Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hoe om ’n man te verlei

Vicky Scholtz

Die kroeg het die aand stampvol gestaan. Die blondine met die kort romp staan styf teen die man met die krulhare en neem nog ’n sluk van haar whisky. “Wat dink jy,” vra sy weer, “hoe kan ek vasstel of hy belangstel of nie?”

Die krulhaarman kyk af na sy brandy en coke, en merk op hoe vinnig die ys smelt. Hy beter gou drink voordat die smaak heeltemal oplos. Die stem in sy oor hou aan. Hy draai effens om en kyk na haar.

Teen dié tyd ken hulle mekaar al ’n redelike tyd. Iewers tussen kollegas en vriende, het hulle al ’n afstand saam gestap. Nou nie juis ’n lang pad nie, maar heelwat kronkels. Hulle worry nie meer om “nice” teenoor mekaar op te tree nie; hulle is egter eerlik met mekaar. Dis ook maar goed so, dink hy ironies, want hulle is geeneen nice nie.

Eerlik is hy egter die aand nie. Sy verhouding is besig om hom teen die rotse te laat uitspoel, en hier staan sy, die ene opwinding, alweer ’n nuwe man wat deur haar gesigsveld beweeg. Om die waarheid te sê, soos sy daar gestaan en hormone afgee het, het hy sterk aangetrokke teenoor haar gevoel. Hy wou haar vat, wegsleep, soos ’n oertydse grotbewoner, dit kry waarvan hy wou gehad het. Maar daarvan was daar geen sprake nie.

Met ’n sug haal hy sy skouers op. “As hy teen dié tyd nie vir jou laat weet het nie, dan stel hy nie belang nie. As ’n man belangstel, kan jy dit dadelik opmerk — tensy hy agter ’n lessenaar sit, of ’n groot sak voor hom dra, of …” Hy spot nou. Vir hom is dit maklik — as dit beskikbaar is, wil ’n man dit hê. As hy nie wil hê nie, is hy óf gay, óf … te dwaas om te besef dis beskikbaar.

Dis miskien die probleem. Vandat demokrasie sy neus by die samelewing kom indruk het, heers politieke korrektheid oor omtrent alle lewensfasette. By die werk word daar nou streng opgetree teenoor seksuele teistering of wangedrag, en die reëls self is so liberaal gestel dat enige “ongewensde aandag” tot skorsing kan lei.

Boonop is die man getroud. Vir haar is dit onbelangrik — dis nie sy wat die kontrak met die Staat onderteken het, en as hy kans sien vir ’n bietjie buitemuurse bedrywigheid, is dit sy keuse. Maar hoe kan sy vasstel of hy wel belangstel?

Vandat sy by sy kantoor ingestap het ’n paar dae vantevore, kan sy aan niks anders dink nie. Hy werk al jare daar, terwyl sy onlangs na die afdeling verplaas is. Sy skep al hoe meer werkies wat haar in sy nabyheid bring, en sy meen hy reageer goed daarop. Hulle’t selfs ’n epos-flirtasie aangeknoop, ligsinnig en spottend — oppervlakkig genoeg om te kan weglag indien nodig. Maar haar buik brand met wellus in sy teenwoordigheid; as sy aan hom dink, gly sy amper van haar stoel af.

Sy reël toe dat hulle saam aan ’n voorlegging werk. Dié aand toe sy huis toe ry, dink sy daaraan — hulle vergader die volgende dag om die voorlegging te bespreek; miskien moet sy iets aanloklik dra? Ewe skielik besef sy dat die motor voor haar by die verkeerslig gaan staan het, en met ’n harde gestamp, kom sy by. Die motor voor haar lyk darem nie te erg nie — dis ’n ou tannie-kar, soos ’n tenk gebou, en makeer net nuwe liggies en ’n titseltjie verf. Maar haar arme kar …! Moedeloos staan sy en wag op die AA se sleeptrok.

