KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Daardie Piet Botha-aand in Foundry Fly

Katvrou

Piet Botha “Hoe nou? ’n Tribute vir Piet Botha? Wat’s dit, soos ’n huldeblyk? Maar hy’s mos nie dood nie??”

*SUG*

So land die kommentaar uit verskeie oorde in my Inboks.

Ja, hy is nie dood nie. Goddank. En hierdie huldeblyk is nogal ’n yster idee. Om vir iemand, terwyl hy of sy nog leef, te sê: “Dankie vir jou musiek, vir dit wat jy vir soveel mense (hetsy musiekmakend of -luisterend) in jou lewe gedoen het …” – wat ’n bedagsame gebaar. Mens wil sulke dinge weet terwyl jy nog met jou twee ore kan hoor. Veral as jy nie heeldag met jou ego op jou mou rondloop nie.

Foundry Fly Lounge is ’n lekker kuierplek, uit op die N4 na Witbank se kant toe. Dis eenvoudig dog robuust ingerig as ’n langwerpige fabriekwerkplek, met ’n gesellige kroegtoonbank wat dwarsoor die 22-meter-lengte van die vertrek strek. Die binneverhoogarea met sy dubbelkuiervlak is egter veels te klein om die sowat 1 100 mense te huisves wat vir die Piet Botha Huldeblyk opdaag. Goeie idee van Moonshine, die man agter die organisering en logiese beplanning van hierdie hele ding, om ’n tweede en groter onderdakverhoogarea op die Foundry Fly se hoofparkeerarea te laat gebeur.

Dus – die praktiese plan is dat terwyl die een musiekgroep hulle ding doen op die binneverhoog, die volgende span kunstenaars solank gereed maak op die buiteverhoog.

Ek beloer vroegmiddag reeds die onrustige wolkvorme bokant Pretoria-Oos. ’n Paar van hulle wil-wil reeds vuilblou vir die grond begin vetpens maak.

“Nee, dit gaan nie reën nie,” sê CyberSakkie terwyl hy skreefoog na die boomtoppe tuur. Hy teug met smaak aan sy bier. “Pretoria se reën trek doerie kant verby – dit gaan agter ons val. Wag en sien.”

So is dit dan ook. Op Piet Botha se aand val daar geen reën op Foundry Fly nie. Daar is ook geen dronkgevegte of suurgat ego-aanvalle nie. Net liters en liters sweet. En ’n Piet Botha-liedjie wat elke 45 minute, saam met die gewone speellys, vanaand gratis deur elke genooide musiekgroep uitgevoer word.

“It’s like Oppikoppi, but with tarred roads!” lag Phil Wright (gewese radioman van 5FM) in die mikrofoon. Hy en RSG se Johan Botha beman die mikrofone en hou dinge aan ’t loop vanaand. Janice and the Halfjacks maak die middag oop so teen twee-uur se kant. Janice het voorheen by Oppikoppi se kampvure met haar kitaar vir mense gesit en sing tot Conrad Jamnek haar opsluit een oggend kitaar en al verhoog toe gesleep het. Jaco Mans van Duck & Cover doen vanmiddag die warm voorkitaarwerk en Janice doen haar bes om haar stem bo die feestelike gemurmel van stemme en stewelsole oor die gruis te laat geld.

Agter by die hoë ronde staaltafels sit die lywe reeds volgepak. Piet kom ontspanne en besonbril deur die buitehek gestap en skud blad met elkeen wat kom groet. Met sy lang hare en digte grys baard lyk hy nou weer presies soos die hardekoejawel Jack Hammer rocker op sy ouer plakkate.

Daar’s ’n groot koswaentjie staangemaak tussen die groot wit sonsambrele waar iemand vir die karnivore vleis braai, en Look & Listen het hulle afdakkie sekuur tussen die twee verhoë vasgeslaan. Ek wil nie eens gaan kyk watter CD’s hulle het nie. Die wind teem al klaar dwarsdeur dié maand se ribbes.

