Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jägermeister oor jou roereiers

Katvrou

Die waarskuwings is talryk en blitsig. Op SABC2 lyk die weervoorspeller erg bedroef. Uit Kreef Hotel se geweste word ons per e-pos gemaan: Mense, bring ekstra beddegoed saam. Daardie lang cowboy-onderbroeke ook. Gisteraand het ’n reënstorm ’n hele paar van die tente weggewaai. Toe kom daar iemand voor sonop en gooi ys bo-oor alles. Hier’s die foto’s – kyk hoe vries die houtbankies. Julle gaan vrek van die koue.

Met die Oppikoppi-tema as Rock Paper Scissors voel jy egter jy moet maar jou asem insuig en dit vat, Broer. Oppikoppi is nie vir sissies nie.

Donderdag
(Koue? Watse koue?)

Die teerpad Northam toe is droog en warm. Paul Riekert doen sy verraderlike “Gevange” in die CD-speler. Ek kou handevol Endearmints soos die CD vorder en voel hoe die hoendervleis agter my elmboë verby klim. Paul meesmuil en maak sy stem dik oor die voordele van wilskrag. “Die moeilikste ding wat hy nog moes doen, was om weg te stap van Johanna du Toit.” Dan kom “Mufspul” en hy lig ons in oor vernuftige sampioene:

Die teerpad na Northam toeDaar is swamme op my pizza
swamme in die kaas
my nefie groei blou sampioene
wat sy kop laat raas

Daar is spore in die yskas
fungi in die mat
en as jy goedsmoeds swamme eet
sien jy gou jou gat.

Ons ry verby die padteken wat Northam toe wys – en neuk een rigting deur op pad Thabazimbi toe. Die swart teerpad loop horison toe terwyl Oom Niekie op Radiosondermense praat van 7de Laan se storielyn en dat iemand vir hom sê dit was Chuck Norris wat vir klein Aubrey vermoor het. Ons lag kliphard tussen die droë bruin koppies, die bouvalle en nuwe besproeiingspompe - tot ons agterkom die pad raak nou bietjie lank. Hierdie is mos nie die pad wat homself Northam toe vat nie. Hoe de moer kom mens tussen ’n platinumgat en Brahmaanplaas deur tot by ’n piepklein verroeste Northam-bordjie wat sê draai links??? (Later stel ons vas die rede vir ons logistieke misstap was dat die padteken vroeër die week omgewaai het.)

By Northam se Dorsles Kelders kry ons gou versterkings: Hunters Extreme as teenmaatreël vir die afgryslike laatmiddag-bloedsuikerinsinking, en bier. Enige bier. Die kassiere sê nee, hulle verkoop nie botteloopmakers nie. HOE NOU? “No, we no have opener. You go to CashBuy or Spar.” Dis duidelik sy voel reeds effe geïrriteerd met die belhamels en gepekelde strontgatte wat twee keer ’n jaar hierdeur reis op pad na Oppikoppi. Ek wil vir haar sê dis regtig nie so erg nie. Maar sy verstaan nie Engels so goed nie.

 Die uitsig van bo afHierdie jaar kry ek my tent in Kreef Hotel. Dit kos ’n paar rand, ja. En dit versterk die gemaksugtiges in hulle kwaad. Waar’t jy nou al ooit gehoor jy kry ’n tent wat klaar vir jou opgeslaan is? Sies man. Dis mos nou hondsleg. Oppikoppi is dan juis oor die rondval om jou tent te laat staan, die sprinkane, wolke rooi stof onder jou spitgraaf, geel spinnekoppe en kaktusdorings, die halfdroë bokdrolle en skerp klippe onder jou grondseil. Maar ai. Kreef Hotel is ’n bose verslawing. Hulle gee vir jou ontbyt. Met koffie en lemoensap. En die kroeg is altyd oop. Jy’t ’n kragpunt waar jy jou kamera en flits se batterye kan laai, warm storte, ’n slot vir jou tent, ’n matras met kussing, redelik stabiele tent waarin jy kan regop staan terwyl jy jou vuil jeans probeer opgulp - en (oorwegend) eksentrieke bure wat jou soggens wakkerkweel wanneer hulle nie meer wil slaap nie. Die Mobi-Loos teen die draadheining word kiem- en vlekvry gehou vir al vier dae.

Jy is ook naby aan die onderste twee hoofverhoë. Sou jy jouself dus laataand in ’n stupor* suip en slapbek sonder skoene by die onderste uitgangshek aanstrompel, met die woorde “Kreef Hotel” op jou verdorde lippe, sal enigiemand met genoeg fut jou tot by die Kreefhek kan help.

*’n Psigopatologiese toestand wat gekenmerk word deur ontoeganklikheid vir stimuli, disoriëntasie en ’n totale of gedeeltelike gebrek aan motoriese beweging. Hoewel so ’n individu nie bewusteloos is nie, kan dit beskou word as die psigologiese eweknie van bewusteloosheid. Psigologiewoordeboek: Gouws, Meyer, Louw en Plug (1981).

By ontvangs kry ek my piepklein blink tentsleutel en die twee vriendelike bloedjong ontvangsmeisies wys vir my waar die kragpunt om die hoek as ’n freneties georganiseerde kraaines funksioneer. Ek maak dikbek vrede met die feit dat ek volgens 80 persent van die Oppikoppigangers as “Tannie” aangespreek moet word.

Terwyl jy plat op jou gat voor die verhoog sit met ’n lang Oppi-plastiekglas (jy mag geen bottels deur die ingangshek bring nie) Hunters vol ys, kom die bosveld gewoonlik ongemerk onder jou vel inkruip. Met ’n kamera en ’n werkopdrag moet jy egter vinnig aan daai drankie sluk. Tussen veterane soos Alet Pretorius, Liam Lynch en Lisa Skinner gaan dit ook maar woes om die aksie op die verhoog vasgevang te kry op ’n manier wat jou binneste vervul. Maar dis ook ’n fatale fout om jouself as amateur met foutlose professionele fotograwe te vergelyk. Jy gaan blitsvinnig jou gat sien.

