KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Luna groet die Kaap met nuwe klanke

Erns Grundling

Klik hier en wen dubbelkaartjies na Luna se vertoning in die Dorpstraat Teaterkafee, Stellenbosch, op Saterdag 5 Maart!

Sy is baie dank verskuldig aan haar ouma en Bonnie Tyler.

Ouma het vir haar 'n mikrofoon present gegee, wat sy dan by die hi-fi ingeprop het om 'n song soos "Footloose" deur die huis te laat weergalm.

Maar dit was Bonnie Tyler se rasperstem tydens "Holding out for a Hero" wat vir 'n katarsis langs die hi-fi gesorg het.

Want tydens die sing van die bekende "I need a hero"-koortjie het Luna Pieterse - op daardie stadium in standerd vier - skielik besef dat haar stem tot baie meer in staat is as 'n hoë sopraan-koorstemmetjie. 'n "Ander stem" het uit die bloute aangemeld en haar vriendinne het opgewonde nader getrippel om te kom luister. Min het sy toe geweet dat hierdie ontdekking haar in staat sou stel om jare later 'n musiekloopbaan te volg.

Luna het die eerste keer op die voorgrond getree met die musiekproduksie Eve - In the Garden of Song, waar sy saam met Lesley-Rae Dowling, Nicole Holm, Eugenie en Laurinda Hofmeyr opgetree het. 'n Gelyknamige CD van dié produksie het ook die lig gesien.

Daarna het sy haar eerste album, Luna, vrygestel en gereeld begin optree.

Nou is sy pas klaar met die opname van 'n splinternuwe album en verhuis ook binnekort na Gauteng om haar musiekloopbaan daar voort te sit. Haar vertoning op Saterdag 5 Maart in die Dorpstraat Teaterkafee is dus die laaste kans wat Kapenaars in die afsienbare toekoms gaan kry om Luna te sien optree.

Die Dorpstraat Teaterkafee is geen vreemde plek vir Luna nie: behalwe dat sy al gereeld daar opgetree het, was sy ook vir lank 'n kelnerin by dié gewilde teater. Maar soos sy self sê: "Mens kan darem nie by dieselfde plek werk en optree nie!" Sy het in 2003 'n meestersgraad in maatskaplike werk gedoen en in musiekterapie gespesialiseer. Nou wil sy voltyds musiek maak.

Sy het pas haar nuwe CD opgeneem by Jurgen von Wechmar se Sunset Studios buite Stellenbosch, met die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert in die rol van producer.

Waar hulle skaars vier dae in die studio spandeer het tydens die opname van haar vorige CD, was hulle vir langer as twee en 'n half weke by Sunset Studios vir die nuwe album, wat uit 11 oorspronklike snitte bestaan.

"My vertoning Saterdagaand in Dorpstraat is 'n voorsmakie van die nuwe CD. Dis die eerste keer dat ons die songs live met die band gaan perform."

Haar band bestaan uit Leon "The Glove" Oosthuizen (hy dra handskoene wanneer hy bas speel - dit bring glo 'n ander klank uit die instrument), Henry Steel van Delta Blue op elektriese kitaar, en Francois Kruger van Springbok Nude Girls op tromme. Sy oorweeg ook om iemand te kry vir agtergrondsang.

Op die nuwe CD het Anine Dippenaar die agtergrondsang gedoen. Ander musikante wat deel was van die opname is Shannon Mowday (saksofoon) en Jan-Hendrik Harley, wat ook onlangs die snaarverwerkings ("string arrangements") vir Lesley Rae-Dowling se nuwe album gedoen het.

Sy slaan 'n heeltemal nuwe kreatiewe rigting in met haar nuwe album, wat in hierdie dae 'n naam en omslagontwerp kry en iewers in April beskikbaar sal wees.

"Die nuwe CD het 'n voller klank; dis meer hip en modern met electronic sounds en 'n paar drum 'n bass grooves. Ek is nie mal oor kategorisering nie, maar die klank is meer in die lyn van adult contemporary pop, met die klem op klaviermelodieë en kitaar. Dis 'n heel nuwe sound, nie heeltemal so 'hartseer' as die vorige CD nie. Mens sal op van die snitte kan dans!"