Bacchus Nel Die blinde en beminde Bacchus Nel is die lang man in die soldaatstewels wat eerste die binneverhoog laat sing. Sy Johnny Cash T-hemp lyk of dit gloei. Die ouens (en dame) wat vandag saam met hom musiek maak, is die heethoofdige Plank. Esmé EvaKwaad is kaalkop in rooi. Die sonbril verberg haar ekspressiewe oë. Die manne staar na haar soos muise in ’n slanghok – maar dis te verstane. Sy is ongewoon. En onverbiddelik aanskoulik. Sy suig elegant aan haar sigaret en sit versigtig haar drankie neer terwyl Bacchus en Kapelaan Pat Plank die ding met “Op die plaas” begin. Brixton Barnard en die baskitaar gesels dik stukke langs Andy Dowelsticks se raserige tromstel.

Bacchus het mos hierdie droë stem. Nou vandag, met sy soortlike sin vir humor en onbeheerbare drang om te sing, kom die mense in die gehoor vinnig agter hy’s nie hier om ghwano aan te jaag of simpatie te probeer inpalm nie. Hy sing met alles wat hy het agter daardie blinde swart bril uit; hy lag hard en lekker – en hy speel kitaar.

Dis goed hy is vandag hier vir Piet.

En sy liedjies is veels te gou verby.

Sjoe. Geen toue in die kleedkamer nie. O maar wag, dis nog vroeg in die dag. En die bier het nog nie geloop nie. Buite begin die wolke vir die son padgee en ek duik onder die afdak in.

By een van die tafels lag ’n jong vrou en sê: “Hy mag maar skryf, maar hy moet net nie sing nie.”

Ek wil weet van wie sy praat.

“Gert Vlok Nel,” sê sy.

Haar man skud sy kop hewig in stille teenstand. Ek is skielik verskriklik bly dat smaak verskil. Veral wat Gert Vlok Nel betref.

Binne voor die kroegverhoog is die vloer vir hom volgepak. Langs hom op ’n kroegstoeltjie sit Wynand Davel met sy viool – en dis met Piet se “Donkermaan” dat die volle trefkrag van hierdie vioolspeler se talent ons tref. Hierdie is een van die aangrypendste vier minute van Saterdag, 25 Februarie. Gert is skaamkop dog verbysterend diep binne-in die lied. Die viool – die viool is ’n kragtoer, ’n hand in my nek, die kleur van ouhout en neute. Dis skielik stil. Gert en die viool. “Maar vir jou sal ek nooit vergeet … waar mense in spierwit klere vir jou medisyne gee … jy’s te naby aan die donkermaan …”

O dis seer, so mooi is dit. Gert frons. Laat sak sy kop – en sing van Mr Bean.

Die middag hou op asemhaal.

En nou, hier op die koue sementvloer voor die verhoog, begin ek die ding voel – die ding waaroor hierdie aand eintlik gaan. Die respek. Die lirieke. Die bloedsweet van kunstenaar wees. Die gifpyle wat soms so ondeurdag van buite af kom.

Mense begin warm kry en gaan skep lug buite. Kaalkop Waarheid is reeds reg om te begin – en nie alleen doen hulle Piet se “Klein Bietjie Reën” in nuwe kleure nie, hulle gooi ook hard met hulle eie liedjie, “Piet”, wat hom juis tot op die been verbeeld. “En jy kyk ook glad nie om nie en jou oë is toe – as jy jou byl optel, ’n storie vertel …” Brenda Biddulph, Nardus du Plooy en Jaco Lotter is die drie wesens in hierdie groep wat ons die meeste trek met hulle laaste liedjie, “War”. Wat ’n bedonnerd vernuftige liedjie. Mag jy dit uit hulle dromme en kitare van die verhoog af hoor voor jy die dag dood neerslaan.

