Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ter vernuwing, en genesing

Annelie Ferreira

  • So glo ons onder redaksie van Piet Meiring, uitgegee deur CUM.

    So glo ons ons is ’n bundel essays deur ’n agtiental teoloë oor verskillende onderwerpe. Ek moet erken dat ek uiters bolangs hierdeur gelees het. Aan die een kant blameer ek die LitNetters hiervoor: elke keer wanneer ek op ’n bietjie onheiligheid gehoop het, het ek ’n stuk kerkgeskiedenis getref. Aan die ander kant laat die doel van die boek my ook effens ongemaklik voel, naamlik om leiding (gerusstelling?) aan verwarde gelowiges te gee. Het ons daardie punt regtig al bereik? Is daar nie nog ’n paar groot vrae wat eers deurgespook moet word nie — deur almal van ons?

    Aan die derde kant (dit is ’n geestelike boekrubriek dié, alles is moontlik) is dit tog ’n goeie teken dat ’n klomp verskillende teoloë in een publikasie kan bymekaarkom, en ek is seker dat ’n ernstiger leser as ek wel meer betekenis daaruit sal kan put. Onder die skrywers is Yolanda Dreyer, Piet Naudé, André van Niekerk, Willem Nicol en Stephan Joubert. Ek het ’n eksemplaar om weg te gee aan die eerste belangstellende wat my by anferreira@worldonline.co.za kontak.

    Prys: R79,95.


  • The deeper wound deur Deepak Chopra, uitgegee deur Random House.

    Hierdie boek is hoofsaaklik geskryf vir Amerikaners as hulpmiddel tot emosionele genesing ná die gebeure van 11 September verlede jaar. By die lees daarvan kom mens weer onder die indruk watter skokkende ervaring dit vir die meeste Amerikaners moes gewees het. Chopra, sy vrou en seun was op drie verskillende vlugte in die Amerikaanse lugruim toe die eerste vliegtuig in die World Trade Centre vasgevlieg het, en dis insiggewend hoeveel menslike paniek selfs een van Amerika se voorste geestelike guru’s oor sy gesin se welstand beleef het. Ek meen ook mense wat ander, meer persoonlike trauma ervaar het — veral Chopra-aanhangers — sal inspirasie kan put uit dié boek.

    Prys: R123,00.


  • Spiritual power, spiritual practice (2 CD’s) deur dr Caroline Myss, uitgegee deur Sounds True.

    Resensie deur Kobus Burger (joernalis).

    Moenie dat jou biografie jou biologie skaad nie, waarsku dr Caroline Myss reeds sedert haar eerste boek, Anatomy of the spirit. Hierdie baanbreker en kenner van energiegenesing glo dat stres en emosies ’n groot rol speel in talle van die hedendaagse siektetoestande. Al is al Myss se boeke (ook The creation of health en Why people don’t heal and how they can) prakties en vol maklike oefeninge, bevat hierdie twee CD’s ’n stap-vir-stap-program waarmee jy jou geestelike groei kan bevorder en energievlakke kan verhoog.

    Op die eerste CD verduidelik sy die beginsels vir daaglikse dissipline en gesels oor die belangrikheid van vergifnis, liefde, integriteit en harmonie, asook die kwessie van persoonlike wil teenoor God se wil. Die tweede CD bevat twee meditasies (een vir die oggend en een vir die aand) waarmee jy jou energie en geestelike toestand kan evalueer en versterk.

    Spiritual Power, Spiritual Practice vereis ’n bietjie voorafkennis van Myss se navorsing en die liggaam se sewe energiesentrums. En mense met geen vorige ervaring van meditasie nie sal waarskynlik sukkel met die meer as ’n halfuur lange meditasies.

    Hierdie program het vir my Myss se werk gedistilleer en my gevul met vars insigte en perspektief op geestelike groei. Ek sou dit aanbeveel vir diegene wat ernstig is oor hul spiritualiteit en nie sal skroom om tyd te belê in tyd, toewyding en daaglikse oefening nie.

    (Die CD’s bevat ook musiek, ’n video van 30 minute oor energiegenesing, ’n studiegids van 27 bladsye en ’n teksonderhoud met dr Myss.)

    Prys: R296,95 (afhangend van die wisselkoers; beskikbaar deur Kalahari.net).


  • Eksodus deur Barend Vos, uitgegee deur Lux Verbi BM.

    Resensie deur Anastasia de Vries (joernalis).

    “Die verraderlikheid dus van wat ons oorgehou het, in ons gedagtes, ons lywe, die verhale saans om ons vure. Maar ons weet nou, uiteindelik, dít is wat ons móét onthou. Ter wille van die kinders …,” is Moses se slotsom op sy mense se trek na die beloofde land in Barend Vos se debuutroman.

    In Eksodus word die verhaal van Moses en hoe hy sy mense uit Egipte lei, in ’n moderne idioom oorvertel. Hoewel die verhaal herkenbaar is vanweë die name en gebeure, word dit op so ’n wyse aangebied dat die leser half vervreem voel. Maar juis deur die vervreemding word jy vir kruisverwysings gedwing na die bron: die Bybel. Slim taktiek. Onverhoeds betrap jy jou ook dat jy grepe uit The ten commandments of Prince of Egypt optower. Soos wat die verteltrant ’n mens soms met die gevoel laat dat jy om ’n vuur sit en verhale uit oergodsdienste aanhoor. Dié boek kan ’n puik “roetewyser” wees vir die Kerk oor hoe sy haar opnuut en nuut kan verpak vir die gelowige.

    ’n Eenvoudige storie met ’n ingewikkelder verhaalstruktuur waaruit allerlei literêre ontledings opgediep kan word, maar met ’n deurdringende boodskap dat geloof vir die meeste mense nie ’n teologiese konstruksie is nie, maar ’n alledaagse, vanselfsprekende realiteit. (Ek het ook van dié boek ’n eksemplaar om weg te gee; kontak my by anferreira@worldonline.co.za.)

    Prys: R74,95.
    Bestel by: 0860 231 231

    to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.