Luna is al baie vergelyk met Tori Amos, wat natuurlik 'n reusekompliment is. Maar sy is vasberade om haar eie styl na vore te bring. "Die nuwe CD gaan 'n paar mense se vooropgestelde idees crush. Ek is nou moeg daarvoor om met Tori Amos vergelyk te word - dit sal stupid wees om net soos Tori te sing.

"Die songs gaan maar alles oor verhoudings. Ek wil dit nie laat klink na 'Luna se hartseer tirades' nie; dit gaan wel oor issues en fases waardeur almal moet gaan. Francois sê altyd dit klink soos 'n baie ouer persoon se issues. Dit gaan oor regte goed, nie kalwerliefde nie."

Die eerste CD was volgens haar eintlik bloot 'n demo, aangesien daar nie veel tyd en geld vir producing was nie en hulle skaars vier dae daaraan spandeer het in die studio. Die CD word nou deur Bowline versprei.

"Ons het dit gedoen sodat daar iets is om by shows te verkoop. 'n Paar snitte het darem radio play gekry op RSG en 5FM; ek moet baie dankie sê vir Barney Simon, wat dit gefeature het."

Diegene wat Luna reeds tydens die Eve - In the Garden of Song-vertonings sien optree het en na die CD geluister het, sal haar skitterende verwerking van 'n Pablo Neruda-gedig, "La Luna", goed onthou. Op die nuwe CD is daar 'n splinternuwe, meer op-en-wakker verwerking van "La Luna".

Daar is heelwat verrassings op die nuwe album. Sy sê met 'n vonkel in die oog dat "Far away" 'n lekker "vry"-song behoort te wees. En "Thunderstorm" eksperimenteer met interessante toonsoorte en skep 'n Arabiese atmosfeer, "soos 'n slang in 'n woestyn".

Die musiek van kunstenaars soos Sheryl Crow, Dido en Annie Lennox het gedien as inspirasie vir die album. "Ons het modern female music gaan ondersoek en gekyk na wat hulle doen - en nou probeer ons elemente daarvan inwerk met 'n baie tight budget!" Die opname en nuwe CD word deur die kunstenaars self gefinansier.

Luna het haar navorsing goed gedoen. "Daar is baie nice boeke oor 'hit songs', veral wat die melodie betref. Daar is maar 'n resep vir alles. Mens kan baie daarby leer, en dit beteken nie noodwendig 'selling out' nie. Mens kan dikwels 'n great song hê maar dit onnodig te kompleks maak. Schalk het baie in dié verband gehelp, veral as ek bietjie te veel 'waffle' met 'n song."

Sy het deesdae baie meer selfvertroue tydens optredes. "Ek was altyd verskriklik skaam, en het nie my mond oopgemaak behalwe wanneer ek moes sing nie. Ek het in die begin my oë toegemaak, gesing en dan teen die einde weer my oë oopgemaak en dankie gesê. Maar ek besef ons moet as 'n band ook sorg vir visual entertainment. Nie dat ek my lyf voor die klavier gaan rondswaai nie, dis nie heeltemal ek nie," lag sy.

En 'n moontlike album in Afrikaans? "Mense het my al laat probeer skuldig voel. Maar ek sing in 'n verskillende genre. Vir my werk dit in Engels. As jy internasionaal wil gaan, moet mens tog ook daar inpas. Ek sal seker 'n Afrikaanse album opneem as hierdie een nie werk nie, om my skuld terug te betaal," grap sy.

Sy het wel al 'n tradisionele Afrikaanse liedjie, "Ou Karoo", effens gewysig en opgeneem vir 'n reeks op kykNET. Sy hoop om dié snit eersdaags op die web beskikbaar te stel.

Sy het groot planne vir die res van die jaar. 'n Nuwe webwerf is op pad, 'n musiekvideo is in die pyplyn, en sy sal graag die nuwe CD in Pretoria en Kaapstad wil bekendstel.

En optree, optree en nogmaals optree.

  • Luna se vertoning in die Dorpstraat Teaterkafee begin om 21:00 op Saterdag 5 Maart. Kaartjies kos R50 per persoon. Bespreek by (021) 886 6107.



    LitNet: 3 Maart 2005

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

     

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.