Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Digter en sy musiek

Estee Booyens

Mel Botes is nie sommer enige rocker met ’n sexy girlfriend en net drie chords nie. Hy is ’n digter, liedjieskrywer en komponis wat deur sy musiek met jou diepste wese praat.

Mel sit kruisbeen onder my akkerboom met ’n bottel goeie rooi en ’n asbak vol stinkgerookte stompies. Hy gesels een stryk deur, raak soms stil en by tye praat hy met vurige geesdrif en die rooietjie praat kliphard saam.

Mel was die wenner van die Vuurdoop-toekenning vir sy liedjie “As”, en verlede jaar het hy die Geraas-toekenning vir Liedjieskrywer van die Jaar vir sy tweede album, Oomblik van Waansin, voor die neuse van ’n hele paar ander gesoute deelnemers weggeraap.

“Ek voel vervreemd van die skielike sukses, die toekennings, die artikels en my foto’s wat in die binneblaaie van tydskrifte verward na my staar.” Geïrriteerd vee hy sy weerbarstige kuif uit sy oë, en vat ’n vinnige sluk rooi wyn en ’n lang trek aan sy sigaret.

“Ek tree al van 1987 af as professionele musikant op en het destyds in klein restaurantjies en kroeë gespeel om geld te verdien. Ek kan dit net nie verstaan as mense steeds dink ek is ’n nuwe musikant nie!”

Mel het in 1995 besluit om musiek elders te gaan maak, en ghitaar in die hand en rugsak oor die skouer Europa gaan verken. Vir maande het hy alleen in Londen onder die naam African Blue Skye opgetree en toe vir die musiekvermaak gesorg in ’n ski-oord in Zermatt in Switserland. Hy het in Frankryk, Nederland en Ierland opgetree en vir sewe maande aan die Costa Del Sol, Spanje se suidelike kuslyn, sy ghitaar geslaan en gesing.

“In my siel is ek eintlik ’n traveller. Ek kan nooit lank op een plek bly nie.”
Ná twee jaar in die vreemde het hy teruggekeer Suid-Afrika toe en in Oktober 1998 het hy, ná sewe jaar, sy eerste album, About Time, voltooi, die eerste van vier hoofstukke van sy futuristiese musiekdrama, David’s Confession. Die drama handel oor die ewige stryd tussen goed en kwaad.

Mel erken dat hy nie weet hoekom sy eerste album in Engels was nie. Veral omdat hy ’n volbloed-Boerseun is, gebore op Zeerust en grootgeword in Rustenburg se wêreld.

“Dit was maar die invloed van internasionale bands soos Pink Floyd en Dire Straits en ouens soos Bob Dylan en Sting.”

Met Oomblik van Waansin het hy besluit om al die lirieke in sy moedertaal te skryf.

“Ons het so ’n eerlike taal. Daar is geen hidden agendas nie.”

Wanneer Mel sy unieke werke komponeer, hoor hy eers die klank in sy kop en dan gaan soek hy dit op ’n instrument. As hy dit nie in die rouheid van akoestiese klank kry nie, sal hy dit op ’n masjien soek totdat hy die klank wat hy wil skep, kan naboots.

“’n Briljante musikant is nie noodwendig iemand wat mooi kan sing of mooi musiek kan speel nie. Daar is honderde ghitaarspelers, vioolspelers en klavierspelers wat oor ongelooflike tegniese vaardighede beskik, maar mense nie met hul musiek aanspreek en meevoer nie. ’n Instrument is net ’n tool om musiek mee te skep, en as jy mense nie kan begeester en laat dink nie, is jou kuns morsdood!”

Liedjies soos “Reënvoëls”, “Ek Onthou”, “Stormsee” en “Vir Altyd” op Oomblik van Waansin is ’n bewys dat Mel nie net vol leë beloftes en mooi woorde is nie.

“As mense werklik mooi na Oomblik van Waansin luister, gaan dit hulle dalk nie gelukkig maak nie, maar hopelik gaan dit hulle laat soek en dink.”

