Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Teletubbies en die likkewaanbrein

Deborah Steinmair

Op SêNet, daardie gladde virtuele seepkis, is daar onlangs na die Teletubbies verwys. Ene Zippy vertel dat haar Londense woonstelmaat, ‘n mal Kanadese raver, gereeld uitgeroep het: “Teletubbies is pure acid, man!” Tele bye bye!

Hierdie oulike viermanskap was deel van my verwysingsraamwerk toe my kinders kleiner was. Ek het ‘n soort Teletubby-beheptheid ontwikkel en soms met groot vreugde ‘n pers of geel Tubby raakgevis met ‘n staalarm-masjien buite die plaaslike kafee. Ek kon nooit hulle name onthou nie. Lala lui ‘n klokkie. Hulle omgewing, groener as Heidi se berge, het ‘n gevoel van welgeluksaligheid by my laat posvat – so het ek die hemel as kind gevisualiseer: sagte groen heuwels, wolke en fokol.

Ek het baie beter gevoel oor my fiksasie toe ek in die rolprent Iris sien dat die formidabele skrywer en filosofie-professor Iris Murdoch in haar laaste dae aan die Teletubbies verslaaf was. Dit was, helaas, nadat sy die grootste gedeelte van haar brein aan Alzheimer afgestaan het.

Natuurlik is die Tubbies so hoog soos arende: kyk maar na die stokstywe ogies (die hele iris een groot pupil), die stadige, strompelende bewegings, die skaapagtige, verstrooide wuifies en herhalende lieftallige gegroet. Alles is slo-mo soos in ‘n sitkamer in Obz op ‘n Sondagmiddag. Hulle wêreld is so gekleurd soos die Botaniese Tuine nadat ‘n mens ‘n towersampioen geëet het.

Dit het my laat nadink oor middels wat verdoof. Laat ek nou maar prontuit sê dat dit nie een van my vices is nie. Ek is hoog gebore en die mense rondom my beland nou en dan op my plak met ‘n chemiese hulpmiddel of twee. Ek kan nugter in ‘n vertrek vol mense met mossel-oë wees sonder om eensaam te voel. As ek self die revs probeer aandraai, loop dit so gou soos nou op ‘n kortsluiting af. Na veertig aanvaar ‘n mens dié soort van ding en staak die eksperimentering.

Waarom vul mense hul longe, neusgate, are, met toorgoed? Ek dink die antwoord is verwant aan besorgde ouers se kritiek dat die Teletubbies “dumbing down” gedrag vertoon. Halfdier maar met ‘n hoogs ontwikkelde serebrale korteks wat ons van die res van die dierewêrld onderskei, smag ons soms na om en dom, na ga-ga. Na eenvoud. Na ons kindertyd, toe alles nuut, helder en oorweldigend en ons reaksie daarop ‘n simplistiese “gooooeeee” was – borrelend soos reënwater in ‘n geut. En selfs vóór dit: ons verlang terug na die eerste maand van ons bestaan, toe ons soos ‘n komma sonder serebrale korteks in louwarm vrugwater rondgedryf het. Miskien wil ons vir ‘n wyle op autopilot, op die spinale korteks, die primitiewe likkewaanbrein, vlieg.

Die Teletubbies is geensins nuut nie. Dink maar aan daardie psigedeliese oumagrootjie, Alice in Wonderland, wat al in 1865 by die haasgat afgetrippel het. Ek het al tesisse (lelike woord) gelees wat oortuigend uitwys hoedat hierdie helder nagmerrie duidelik met die hulp van gemoedverskuiwende middels geskryf is.

Dan is dit seker waar dat die meeste grootmense die prelogiese wonderwêreld van kindwees slegs kan bykom nadat hulle aan ‘n paddastoel of twee geknibbel het. Mother’s little helper?

Die soeke na hoenderkop is egter gevaarlik en potensieel destruktief. Dit het ek gesien in ons besoekers uit die Transkei, vredeliewende mensies wat in hulle dorpie graag umqomboti brou en ‘n bok slag vir ‘n feesmaal met die bure. Ek was nog nie daar nie, maar het al gehoor van bierdrink-, dans- en praatsessies wat vir ‘n paar dae aanhou. (Ek visualeer groene heuwels soos by die Teletubbies, vriendelike wuifbewegings en ‘n stadige transdans.) Maar hier in die grootstad loop hulle hul vas in Klipdrift en goedkoop soetwyn. Kort voor lank, soos nou twee weke gelede in ons voorstedelike huis, bliksem hulle mekaar heelnag op en gil soos ware likkewane tot dagbreek toe. Die bure vermy nou nog ons oë. Ja, daar is donker grotte in die likkewaanbrein ook. Ons huis is nou drankloos.

Maar niks daarvan sal ‘n mens ooit in Teletubbies-land gewaar nie. Daar is alles koergeluidjies, reënboog, dou wat blink, ‘n sagte sonstraal en skitterwit wolkies wat verbydryf.

Gelukkig is ek een van die geseëndes wat op ‘n lang uitstappie kan gaan terwyl ek na ‘n lawa-lamp staar. Tele ga-ga …




LitNet: 16 Augustus 2006

Besoek Deborah se webwerf: www.genugtig.com/webdeb/deborahsteinmair.htm

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.