Bacchus Nel in 'n peinsende buiSoos die gepekelde lieplapper oorkant Bacchus-hulle se kamp met sy seninglyf en puisieboude wat heel naweek met net ’n vuilwit jockstrap sy Oppikoppi vier. Ek wag nog vir die berig dat hy weens vriesbrand ’n paar van sy ledemate verloor het.

Die program vir die naweek bevat genoeg nuwe musiek om enige vorm van verveling ’n stywe middelvinger te wys. Dit begin kliphard op die Most Amazing Myn Stage en neem die manne van The Hellphones se ongewone ruk-en-rol-styl om die standaard van meet af die lug in te ruk. Dis asof voorsanger Tenn Elliot met daardie gorrelrige keelgat en moerige gesig saam met die bedrywige Fredriquez op baskitaar dit nou sommer amptelik maak – We bloodywell hereby declare this festival OPEN!!! HELL YEAHHH!! Vanaand word die vyftal se breë geel dasse met ’n gesellige bokdrolbruin pleks van die gebruiklike pers kraaghemde getroef. Tussen hulle “Sick Leave” en die bonsende “Stealin’ the feelin’” is dit bra moeilik om stil te staan en net na hulle te kyk. So jy dans en ruk mal. En Tenn is daar om te help. “If you say that I wanna go, ah don’t cair anymore, ah don’t cair anymore!”

Dudway’n Moer harde verrassing tref my agtuur – op dieselfde verhoog. Die rap-rockers Dubway met Matt Metcalfe aan die stuur val weg met ’n klipharde, meedoënlose stel wat heeltemal te veel eise aan my oogballe stel. Ek vergaap my aan hulle rukdansstyl - hierdie ouens is bebliksemd. Die dik skeut hip-hop tussen die sosiale kommentaar en bevele om te dans is onweerstaanbaar. Biehla van Scicoustic se stem bars half monsteragtig tussendeur terwyl hy beurtelings die mikrofoon bebrul en die didgeridoo laat gril, dan weer terug na die perkussietromme in ’n ry onder sy hande. Dubway kan jou nie verveel nie. Hulle is eenvoudig te rats, vasgesweis in hulle passie en heeltemal te behendig met die kitare. Hulle weergawe van Tidal Waves se “Money” is absoluut befok – met Matt se stywe moerige middelvinger onder die geelwit ligte en rook terwyl die skare saamspring binne die rasende “Money is fucking the world, FUCKING THE WORLD!!!”

Dan’s dit Blk Jks (spreek dit uit Black Jacks) op die groot James Phillips-verhoog – alternatiewe afro-rock, met ’n goeie skoot jazz wat die kreukels uit jou voorkop kom haal. Blk Jks is die erg vaardige Linda Buthelezi op voorkitaar en sang, met Mpumelelo Mcata op ritmekitaar, Molefi Makananise op die baskitaar en Tsepang Ramoba wat die tromme slaan tot sy rastalokke kiertsregop staan. Die koue klim met lang kil beenvingers tussen ons lywe voor die verhoog in. Dit pla nie die musikante nie – maar dit voel of hulle jazz-inslag beter op die boonste verhoog sou werk. Die ganse Oppikoppi wil nou die prop afskroef en die sous laat lóóp. Dis dus jammer dat talle feesgangers een van die voortreflikste speelbeurte van die naweek misloop – Blk Jks is nie net tegnies oppervaardig nie, hulle is absoluut mal oor wat hulle doen. En die musiek … jy vreet jou vingers af vir nog. Genugtig.

Jon Savage van CassetteJon Savage maak die deur oop vir Cassette, twee uur later op dieselfde verhoog. Al vier van hulle staan stokstyfdoodstil voor hulle begin. Dit voel soos dertig, miskien vyftig sekondes - nie een van hulle beweeg nie. Die skare brul en gil, por hulle aan om te beweeg. Dan val hulle weg. “JIIEEEAAAAAAA!!!!!” skrou die kele van agter af – en die onderskeie hopdanse begin. Dis nou so koud dat Jon in wit yswolkies op die verhoog asemhaal en hy eers na bykans vyf liedjies sy baadjie uittrek. Heeltyd om my hoor ek hoe daar gevra word: “Wie’s hierdie ouens?? Hulle’s piscool!” Met Jane op klawers, Nathan met sy baskitaar, Andrew aan’t frons en moerend agter die drome en Jon Savage binne “Tracy” neem dit Cassette bitter min tyd om nuwe aanhangers te werf.

Daar’s skaars tyd om hulle klaar te luister en oor te hol na waar Pestroy die aarde skeur. Ses vreeslose manne op die verhoog wat die hardste rockmetal suid van die ewenaar doen. Hier’s nie plek vir sagte oordromme nie. Jy trek jou rugstring reguit, gryp vas aan iets wat nie kan losskeur of skroewe verloor nie, en begin mosh. Ruk. Brul. Dans met stof en sweet en spoeg en bier in jou hare. Want dis Pestroy. RRUUAAAARRRGGGGHHHHHHH-PESTROY!!! Dis ’n gesukkel om vir Tripwire met sy rastalokke in die kamera se oog vas te vang. Hy’s moer groot. Sy stem is doringdraad en geroeste lemmetjies en ’n emmer vol antifreeze. Dit klink of hy doringbome uit die grond kan ruk en as tandestokkies gebruik.

In die middel van hierdie verslawende waansin besef ek my voete is weg. Daar’s niks onder my enkels nie. Als is dood. Ek mis my ma se elektriese kombers. Ek slinger tranerig terug tent toe. My oogballe draai styf en droog in my skedel rond – asof ek dit te lank in die vrieskas gelos het. Die selfbejammering verlam my tot in my toonnaels. Dit moes iewers buite Thabazimbi gesneeu het. Hierdie ysigheid is net nie donners moontlik nie. Op die grondpad terug tot by die hek het elke tweede vierkante meter het ’n kampvuur en toebaadjielywe.
 
