PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Namibië en sy digters - Land van sonlig en van sterre

Daniel Hugo

Land van sonlig en van sterre saamgestel deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis, 2004)

Die Nederlandse digter Gerrit Komrij het op 'n keer gesê dat dit lyk of die Afrikaanse taal spesiaal vir die poësie geskep is. Ek wil sy uitspraak aanpas: dit lyk soms of die Namibiese landskap spesiaal vir die poësie geskep is. Die wydsheid en die oergevoel wat dit uitstraal, laat niemand ongeroer nie - veral as jy 'n digter is.

Ek was bevoorreg om my eerste bewuswording as mens in daardie uitgestrekte, aangrypende stuk van Afrika tussen drie groot riviere en twee magtige woestyne te ervaar. Die riviere is die Kunene en die Okavango in die noorde en die Gariep/Grootrivier/Oranje in die suide. Die Namibwoestyn lê in die weste en die Kalahari in die ooste. Ek is in 1955 gebore. My pa was vanaf 1954 tot 1958 predikant op Warmbad in die verre suide van die destydse Suidwes-Afrika. Ek moes dus om en by drie jaar oud gewees het toe ek die volgende beleef het:

my prilste herinnering: 'n glansende maan
wat stil uitstyg bo die rand van ons agterplaas

in sy lig sien ek hoedat my dun skadu val
eindeloos deur 'n rotsagtige kil heelal -

daar waar ek staan in 'n landskap van ysterklip
het bedags 'n Namakwa-vrou my opgepas

haar geklik het toe weerklink in my Afrikaans:
die magneet wat my hier vashou ondermaans

die taal wat my laat klou aan die gebarste lip
van Afrika, waaroor hortend 'n koorsasem blaas.

(Skeurkalender, Tafelberg, 1998)

Die digter George Weideman is in 1947 gebore en het in daardie selfde vyftigerjare vakansies by sy ouma Shaw in die Warmbad-distrik op die plaas Keimas gekuier. Hy onthou dit glashelder in sy gedig "Buiteslaap by Ouma Baai". So klink die manjifieke eerste strofe:

Somers kon ons buite slaap: wit
hopies wasgoed ál om die huis geskik.
Dan het ons lê en kyk hoe glad ons skip
- dié ou skedonk genaamd aarde -
deur 'n see van sterre en donkerte glip.

('n Staning onder sterre, Tafelberg, 1997)

Toe die Windhoekse predikantseun Piet van Rooyen se eerste digbundel, getitel Draak op die erf, in 1973 die lig gesien het, was hy pas 20 jaar oud. Ek was toe 'n eerstejaarstudent op Stellenbosch en onthou die skok van herkenning wat die bundel my gegee het. Ek het dadelik die sand en die son van my land herken. En ek was opgewonde dat iemand van my leeftyd dit so raak in woorde kon vasvang.

Die oudste gedig oor Namibië wat ek kon opspoor, is "Die Namib-woestyn" van AE Schlengemann uit 1929. Hy stel - in die trant van Jan FE Celliers se "Die vlakte" - die Namib self aan die woord. Die woestyn beskou homself as 'n dienaar van die Dood wat met alle lewende wesens 'n stryd voer.

Waar die warm Namib en die koue Atlantiese Oseaan mekaar ontmoet, staan dit bekend as die Seekus van die Dood, die Dodekus of die Skedelkus (soms selfs toutologies: Skedelkus van die Dood!). Die eerste digter wat dié skrikaanjaende landskap in Afrikaans beskryf het, was DJ Opperman in sy diamantsmokkel-epos Blom van die baaierd van 1956. Daarna het ook PJ Philander en Lucas Malan dié unieke stuk aarde onder woorde gebring.

Die suksesvolste oorlewende van die allesverslindende woestyn is ongetwyfeld die oerplant, die Welwitschia mirabilis, waarvan sommiges tot 2 000 jaar oud kan wees. Die welwitschia duik dan ook dikwels in gedigte op. Fanie Olivier sê: "Dat hy kan en bly voortbestaan is reeds die wonder/ wat opgesluit is in sy fênsie naam". En dié "fênsie naam" kom van Friedrich Welwitsch (1806-1872), die Oostenrykse plantkundige wat dié merkwaardige plant in 1860 in die suide van Angola ontdek het. Olivier noem die welwitschia ook die "tweeblaarkanniedood" en "God se troetelplant".

Dan is daar ook die ander wonderplant, die halfmensboom (Pachypodium namaquanum), waaroor Petra Müller skryf. Ewe merkwaardig is die versteende woud in Damaraland waaroor Trienke Laurie 'n treffende gedig geskryf het. Daar word geskat dat die versteende boomstamme tot 260 miljoen jaar oud kan wees.

Ander woestynwesens wat in gedigte genoem word, is die horingsmanslang, die Bitis cornuta (by Hennie Aucamp) en die blaffende geitjie, die Palmatogecko rangei (by Marié Blomerus). Hennie Aucamp se kwatryn "Horingsman" is nog nie voorheen gepubliseer nie en sien vir die eerste keer die lig in dié bloemlesing:

Die skuifelslang skryf
met slu venyn
'n skuins gedig
oor die woestyn.

