KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Fokofpolisiekar: ’n dosis rebelsheid in Afrikaanse musiek

Erns Grundling

Vriende, vyande, vervreemdes, verslaafdes, verhoorafwagtendes, blitsbesoekers, Bok-ondersteuners (alumni en afwesiges), koggelaars, kakmakers, kruidjie-roer-my-nies, of wat die mediaan-LitNet-leser ook al mag wees ... maak kennis met Fokofpolisiekar:

Mens wonder wat die opreggeteelde sedebewakers en nooit volprese Woordfees-plakkaathaters sou gesê het as bostaande logo as die feesplakkaat aangewys was. In ieder geval, laat ons nou nie daar gaan dwaal nie ...

Fokofpolisiekar is ’n nuwe Afrikaanse punkrockgroep wat hul debuut-EP, As jy met vuur speel sal jy brand, op Vrydag 5 Desember by Mercury Live in Kaapstad gaan launch. Die EP is opgeneem by Rhythm Records en word versprei deur Bowline.

’n Week of wat gelede loop ek vir Albert du Plessis van Rhythm Records by die Grandwest-casino tydens ’n Bowline-launch in Kaapstad raak. Hy lyk soos die spreekwoordelike kat wat room gekry het terwyl hy vertel van Fokofpolisiekar. Ons stap die tien kilometer na sy kar in die reuseparkeerarea om na twee snitte te luister.

As ek moet raai, kan jy Oasis se invloed duidelik hoor, met ’n lekker dosis Greenday-aggressie. In Afrikaans. Maar dis nie net ’n dolle geraas nie. Die lirieke is kookwater en die melodieë groei vinnig op mens. Skitterende gatskopmusiek.

Die tweede snit waarna ek geluister het, “Fokofpolisiekar”, het al die potensiaal om ’n underground-treffer te word. Dié snit is nie op hulle EP nie, en gaan vir eers slegs by optredes gesing word. Oor die lirieke gaan ek nie nou uitwei nie, maar ek twyfel of enige polisiemanne (of hul karre) rustig gaan slaap by die aanhoor van die koorgedeelte.

Maar wie is die band? Waar kom hulle vandaan? En waar kom hulle aan hierdie naam?

Wynand Myburgh (baskitaar) is die groep se woordvoerder. Hy sê Fokofpolisiekar is ’n konsep wat deur ’n groep vriende in April 2003 gemunt is. Die kêrels is musikante, sangers, fotograwe, grafiese ontwerpers, ens “iewers tussen Bellville en Kaapstad”. Gemiddelde ouderdom? “So 23,” skat Wynand.

Volgens Wynand het ’n paar van die manne een aand op ’n hoofweg gery toe ’n kar voor hulle ingeswaai het. “Een van die ouens het geskreeu ‘Fokof familiemotor!’ waarna ons besluit het dat dit ’n great naam sal wees vir ’n punk-band,” sê Wynand. Hulle het toe later besluit op Fokofpolisiekar.

Behalwe vir Wynand bestaan die groep uit Hunter Kennedy (ritmekitaar), Francois Badenhorst (stem), Johan de Ridder (elektriese kitaar) en Jaco Venter (tromme).

’n Persuitreiking beskryf hul EP van ses snitte soos volg:

Na jare van praat oor ’n moontlike Afrikaanse band en groot frustrasie oor die toestand van die plaaslike musiekbedryf in Suid-Afrika het die vyf vriende besluit om op hul eie manier ’n EP te skryf. Dit sou sterk simbolies wees van die Fokofpolisiekar-lewenstyl en hul perspektief oor die alledaagse lewe. ’n Insig op die band se persoonlike lewens en musiek wat hulle en hul generasie kan verstaan.

En wat hul inspirasie betref, word daar sommer heelwat gelys:

Thundercats. God. Drie jaar intensiewe kerkbywoning. Doug. Pornografie. Punk. Sigarette. Worship lei. He-man. Bellville. Durban. Cape Town. Stellenbosch. Airwolf. Grootword. Knightrider. Rugby. Biltong. Gees. Bitterkomix. Skateboarding. Toy Machine. Metal. Rock. Tygerberg-hospitaal. Rodney Seale. McDonalds. Post-Apartheid. Mandela. De Klerk. Internet. Spiderman. X-men. Punk shows. Weed. Sigarette. Johannes Kerkorrel. Stad. Plaas. CD’s. Veiligheidsbubbles. Alchohol. Reggae. Die Oudtshoorn-polisiestasie. Pa. Dominee. Oom. Voorsitter van die ACSV. Leerlingraad. David Iche. Vriende. Meisies. TV. Mr Video. Orkney Snork Nie. Koos Kombuis. Troeteldiere. Teenage Mutant Ninja Turtles. Chat-rooms. Mr Nice. The world according to garp. Europe. Amerika. MTV. Denkbeeldige persoonlikheidbeperkings. Sielkunde. Klank. Satanisme. Nkosi Sikelela. Die Stem. Jeugsangbundel. Modes. Ernest Movies. Beetle Juice. Tim Burton. Waking Life. Foto-albums. Koffietafelboeke. Kunsskool. Skool. Skoolhoof. Vetkoekpaleis. Dagga. Egoli. Loving. Demokrasie. Rooi wyn. Afrikaans alternatief. AWB. ANC. NNP. PAC. NP. PAGAD. Republiek. Soweto. Rage Against the Machine. Wayne’s World. Playstation. Doom. Death Metal. Kinders. Eyedrops. Home. Joystick games. Streetfighter. Zimbabwe. Verkragting. Kampe. Osama. Warcraft. Hansie Cronje. Naas Botha. Tolla van der Merwe. Casper de Vries. David Kramer. Alex Jay. No Jacket Required. Die 80’s. Ferrari’s. Oorlog. Paddavisse. Sywurms. Vuil kouse. Spinnekoppe. Bionic six. GI Joe. Duke Nukem. Wielie Walie. Liewe Heksie. Swartkat. Borrie van Swartkat. Dawson’s Creek. Al daai fokken American College movies. Acid. Bob Dylan. Willem Samuels. Valiant Swart. Tamagotchi. BB guns. Windbuks. A-Team. Mannemarak. Vloekwoord. Fokofpolisiekar!

Volgens Wynand moet die groep se naam nie net letterlik opgeneem word nie. Hy meen dit gaan oor baie meer — oor die vrees waarmee ’n jong generasie rondloop, en die bevryding van instellings en strukture wat van kindsbeen op mens afgedwing word. Hulle is ook glad nie gepla oor wat mense, radiostasies of die media van hul naam of grafika dink nie. “Dit kan nie anders nie,” sê Wynand. In die persverklaring word rigiede redaksies aangemoedig om die “onnosele edit” van slegs Polisiekar te gebruik. Dit is duidelik nie slegs polisiekarre wat moet fokof nie!

Diegene wat Vrydagaand ’n draai maak by Mercury Live in Kaapstad, kan DJ’s en ’n skerm met videobeelde saam met die vertoning verwag.

En daar behoort heelwat polisiekoffie agter die kroegtoonbank te wees ...


2 Desember 2003

Besoek hul webwerf (fokofpolisiekar.co.za) om by die verspreidingslys aan te sluit.

O ja, en los gerus ’n boodskap by foonnommer 10111.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.