Ek betree die slaapsak met al my klere aan. Die serp wikkel ek bibberend om my voete sodat die sokkies kan aanhou werk. En iewers, in die rigting van Betonboerlaan, ’n ekstatiese hees geskreeu: “OPPIEEEE---KOPPIEEEEEEEEEEE!!!!”

Vrydag
(Bbbrrrrrr ... bliksem dis koud.)

Die Sick Leaves gaan vandag se verrigtinge begin. Die son laat val sy hitte in sulke gawe geel stukke. Die middag is letargies en dik van die babelaas. Voor my sit ’n benerige jongeling en mediteer met sy pizzaboks voor hom op die grond. Sy tekkies is agter sy baadjie ingedruk, sy bene in ’n kruis gepretzel. Ek glip die CD met KOBUS! se twee demo-snitte oor die klankingenieur se toonbank en vra hom mooi om die middagstilte met mening te breek. ’n Paar sekondes later brul Francois Blom se “Drankduiwel” deur die luidsprekers. Die ritme is ’n harde donker WHATTTA-WHATTTA-WHAAATTTTTT en ek sien sommer in my kop hoe Theo Crous die Fender beplunder. Twee of drie van die varser metaalkoppe begin sommer op die plek mosh. Ek voel hoe die swaarmetaal my neerslagtig bevrore rugstring begin regop trek.

In die plek waar hy bly
staan die bottels op 'n ry
van elke fokn alkohol op aarde wat jy kry
In die oggend drink hy bier
en dan iets sterkers elke uur
en teen elf uur in die aand is hy so mal soos 'n dier

Hy suip soos 'n maniak
Hy suip soos 'n vis
Hy staan nie eers meer op nie
Sy broek is natgepis
Hy trap die doppie plat as hy 'n nuwe bottel knak
Sy oë is bloedbelope en sy kamer ruik na kak!

Ja’k. Drank is ’n euwel.

Die Sick Leaves is vars, sonder verskonings, en beslis nie siek nie. Hulle behoort dopgehou te word waar hulle ook al speel.

Puleng Reënkind het skaars ’n handvol mense wat op die boonste verhoog na haar kom luister. Sy het glasgroën oë en ’n kitaar. Haar liedjies is haar eie en dit is so ongekunsteld soos haar stem. Miskien nie die regte keuse vir Vrydag nie – Sondagoggend sou beter wees. Daardie rustige begin van Oppikoppi se laaste dag. Dis waar sy hoort. Wanneer mense makliker luister.

Die middag glip verby in ’n waas van vinnige Hunters en stadige toilette.

Staan- en sitplek voor die Gito Baloi-verhoog is stampvol gepak. Dielive radio-onderhoud met Valiant en Niekie gaan begin. Niekie wérk met sy sakdoek. ’n Trop uitgelate lummels is aan’t kuier en drink vlak voor die verhoog. Een trawant het ’n opgeblaaste plastiek-Nemo soos ’n gemuteerde Babelvis babervis? op sy hardepet vasgeplak.

'n Gemuteerde Babelvis?

Niekie probeer ’n vraag aan die klein skare vra. ’n Stroom uitgebrulde antwoorde tref hom soos ’n brander. Sy wenkbroue lig. “Ag nee mense, ek praat mos mooi met julle. Moenie vir my skree nie.”

My bra Erns sug swaar. “Hier kom kak.”

Die son brand die wit waks uit ons uit. Ek ruik rum in die sweetlywe wat probeer sitplek op die bankies kry. Oom Niekie sê hy voel verskriklik welkom hier. Hy verwys na Fokofpolisiekar se “Brand Suid-Afrika” as die liedjie “Brand dit af”. Ek dink: Waddefok????

Valiant en Oom NiekieDaar’s blykbaar ’n luisteraar op die lyn wat wil gesels.

“Niekie, waar’s jy???”

“By Oppikoppi, Tannie.”

“Nou waar’s dit??”

“Iewers naby Thabazimbi, Tannie.”

“Wat maak jy dáár?”

[LUIDE GILLE EN BRULLE DEUR BIERBEGEESTERDES VOOR DIE VERHOOG.]

“Nee ek’s is hier by ’n fees, Tannie. Maar ek is orraait.”

“O. Nou maar goed. Ummm ... goed, totsiens, Niekie!”

Die lekkerste deel van hierdie onderhoud gebeur egter wanneer Valiant so ’n bietjie vir Oom Niekie reghelp. “Nou Valiant, ek merk op dat die protes, die passie, die anger, dit lyk hier op Horisontaal of dit nou uit jou musiek is. Hoe so?”

Valiant grinnik. “Man, Niekie, ek was nog nooit ’n protessanger nie.”

Ek dink Oom Niekie luister te veel na “Vaalhoed se baas”. Pleks hy met nuwe ore gaan luister na “Horisontaal” en “Welkom in jou donkerste uur”. En dan natuurlik “Lekker Zef”.

Gmf.

Ek vat die pad terug ondertoe - Albert Frost gaan spoedig aan die voet van die ander koppie begin kitaar pluk. Saam met Lanie van der Walt op baskitaar en Jorik Pienaar op tromme - die Albert Frost Trio. Tussen die doringbome agter die biertentjie sit ’n handvol mense en wag vir die sonsondergang. Ver onder ons begin die James Philips-verhoog geel en groen verhoogligte die skemerdonker instuur. Die rookmasjiene maak alles spokerig en vreemd. Albert gesels vingertaal met sy Fender. Elvis sit voor die verhoog met ’n dubbelken en stywe swart katpak vol klein bont spieëltjieskerwe. Sy bakkebaard en goudraamsonbril lyk kwaai. Hy sit tussen die klippe, plat op die grond, en neem die mense om hom af met sy klein silwer kameratjie.

Albert VosAlbert vertel ons van sy nuwe album wat later hierdie jaar die lig gaan sien. Ek kry die horriepiep van plesier. Dis nou reeds geruime tyd wat die Frost-dissipels wag en hoop vir nuwe musiek. En ai. Sy 45 minute is veels te vinnig verby. Al wat ek op pad terug boontoe in my kop hoor loop, is Willie Dixon se “Spoonful” – die ding wat Albert Frost as bluesmaniak op die verhoog laat geld.

