoedgrens bly, want daar is lekker wegkruipplekkies vir die manne met die kameras om jou af te neem lank voor jy hulle kan sien.

Tien kilometer anderkant die dorp, naby die Karoo Nasionale Park, is Teri Moya. Ek self is agterdogtig teenoor die one-size-fits-all argitektuur van moderne oorblyplekke (soos by die Aventura-oorde, waar jy 'n GPS-instrument nodig het om vas te stel of jy by Tshipise of Badplaas is), maar hier by Teri Moya kry hulle dit tog reg om jou meer soos 'n gas te laat voel en minder soos 'n produksie-eenheid wat so doeltreffend as moontlik geprosesseer moet word. Die Tabbard en die Raid, teen twee keer duurder as in die dorpswinkel, is nog steeds 'n winskopie, want met die onlangse onverwagte reën - reën in die Karoo is altyd onverwags - het die dam weer water in en die muskiete kom in eskaders aangevlieg.

Daarteenoor is die vuurmaakhout baie goedkoop en baie. Soos almal weet, is skaapvleis in die Karoo altyd op die spyskaart: lamtjops vir 'n voorgereggie, skaapbredie vir 'n hoofgereg en nog 'n paar tjoppies vir nagereg. Nog 'n sakkie hout op die vuur en die rooiwyn is rooier teen die agtergrond van die kole, die omgewing is rustig, en die mees kontensieuse onderwerp op die geselsspyskaart is die gesondheid van die Pous ("shame, die arme ou man!") en 'n bespiegeling oor die eerste spoorweg in Suid-Afrika: was dit die een in Swellendam of die een in Durban?

Die skrywer van die stad af word bekeer tot die Karoo
Johan lyk nog maar skepties en ek vertel hom hoe jy op jou rug op 'n kombers kan lê en na die sterre kan kyk, so naby dat, soos 'n slim skrywer gesê het, jy voel jy kan jou hand uitsteek en die Melkweg roer.

My vriend lig sy skouers, minder beïndruk as wat ek gehoop het. "As jy wil sterre kyk," noem hy terloops, "probeer dit in die middel van die Atlantiese Oseaan, op 'n seiljag, 'n duisend seemyl van die naaste land af." Touché.

In die oggend, met die oosteson agter jou rug, is die pad tussen Beaufort-Wes en Laingsburg 'n plesier, al vind jy jouself weer in daai dorre wêreld soos by Colesberg, maar nou begin die Witteberge hulle teenwoordigheid aan te dui met 'n dynserige grysheid op die horison wat stadig nader sluip, en teen die tyd dat jy by Laingsburg teen die afdraande afry, is jy beslis aan die voet van hierdie berge, wat, soos een van die passasiers ons kundig inlig, 'n aantal miljoen jare oud is - baie ouer as die meeste berge in die wêreld.

'n Goeie rit word versigtig beplan om die belangrike dinge in die lewe in te sluit, en 'n koninklike ontbyt by die Laingsburg Hotel gebeur, met vernuftige bestuur, presies om tienuur. Dit word bedien deur Mary met die uittande wat nog steeds, nes drie jaar terug, een van die dae gaan aftree. Voor jy uitstap, word jy 'n botteltjie appelkooskonfyt aangebied. "Genuine, homemade, Mevrou," sê Mary met trots. "Dis my eie favourite, geen preservatives!" Jy kan nie anders as om een te neem nie - as jy besonder spandabelrig voel, neem jy twee vir dertig rand.

Buitekant, sonder die isolering van lugversorging, besef jy hoe warm die Karoo-sonnetjie kan brand. Voor ek nog die bedelaartjie 'n rand of twee kan gee, kom 'n groterige dame uit die hotelkombuis uit en verwilder hom. "As jy nie daar wegbly nie druk ek jou sommer in die deep freeze in," dreig sy. "Jy sal stokstyf daar uitkom!" belowe sy.

Dan vat jy die pad in die rigting van Touwsrivier, in die Hexriviervallei in, uit die Karoo uit, sluit ek my storie aan my kroegvriend af.

Hy is nou al so opgewonde dat hy met sy hand onder sy ken sit, sy elmboog op die toonbank. Hy lyk of hy aan die slaap gaan raak. "Dit is mos hoekom die Karoo daar is, is dit nie?" vra hy. Ek verstaan nie en frons. "Ja man," sê hy en bestel nog twee biere. "Die Karoo is geskape sodat die Kaap nog mooier lyk wanneer jy uiteindelik uit die woestyn uitkom."

Nes geloof, dink ek weer. Die man het gehoor wat ek sê, maar nie geluister nie. Ons Karoo-liefhebbers, besluit ek, moet liewers stilbly en die geheim vir onsself hou.



LitNet: 19 Mei 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.