Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Definitiewe “gesels saam”-boek!

Anlené Taljaard

Wat is reg? Weet iemand dalk?
Deur Adrio König
Lux Verbi.BM, Wellington
2005.
(Slapband, 383 bladsye, ISBN 0 7963 0255 3, R129.95.)

In 'n tyd waar die kerk heel dikwels daarvan beskuldig word dat daar min duidelike riglyne is oor hoe om ons lewens in te rig, slaag Adrio König in sy boek Wat is reg? Weet iemand dalk? om opinies te help vorm. Die boek se sterk punt is juis dat dit 'n saak noem wat problematies is, 'n sogenaamde grys area (byvoorbeeld die Bybel en seksualiteit), en dan die grys area vir ons verduidelik aan die hand van die Skrif, bepaalde hedendaagse opinies, die gevolge van hierdie opinies en ook toepaslike waardes wat binne elke grys area moontlik is. Die boek vlek met ander woorde die problematiek oop en neem veral die hedendaagse konteks duidelik in ag. Die skrywer skryf beslis vir 'n gehoor wat nou en vandag leef en ontken nie dat keuses juis in die lig van hierdie veranderde konteks gemaak moet word.

Die gebruik van die Skrif word ook duidelik teen die konteks van die Skrif aangevoer, sodat dit duidelik raak dat byvoorbeeld gedeeltes in Deuteronomium vir 'n bepaalde kultuur en tydsgees geskryf is, maar dat ons die onderliggende riglyne moet raak lees en van toepassing moet maak vir keuses en situasies vandag. Die boek poog dus nie om eenvoudige ja-of-nee-antwoorde te gee nie, maar eerder om te noem wat nou eintlik die oorweging is wanneer 'n mens die bepaalde keuse moet maak. En hierdie eintlike oorweging moet tog anders vir gelowiges lyk as vir mense wat bloot willekeurig volgens eie voorkeure leef.

Aan die ander kant weet die skrywer dat die gebruik en aanwend van die Skrif altyd problematies en veral verskillend tussen verskeie kerkgroepe is. König neem hierdie verskille in ag en daag lesers uit om die hele Bybel asook die totale boodskap van die Bybel ernstig op te neem en nie net op die been van een of twee versies te staan nie. Hierdie standpunt van hom word kreatief aangewend wanneer hy juis vanuit die Ou Testament en die Nuwe Testament na sake soos homoseksualiteit, saambly, aborsie en evolusie kyk. Lesers behoort 'n duidelike opinie te kan vorm wat die algemene standpunte van die tye is en ook hoe mense dan die Bybel aanwend om 'n bepaalde standpunt te huldig. Sonder om voorskriftelik of veroordelend te wees, moedig König lesers aan om te dink oor hul eie bepaalde rigtings en gee hy bepaalde kernwaardes wat ons kan bemagtig om keuses uit te oefen. Hierdie kernwaardes wys telkens op 'n positiewe opbou van die samelewing en individue en probeer juis mense aanmoedig om bewustelik verantwoordelikheid te aanvaar vir die lewe wat hulle kies om te lei. Die verantwoordelikheid van die geloofsgemeenskap word ook telkens onderstreep, en veral ook dat gelowiges binne hierdie geloofsgemeenskap 'n realiteit van liefde en aanvaarding kan skep.

Die boek neem ook die problematiek binne die kerk ernstig op en skryf duidelik daaroor, byvoorbeeld wat is die argumente vir kinderdoop en wat is argumente teen kinderdoop. Wanneer die skrywer dan sy eie opinie gee, verstaan 'n mens duidelik waar in die Bybel hy dit vind en hoe hy die Bybel aangewend het om hierdie standpunt in te neem. Hy bly egter krities teenoor sy eie opinie en vra telkens of hierdie verskille regtig groot genoeg is om gelowiges uitmekaar te hou.

Die gespreksvrae aan die einde van elke hoofstuk sal baie suksesvol deur 'n selgroep of Bybelstudie aangewend kan word. Die boek moedig gelowiges aan om volwasse te raak in ons denke en in ons optrede, om erns te maak met die totale boodskap van die Bybel, en om as geloofsgemeenskap werklik 'n baken van hoop te word. Hierdie bakens van hoop gaan nie oornag opskiet nie, en Adrio König weet dat as ons 'n bepaalde volwassenheid binne ons keuses wil uitleef, ons duidelik deur al die argumente en Skrifgedeeltes moet worstel om dan 'n eenvoudige lewenstyl van dien, omgee en liefde te laat uitkristalliseer.

Die skrywer wys duidelik aan ons dat die Skrif en Christen-wees vandag veral relevant is in 'n wêreld wat soek na sin en hy skroom geensins om beide die problematiek en die vreugdes van Christen-wees te noem nie. Veral opmerklik is dat die Christen-wees vandag nie net 'n blindelingse glo in die kultuur van die tyd kan wees nie, maar juis keuses is vir 'n God van liefde wat die samelewing deur middel van medegelowiges wil dien. Die skrywer is voorwaar 'n positiewe "ons kan en ons moet" in 'n sekulêre tyd waar baie mense geloof as minder noodsaaklik beskou. 'n Definitiewe "gesels saam"-boek!!



LitNet: 28 Junie 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.