Men lies about it.
Some of them cries about it.
Some of them dies about it.
Everything's a-fightin' about the spoonful.
That spoon, that spoon, that spoonful.
That spoon, that spoon, that spoonful.

Teen die tyd dat The Dirty Skirts op die hoofverhoog met hulle ding moet begin, is ek aan ’n droë boom vasgevries. Nie eens José-hulle se koffie kry my lewer en galblaas losgesmelt nie. Ek wil boedel oorgee. Dis te erg. Die koue is besig om my gees op te fok. Ek kan nie meer nie. Wat soek ek hier? Hol vir ure aanmekaar my gat af, op teen die koppie, dan weer af, dan weer terug boontoe … Ek wil neerslaan van moegheid. Dit help ook nie ek begin suip nie, want dan tref die groot vaak my – vir wat doen ek al hierdie moeite??? Al hierdie foto’s? Die ure se geskryf na die tyd oor hierdie vreemde vier dae, die wonder oor wie de fok dit lees, wie’t tyd vir duisende woorde oor iets wat lank reeds verby is?? Die krampe in my nek en arms; my rug wil breek; ek’s naar van al die donnerse hoofpynpille … Ag nee fok, ek’s heeltemal te papsleg vir hierdie Oppikoppi. Ek slof mufkop verby die groot videoskerm en gaan hang soos ’n dooie jellievis teen een van die houtpilare voor die hoofverhoog. Nou moet ek nog net omval en vrek.

Hiert, en hier bons The Dirty Skirts se Jess uit die donker met sy bont serp en stoutgat kohl-oë, Sumo gryp die geraaskitaar, en heilige hoender Hendrina, die asem kom terug in my longe!!! “What shall I do, oh-OH, what shall I do, OH-OH, FEELING THE PRESSURE!!!!” Teen die tyd dat “Little Tsunami” my beflarde oordromme tref, is my gees herstel, die bloedsirkulasie hortend aan’t pomp deur my potblou tone onder die drie paar sokkies, en begin ek weer soos ’n mens voel. Ek sien weer Karen Zoid se geskribbel op die eerste plakkaat wat sy vir my geteken het: MUSIC IS THE KEY. Laat die geluide jou brein kom gryp, jou rondruk in jou sokkies en jou wys waar Dawid jare terug sy wortels vergeet het.

Hier is dit nou. Aanhou-beweeg-en-geraas-maak. Veral as jy nie biologies of ekonomies in staat is om hierdie verskriklike koue weg te suip nie. En Taxi Violence net langsaan is die perfekte regoprukker vir hierdie nag. Bliksemdonnermoer. In die lewe is daar nie ’n beter bottel medisyne vir depressie nie. George van der Spuy kyk skrams regs na Rian Zietsman agter sy kitaar, glimlag, buig oor sy mikrofoon en breek hierdie ysige nag in sy moer in. George se stem is skisofrenies. Dis diep, ja. Daar’s donker kleure in. Maar iewers, half sadisties ingespit aan die bokant van sy strot, is daar ’n blinker streep - ’n amperse asemloosheid wat plesierig gefolter klink. Dit maak George van der Spuy en Taxi Violence een van die ongewoonste rockklanke in hierdie land. Teen die tyd dat hulle “Nothing Left to Lose” uit die boks ruk, is ek gesellig en bodemloos in my moer in. Louis Nel kry sy tweede asem bo van die tromverhogie af en gooi ’n bevange ritmekartets oor ons koppe. Tot die speelkaart-tatoe op sy regterbiseps begin sweet. Dan … Dan tree Rian so ’n stappie vorentoe en laat sy kop sak tot op sy bors. Ek voel hoe die nate agter my vel begin lostorring. George suig die naglug in sy longe in en pluk die mikrofoon terug. “Pull the curtains back to see just what the world has to offer me ...”

Taxi ViolenceEn op baskitaar … beleef die frenetiese vooraansig van Heer Loedi van Renen. Jy gaan bitter moeilik ’n meer ekspressiewe diksnaarspeler op die verhoog kry - veral tydens “Waking up”. Sy gesig … sy gesig hou jou brein vir ure besig. Hoor my lied.

AAAARRRGGG!! Die flits se batterye is pap!! Dis koes-koes strompel in die halfdonker terug tent toe. Maklik om oor iemand, ’n boom, of ’n Weber met ’n halwe dooie wors te bliksem. Ek trek nog ’n trui onder die woljas aan, gryp die ekstra litiumbatterye en sny ’n lyn terug hoofverhoog toe.

Chris Chameleon het reeds begin. Jy hoor hom kilometers ver. En ek oordryf nie. Onder hierdie oop bosveldhemel hoor jy klank vinnig en ver trek. Nou kyk. Dis in orde wanneer Chris “Loving Fool” doen – nie wanneer ekstatiese en geswaaide feesgangers mekaar in die vroeë oggendure in ’n koma in spyker nie. (Ja, ek’s jaloers.)

Agter my kom ’n groep bierbegeesterdes in ’n bondel vinnig nader, hoor vir Chris in die verte en begin kweel in ’n koor: “Tarra-taa, TARRA-TAAAAAAAAAAAA!!” Ek giggel in my serp. Dis ongelooflik hoe baie BOO! steeds gemis word.

By die hoofverhoog aangekom, is dit gou duidelik dat die mense die hele area volstaan – voor die verhoog, verby die verhoog, teen die biertent verby, tot agter teen die gazebo-stalletjies langs die grondpaadjie. Baie van hulle staan net en kyk. Hulle dans nie, hulle sing nie saam met Chris nie, hulle vergaap hulle aan die man op die verhoog. Hy’t ’n rubberlyf en sewentien maskers wat moeiteloos die een na die ander oor sy gesig glip. Die meeste van vanaand se liedjies het 10 persent Ingrid Jonker en 80 persent van die “Shine”-album. “My pop val stukkend” word twee keer spasmodies deur sy kop in die refrein uitgeruk, en dan aan die einde reguit grasdak toe gevat in ’n oktaaf hoër as ’n masochis se pyndrempel. En hy’t ’n pak klere aan, met hipernetjiese pienk hempmoue - sy kitaar nêrens in sig nie. Een man, sonder ’n instrument, met net sy stem, sy DNA en sy liedjies – en die plek is gepak. MOERKIERIE. Tot die koue staan eenkant toe.