Marié Blomerus het ook die ander (half)woestyn, die Kalahari, besoek. Haar gedig "Plasse sterre" sluit mooi aan by die titel van die bloemlesing Land van sonlig en van sterre:

plasse sterre
sterremere seë van sterre
by Nossob
staan jy oopmond
verstom
vir die verstommende sterre
so naby dat jy net maar jou hand kan lig
jou oop mond oop kan hou om strome
storms sterre te sluk

(Ithaka, Perskor, 1985)

Namibië se helder, droë naglug maak dit 'n paradys vir sterrekykers. Daar is inderdaad 'n sterrewag bo-op die Gamsberg aan die rand van die Namib. En in die woestyn is daar 'n navorsingstasie by Gobabeb. Dié sterrewag en navorsingstasie kom voor in my gedig met die titel "Namiboloog":

by Gobabeb in die sandwoestyn vang
hy nagdiertjies tussen die duine met 'n tang
hou hul onder die mikroskoop om te sien
waar die naald moet prik met die formalien

en snags kyk hy van Gamsberg se sterrewag
hoe sekuur die Skerpioen oor die uitspansel jag.

(Buitekamerklanke, Perskor, 1983)

Die byna totale afwesigheid van stads- en dorpsgedigte is opvallend. Al verklaring waaraan ek kan dink, is dat die landskap in hierdie ylbevolkte gebied so oorweldigend is dat dít die grootste uitdaging aan digters bied. Ek het wel twee dorpsgedigte in die bloemlesing opgeneem - Hewitt Visser se "Swakopmund" en Piet van Rooyen se "Tantes":

as die westewind van ver af waai
as die westewind so triestig waai
die stowwe uit die grond uitwaai
as dit begrafnis is op Rehoboth

dan sit die dikke tantes op die stoep
so driekwart oor die stoel
elk in swart kant gerok
met veraf die gebeier van 'n klok

sit hulle na die son en loer
tussen die proe aan brokke brood
en klop die voete op die vloer:
"O, brose mens, bedink die dood."

(Goedsmoeds, Protea Boekhuis, 2002)

Die Namibiese geskiedenis kom ook in hierdie bloemlesing ter sprake. Die mees uitgebreide berymings van die negentiende- en vroeë twintigste-eeuse gebeure, met leiersfigure soos Jonker Afrikaner, Hendrik Witbooi en Maherero, kry 'n mens in die epiese verse van PJ Philander (Vuurklip, 1960) en Pieter Strauss (Nuwe stemme I, 1997). Ek wou egter nie gedigfragmente opneem nie en het hulle dus heeltemal weggelaat. Daar is wel 'n sonnet van RK Belcher oor Bartolomeus Dias wat in 1488 'n kruis geplant het by Angra Pequena oftewel Lüderitzbucht.

Daarvandaan maak ons dan 'n sprong na 1914, toe die Uniemagte Duitswes-Afrika binnegeval het om die Duitse kolonisasie van Namibië te beëindig. Die gewilde Namibiese skrywer Doc Immelman plaas 'n ouwêreldse verhaal van liefde, lus en wraak in dié tydperk.

Die ingrypendste gebeurtenis van die twintigste eeu was ongetwyfeld die sogenaamde Grensoorlog of Onafhanklikheidsoorlog wat van 1975 tot en met die onafhanklikheidswording op 21 Maart 1990 geduur het. Anders as met die Afrikaanse prosa (kortverhale en romans) is daar baie min werklik geslaagde gedigte oor dié stuk geskiedenis waarby soveel Suid-Afrikaners teen wil en dank betrokke was. Die beste vers is waarskynlik George Weideman se onthutsende "Herinneringe van die teruggekeerde soldaat" waarin 'n SWAPO-vegter inkanterend aan die woord is. Terselfdertyd gee die gedig 'n goeie beskrywing van die tropiese Owamboland. Daar is ook oorlogsverse deur Chris Pelser, Johann Lodewyk Marais en Fanie Olivier. Peter Louw se minimalistiese vers "Patrollie" speel hom as 't ware af op die soutpan van die uitgestrekte, wit bladsy:

Vier soldate loop in die pan.
Dis wit, en word witter;
batterye raak stom.
Akkedisse kyk op:
helikopter draai om.

(Tantalus, Tafelberg, 1989)

Die grootste probleem wat ek met die samestelling van die bundel ondervind het, was die geografiese situering van sekere verse - veral dié oor die Boesman (San) en hulle rotskuns. Die San was oor die hele suidelike Afrika versprei en as die gedigte nie een of ander Namibiese merker bevat nie, kon ek dit nie opneem nie. As 'n generiese voorbeeld van 'n gedig oor die Sankuns het ek toe Wilma Stockenström se manjifieke "Die eland" ingesluit.

Abraham Fouché het twee bundels gedigte aan die San gewy: Weeskinders van die hemelgod (1967) en Boesmanverse (1972). In 'n paar gedigte kom Namibië pertinent ter sprake, soos in "Boesmanliedjie":

My maag is so leeg soos
'n wolklose lug
met die son, maan en sterre
daaruit weggevlug!

Nog vannag, met my neus,
teen die wind op geloop
betrap ek 'n bok deur
die luislang geknoop!

Dan klop ons weer hande
al rondom die vuur
met mage so vol
soos Koebangorivier!

(Weeskinders van die hemelgod,
Human & Rousseau, 1967)

Daar is sedert AE Schlengeman se vers van 1929 baie Afrikaanse gedigte oor Namibië geskryf. Vir hierdie bloemlesing het ek dié gekies wat my poëties oortuig - selfs al moes die wit hings van die Namib en die Wit Vrou van die Brandberg sodoende in die slag bly.



LitNet: 07 Januarie 2005

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.