Mel se charisma, sy anderse lewensbeskouing en sy komplekse persoonlikheid word deur sy musiek weerspieël. Wanneer hy ghitaar in die hand op die verhoog staan, het hy die vermoë om ’n gehoor se emosies te laat wipplank ry. Jy wil óf doodstil sit en luister óf kliphard en aanhoudend skree.

Wanneer Mel sy musiek speel, skep hy ’n atmosfeer van afwagting, intensiteit en rou emosie. Hy gesels met sy gehoor deur sy musiek, deur die lirieke en die klank en wanneer die gehoor, met ’n dawerende applous, hul waardering vir sy musiek uitspreek, is Mel in sy element. Hy glo dat mense nou eers, ná jare, werklik na sy musiek lúíster.

“Musiek is emosie omskep in melodieë en lirieke. Vir my is dit makliker om my emosies in woorde op papier neer te skryf as om dit in ’n gesprek oor te dra.”
Hy trek sy intense bruin oë op skrefies, stoot sy vingers gefrustreerd deur sy hare en lag skielik hard, maar raak ernstig voor hy verder verduidelik: “Ek wil deur my musiek aan mense se siele raak, hul maskers afruk en hul pyn verlig.”

Sy selfoon lui en hy maak dadelik verskoning.

“Ek moet net hierdie oproep vat. ‘Skuus.” Hy staan op en begin geesdriftig gesels terwyl hy heen en weer stap.

Vyftien jaar het verloop sedert Mel vir die eerste keer voor ’n gehoor opgetree het en ek wonder hoekom so ’n briljante sanger en ghitaarspeler nou eers, ná soveel jare in die musiekbedryf, op die drumpel van erkenning staan. Hoekom het ons hom nog nooit sien optree by ons musiek- en kunstefeeste nie? Is daar êrens ’n skroef in die volk se kop los, of het die verkrampte omies en tannies in die Kulturele Weerstandsbeweging dalk iets hiermee te make?

“Dit was my pa,” onderbreek hy my gedagtes. “Hy het nou net weer my song, ‘If’, oor die radio gehoor en net gebel om my te sê. Hy is baie trots op my, maar hy sal nou nie in die huis rondloop en my tunes fluit nie! Eintlik weet ek nie wát hy dink nie. Hy is nie ’n man wat sommer links en regs komplimente uitdeel nie. ‘If’ is die enigste hit wat ek het, en hy speel nou al vir drie jaar elke dag op 94.7. Dis ’n song van die David’s Confession-album af en wat my betref, is dit nie eens die beste song op die album nie.”

Mel het op vyfjarige ouderdom begin orrel speel en sy pa, Jannie, het vir hom sy eerste ghitaar, ’n elektriese sessnaar-Hawk, op agtjarige ouderdom present gegee. Mel het dadelik begin om deuntjies te komponeer. “Die tunes was maar altyd daar, vandat ek kan onthou, maar ek het my eerste volwaardige song op negentien geskryf.”

Nadat hy sy matriek aan die Hoërskool Bergsig op Rustenburg voltooi het, het Mel die ghitaar onder die bekende ghitaarmeester, Charl Lampbrecht, studeer en later jazz en blues by die Jazz Workshop in Kaapstad.

Met sy vermoë om poësie in musiek om te sit en sy intense passie en kontemporêre benadering, skep hy ’n nuwe ruimte vir Afrikaans en Afrikaanse musiek om in te groei.

“As ek net geld vir my note kan kry, soos bouers geld verdien vir die bakstene wat hulle lê; nie dat ek enigsins iets vir myself wil hê nie, maar omdat ek alles in my musiek wil terugploeg. Ek wil mense iets bied. Iets om na te luister en iets om oor te dink. Iets gee om saam huis toe te vat en saam te dra op hul lewenspad.”

Gaan kuier vir Mel op sy webtuiste, www.melbotes.com.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.