Chris ChameleonMy ore suig sy klanke in. “Blue is no longer my favourite colour, BOO! is no longer my favourite band ...”

Dis bykans elfuur. Na nog twee koffies begin ek ernstig aan die voordele van onverdunde alkohol dink. Bed On Bricks trek egter my aandag af by die James Phillips-verhoog met hulle klanktoets – daar’s iets aan die broei. Ek hol tot voor die verhoog om beter te kan hoor. “Don’t you park here, Rockstar,” grinnik Mike Hardy agter sy wit yswasemwolkie in die mikrofoon. Nou kry ek sommer koud van die lekker. Hier kom ’n ding. En dis die ritme. Dt begin daarso binne. Sondig, stadig en verbete, met baie funk.

Dit is dan ook die realistiese voorsmaak van een van die wildste Bed On Bricks-speelbeurte wat ek in my lewe beleef het. Dave van der Linden? Waar’s hy? Nugter weet. Die ou op die verhoog het sy mensvel losgeskud en ruk nou daar rond met sy kitaar soos ’n Stephen King-monster met ’n hart. Ons dans. Ja. Nie net teen die koue nie. Ons dans vir Schalk in die basritme, vir Tim Rankin met sy slim tromvingers in “Funny”, vir die oomblik wanneer hulle vries binne “WHEN YOU SNAP YOUR FINGERS, CLICK YOUR TOES ...”. Die droë gras word omgedolwe deur die hele massa lywe vir “Humanarium”. En daardie verdomde goudvis in sy plastieksakkie. “Driven by a large ... Nigerian.”
Lank verby middernag. Ek maak dit skaars terug kamp toe. Ek weet nie wie die dik ysblok binne my slaapsak gedruk het nie. Ook nie hoe en wanneer ek ophou met ruk nie. Al wat ek hoor, is: “DON’T YOU PARK HERE, ROCKSTAR ...”

Saterdag
(Die brein is ’n grys drilsel vrot jellie)

My buurman gesels met iemand buite onder die gazebo. “Luister. Neushoring.” En die voël whoop-whooop weer asof hy hom hoor. Daar is duwweltjies in my hare. Hoe de fok ...? O. Die hele tentvloer is vol van die goed. Gemene klein bliksems, elk met minstens sewe vlymskerp dorings vir maksimum skade.

Die stort is ’n lafenis. Ek moet myself keer om nie al die warm water vir myself op te slurp nie. Kreef Hotel se storte – heish. Jy moet dit beleef om dit te glo.

Die tou vir die smullige Kreef Hotel-ontbyt staan tot ver agter die markiestent se agterflap verby. Ek skuur verby terwyl iemand dawerend agter my nies. Dit klink asof sy septum losskeur. Die stof. Die stof. Hierdie stof is ’n spons vol diuretikum.

Undersound se funk begin die dag inkleur. Dis nou lekker warm, en oral begin vuil en gekneusde lywe met sonbrille uit hulle gate en tente klim. Undersound is ses lywe op die verhoog, met saksofoon, drie kitare, twee voorsangers, ’n windgat dansritme binne blues, rock en ska, en waaragtig nog ’n stuk punk ook. Hulle is perfek vir hierdie vreemde, vreemde uur.

Dit voel soos ure later wanneer ek weer terug is bo by Gito Baloi se verhoog. Wat ’n ongelooflike gesig begroet my: mense wat dikgepak sit en wag vir Bacchus Nel om te kom kitaar slaan. Saam met hom is die Westdene Drie – oftewel Brixton Moord en Roof se kitaarman Kapelaan Pat Plank, diksnaarplukker Brixton en agter hulle, op ’n splinternuwe stel elektroniese swart dromme, Plank se Andy Dowelsticks. Dis ’n heilige tyd. Die blinde man wat vir ons sing. En aan die einde, met die laaste lied, daardie drie, vier minute voor hy klaarmaak, is dit die mense voor hom op die grond wat hom nie wil laat gaan nie. “BACCHUS!!!! JY’S PISCOOL!!!!”

Ek vat die pad boontoe waar Lark aanstons tussen die DJ-speelbeurte sy merk moet maak. Inge Beckman is die eksotiese donkeroog-gedierte met daardie kwiksilwerstem van haar wat uit die Kaap kom wys hoe klink antiresepmusiek nou eintlik. Sy stap uit in die koue en die geskreeu uit die donker dra haar tot by die mikrofoon. Sy is verstommend beeldskoon. Sy gebruik dit nie. Sy sing. En haar stem kom by die sterre uit. Sy beweeg heeltyd – haar lyf dans soos ’n eksotiese dansmeesteres met ’n Meestersgraad in Etiek. Dit lyk of die meeste mans wil kwyl en huil tegelyk. Saam met haar werk Paul Ressel, wat die beheksende tromritmes uittoor en ’n mengsel van elektronika met ’n donker Twin Peaks-agtige atmosfeer vir jou kombineer. Dan’s daar Simon Ratcliffe op bas, fluit en lang, vreemd bewegende krulhare.

Selfs die lirieke is soos swart fluweel. “Mouth of me you cannot seal, mouth of me you cannot steal, from this box we shall reveal the story of the rose ...”

Dis egter in “Tricksy” waar ek finaal heeltemal die kluts kwytraak. Die vreemde geluide uit Inge se keel. Ek het in my lewe nog nooit sulke klikgeluide gehoor nie. Dis asof jy haar kan hoor sluk terwyl sy sing – dis nat en warm en dit maak jou amper bang. Dis asof sy ’n ondier in haar keel laat asemhaal. En dit word erger wanneer sy oorbuig, laag afkyk die donkerte in, en elkeen voor haar met daardie onheilige mond verslaaf.