Arthur en Rudi Denis begin geraas maak daar van die kroeg se kant af. Ek hou hulle met die Nikon dop vanaf die boonste kuiervlak. Moeilik om nie wild te gatswaai met “May Day” nie – hier gebruik Akkedis ’n sluwe dromritme wat onbehoorlike dinge met jou inhibisies doen. Dis warm. Die sweet plak die Denis-broers se hare in nat slierte teen hulle slape vas. Dis net Barry Steenkamp op baskitaar wat koeler lyk as my yskas se vriesrak. Maar selfs hy laat die sweet spat wanneer hulle Piet se “Goeienag Generaal” uitbliksem. Klim die sweet uit op ons velle. En ons dans hard en dik. “Maar Whitey jou oë op daai dag was blou – en toe ek weer so kyk het ’n AK jou fucked-up geskiet – GOEIENAG GENERAAAAAAL!”

Vinnig raak dinge rustig op die buiteverhoog met Johnny Dopper en die Rubbersoles. Twee van hulle was deel van die Radiators (onthou jy “Somerslied” in 1990?) en later in 1997 die Transformers. ’n Duidelike reggaeritme in Afrikaans (en ’n bietjie Engels) kom wys onmiddellik gesig, en ’n penniefluitjie en klokhelder marimba sorg vir ’n aansteeklike klank uit hierdie vyf manne. Ek herken “In Afrika” en die vinnige “Vyfde Wiel”. Agter my knor ’n manstem: “Who are they??? They’re awful!” Die dansende groep jongens lag oopbek en stem duidelik glad nie saam nie.

Hoe vinniger die reggae klim, hoe lekkerder wikkel die boude. En tekkies. Én die koppe. Voorsanger en kitaarman Deon Maree vertel van sy skooldae destyds saam met Piet. Hulle doen ’n onbekende liedjie van Piet wat nooit opgeneem is nie: “Long Time”. Dis jámmer dat dit nooit opgeneem is nie. ’n Stil, maar sterk liedjie wat heelwat van die rondstaande mense onder die tentdak laat stilbly en luister.

Gert Vlok Nel Die skemer kom sit stil-stil tussen die banke en sambrele.

Southern Gypsey Queen het hulle kitare gereed, en Paul Wilson se hemp is klaar oor die kop gepluk. Ek hoor die bakvissies giggel wat voor staan en móói kan sien. Ja, inderdaad. Sy klipharde ry maagspiere trek die aandag af van sy befokte stem. Maar net vir ’n rukkie. Veral as jy meer waarde aan binnegoed as buitegoed heg.

Die buitetent se dak en verhoog word deur rukkerige rooi en groen ligspitse van die verhoog af verlig – menige fotograaf se droom. Rookmasjiene verander die verhoog in ’n spookwêreld van afgeëtste kitaarnekke en Gareth Wilson se ingedagte profiel met die windgat groot witraamsonbril. Hy het hierdie ding begin. Hy het een aand in ’n stil tyd gesit en dink dat Piet Botha ’n huldeblyk moet kry. Een aand – bykans agt maande gelede. En hier staan hy nou met sy wit Fender en sy hart is vol.

Daar is ’n fotoboek vir Piet gemaak – met foto-aandenkings en boodskappe van almal wat met hom brood gebreek het. Tammy Wilson sit gou haar baskitaar neer om vir hom ’n moerse bos blomme te gee – en die fotoboek. Piet stap op die verhoog, glimlag skaam en sê sag, “Dankie” binne die mikrofoon. Ons sien die vreugde in sy oë. Dan buig hy met Namaste-hande vir die gehoor en stap weer af.

Dankie.

Dankie ook vir Southern Gypsey Queen wat die hele tent tot stilte sing met “Angels”. Paul Wilson se stem is een van die ongelooflikste dinge wat jy in jou lewe sal teëkom. Jonk, sonder die krapperigheid van die drankduiwel. Vars, helder en eerlik. Hoor maar hoe doen hy met toe oë en vertrekte gesig: “Dig a little deeper, child, will you catch me when I fall – grow a little stronger, child – now answer my call …” terwyl Tammy net langsaan wag om hierdie lied in ’n absoluut perfekte lyn vir jou toe te maak.

