ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ek en Kili: My Kilimandjaro-ondervinding

Emelia Janse van Rensburg, 2006

My storie moet vertel word sodat leke soos ek, en onervare klimmers, voorbereid kan wees op die onbekende. 

Dit was een van my baie drome om eendag Kilimandjaro te gaan klim. Die geleentheid het my te beurt geval toe my seun saam sy skool ‘n staptoer beplan. Ouers kon ook saamgaan. Ek het gedink dit sal wonderlik wees om saam my matriekseun op die hoogste berg in Afrika te staan. Ons gesin kom ooreen dat ek nou saam ouboet gaan, en Pappa oor twee jaar saam die twee dogters. 

Uiteindelik breek die groot dag aan. Ons vlieg met Air Tanzania. Wat 'n ervaring! Ek kan sê dat ek drie keer in een week in Zanzibar was, alhoewel ek nie voet aan wal gesit het nie. Ons moes op Dar-es-Salaam land, maar eers verby hou na Zanzibar nadat 'n ander vliegtuig se band op Dar gebars het. Daar het ons seker 'n halfuur gewag voordat ons kon opstyg en op Dar-es-Salaam kon land. Weer moet ons terug na   Zanzibar … uiteindelik kon ons toe op Kilimandjaro-lughawe land. Ons kom baie laat by die hotel aan waar ons die nag oorslaap. Die muskiete vreet ons amper lewend op. Dit wil voorkom of ons muti nie vir Donker Afrika se muskiete werk nie. 

Vroeg die volgende oggend begin ons die berg aanvat op die Machame-roete. Die eerste drie dae se klim is “speletjies”.  Ek verbaas my daaroor en is dankbaar vir die harde werk in die gym. Die eerste dag deur die reënwoud is pragtig - jy verbeel jou jy stap in die Knysna-woude of in Mpumalanga se reënwoude.

Die nag in Machame-kamp word ek wakker van ‘n lawaai. Dis Ben, Gert en Jannes wat ons probeer wakker kry om na die berg te kom kyk. Dis volmaan en die sneeu blink soos fosfor bo-op Kilimandjaro. Wat ‘n panoramiese prentjie! Ek hardloop gou tent toe om my kamera te kry, maar die mis het reeds die berg toegemaak. Die spul wat deur al die lawaai geslaap het, glo ons nou nog nie dat ons die berg gesien het nie.

Die tweede dag is droë woestynklip en berge tot by Shira-kamp. ’n Paar van ons stap om na die Shira-grot te gaan kyk. Ek gaan saam, want ek is bang ek mis iets. Ek wil tog net niks mis nie. Dit was toe nie veel meer as ‘n vyf meter diepe krans nie. 

Dag 3 was besonders omdat die “fikser” groep Lava Tower omgestap het en toe nog teen die kliptoring opgeklim het tot bo (4 650 m bo seespieël). Dit was iets besonders. Almal behoort dit te doen. Net voor middagete kom ek agter dat ek effee duiselig is en ‘n ligte hoofpyn het, maar dit waai gelukkkig vinnig oor. 

Terug by Barancu-kamp moet ons hoor dat een van die meisies baie siek is en teruggeneem is hotel toe. Dit is hartseer en teleurstellend. Almal wil graag hê dat die hele groep dit tot bo sou maak. Daar is ‘n effense atmosfeer in die kamp. 

Dag 4 is bietjie rowwer, veral die Barancu Wall, wat 'n loodregte berg is wat ons moet uitklim. Alles is hanteerbaar omdat die pas so stadig is, maar jy moet tog nog fiks wees en uithouvermoë hê. Nog ’n maat moet hier omdraai en terug hotel toe. Almal begin wonder of hulle dit gaan maak. Wie val volgende uit? 

Die nag van “summit” is egter nie grappies nie, maar loutere hel! Ons het Woensdagaand net na aandete gaan slaap en is 22h00 wakkergemaak om 22h30 te begin “summit”. Ek word bewerig en met ‘n naar kol op my maag wakker, maar dink dis van opwinding. As ek maar geweet het wat wag. Ek is so goed voorberei en positief, daarom is die teleurstelling later so groot. Ek het gedink ek gaan die een wees wat die kinders gaan deurtrek. 

Ons begin onmiddellik loodreg teen die berg opklim. Dit is donker en nogal gevaarlik. As jy jou balans verloor, kan jy baie seerkry. Daar is nie oral kranse nie, maar meestal gruisklippies, wat dit moeilik maak en mens baie laat gly. Jy skuifel-skuifel maar vorentoe, treetjie vir treetjie, rus eers, skep asem, beweeg weer, anders raak jy op jou voete aan die slaap, keer die ou voor jou wat agteroor wil val, anders word almal soos domino’s omgestamp.

As jy uit die ry val, is die gidse gou by om jou terug te stoot en aan te por en so skuifel jy voort, gly twee treë terug, rus, skep asem, skuifel, skuifel … vorentoe, op, op, en volg net die ry liggies wat net hoër en hoër klim voor jou. Ek gaan goed aan, maar voel nie lekker nie. Ek het nie die energie van die vorige vier dae nie en dink dat ek nooit my dogtertjies sal toelaat om hierdie berg te klim nie.

Waar ek die eerste drie dae gedink het die berg is ‘n grap, besef ek nou dis glad nie grappies nie. Daar is ‘n gids vir elke drie stappers en hulle hang die heeltyd om ons en maak seker almal is nog reg. Van die ander toergroepe het intussen tussen ons groep inbeweeg en sien ek skielik nie meer ‘n gids naby my nie. Na die laaste rus net voor Stella Point begin ek al hoe stadiger beweeg en verder uitval. 