Piet BothaDis ’n vinnige struikeldraf in die donker af na Jack Hammer se speelbeurt voor Saul Williams by die Sipho Gumede-verhoog met sy bebliksemde poësie begin. Jack Hammer as Piet Botha se elektriese alter ego is steeds een van die belangrikste old school rock-elemente by Oppikoppi. Piet is, soos altyd, met toe oë binne sy musiek aan’t wieg en Tertius lyk vanaand moeriger as ’n perdeby in ’n bottel. Tonie werk daardie kitaar van hom met ’n vreemde glimlag. Maar die klank klink nie lekker hier nie. Die pragtige “Mozambique” klink bykans onherkenbaar van waar ek onder die boom links voor die verhoog staan. My ore voel verkrag. Ná “Pilgrim” en “Die Mamba” op ’n effens verbeterde vlak gaan kry ek vuurwarm koffie langsaan by José-hulle se tent en luister van daar af of die musiek nie duideliker wil deurkom nie.

Dit werk nie.

Al gee Piet, Tonie en Tertius alles wat hulle het. Dit lyk egter nie of dit die luisterende Jack Hammer-lywe voor die verhoog pla nie.

Dis tyd vir Saul Williams. Ek volg die tou mense wat lyk asof hulle Oppikoppi se uitgang soek en kom agter daar’s ’n kortpad na die Sipho Gumede-verhoog. Dit sorg dat ek net voordat Saul Williams met sy kwaai poësie begin, ’n staanplek voor die draadafskorting oopstoei. Daar’s ’n duisternis mense voor die verhoog wat hom roep. Saul kom uitgestap met ’n mohawk op sy kop, moerige oë en ’n geskeurde denim. Agter hom doen ’n donkerbrilman knorrige krap- en geraasluide op ’n klankbord met sulke dik doesssjhh-dihhhrrrrr-doemmmm tromslae tussenin wat my reg tussen die oë tref. Die wind is ’n ysbyl in my skedel. My oë traan en ek kan nie meer my voete voel nie. Maar ek vrek voor ek hier wegstap. Uit Saul se mond wasem sy gedigte met ’n woedende ritme; hy stuur elke woord deur sy mikrofoon die nag in, en agter my, om my, vanuit elke hoek, begin die skare woord vir woord saam met hom skree.

Saul WilliamsI used to hump my pillow at night!
The type of silent prayer to help myself prepare for the light!
Me and my cousin Duce would rank the girls between one and ten
and the highest number got to be my pillows pretend.
Now I apologize to every high ranker.
But you taught me how to dream and so I also thank you.
I never had the courage to approach you at school!

Ek begin ruk van die koue. Ek wil tegelyk huil, lag en my broek natmaak. Die dik skreeuende lyfbrander rol weer van agter af en ek gryp die heining vas met albei hande. Die stampe kom uit vuiste, elmboë en voete, arms en hande, maar dis Saul se verskriklike brandende energie wat ons almal nou skoon katools het. Hy skreeu en rap, stap soos ’n vasgekeerde dier in ’n hok heen en weer oor die verhoog. Sy vuis is in die lug, die sweet tap oor sy gesig, elke spier in sy lyf is snaarstyf gespan. Onder hom, tussen die verhoog en die draadheining, flits die perskameras sonder ophou.

It was a ploy
Got fools tied up with mechanized toys
We are beings to breathe, beyond the beings of boys

Now you can break all you wanna,
scratch all you wanna,
graff all you wanna,
laugh all you wanna ...

Om my spring elke lyf in die lug. Die woorde word gehoor voor Saul dit sê. Gille, rou en hees; sommige huil, ander slaan vuis op die bors – ’n massa mense, swart, wit, geel, pers, almal vas in een boodskap - en hulle SKREEU: “I wanna show you what the stars are made of, I wanna show you the stars!!!”

En Saul roep terug: “SUBSTITUTE THE ANGER AND OPPRESSION WITH GUILT AND DEPRESSION AND IT'S YOURS, IT'S YOURS!!!

Hoe kom jy af na so iets??? Waar kry jy nou kalmte?

Ag nee wat. Fokofpolisiekar is die enigste ding wat nou die res van my derms kan omkrap.

Die gewag voor die hoofverhoog suig die laaste bietjie hitte uit my lyf. Twintig minute sleep verby, dan dertig. Oom Draadkar staan doer oorkant en wag met blink oë. Ek dink amper hy’s een van ons enkele Fokofmalles wat ouer as 40 is. Dink net. Kostelose dog moordend effektiewe woedeterapie. Raak ontslae van al die gemors in jou kop – met behulp van ’n vyftal onverskrokke rocksangers wat die laaste stukkie verdorde waks uit jou ore kom skree. Donovan, die vaardige videokamerahanteerder van The Machine Room, wys vir my ’n beskutte hoekie voor die staalafskorting van waar ek kan foto’s neem sonder dat ek en die Nikon binne die volgende halfuur deur bonsende Fokofmalles verpulp word.

Fokofpolisiekar het mense genooi om ’n paar van hulle liedjies saam met hulle te doen. Inge en Paul van Lark. Mike Hardy met sy saksofoon. George van der Spuy uit die Taxi Violence-hoek. Hanu de Jongh, voorsanger van The Narrow. Francois is uit sy vel uit. Wynand doen sy wydsbeenspronge foutloos in die lug en gil sonder geluid met are wat soos toue in sy nek staan. Dit lyk of hy formalien gedrink het. Sy kort hare laat hom soos ’n matriekseun lyk. Nie die hoofseun nie, nee. Miskien ’n geskorste prefek. Snake donner die tromme asof die woord fraktuur nog nooit in sy korttermyngeheue kom sit het nie. Johnny de Ridder is ’n foutvrye masjien in sy kitaar. En regs onder my elmboog strek die skare tot agter in die donker waar die wit verhoogligte nie kan bykom nie. Ek kén die dinge om my. En dis soos asemhaal. Francois se swart denim wat dreig om syboxers te verlaat en met sy enkels te gaan gesels. Die rukkende massa koppe, die sweet, die gille binne “KAN JY MY SKROEWE VIR MY VASDRAAI!!”, die luidkeelse saamstem in “DIS NIE MY SKULD NIE!!!!”, elke skreiende lettergreep in “SOEN SOVEEL AS WAT JY WIL!!” Dis nie net die koue wat my nou laat ruk nie. Dis alles hier. Fokofpolisiekar. Die saamskreeu van die lirieke, die uitgestrekte arms en hande en bonsende, malende lywe, Francois wat heeltyd vra: “Is julle ouens nog orraait?” – dit is Fokofpolisiekar soos ek hulle ken. Wild en vinnig en totaal in beheer binne die oënskynlike chaos. Die lirieke onherkenbaar as jy nie die albums ken nie.