En nee, daar’s nie ’n greintjie sentimentaliteit nie – al soek jy ook met ’n vlooikammetjie. Dis ook die eerste keer dat ek die ganse groot tent vanaand absoluut doodstil sien staan en luister.

Bier in die keelgat af, ’n vinnige kuier in die kleedkamer, en Scicoustic kan maar kom. Albert Meintjies doen gestand aan daardie nuwe Mervyn Davis van hom met die vreemde halfronde vorm. Ons kry “Oceans Apart” – dis bongo’s en djembe, met drie kitare, Jorik en Albert se snaarvennootskap, en ’n vol stel tromme agter, en dan nog ’n didgeridoo in die hoek met Biehla wat sy wange diep uit die derms uit laat bol. Met “Assassin” trek dinge al heerlik handuit – en as jy nie dans nie, is jy dood.

Die hitte en videokamera se heen-en-weer geswerf voor die verhoog dryf my weer buitentoe.

Tidal Waves is laat; hulle het van Yeoville af ingekom, verby die tolhek gery en verdwaal – en moet by Foundry Fly uitkom by wyse van koorsagtige aanwysings via selfone. Die minute stap en begin dan hardloop. Twee vlamdansers doen oranje en geel vuurkringe en -krulle in die groot tent. Ek kyk só lank na hulle – eers die skraal vrou en dan die lang man wat hoër armbewegings doen – dit voel of my oogballe uitdroog. Dis hipnotiserend. Die Nikon probeer die vlamme vang – maar kry dit net halfpad reg.

Aha. Ek sien vir Jacob Wulana en Sam Shoai op die verhoog. Gebukkend, aan ’t vroetel tussen kabels en goeters. Tidal Waves is uiteindelik hier, en binne ’n paar minute is al vier manne gereed om te reggae. Hiieesssssjj, skielik is die tent nog voller. Piet stap op met sy elektriese kitaar en die applous groei en groei – tot die klawerbord se tinke-tinkkkkk-tinkkk begin met “Rock Steady”. En die dans kom vat jou net so, net so. Piet en Jacob sing: “Don’t cry Sista, hard times will come …” Jacob grinnik, buig oor daardie kitaar van hom en begin onaardse skwieke en trillings met sy vingers uitgrabbel. “Rock steady, this will be your song – this will be your song.” JA MON. Feel da luv. Piet verdwyn dan weer in die rook en Jacob neem oor met “Lekker dans” – wat hy dan ook met smaak demonstreer. “Hmmm – doen dit weer asseblief – lekker lekker dans!” Whoaaahahaha, die voete woel, die stokkies trommel ’n blitsige ritme van agter na ons toe – en Jacob lag: “En weet julle wat, mense? Vandag ons praat net Afrikaans. Want Afrikaans is ’n mooi en pragtagge taal. Haa-laa-laa.”

Dis juis Sam Shoai wat op hulle nuwe album, Muzik An De Method, so lekkerbek sing van die “gavarrlakke jêm” in die liedjie “Konfyt”. Hehehehehe. MOER HULLE.

Akkedis Een ding wat Tidal Waves besonder eiesoortig kan doen, is Koos Kombuis se “Hartseerland”. Jacob se ougat Tswana-aksent is oral. Dit wérk. “Met djou boks vol boezz ên jou regterhand …” en Sam wat van agter af dit uit sy maag uit kreet: “Ons weet nie wie ons ês nie maar ons weet wat ons wil hê … regoor die hartseerland – REGOOR DIE HARTSEERLAND!”

Agterop die CD-blaadjie sê hulle dankie vir Koos dat hulle “Hartseerland” kon “reggaesize”. Maar jy moet dit self beluister om te hoor wat presies in daardie liedjie gebeur.

Bliksem. Nou raak dinge taai.

