OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Bloot wispelturige gode?


Naomi Maartens

Die 2001 LOK-simposium is hierdie jaar by die Universiteit van Kaapstad aangebied. Ek het met die voorsitter van die Letterkunde-Ondersteuningskomitee, Lisbé Smuts, gaan gesels oor wat hierdie jaar daar gebeur het.

Die Letterkunde-Ondersteuningskomitee bring al die vakadviseurs vir Letterkunde van die Wes-Kaap byeen en een van hulle aktiwiteite is om ’n jaarlikse simposium aan te bied. Dié trek dan telkens van universiteit na universiteit. Dis maar één van die aktiwiteite wat hulle aanbied as ondersteuning aan die onderwysers. Daar is ook randaktiwiteite, soos ’n skryfkompetisie by skole. Die oogmerk van die komitee is dan ook uiteindelik die ondersteuning en stimulering van die onderrig van die Afrikaanse letterkunde in die skole in die Wes-Kaap.


Etienne van Heerden,
Neville Alexander
en Lisbé Smuts
Hierdie jaar het daar geweldig baie mense opgedaag, alhoewel ’n klomp skole nie bygewoon het nie as gevolg van die sportbyeenkoms Interskole wat dieselfde naweek plaasgevind het. Tog heers algemene tevredenheid met die opkoms: daar was 460 opvoeders.

Lisbé beklemtoon die volgende aspekte as dít wat hierdie jaar vir haar van groot belang was:

  • Drie universiteite werk saam: UK, US en UWK, en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement.
  • ’n Klomp skoolgemeenskappe is betrek — almal uiteenlopend.
  • Die forum van onderwysers wat praat oor probleme en oplossings — en die entoesiasme.

    Sy het gevoel dis stimulerend om by verskillende opvoeders betrokke te raak en vertel my ’n bietjie meer van hoe dit gebeur het.

    Elke jaar probeer die betrokke universiteit iets doen wat anders is, en ’n effense aksentverskuiwing vind dan telkens plaas. Lisbé het gemeen dit sou goed wees as onderwysers in gesprek tree met onderwysers — en dit het toe ook so gebeur. Die voorstel was dat daar ’n multimedia-program of ander aanbieding moes geskied en dat die onderwysers dan onderling daaroor moes kommunikeer.

    Die reaksie was baie interessant. Sy dink dit was ’n hoogtepunt en die praktiese wenke en moontlikheid dat mense die geleentheid het om te gesels oor probleme wat hulle in die klaskamer ervaar, was goed.

    Vrye keuse voed ’n taal, eerder as wat dit vervreem

    Die situasie met betrekking tot taal in die skole is op hierdie stadium van so ’n aard dat skoliere kan kies watter tale hulle neem: Afrikaans, Engels of Xhosa. Tog word Xhosa by min skole aangebied. Lisbé dink dis ’n goeie ding dat daar ’n keuse is om Afrikaans te neem. Dit beteken leerders kies dit eendag omdat hulle daarvan hou om goeie materiaal te lees, en ’n mens beweeg weg van “forced feeding”. Sy dink matriekleerlinge is volwasse genoeg om keuses te kan maak. As hulle genoeg lees, behoort hulle in staat te wees om ’n keuse te kan uitoefen.

    Literatuur en transformasie

    Etienne van Heerden het vanjaar die verwelkoming by die simposium gedoen en daarna is die openingstoespraak deur Neville Alexander aangebied.

    Sy toespraak het geraak aan belangrike aspekte van die woorde literatuur en transformasie. Hy het onder andere gevra of die oorloë en armoede op die kontinent van Afrika die modewoord van die sg. Afrika-Renaissance dalk tot ’n idealistiese siening verhef.

      Is dit maar net retoriek? Of is daar regtig nog hoop vir ons mense van Afrika? Ons lewe mos hier aan die suidpunt van Afrika in ’n deel van die kontinent wat as die Kaap de Goede Hoop bekend staan.

      Ons is mensewesens. Mense is reeds mense — en nie diere nie — omdat hulle altyd alternatiewes kan sien en gewoonlik kan nastreef en selfs verwerklik. (Tensy die ondeurdringbare mag van die natuur ons soos Shakespeare se “wispelturige gode” tot die status van vlieë reduseer  …)

      Dit is reeds waar die literatuur ter sprake is. Dit gaan hier oor die verbeelding, oor die skeppende vermoë van mense, van kunstenaars, oor hul vermoë om ander wêrelde, ander leefwyses te kan uitdink en daar te stel.

    Hy noem dit dat veranderende omstandighede nie altyd net negatief is nie: in die moderne era tref ’n mens baie kitsskeppinge, maar ook ’n ontploffing van “nuwe persepsies, nuwe mensweesmoontlikhede”.

    Die skep van ’n groot kunswerk

    Alexander sê dat sou ’n samelewing sonder rassisme inderwaarheid bewerkstellig word, dit groter as ’n kunswerk sou wees — veel eerder ’n wonderwerk.

    Hy noem bekende skrywers soos Krog en Breytenbach in dieselfde asem as die skrywers by die Skrywersvereniging —

       … (omdat hulle) ons sensitiwiteit vir hierdie wêrelde verfyn, dikwels deur middel van brutale woorde. Hulle werk help ons, soos alle groot literatuur en kuns dit doen, om ’n meer gepaste tydsnae of kontemporêre sienswyse en siening te ontwikkel of, nog beter, te ontdek. Ons lees mos in Spreuke dat as daar geen visie is nie, vergaan die mense.

    Hy lê klem op hoe belangrik dit is om skoliere en studente literatuur te laat waardeer — en om hulle in die hedendaagse samelewing aan die lees te kry.

    Hy praat van die barbarisme van globalisering wat orals sigbaar is:

      Die mans en vrouens wat met hulle gesteelde inkoopwaentjies deur ons strate dwaal en ons die sin van die menslike lewe met diep skuldgevoelens laat bepeins, is net so ’n simbool van ons tydvak soos die jong man of vrou met die sonbril op die neus wat deur dieselfde strate agter die stuurwiele van hul BMW’s jaag, sonder om selfs van die menslike wrakke langs die kant van die straat notisie te neem.


    Net die kuns kan ons help oorleef

    Alexander sluit af deur tot die slotsom te kom dat slegs die kuns ’n mens hierdie tipe weersinwekkende verskynsels help oorleef.

       … Nie deur hulle weg te tower nie, maar deur ons daartoe te bring om heeltemal ander vrae te stel.

    Vrae bring antwoorde en — eventueel — meer menslike wyses van optrede. En daar ís vrae gestel by die LOK-Simposium. Daar was ook baie (ant)woorde: deur mense soos Izak de Vries, Nicol Faassen, Riana Scheepers, Elias Nel, Erna Lehy, Philip de Vos.

    Ook in die klaskamers sak die woorde soos ’n bui reën uit. Want dis die leerders wat luister — en doen.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.