Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

König laat SA ingeligte Christenstem hoor

Allan Boesak*

Wat is reg? Weet iemand dalk?
Deur Adrio König
Lux Verbi.BM, Wellington
2005.
(Slapband, 383 bladsye, ISBN 0 7963 0255 3, R129.95.)

(Hierdie resensie het op 25 April in Die Burger verskyn. Klik hier om Die Burger se tuisblad te besoek.

Op die rakke van ons boekwinkels staan hulle ingeryg: boeke wat oor "lewensvrae" handel en voorgee om Christene op "eenvoudige" wyse met hierdie lewensdilemmas te help, met die aanspraak dat die antwoorde "direk" uit die Bybel kom. En baie van hulle is uit Amerikaans oorvertaal. Wat daarin staan, slaan dikwels my asem weg. Net soos die lang stukke wat soms oor die internet by my aanland oor homofilie, of oor God en die tsoenami.

Die manier waarop in hierdie boeke met komplekse lewensvrae omgegaan word, is vir ons verstaan van lewensbelangrike sake, en die ingewikkeldheid daarvan, van byna geen waarde nie. Inteendeel, dit help ons van die wal in die graf. Die gedwonge vereenvoudiging van die probleme roep om 'n versimpeling van die antwoorde, wat ons in die werklike lewe met sy tergende nuanses nie baie ver help nie. Daarmee gepaardgaande is 'n onvermydelike fundamentalistiese lees van die Bybel wat die probleme uiteindelik net vererger.

Om hierdie rede is ek so dankbaar vir Adrio König se jongste boek. Wat is reg? Weet iemand dalk? is inderdaad 'n boek wat handel oor vrae wat pla, maar dan een wat die moeite werd is om te koop, te lees en as naslaanwerk te hou. En ook sommer present te gee vir elkeen wat met hierdie lewensvrae worstel en na weloorwoë antwoorde soek.

Omtrent alle vrae waarmee Suid-Afrikaners hedendaags worstel, kom hier aan die orde. Van aborsie en lewenswaardes, die plek van die vrou en saambly voor die huwelik, tot die "Nuwe Hervormers" en die doodstraf. En baie meer. Die waarde van die boek begin al by die titel. König vra nie "Wie is reg?" nie, maar wat is reg. Dit gaan vir hom om die sake wat ter sprake is, nie om persone en hul opinies nie. Die invalshoek merk ook die boek: belese, maar beskeie; duidelik maar nie voorskriftelik nie; vraend en ondersoekend, nie dogmaties nie; wydlopend, maar nie vlak nie. König gaan uit van die vrae wat hy by ander vind, nie net van dit wat hy maklik kan afskiet, of wat by hom stokperdjies is nie.

En dis die ander rede waarom ek vir hierdie boek waardering het: die skrywer self. Ek vind Adrio König verbasend oop, helder en simpatiek. Hy skrywe nie uit die hoogte as geleerde teoloog nie, maar as soekende gelowige saam met die leser. Daar is geen sweem van die dogmatiese dwingelandy wat so dikwels by teoloë uit ons Afrikaanse kerke afstoot nie. By hom is geen sprake van hoogmoed nie.

As hy meen dat hy 'n antwoord het, bied hy dit aan: die leser kan daarvoor kies of nie. Maar as hy self nie weet nie, sê hy dit, en hy gaan respekvolversigtig om met alle sake, soos homoseksualiteit, egskeiding en die skepping/evolusiedebat.

Maar 'n mens moet nie sy oopheid as slapheid interpreteer nie. As dit kom by wat hy self "sake aan die hart van die Evangelie" noem, is König onomwonde. Dit gaan in die Evangelie nie oor die soort doop nie (al is die vrae wat dit oproep so belangrik dat hy twee hoofstukke daaraan wy), maar om Jesus die Messias. Vandaar sy onverbloemde passie as dit kom by "Die Bybel" en die teologiese agenda van die "Nuwe Hervormers", 'n groep wat na my oordeel gerus iets van König se beskeidenheid kan aanleer.

Die boek is sonder meer relevant, en ook sake van sosiaal-maatskaplike belang kom aan die orde. Dit stel my egter 'n bietjie teleur dat König, as dit by die doodstraf ("Barbaars? Onontbeerlik?") kom, sy beginselvaste argumentasie verlaat en hom ewe skielik deur die "meerderheid" laat lei. Hy weet so goed soos ek dat die "meerderheid" nie altyd gelyk het nie, en dat oor 'n saak soos die doodstraf, 'n land soos Suid-Afrika met sy geskiedenis opvoeding en tyd nodig het om te verstaan waarom ons Grondwet op hierdie punt lees soos dit lees. Soos by ander sake van lewensbelang is Amerika omtrent die laaste wat hier as voorbeeld moet dien. Amnestie Internasionaal het meer as 'n dekade gelede al in 'n volstrek oortuigende studie laat sien waarom die doodstraf as "afskrikmiddel" effektief geen middel is nie.

Maar ook: gestel nou ons laat die "meerderheidsgevoel" oor grondverdeling en -herstel geld? Verbasend is ook dat König in die twee hoofstukke oor "lewenswaardes" en "bedelaars", andersins so waardevol, by die algemene en "barmhartigheid" bly vassteek, en geen blyk gee van sensitiwiteit vir die sosiaal-strukturele aard van hierdie probleme nie.

Dit gaan nie net om (Christen)mense wat moet help nie; dit gaan om onregverdige strukture wat getakel en verander moet word. Solank ons die "arm mens" help, en nie sisteme verander sodat armoede uitgewis kan word nie, sal die armes inderdaad "altyd by ons bly".

Maar, al met al, is Wat is reg? Weet iemand dalk? 'n boek wat ek van harte aanbeveel. Die Christenstem in Suid-Afrika moet nie net gehoor word nie, dit moet geïnformeerd gehoor word. En daartoe is König se boek 'n waardevolle bydrae en hulpbron.

* Allan Boesak is 'n skrywer en predikant in die Verenigende Gereformeerde gemeente Piketberg.



LitNet: 04 Mei 2005

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.