En Albert Frost help niks. Ja’k, hier waar hy op die binneverhoog langs Piet staan en die rooi Jazzmaster bemartel. Die sweet het hom lankal gevat. Piet se oë is toe. Net sy hande vertel van die dinge in sy kop. Plat op my gat sit ek voor die verhoog en slurp elke stuk van hulle dubbelspel in. Albert Frost en Piet Botha. Die hoendervleis kom en ek begin dronkkop wieg soos ’n kobra voor ’n fluit. Hier is vennootskap en kranksinnige snare, hier is kameras en starende oë – hier is wit wolke rook en groen ligte wat swaai oor ons hare en bierglase.

Bo teen die dak sit ’n reusehorlosie wat sê dis al amper halftien.

Terug na die groot tent toe. Die nag is koel en fris. Die reuk van gebraaide vleis en hout wat brand, hang swaar in die lug. ’n Paar tonge by die kuiertafels begin nou al gemoedelik ssjjllleeep.

Anton Goosen het reeds die kitaar in sy arms wanneer Albert Frost stil-stil in sy donkergeswete langmouhemp langs hom stelling inneem. O moer. OOOOO Hoender Hendrina, hier gaan ons almal wortels groei voor hierdie einste verhoog. Want Anton en Albert begin met “Gansbaailapa”. Dit begin sag, groei dan harder en donkerder, en kry kleure by, wat Frost dan net weer ewe slinks vervorm en vir ons teruggooi – en Anton glimlag. Ek gaan staan heel agter die skare mense en laat die lied oor my loop. Anton se stem kom tot ver agter die tent verby.

"Waar hy die branners sien sit en inrol, en die branners sien sit en uitrol – en ’n kitaar innie hand en ’n naam – naam innie seesand.”

Dis nou stampvol – soos altyd wanneer Anton Goosen die verhoog vat, met of sonder ander musikante. ’n Gemoedelikheid hang dik in die tent – met biere en worsrolle wat so tussen die “Jissie Anton lyk so fiks!!!” en “Nee hy doen lankal nie meer Trompie nie, jou aap!” verslurp word. Tussen “Geelperskereën”, die honderde dansende en gillende lywe en ’n lekker energieke “Vis innie Bos” gee ek bietjie boedel oor en gryp gou ’n blaaskans agter die verhoogmuur.

Anton Goosen En voor die muur gee Anton en Albert als. ALS.

Ek hoor die glimlag in Anton se stem: “Wat wil julle nog hoor?”

Die hele tent antwoord hom.

Op die program wat teen die kroegmuur vasgeplak is, staan dat Jack & The Beanstalk nou die groot verhoog gaan betree.

WIE????????

O. Dis Jack Hammer (einste onse Piet Botha in elektriese formaat) en ’n paar ander hardebaardmusiekmakers wat nou die ding gaan laat bewe. Eers Stean van der Walt wat met daardie ongelooflike stem van hom eers ’n witwarm “Welcome to Azania” doen en dan uit sy derms uit vir ons “Sarajevo” bulder. Langs hom in die rooi ligte en wit stuifsels rook staan Tertius du Plessis wydsbeen en kwaai met sy lang hare los oor die groot grys baskitaar. “Go now go now child, go to the night, go to the mountain – I hope to see you when the seasons turn …” Stean stap binne die verbete ritme tot op die rand van die verhoog en teken die res van die lied met ’n frons van konsentrasie en ’n stem so sterk soos doringdraad. “All of my love and all of the gold you must take with you – and I pray I pray for you …”

Hier staan Piet agter die mikrofoon. Groen-en-wit kitaar oor die linkerskouer gegord. En agter hom kom pa Pik aangestap. Kameraflitse vanuit alle rigtings terwyl Pik ’n woord of twee sê. (Deaan Vivier, een van Beeld se fotograwe, se foto verskyn op die voorblad van Maandag se Beeld met die boskrif: “Onthou Pa nog die dae?”)

Dan is dit net Piet agter die mikrofoon. Hy kyk half ingedagte oor almal se koppe, en met ’n vreemde glimlag agter die baard sê hy dankie vir die mense wat ons land se musiek ondersteun, dankie vir almal wat kom luister het, dankie vir julle, dankie vir almal hier vanaand.

