KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Die Melktert Kommissie deel hul wenresep in Hidden Cellar

Erns Grundling

Vriende, medesterwendes (dankie Breyten!) ... tuit julle ore, hier is ’n jong musiekgroep in ons midde wat julle goedkeurend gaan laat glimlag soos ’n kat wat room (volroom, in hierdie geval) gekry het.

Dit gebeur selde dat hierdie joernalis liries raak op die brose produksielyn van ’n openingsparagraaf. Maar die Melktert Kommissie, ’n band van Jeffreysbaai wat laasjaar koning gekraai het in die JIP/kykNET Rockspaaider-kompetisie, maak mens ’n slag weer opgewonde oor die toekoms van Afrikaanse musiek. Veral in dae wanneer plaaslike musieknuus oorheers word deur skinder, beweerde komplotte en persoonlike vetes.



Die Melktert Kommissie: vlnr Betsi, Tim, Lucinda, Jan-Adriaan en Nonnie
Foto: Werner Hills (Die Burger Oos-Kaap)


Die Melktert Kommissie (Thys die Bosveldklong is per abuis deels vir dié naam verantwoordelik) is ’n rockgroep wat uit vyf lede bestaan; en nie een van hulle sou destyds na Basic Instinct mag gekyk het nie (2 — 21). Twee van die lede, Lucinda Strydom (17, Graad 11, hoofsanger) en Betsi van Zyl (18, Graad 12, kitaar, sanger) is in die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp. Jean-Marie (Nonnie) Vlok (19, student, elektriese kitaar), Tim van der Westhuizen (20, IT-bedryf, baskitaar) en Jan-Adriaan Korff (20, IT-bedryf, tromme) is ook maar onlangs uit die skoolbanke.


Volroom — die CD-omslag
van hul debuut-album
Hulle het ’n week gelede hul debuut-CD, Volroom, met groot sukses in die Hidden Cellar op Stellenbosch kom bekendstel. Nie eers Betsi se matriek-eindeksamen en beide Jean-Marie en Lucinda se akademiese pligte kon in hul pad gestaan het vir die reis uit die Oos-Kaap nie. Daar was selfs regte melktert by die deur, en ’n misverstand in die kombuis het hulle amper vroeër in die Hertzoggies Kommissie verander!

Vroeër vanjaar is hulle debuut-CD opgeneem by Jurgen von Wechmar se Sunset Studios onder Albert du Plessis se Rhythm Records-label (www.rhythmrecords.co.za). Simon Orange (klawers) en Anjulie de Vos (tjello) was van die gaskunstenaars. Bowline (www.bowline.co.za) doen die verspreiding. Die regisseur was niemand anders nie as Die Mystic Jinx ... ek bedoel Boer (grappie), Valiant Swart. Een van die songs, “Zorro”, word juis aan Valiant opgedra, en hulle sinspeel grappenderwys op sy nuwe gedaante as akteur. (Hierdie vers is skynbaar onlangs bygewerk want ek kon dit nie in die CD-boekie opspoor nie):

En toe eendag begin Zorro Bold and the Beautiful kyk
en sien hoe ryk jocks vrouens in snyerspakkies vry
en hy smag na die wil van die vog van die vrou
en gaan na Hollywood
en doen wat hy wou

Nou’s hy Zorro
die soapiestar
Zorro hy is ’n soapie star van formaat.

Valiant, Karen Zoid en Mr Fat was al drie in ekstase oor die Melktert Kommissie tydens laasjaar se Rockspaaider-kompetisie. Die groep het die beoordelaars se guns gewen met ’n vars aanslag en songs wat die essensie van tienerwees skitterend vasvang. Hulle sexy verwerking van “Suikerbossie” (“hulle doen dit beter as Stef Bos,” het iemand agter my gesë tydens die launch), en die opgewekte “Tevrede” en “Droomman” van hul Rockspaaider-vertoning destyds is al drie op die debuutalbum.

Dis veral “Tevrede” se gatskop-melodie en rap wat die Hidden Cellar laat brul het. Lucinda het die song geskryf ná ’n kêrel haar vir ene “Merwede” gelos het. Die song is vol Disprins, ’n Lion-lem, ’n 9 mm en selfs die berugte Van Stadensbrug buite Jeffreysbaai, maar met ’n catchy vibe wat dit vorentoe ’n treffer kan maak.

Die musiekvideo vir “Tiener” is ook onlangs deur kykNET vervaardig en word gereeld op die DSTV-kanaal uitgesaai:

Hulle noem haar tiener
hulle noem haar moodswing
Sy het ’n pienk wekker en fluff op haar pen
Sy’s mal oor Britney Spears
en maak misbruik van haar tears
en as sy een wens kon kry
sou sy soos Twiggy wou wees

Twee koppies en ’n cheap hotel
is al wat ek nodig het
om haar van die wêreld te vertel
’n CNN program, ’n dag in Afghanistan
sonder ’n man.

Die lirieke is deurgaans prettig en onpretensieus. Daar is ook ernstiger nommers, soos die aangrypende “Soul Food”, wat gaan oor die lot van straatkinders in Jeffreysbaai.

Al drie girls het songs vir die CD geskryf, terwyl Tim en Jan-Adriaan help met van die verwerkings.

In “Die Tweede Lewe” wys die groep dat melktert nie noodwendig van heilige koeie afkomstig is nie

Beplan, beplan en reël ja dis ons voorland
Belydenisbraaie en CSV wys ons van die hand
Ons het geglo in ’n group of trust
Maar screw dit want ons is almal gebust.

Nog ’n gewilde song was “J-Bay Blues”, wat gaan oor die dramas rondom ’n braai naby die see:

Daardie aand langs die vuur
Het jy hot gelyk
En dis toe dat ek
in jou pel vaskyk
Ek drown toe my sorrows
In ’n bottel Tas
En klou soos klitsgras
aan jou maatjie vas.

Mens geniet dit geweldig om na hierdie band te kyk en te luister. Die woord “oulik” kan ingespan word om hulle te beskryf, maar die eintlike woord is “cute”. (Sorry, anti-Engfrikaners, ek dink die twee woorde verskil, hoewel mens dit moeilik kan beskryf. Woon een van hul vertonings by en besluit self.) Hulle is sonder ’n sweempie pretensie en het ongetwyfeld hope talent. Mens kan net hoop dat hulle die plaaslike musiekbedryf — wat maar ’n plek met min genade is — sal oorleef en nog heelwat musiek sal maak.

Dit was lanklaas dat die Hidden Cellar so gebuzz het van jong energie, en die gehoor (waarvan heelwat voormalige J-Bay locals was) het dit beslis weerspieël. Hoewel hulle maar min kon saam speel en saam oefen, met Nonnie se studies hier op Stellenbosch (sy gaan terloops UPE toe volgende jaar ter wille van die band), was die vertoning ’n helse jol, die musikale melktande lankal reeds gewissel ...

Besoek die Melktert Kommissie se webruimte by http://100free.com/m/melktert/default.htm. LitNet plaas binnekort ’n resensie van Volroom.

31/10/2003


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.