Warm en natgesweet kom sy by die werk aan. Die treine loop oudergewoonte laat, en boonop moes sy heelpad staan. Sy voel glad nie verleidelik en onweerstaanbaar soos sy wou nie. Sy stap die kantoor binne en bars sommer in trane uit. ’n Epos vanaf haar kollega stel lunch voor, en sy sien nogal daarna uit. ’n Simpatieke oor kan sy nie nou verwerp nie.

Die krulhaarkollega luister met meegevoel — sy kar staan nog by die huis totdat hy geldjies bymekaar kan skraap om dit te laat regmaak. Dit gebeur net nie, en die kar is nou verweer en verroes. Vandat sy verhouding begin afsterf het, is sy meisie al hoe minder gretig om hom soggens werk toe te sleep, en weer saans af te haal. Hy’t begin trein ry, of ryloop, of selfs loop as hy die dag lus voel. Hy’t selfs soms by haar ’n lift gekry, en dis nou ook daarmee heen. Hulle drink, hulle eet, hulle praat. Sy begin bietjie beter voel.

Terug op kantoor begin sy haar op die vergadering voorberei. Ewe skielik bewaar sy hom by die deur, vroeg, gretig. Hulle sit aan weerskante van die tafel en bespreek die voorlegging. Hulle kyk met moeite in mekaar se oë vas. Haar asem raas in haar ore, haar hart klop dat die vloer skud. Haar hande bewe effens as sy iets aan hom oorhandig. Sy vertel vir hom sy sal moet vroeg loop — haar kar is in ’n botsing beskadig en sy moet met die trein ry. Hy bied aan om haar by die stasie te bring — ongelukkig kan hy nie meer as dit doen nie, want hy moet sy dogter by die skool afhaal. Dankbaar aanvaar sy die aanbod.

Hy sluit vir haar die deur oop, en sy klim skaam in. Voor op die sitplek lê daar ’n winkelstrokie vir kruideniersware wat gister gekoop is. Agter lê ’n kind se leesboek. ’n Familieman, klaarblyklik. Hoe kon sy aan iets tussen hulle gedink het — sy aandag is obviously by sy gesin. Die radio speel saggies in die agtergrond, en sy lug haar mening oor die vrot cover van ’n ou liedjie wat speel. Hy luister egter nie na die musiek nie, verstaan nie mooi waarvan sy praat nie, skuif ongemaklik in sy sitplek asof hy onkant betrap is.

Hulle praat oor mense by die werk. Sy kyk na sy hande op die stuurwiel — mooi, regvormige hande, met fyn haartjies agterop. By sy moue merk sy op dat die hare op sy arms meer welig is. ’n Vloed van wellus storm by haar keel op, en sy sluk hard om dit af te kry. Die broek span styf oor sy dye, en sy hou styf aan haar sak vas dat haar hande nie vanself na sy bene afdwaal nie. By die stasie sê sy mooi dankie; hy bied aan om weer vir haar te bring — sy moet net laat weet.

Die volgende dag vergader hulle weer laatmiddag. Sy sien uit na die rit stasie toe, en hou moeilik haar aandag op die werk. Hulle sit vandag lanks mekaar, aan weerskante van ’n vloerplan. Hulle bespreek dit onbelangstellend, kom weer by ander goed. Sy let op dat hy nie sy stoel skuif nie. Sy ook nie hare nie. Hy vra toe of sy lus het vir ’n drankie na werk. Sy stem dadelik in, en hulle besluit om sommer dadelik te loop.

Hulle ry tot by ’n klein kroegie ’n ent van die werk af. Die plek staan nog verlate, en hulle kies ’n tafel agter ’n groot plant. Hulle kry hulle whisky en sit in ongemaklike stilte en drink. Sy vroetel met die serp om haar nek en beangs laat sy dit val. Hulle buk altwee tegelykertyd om dit op te tel. Hulle hande raak aan mekaar, vuurwarm. Altwee los hulle hande so, terwyl hulle stadig orent kom.