Applous ontplof in onpraatbare woorde en gille tot teen die tent se dak.

Hy tree terug en laat sy Fender verder praat. Kyk dan weer op in die ligte in. Sy oë blink nou baie en hy knip dit vinnig om die nattigheid weg te kry. Voor die verhoog is ons arms in die lug vir hom, ons vuiste in ’n skril skreeusaluut sonder woorde.

“Hulle noem my die Mamba – die hele kontinent behoort aan my …”

Tonie van der Walt doen die elektriesekitaar-werk saam met Piet Botha in hierdie frenetiese 30 minute. Hier kom ’n ongelooflik harde, onthutsende “Pilgrim” wat nou met Tonie in die voorste linie die pap dik aanmaak. Met sy kwaai klank en enigmatiese persoonlikheid laat hy Jack Hammer in ’n nuwer, moeriger styl geld. Piet se rokerige stem hou nou alles bymekaar. “I want to go with you, she cried … I said no, the river is deep and the river is wide …”

Maar wag, nie lank nie of Lani van der Walt kom kry sy staan binne die rooi rook met lang dissipelhare en blitsige kitaarvingers. En hier is Louis skielik met die saksofoon en ons hoor ’n engel sing. Hartseer, stadig, vol diep kleure – met ’n gevoel waaraan jy kan vat.

Ek sluk hard aan die knop in my keel. Wat ’n aand. Wat ’n absoluut befokte aand.

Dis Valiant Swart wat dit vir ons voltooi.

Hy’t ’n nuwe jong voorkitaarspeler, die stout steekbaardgesig Basson Laubscher van Zinkplaat; dan is daar nog die koel Agent Orange agter die klawers, Barry Steenkamp bestuur (weer) sy baskitaar, en ’n hiperfikse Vernon Swart sit regop soos ’n meerkat agter die tromme. Valiant skop die deur oop met “Suitcase Vol Winter” – en vanaf “Nou kyk hierdie trein loop na nêrens …” het hy elke siel voor hom in die holte van sy hand. En die manne werk koelbloedig en swetend saam om ’n voorheen ongehoorde mengsel van hardebaard elektriese rock en nuwe energie op die grond vir ons oop te gooi.

Ek is nog in die middel van Valiant se “Vloek van die Kitaar” en daardie allerwilde aanvang van “Dis ’n mean ou wêreld Baby …” wanneer ek op die skouer getik word.

Rooi Charles en sy lieflike vrou het plek vir my in hulle motor terug Johannesburg toe. En dis nou tyd om die pad te vat.

Halfeen sjirrrr die motor se wiele oor die sementpad. Ons praat nie. Die aand se waarde weeg swaar – sonder woorde.

Piet Botha Dis asof Piet se liedjie “Did you know” vanself in my kop kom lê:

It won’t be the first time I lost my way
And it won’t be the last time I had to say
I’m sorry I don’t know the sky fell down on me
But all that I was looking for
was a little bit of love

And it won’t be the first time that I was wrong
The moonshine, water, fire, the searching
I search for God
Everywhere I go
But all that I was looking for
was a little bit of love

Love should not be so hard to find
But the world’s gone crazy
Never mind
Never mind
That’s what they say

I see children dying on the BBC
In New York City – tell me what you see
Did you know the CIA tried to kill Bob Marley
And all that I was looking for
was a little bit of love

Love should not be so hard to find
But the world’s gone crazy
Never mind
Never mind
That’s what they say

It won’t be the first time

© Piet Botha – “Did You Know” (2002)

*

Dit neem ’n paar dae voor daar kans is om vir Piet te vra hoe die aand van 25 Februarie 2006 vir hom was.

“Ek het baie nederig gevoel.” ’n Breë glimlag. “En ek’s geïnspireer vir die volgende tien jaar – wanneer is die Jack Hammer Tribute?”

*

Piet Botha

Man met kitaar


LitNet: 20 Maart 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.