KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Trike wemel van opwindende onwelvoeglikhede

Deborah Steinmair

Soms plant kunstenaars gewaagde lirieke in ’n sogenaamde “hidden track” wat inskop lank nadat die cd opgehou speel het. Raak ’n mens dus aan die slaap terwyl jy na die cd luister, neem jy later op subliminale vlak opwindende onwelvoeglikhede in. Trike se Volle militêre eerbetoon is in jou gesig, liminaal en libidinaal, subliem en ongesublimeer. Jy hoef nie te wag vir versteekte snitte nie. Steke, snitte en stote, alles spring in jou gesig asof vanuit ’n verruklike Pandora se doos. Die cd-omhulsel verskaf geen lirieke nie, maar meld die volgende: “lirieke beskikbaar as jy mooi luister”. Ek luister mooi.

’n Mens wonder of jy altyd reg hoor. Het hulle regtig gesê: “Mamma is op Valium en Pappa wil jou hard naai”? Die volgende sin wys myns insiens hoeveel ’n mens in Afrikaans met ’n handjievol woorde kan sê: “Hy was ’n sweter, ’n sweter, sy laptop vol kleuters.” ’n Hele voorstedelike nagmerrie word opgeroep. In die cd-boekie sit die verstommend-kreatiewe Drikus Barnard, wat vir die woorde en musiek verantwoordelik is, saam met sy eweknie, Esme Evakwaad, by ’n tafellampie en peins. Albei het glimmende pankoppe en heelwat houding.

Esme het ’n ligte Engelse aksent wat baie goed werk: woorde word duidelik omlyn en klokhelder uitgespreek, soos in: “Vroeg in die oggend rol ek my twak. Ek gaan sit plat op my gat.” Haar stem is sensueel, koel, strelend soos ’n lugwaardin s’n, druipend van sinisme. Saam streel, verlei, verruk en ruk Drikus en Esme die sinne. Melodieë is lieflik, hipnoties en verslawend. Na hierdie cd, konstateer ek onomwonde, kan ’n mens eindeloos luister. Almal wat ek al teëgekom het, het ’n onbeperkte toleransie vir Trike — meer nog, raak hopeloos afhanklik van hul klank. In die LitNet-kantoor het dit al soos sigaretrook in die mure, mat en blindings ingetrek.

My gunstelingsnit is “Skaamkoekie” met die onvergeetlike:

Mamma het ’n souttert in die louoond bewaar
dis dubbel die plesier van ’n kerkbasaar
die doilies is verskriklik verruklik vir my hart
die sous wat Tannie opdis doen wonders vir my smart.

“Die wêreld is ’n luislang wat aanhou en aanhou druk.” “Fok jou naaste,” sing Esme, “Daar’s Calmettes in die kakhuis”, “Daar’s ’n karkas in die slaghuis en ons almal sien jou praghuis, al jou skatte, jou meubels en jou matte.” Vir diegene wat die wêreld voel druk, vir wie torings soos penisse penorent staan, wat deur rondings geteister word, wat soos ’n pot vol rooi yster oorkook, vir die dae wanneer jou highs nie by jou lows uitkom nie, vir dinge wat jou (wie weet why) move, (alles Drikus B se manjifieke woorde) skaf hierdie cd aan voordat jy op straat uithardloop en gil: “ALLES IS VALS!”



LitNet: 24 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.