Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Daar doer op die randjie

As jy geneig is om godsdienstige menings te huldig wat ’n ietsie vertak van die hoofstroom, help dit baie as jy nie vreeslik belangrik of bekend is nie.

Sou jy ’n gedagte uitspreek wat duidelik en waaghalsig verskil van wat op die laaste algemene sinode besluit is, gaan jou woorde nie in ’n koerant uitgeblaker word onder ’n geskokte opskrif nie. Jy gaan nie lastig geval word deur mense wat dringend jou opinie soek oor voorhuwelikse seks, meditasie en of Jona regtig in die walvis was of nie.

Ek lees ’n artikel deur ’n soliede Engelse teoloog waarin hy opkom vir dié ouens wat kristalle aanhou, slakke hervestig en die wêreld se vibrasie probeer verhef tot “ohm”. Moenie hulle bloot as “crazies on the fringes of society” afmaak nie, sê hy. Hulle is eenvoudig mense wat die verskuiwings in die kern van die algemene gemeenskap fyn opvang en (dalk) op ’n ekstreme manier uitdruk.

Ek kry dikwels die indruk dat dit nie die crazies is wat normale goeie Afrikaners die dringendste na hul koppies Boeretroos laat gryp nie. Die crazies kan jy immers maklik uitken; jy kan hulle ’n duidelike tjap gee en weet dat jy verder weg van hulle moet bly as van ’n kenmekaaraandjie van die Kaapse Taxibestuurdersvereniging.

Wat mense die meeste ontstel, lyk dit vir my, is wanneer iemand wat nog altyd in dieselfde span as hulle gespeel het, lol om weg te breek. Wanneer dit boonop die kaptein van die span is, soos ’n dominee of ’n teoloog, is dit vir sommige mense baie erg.

Maar wat dalk net so betekenisvol is, is dat dit vir die wegbrekers dikwels ewe moeilik is om vrede te maak met die feit dat die ander agtergebly het.

Die pad na fringedom begin meestal met ’n besluit. Dit kán seker gebeur dat jy bloot vir, sê maar, 241 Sondae ná mekaar vergeet het om kerk toe te gaan, maar gewoonlik werk dit anders.

Dinge begin jou pla. Soos dat dit wat jy hoor, nie pas by dit wat jy sien nie, wat algeheel nie stryk met wat jy dink nie. Sommige very crazies raak reeds voorskools hierdeur gekweld, maar die res van ons sosiaal goed-aangepaste siele neem ’n rukkie langer.

Baie van ons wat oë toegeknyp het (of oopgemaak het, hang seker af hoe jy die saak beskou) om die eerste stappie te neem weg van die veiligheid van die groep, vind dat woede ’n welkome halfwegstasie is. (Nodig, ook — dié soort verandering vind selde sonder slag of stoot plaas.) Maar hierdie plek kan so gesellig voel dat jy sommer jare en jare daar bly.

Wat veral verloklik is, is dat dié stasie definitief op hoër morele grond is. Met die wonderlike uitsig wat jy van daar het, sien jy duidelik hoe die armsalige sukkelaars wat jy agtergelaat het, die werklike crazies is. Gelukkig het daar darem enkeles oorgebly wat verstand het en die res met plesier sal reghelp as hulle net @#$%*!! wil luister!

Die ding is: alle teologieë — ideologieë, filosofieë — is in wese oppervlakkig.

Betekenisvol wel, ja: konsepte soms saamgeweef tot so ’n indrukwekkende produk dat “gewone” mense maar te dankbaar is om die interpretasie daarvan aan die geleerdes oor te laat.

Magtig, ook: hele kulture dra die afdrukke van hul teologieë.

Maar ’n teologie kry diepte slegs as dit gefilter word deur unieke pakkies DNA, deur alles wat in ’n individu se lewe met hom gebeur het en alles wat hy laat gebeur het; alles wat hy bring na sy interaksie, nou, met mense en voorwerpe en elemente. Hoe ’n enkele siel homself in die wêreld uitdruk, kan ’n verhaal groter as enige dogma wees.

Soms verlaat jy nie ’n spesifieke groep bloot omdat jy ’n lekker plekkie op die rand raakgesien het nie, maar omdat jy op ’n ander manier deel wil wees van daardie einste groep, omdat jy soek na ’n ander definisie van “groepwees”.

Daar is mense met wie ek liewerster nooit oor godsdiens wil praat nie, maar wat ek sonder skroom sal kontak as ek hulp sonder vrae of verwyte nodig het. En daar is ander wie se teologie nommerpas vir my klink, maar my knaend laat voel nes ’n kat wat my aura dringend wil skoonlek wanneer ek te naby hulle was.

Dit was makliker toe die maatstawwe vir “slim” en “simpel” eenvoudig was.

Maar nou is ek ryker.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.