'n Gids tel my langs die pad op en vat my rugsak by my. Hy loop voor en probeer my aan die gang hou. Ek wil net weet hoe ver Stella Point nog is. Ek dink net daaraan dat ek dan ten minste nog 'n Groen Sertifikaat kan kry en daar behoort 'n draagbaar te wees waarmee hulle my kan afdra, want ek het net nie die krag om weer al die pad af te loop nie. Ek is nou bekommerd en wonder of ek malaria het, maar besef nie dat ek lankal al die simptome van hoogtesiekte het nie. Ek het egter verskonings vir alles - die hoofpyn, dink ek, is van die sonbrand, die stywe nek van die swaar rugsak, die naarheid en geen eetlus nie van sop en vis, die swelling dink ek is normaal. As ek maar betyds besef het en Diamox begin drink het.

Dit is verskriklik koud. Ek kan nie meer my hande en voete voel nie en ek besef hier is groot fout. Ek bly vra hoe ver is Stella Point. An hour, forty-five minutes, thirty minutes, twenty minutes … die ry liggies voor my bly hoër en hoër klim. Skuifel, skuifel, gly terug, rus …

Dit begin daglig word. Ons het Stella Point bereik! Ek is bo! Of is ek? Das loop agter my en moedig my aan. Hy stop om die sonsopkoms af te neem en sê nog dis ons sonsopkoms omdat ons so “suffer”. Ek draai om en gee vir hom ‘n “stupid Kili smile”. Toe ek weer vorentoe draai, verloor ek my balans en word dit net swart voor my.

Ek kom by met verskriklike rukkings en kouekoors. My gids is histeries en roep ons hoofgids, Tom, maar dié is saam die voorste groep al op pad na Uhuru-piek toe. Ek word weer flou, en toe ek bykom, is daar ’n klomp mense om my, onder andere 'n dokter. Hulle gee my hartmassering en smeer goed op my tandvleise, druk twee pille in my mond en sê ek moet so gou moontlik die berg af. Ek begin katte skiet; dit voel of ek ’n hele dorp se katte ingesluk het en nou daarvan ontslae moet raak.

Uiteindelik kry hulle my op my voete. Twee gidse haak onder my arms in en begin met my die berg af hardloop. Hulle vee elke tree se harde werk binne minute uit. Ek wil stop – ek moet nog tot by Uhuru gaan, ek wil nog die twee leiklippe met my dogters se name op en briefies vir hulle (wanneer hulle dit oor twee jaar maak) daar gaan neersit, en die appels wat die matriekseuns vir Regard om die kruis moet hang ... Maar hulle sê ek moet af, af, af … Ek word weer flou en skiet nog 'n paar katte en huil vir alles waarvoor ek die laaste paar jaar nie gehuil het nie. Die gids troos my met “Lady, don't cry” en vee my trane saggies af. Ek begin hallusineer en hoor my seun roep na my, maar toe ek omkyk, is hy nie daar nie. Op 'n stadium is daar 'n Duitser by my wat sê hy sal my nie alleen los nie en al die pad terug na Barafu-kamp saam my sal gaan. Terug Barafu toe, self, op twee bene wat soos jelly voel en 'n maag vol katte? Waar is die draagbaar en die reddingspanne? 

Onder by Barafu wil ek net in my tent gaan lê en slaap, maar die gids maak my wakker en sê ek moet nog laer af tot by Mweka-kamp - nog drie uur se stap verder. Ek sterf eerder hier in my tentjie! Barafu is 4 600 m hoog en Mweka nog steeds hoër as die Drakensberge. En steeds geen draagbaar nie. Die gidse haak by my in en begin verder af hardloop met my. Ek sak kort-kort inmekaar, rus bietjie, huil, skiet so bietjie 'n kat, kry weer krag van êrens en hardloop verder. By Millennium-kamp stop ek en sê ek gaan niks verder voor hulle nie ‘n draagbaar bring nie. Die gidse sê hulle gaan kyk of hier 'n “stranger” is wat my kan afvat. Nee! Ek wil nie 'n vreemdeling hê nie, húlle moet my vat … Ek vind toe later uit hulle noem 'n draagbaar 'n “stranger”! Ai toggie. En so hardloop ek toe tot by Mweka-kamp. Kilimandjaro en die Comrades in 16 uur!

Daar gekom is ' n tentjie vir my opgeslaan in die hittige son. Siestog, hulle dink seker dis goed so, omdat ek so ruk van die kouekoors. Die een trek tot my boots en gaiters vir my uit. Ek gaan lê en slaap tot Kazamoto vir my Milo en 'n skotteltjie badwater bring.  

Ek voel heelwat beter en gaan wag vir die res van die groep om in te kom. Ek hoor nog twee kinders, buiten die twee wat al op dag drie uitgeval het, het dit nie gemaak nie. Verder is ek al een wat 'n Groen Sertifikaat gekry het; die res het almal Goud gekry.  

Die terugtog deur die reënwoud is wonderlik: dit reën te heerlik en ek voel weer soos 'n kind wat in modder speel. Ek is bly dis verby en ons is op pad terug.

Ek is baie dankbaar om veilig tuis te wees en besef hoe naby my einde was.

"The Will of God will never take you

where the Power of God will not protect you."





LitNet: 30 Augustus 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SÍNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.