En Suid-Afrika brand.

Drie honderd ure later en ek onthou om te kyk hoe laat dit is.

Twee-uur.

Francois nooi almal om saam by die boonste kroeg hierdie nag te gaan verleng.

Ek gooi handdoek in - die hele wasmandjie, lakens, gordyne en elke stuk lap op hierdie planeet. Die nag het my oorwin.

Sondag
(Waar’s my pille ...)

Dis ’n lang pad met verdorde niere tot by die ontbyttent. Ek kry koffie, Kellogg’s en drie dungesnyde tamatieskywe vir bietjie kleur. Ek sal my siel verkoop vir een van daardie Vitamien B-inspuitings in my gat. Enigiets om net nog krag te kry.

Vleis sit grinnikend tussen ’n moeë Francois van Coke en ’n varsgesig Anton L’Amour. Vleis is grys en groot, en ’n opperste veteraan in die dinge van ’Koppi. Hy is ’n Oppikoppi-dissipel. Eintlik moet hy en sy geliefde Engela medaljes begin dra. Sou een van hulle ooit in ’n stukkende bierbottel trap, sal die streptokokkus vir hulle weghol. Vleis roep my nader: “Kat, hoe lyk dit met ’n Jägertjie?” Ek aanvaar dit. Enigiets om gisternag se priemende yspyle in my voetsole te vergeet. Fok, gooi dit oor die Kellogg’s Bran, oor die eiers, kry dit net in jou lyf in. Die oomblik wat dit my maagwand tref, voel ek daardie magiese teerswart kruie met mening begin rondwoel.

Dan, die stadige pad verby die tente wat nou al hoe skewer begin trek, die ouens op die grys rusbank voor die ingang daar naby die lang ry Mobi-Loos, en die streling van ’n koelteboom langs die hoofverhoog.

Tot my grootste vreugde ontdek ek die spannetjie vroue langs die prego-stalletjie wat groentesop maak. Dik, vars groentesop. Ek sweef. Ek kwyl. Die sop is watertand en geurig, met groenboontjies, jong murgpampoentjies en aartappels. Twee koppies later en ek kan weer die lewe in sy bose oë kyk.

Al wat nou nog saakmaak op hierdie laaste dag, behalwe Jan Blohm se beneukte blues, is Jim Neversink. Vanmiddag vieruur is dit hulle beurt op die hoofverhoog. Dis ook nie ’n lekker keuse vir hulle donker buierige loserbilly country blues nie. Ek’s vrekbang dat bitter min mense hulle styl gaan begryp of selfs herken. Katherine, die vioolvrou, lag hardop van die boonste trappe af: “Don’t worry!! We’re here to have fun!!” Hulle is pas terug van Stellenbosch af, het hulle murg en siele uitgespeel, en al vier van hulle loop skoon skeef van uitputting. Michael het sy rooi leerbaadjie aan. En vieruur trek hy daardie lap steel kitaar nader. Hulle begin met Elvis se “That’s allright Mama” en om my begin die voete en stowwerige koppe tap-tappitie-tap vir die ritme.

Hierdie tyd, hierdie laatmiddag - dis nie perfek vir Jim Neversink nie. In my kop sien ek hulle binne ’n tienuur-speelbeurt, laatnag, met ernstige gesigte en honger siele wat hulle dophou terwyl Michael “Monkey See, Monkey Do” uitmymer. En vir ons vertel van sy “Mail Order Russian Bride” en hoe moeilik mens ’n gesprek kan voer by die “Palomino Gold Dust Saloon”.

Dis te gou verby. Jim Neversink is altyd te gou verby. Wat die verslawing natuurlik soveel hoër onder jou vel laat brand.

En net so, binne die laaste note van Matthew se akkordion en Michael se Washburn, kom Oppikoppi tot ’n einde. Al groei die gehoor voor die verhoog vir Jan Blohm. Met Jimi Hendrix op sy linkerbiseps in ink geteken. En duisende gedigte in sy oë.

Jy herken die rusteloosheid. Die laaste dag wat te gou gekom het. Maar goddank dit het gekom.

 

Gehoor en gesien

  • Feesganger aan Anika: “Trou met my!” Anika: “Nee. Jy sal nooit weer naai nie, Bra. Seks is so boring.”
  • “Ek het nie baie vriende gehad nie, want ek het nie ’n mooi sussie gehad nie.”
  • ’n Heel nugter feesganger, tong in die kies, Sondagoggend nadat Taxi Violence se George van der Spuy saam met Fokofpolisiekar opgetree het: “Nou hoe naai Fokofpolisiekar hulleself deur ’n beter vocalist te nooi om saam te sing?”
  • “Nee, ons kom praat maar met hulle, en dié wat hier op die gras uitpass, tel ons maar op en vat terug na hulle tente toe.”  – Een van die ouens wat as lid van die kerkgroep by Oppikoppi kom skadebeheer onder die feesgangers doen.
  • Goedgepekelde student tydens Bacchus Nel se optrede: “Bacchus!! ‘Op die plaas’!! Sing ‘Op die plaaaaaasss’!!” Iemand snou hom toe: “Hei. Hy’s nie ’n sirkusdier nie. Hy’t jou gehoor. Hou nou jou bek.”
  • Bra Erns in peinsende luim, Sondagoggend net voor Jim Neversink begin speel: “Die swart onder my vingernaels vertel die naweek se verhaal ...”
  • Swart T-hemp, moontlik gedra deur ’n aanhanger van Architecture of Aggression: FUCK YOUR CHURCH - BURN YOUR GOD

(Ek wonder of hy en die kerkmanne mekaar soms raakloop.)

