KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Chris en Ingrid op ‘n Europese voetpad

Werner Coombe

Foto's: Pascal Butz (pascal@chrischameleon.com)

Daar is drie eienskappe wat Chris Chameleon werklik uitsonderlik maak. Eerstens is dit sy ongelooflike range – sekerlik een van Suid-Afrika se sangers wat die mees oortuigend ’n lae basnoot kan afwissel met falsetto. Tweedens is dit sy toewyding en harde werk. En laastens is dit sy vermoë om die siel van ’n lied te ontmoet. Die bekende sangeres Tori Amos verwys na die konsep as vormverandering (shape-shifting) – waar sekere mense die voorreg het om ‘n universele kreatiwiteit te ontdek, en dit dan van vorm te laat verander deur hulle spesifieke talent. Vir Chris se eerste solo-album, Ek herhaal jou, was die uitdaging egter uniek. Die lirieke en siel van die liedjies was reeds geskep en lewend gemaak deur Ingrid Jonker. Chris moes hulle gaan ontmoet, en ’n uiteindelike ontmoeting met Ingrid se hart self was onafwendbaar.

’n Vraag wat ek al lank mee worstel, is waarom sekere kunstenaars die vermoë het om diep binne-in my hart en siel te klim, en ander my totaal onaangeraak laat. En miskien lê die antwoord in die vermoë van die kunstenaar om oortuigend oor te kom – sodat die luisteraar na die werk kan luister en die emosie kan voel en kan beleef, in dieselfde rouheid en eerlikheid as die kunstenaar self. Min mense besef hoeveel ure iemand soos Laurika Rauch alleen in ’n kamer sit voor sy die verhoog opstap. Hoe belangrik dit is om die diepste deel van jou wese te gaan soek en elke liedjie te gaan ontmoet, te omhels en een te word met sy geluk, seer en verwerping.

En dit is dan in Amsterdam, Nederland, dat ek die voorreg het om vir die eerste keer Chris Chameleon op die verhoog te sien en te beleef. Dit is die laaste vertoning van sy Europese toer – en die rokerige saal is volgepak met ’n grotendeels Nederlandse gehoor. Sy 70’s-bankrower-snor, nou hemp en nonchalante houding gee weer dat hy self maar ’n bysaak is – en in daardie tyd word net een ding na waarde geag: die musiek.

’n Reis begin met ’n stereoagtige gebrom deur die mikrofoon – gevolg deur ’n Freddy Mercury-falsetto – en as Chris sy oë sluit, verlaat hy die verhoog en neem hy die meeste mee om hulle te gaan ontmoet – “Die onverkrygbare”, “Bitterbessie dagbreek”, “Ontvlugting” … Ek ontmoet Chris aan die einde van die vertoning – en miskien is dit te verwagte dat hy beide diep in ons gesprek betrokke kan raak en tog met nederigheid en ’n byna terloopsheid kan verwys na die “werk” en die komplimente van die gehoor kan omhels.

Baie mense het al probeer om Ingrid Jonker se gedigte te toonset – met gemengde sukses. Wat dink jy is die resep vir jou oorweldigende sukses met veertien van haar gedigte?

Wel, dis eintlik sestien gedigte in veertien liede. Ek dink die geheim was eerlikheid teenoor myself en getrouheid aan Ingrid se teks. By die toonsetting van gedigte moet die komponis sy eie ego opsy skuif en nie homself nie, maar die digter, dien. En dan is daar seker maar die geluk-faktor. Byna elke uitvoerende kunstenaar se ambisie is om iets te maak wat die publiek meesleur en betower, wat hulle hul laat vergryp aan sy werk. Dis tog hoekom ons dit uitvoer en nie in die binnekamer hou nie. Ek het dit reggekry, en ja, ek weet nie regtig hoe nie …

In die CD skryf jy 'n nota aan Ingrid. Wat is die belangrikste eienskap wat jy van haar geleer het tydens die toonsetting en belewing van haar gedigte?

Ek het van haar geleer dat ‘n mens nie doekies moet omdraai nie. Dat jy niemand (nie eens jouself nie) moet ontsien om jou hart te verwoord nie. Anders sal dit geveinsd voorkom.

Is daar een van die gedigte wat jou meer besonders geraak het?

Die liedjies word soos kinders vir jou as jy hul eens geskape het, en soos enige goeie ouer kan ek nie ‘n enkele kind uitsonder nie. Maar ek word om een of ander rede nooit so kwaad vir “Op die voetpad” as sy verbrou nie ...

Wat was die reaksie van die Europese gehore tydens jou vertonings, en was dit vreemd om dan meestal in Afrikaans te sing?

Ek het doelbewus nie lande soos Duitsland, Italië, Kroasië en ‘n paar ander wat gereeld deur Boo! bedien is, gespeel nie, omdat ek besef het die taaluitdaging sal kan ontaard in so ‘n mate dat dit die aandag van die musiek sou kon aflei. Daarom het ek op Nederland en België gefokus. Die reaksie was ’n plesier om waar te neem: ‘n mengsel van fassinasie, genot en belangstelling.

Ek weet dat jy die album wil vertaal – is dit moontlik om aan Ingrid Jonker in enige ander taal reg te laat geskiet?

Gerrit Komrij het voortreflike vertalings van haar werk gedoen en ek het hulle intussen reeds in Nederlands vertaal. Sy vertalings is besonder musikaal en ritmies getrou.

Selfs as jong akteur in Sonkring was dit duidelik dat jy as kunstenaar hard werk en alles gee – is dit ’n eienskap van jou persoonlik ook?

Dankie! Ek gee makliker alles aan my kuns as op ‘n persoonlike vlak. Kuns verloën my nooit nie.

Wat is die volgende uitdaging?

Ek toonset tans nog ‘n Afrikaanse plaat wat ek in Mei sal opneem, en dan wil ek dit gelyktydig vrystel saam met die Engelse plaat wat ek so pas voltooi het. Dis ‘n vreemde skuif, twee plate in verskillende tale tegelykertyd uitgee, maar ek hou van die unieke uitdaging wat dit bied.

Dit lyk asof jy 'n maklike en gemaklike aanslag op die lewe het - sou jy jouself as werklik so rustig bestempel?

Nee – ek wroeg nogals baie, “betob” dinge. Ek verkies swaar geselskap bo ‘n ligsinnige gebabbel. Dit maak my sosiaal ‘n bietjie wanaangepas, maar in my werk ontmoet ek genoeg mense dat dit my nie tot eensaamheid dwing nie. Ek dink ek verstaan die kuns om in die regte sfeer op ‘n sekere gemaklike wyse oor te kom – dis deel van my werk – maar vrye tyd is ‘n ander saak.

Vind jy dit vreemd dat jou beeld oornag van “weird” rocker na gunsteling Afrikaanse seun verander het – alhoewel wat jy doen, nie substansieel anders is nie?

Nee – ek waardeer dit. Op die lange duur sal dit hopelik bydra tot die ontwikkeling van ‘n bietjie meer begrip onder my eie mense – dat alles nie is wat dit skyn te wees nie en dat ‘n mens nie ‘n man op sy baadjie (en veral nie op sy rokkie!) moet takseer nie. Ek stap die saal uit – diep geraak deur die vrou wat hierdie wesens kon skep – en die man wat hulle musikaal lewend kon maak.


LitNet: 14 Maart 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.