Die serp sit sy op die tafel. Sy los haar hand daarop. Hy sit sy hand op hare. Hulle kyk vas in mekaar se oë. Stadig, soos ’n droom wat deur water gebeur, beweeg hulle nader aan mekaar. Sy hand vryf deur haar hare, trek haar kop nader aan syne. Haar mond proe syne, die sagtheid van sy lippe, die tekstuur van sy baard. Haar lippe tuit oop, aanvaar sy tong, koud van die ys en warm van die whisky in sy bloed. Die tonge dans saam terwyl die lippe mekaar streel; die hande gryp, klou, hou vas. Die wêreld flits agter haar ooglede verby, en haar broek spoel nat met vreugde.

Die kelnerin vra of hulle nog whisky wil hê — die ys is al gesmelt in hulle glase, maar hulle dink nie nou aan drink nie. Hulle klim met moeite in die kar in en ry vinnig huiswaarts, hulle nood kloppend in hulle geslagsdele.

* * *


Hoe om ’n vrou te verlei

Die kroeg het die aand stampvol gestaan. Die blondine met die kort romp staan styf teen die man met die krulhare en neem nog ’n sluk van haar whisky. Haar oë skitter en die glimlag wil net nie van haar lippe verdwyn nie. Goeie seks is so sigbaar, meen haar kollega bitter.

Die krulhaarman kyk af na sy brandy en coke, en merk op hoe vinnig die ys smelt. Hy beter gou drink voordat die smaak heeltemal oplos. Die stem in sy oor hou aan. Hy draai effens om en kyk na haar.

Vandat sy met S deurmekaar geraak het, trek sy al hoe aanlokliker aan. Grimering dra sy nie — dit wil sy nie oor S se klere laat smeer nie — maar haar slank figuur is nou duidelik sigbaar. Haar hormone trippel op die windjies wat om die perseel waai, en alles wat manlik is, neem kennis van haar teenwoordigheid.

Sy babbel nou oor die ongelooflikheid van hulle sekslewe — hoe volmaak, hoe bevredigend, hoe eienaardig dat hulle altwee presies dieselfde wil hê uit die verhouding … naamlik seks, no strings attached. Ja nee, dink die krulhaarman galsurig, is dit nie wat elke man altyd wil hê nie? Hulle’s net nie gewoonlik so eerlik nie, aangesien die vrou gewoonlik iets anders soek … En nou staan hier ’n vrou wat suiwer seks soek, en hy ’n warmbloedige man reg vir aksie, en hy moet luister na haar perfekte seksstories saam met iemand anders!

Hy is veral bitter dié aand, want sy meisie het die vorige aand aangekondig dat hulle verhouding nou finaal oor is, en dat sy by haar vorige ou gaan intrek. Die helfte van haar goed het sy al ontruim; teen die tyd wat hy by die huis kom, verwag hy dat sy alles sou gevat het. Die enigste warm lyf wat hy die aand in die bed kan verwag, is die van sy bure se kat.

Hulle koop nog drank. Sy is nog besig met haar spogstories. Sy kyk hom stip aan, met haar vonkelende oë. “Jy weet mos hoe is dit as jy die eerste keer met ’n nuwe lover in die bed klim? Hoe selfbewus en onhandig, hoe amper teleurstellend — jy moet mos iemand weer van die begin af alles leer — dat jy amper nie die krag het om dit aan te pak nie? Jy sal dit nie glo nie, maar dit was glad nie so met S nie! Van die begin af het hy net mooi geweet wat om alles te doen; hy het niks foute begaan nie — dit was asof ons al eeue lank saamslaap, behalwe dat dit nog opwindend en ongelooflik opwekkend was! Ek raak skoon jags as ek daaraan dink! En die tweede keer was selfs beter, en die derde, en … ons het net aangehou, en aan, en aan! Mans is gewoonlik useless na twee of drie keer, maar aan hom was daar geen einde nie. Ek moes hom herinner om huis toe te gaan, voor sy vrou ’n vermiste-persoon-saak by die polisie aanmeld …”

Die brandewyn raak nou te veel vir hom en hy bestel liewer Kilkenny. Dit laat hom aan Ierland dink, waar sy oerouers vandaan gekom het. Sy hou aan met whisky. Waar haar voorouers vandaan kom, weet sy nie, stel ook nie belang nie. Sy leef net in die hede, of die onlangse verlede. So onlangs soos haar laaste orgasme.