  • Bacchus Nel wat met ’n breë glimlag vir Jim Neversink dans met hare en sweet wat waai, dan sy trui afpluk en sommer in ’n rigting inmoer, waar dit netjies teen die voorste luidspreker links op die verhoog te lande kom.
  • “Weet jy wat kort hierdie plek?”

“Nee, wat?”

“’n Springkasteel!!!”

[Stilte.]

Dan: “Is jy nou fokken mal? Weet jy hoeveel minute gaan daai ding hou tussen die dorings?”

[Stilte.]

“Whatever. Ek dink nog steeds hierdie plek kort ’n springkasteel.”

  • “Nee man, Love Jones is boring. Wie’t gesê hulle is so goed? Alles klink dieselfde! Net oor sy ’n chick is met ’n ring in haar lip, is sy nou die bom?” (Dit kan ook wees dat verskeie feesgangers se oordromme doodgevries het.)

 

Daardie ander hoogtepunte

  • Anika en Syd Kitchen. Dis nie net Anika se natuurlike skoonheid wat mense op hulle gatte op die plankvloer hou nie. Dis haar ongelooflik vaardige kitaarspel, haar vreeslose liedjies. Die ongetemde teef in haar wat weier om te konformeer, wat elke stiksienige chauvinis se ballas kaalvuis vir hom sal afruk. Syd Kitchen se grinnik terwyl hy oor die Amerikaanse president sing. “George Bush, jou ma se BUSH!!” Hulle twee se kitaarspel – twintig vingers en ’n duisend kleure in die naglug bokant ons koppe. Terwyl jy klappertand jou serp onder jou ken inbondel sodat jy net nog ’n paar minute langer kan bly sit en luister. Hierdie twee mense vul mekaar aan op ’n besonderse manier wat eerlikheid, talent en passie voor jou gesig vertoon. RESPEKT.
  • Uju. Hierdie sjarmante sewetal uit Johannesburg is weggesteek agter die klein koppie, op Sipho Gumede se verhoog. En hulle leer binne drie minute met hulle aansteeklike mbaqanga, jazz en stukke hip-hop vir die dansende groep vreugdevolles voor hulle hoe om spanning te vat, dit in jou hande te bondel, en in sy malle moer in die lug in te slinger. “JUST LET GO!!!!!!” En Uju beteken “heuning” in Zoeloe.
  • Greenacre. Nuwe klanke – sonder ’n snars pretensie. En ’n viool met ’n siel.
  • Clark & Van der Hoven. As jy nou nog nie van Gerald Clark en Werner van der Hoven se kitaar- en befokte stemwerk gehoor het nie, kry skaam. Hierdie twee is een van die mees realistiese elemente van Oppikoppi. Al wat jy kry, is talent, kitare en twee stemme wat mekaar perfek aanvul. Hulle eie liedjies, en ’n eerlikheid wat jou behoendervleis tot jy seerkry. “Shiny Streets” is maar een van die ongelooflike dinge wat hulle vir jou doen.
  • Jan BlohmJan Blohm. Sy vuis in die lug Sondagmiddag met “Johnny K”. Wees onaangeraak deur hierdie lied uit Blohm se keel en wees ’n kadawer, my Bra.
  • Francois van Coke agter die mikrofoon, met sweet en wilde oë en ysige asem: “En in die skaduwee ... BRAND SUID-AFRIKA!”
  • Die woord loop dat Valiant Swart en Anton L’Amour se speelbeurt absoluut ongelooflik was. Kon dit nie sien nie – die boonste verhoog was heeltemal te onmenslik vol gepak. Sit miskien volgende keer hierdie twee ouens binne ’n ruimte neer waar almal hulle kan sien en hoor. Hulle verdien dit.

Dis laatmiddag wanneer ons die pad deur Kreef Hotel se draadhek vat terug stad toe. Tussen die doringbome lê dooie bierblikke, drankbottels en gapende swart asdromsakke vol leë sigaretboksies, halfgeëte appelstronke, silwer wynpapsakke en lang slierte vaal toiletpapier. Diegene wat hulle tente afslaan, doen dit baie stadig.

In die CD-speler brul Francois Blom: “Die kos kan maar bly lê, maar die drank moet hy hê - dis nie eens nodig om te sê hy’s 'n ... DRANKDUIWEL!””

Angola Badprop sit gemaklik agter tussen die strooisreuk-slaapsakke. Hy eet malvalekkers en spoel dit met ’n teug of ses whiskey in sy mond rond terwyl hy hardop probeer sê: “The rain in Spain falls mainly on the plain.” Dit werk nie. Ek probeer ook. Dit werk nie. Sodra jy by “Spain” kom, begin jy lag dat die poeier trek. Flippit, hoekom het malvalekkers altyd soveel poeier?

Tussen Duck en Cover se “Whiskey” en “Violet Pills” en die sagte soet malvalekkers verdwaal ons verby die regte afdraaipad en kom ’n paar uur later, donkernag, in die middel van Pretoria-Wes uit. Hiert-jou. ’n Skrale 45 minute later en Angola word met sy verweerde Crocs en slaapsak by sy plek afgelaai. Twee grys katte sit beloer ons tussen die geparkeerde motors. Dis doodstil in die stad.

Melville is nog stiller. Sondagaand is bra depressief hier in Vierdelaan. Mugg & Bean se jazz is klaar, die stoele lankal op die tafels omgedraai. Ons pak uit, ek skud die duwweltjies en klitsgras en stof uit my slaapsak, en Bra Erns draai die rooi Polo se stofneus terug lughawe se kant toe. Dan, bokant die wuhhr-wuhhrrrr eersterat-wegtrek van die motorenjin, sy luide groet deur die oop motorruit: “OPPIIEE-KOPPIIIEEEE!!!!”

Ja, Swaer.

OPPIKOPPI. Jy verwoes my. Sodat ek kan terugkom vir nóg.

LitNet: 30 Augustus 2006

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.