Sy vertel vir hom hoe mooi is die man se lyf, die sagtheid wat met volwassenheid kom — niks van hierdie ysterlywe wat die seuns so graag mee spog nie — die ryk liggaamshare wat na ’n oorvloed testosteroon wys. En dit het hy beslis — pure man, die een! En so vindingryk ook — eers na hulle hoeveelste keer het hulle by vanilla sex uitgekom. Sy het vergeet presies hoeveel moontlikhede daar wel bestaan — haar liggaam is skoon uitgeput van al die aksie. Gelukkig is hy ook ’n briljante masseur …

Hy weet nie mooi of hy kan huis toe ry nie. Hy het ver te veel gedrink. Die leë huis is ook nie vir hom ’n aanmoediging om te loop nie. Sy is reg om te ry — sy’t haar kar so pas teruggekry, “wat nogals jammer is — die afskeidsoen wanneer hy my by die stasie aflaai, is onvergeetbaar!” — en hy vra of sy vir hom by sy huis kan aflaai. Sy stem gewillig in — sy was nog nooit daar nie, maar hy kan seker vir haar wys waar om te ry. Dis min of meer op pad in elk geval.

Hulle ry stadig, weens die koue lug wat hulle asem teen die voorskerm pleister. Uiteindelik kom hulle by sy huis aan. Donker, koud en verlate hurk dit in die tuin. Hy vra of sy koffie wil hê. Sy verkluim in die koue; koffie sal lekker wees. Hy sluit die voordeur oop, bly dat hy nie alleen die skade hoef aan te durf nie.

Die leemte laat hom amper aan die huil slaan. Teen die mure hang leë plekke waar haar prente eers was; die boekrak staan netjies sonder haar bodice-rippers ingeprop; die hoop CD’s langs die hi-fi is omtrent net die helfte so hoog soos wat hy gewoond is. Sy moes van hare gelos het, besef hy — sy’t veel meer as hy gehad. Hy stap soontoe, tel ’n paar op. Sy het wel — die vrotstes.

Die kombuis lyk kaal en onnet. Al die bymekaarpassende goed is weg, net sy oues bly agter. Hy maak die ketel vol. Dis ten minste syne. Die blondine stap agter hom in. Sy merk op hoe stil hy geraak het, hoe treurig sy gesigsuitdrukking. Sy vra hom uit, moedig hom aan om oor sy gevoelens te praat.

Hy praat met moeite, bewus van die aanloklike wese voor hom. Die koue laat haar tepels styf staan teen haar kleeftrui. Haar bene lyk eetbaar onder haar glinstersykouse. Haar gesig lyk helder en vol lewenslus. Hy wil haar vat! Sy stem raak hees, sy hande bewe onder die stryd tot selfbeheersing, en hy draai skielik weg. Sy stap nader, sit haar hand op sy skouer. Hy brand onder haar aanraking, dit moet uit, hy moet vir haar sê! Hy kyk haar stom aan, oë vol gevoel. Sy knik wetend, omhels hom.

Hy voel hoe sy liggaam in haar arms smelt, behalwe vir die gedeelte in sy broek, wat nog verder verstyf, maar sy is al besig om weg te trek. “Toe maar,” sê sy sag, “jy sal binnekort van haar vergeet. Een van die dae voel jy tot ’n ander vrou aangetrokke, dan vergeet jy van haar. Sy’s jou nie werd nie, kry vir jou iemand wat jou aan die brand sal steek, soos S met my gemaak het!”

’n Klapsoen op die wang, en sy’s weg. Alleen staar hy die leë huis binne en wonder: hoe op aarde kry ’n man dit ooit reg om ’n vrou te verlei?

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.