FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Die Beste Films van 2003 en 2004

André Crous

Gewoonlik is daar net een wat uitstaan en ek weet onmiddellik dit is nommer een. Dié jaar is dit Kill Bill: Volume I. Laas jaar was dit City of God. Met die uitsondering van die eerste twee of drie flieks op my Top 10, is die res gewoonlik eenvoudig die films waar ek uitgeloop het by die teater en nie my kop in skaamte geskud het nie. Uit my lys vir 2004 blyk dit dan ook dat ek ongelukkig nog nie tien films gesien het wat die lys waardig is nie. Films soos The mother, Thirteen en Big fish kom die naaste, maar ek sou nie tevrede voel as hulle op die Top 10 verskyn het nie. Daar is egter nog flieks om dié jaar gesien te word, en ek hou duim vas dat ek 'n laaste kandidaat sal kry.

Daar is darem soveel gemors waardeur ek jaarliks moet sit. Maar daar is gelukkig ook ligpunte, en as die films net versprei word, dan sal ek ook bly wees. Ek het onlangs Elephant, 2003 se wenner van die Goue Palm-toekenning by die Cannes-filmfees, gesien en sit steeds in afwagting op nuus van sy Suid-Afrikaanse uitreikingsdatum. Ek mag solank sê dat dit die beste film is wat ek in maande gesien het.

Ja, daar sal elke jaar films wees wat die moeite werd is, en altyd films wat lankal geaborteer moes word. Wat die neëntien films hier aanbetref, geld die gewone kommentaar: hierdie is my eie opinie en terwyl ek nie met enige wetenskaplike gegewens kan verklaar waarom die een volgens my bo die ander geplaas word nie, is dit sonder twyfel die films wat ek beskou as die materiaal wat behou moet word uit dié jaar en positief bydra tot die filmindustrie. Ek sal kommentaar waardeer by die epos-adres boaan dié bladsy.

Die lyste vir 2003 en 2004 verwys na films wat in dié jare in Suid-Afrika vrygestel is. Dit is onmiddellik duidelik dat my keuses geen spesifieke vereistes het nie en dus des te meer persoonlik is. Ek dink egter dat die films behoorlike padaanwysers is vir enigiemand wat die towerkrag van films wil ervaar.

2004 was eintlik maar 'n taamlik teleurstellende filmjaar. Mag 2005 - met Bad Education (Almodóvar se nuutste), I Heart Huckabees (wat grotendeels daarin slaag om die Charlie Kaufman-styl na te boots), die wonderlike Motorcycle diaries oor die jong Ché Guevara, en die magiese Hero van Zhang Yimou - meer geseënd wees.

2003

  1. City of God
  2. Adaptation
  3. Punch-drunk love
  4. The hours
  5. Matrix: reloaded
  6. Lord of the rings: The return of the king
  7. About Schmidt
  8. The pianist
  9. Pirates of the Caribbean: The curse of the black pearl
  10. Lantana

  1. City of God
    'n Verpletterende verhaal van die lewe in die armste gedeelte van Rio de Janeiro. Karakters met inhoud vertolk deur akteurs wat hulself met oorgawe gee aan hul rolle; 'n kamera wat met vasberadenheid en selfvertroue rondbeweeg, en 'n storie wat jou bybly. Vir geen oomblik is hierdie net 'n fliek nie. Briljant.

  2. Adaptation
    'n Film wat jou brein laat kriewel. Intelligent sonder om pretensieus te wees. 'n Storie wat met homself en met die kyker speel. Die kritiek was egter verdeeld - kyk net na die resensies op dié webtuiste. Ek het gedink die haarlynbalans tussen geniaal en mal is meesterlik gehandhaaf deur 'n draaiboek wat in tien rigtings gelyk hardloop en homself sonder moeite saambind.

  3. Punch-drunk love
    Regisseur Paul Thomas Anderson, van Magnolia-faam, sit nie 'n voet verkeerd in dié uiters onkonvensionele film oor twee karakters wat mekaar vind te midde van "post-romantiese" elemente nie. Visueel die mees innoverende film op die lys, en 'n film wat inderdaad een van die mooiste beelde bevat wat ooit op film vasgevang is: die oomblik wanneer Barry en Lena mekaar in die hotel in Hawaii ontmoet.

  4. The hours
    Drie verhale oor drie vroue in die 20ste eeu, verbind deur hul passie en hul verbintenis met die boek Mrs Dalloway. 'n Storie uit die boonste rakke met beheerste emosie uitgebeeld deur die beste aktrises - Nicole Kidman as Virginia Woolf is ongelukkig die vals noot in dié film, terwyl Julianne Moore en Meryl Streep op onderdrukte wyse veel meer trauma uitbeeld. 'n Film wat 'n Persiese mat met sy drie storielyne weef en jou daarop wegvoer.

  5. Matrix: reloaded
    Die eerste meerdelige film op dié lys is 'n fees, maar almal verskil oor sy waarde. In teenstelling met die derde aflewering, Matrix: revolutions, word waarde hier aan die storie geheg en gebalanseer met ongekende visuele toertjies. Die gevegtonele is altyd volgbaar en word nooit met die konvensionele mengelmoesredigering aanmekaargeflans nie. Die karakters is heelpad vermaaklik, en veral die verskyning van die Architect is 'n kragtoer.

  6. Lord of the rings: The return of the king
    Die eerste nege uur van die trilogie bou meesterlik saam tot by die klimaks met vier of vyf volledige slottonele. Dié en die belaglik onverklaarbare verhouding tussen Sam en Frodo was die enigste foute in 'n meesterstuk. My oordeel na ek onlangs 'n marathonvertoning van al drie dele gesien het? Hulle is saam meer werd as afsonderlik en ons het te doen met die beste filmtrilogie ooit. In die trilogie is dié aflewering die beste inskrywing, en vertoon epiese kwaliteite wat deur min ander films geëwenaar word.

  7. About Schmidt
    'n Komedie met 'n hart en 'n sin vir emosie. Jack Nicholson, die perfekte keuse hiervoor, vertolk tegelykertyd die moedeloosheid van 'n leeftyd, die vrees vir oud wees, en 'n sekere kinderlikheid in sy optredes, en tog is daar situasies om voor te glimlag selfs onder die mees vervelige omstandighede.

  8. The pianist
    Roman Polanski gee 'n persoonlike, maar gebalanseerde, blik op die Tweede Wêreldoorlog in Pole. Die finale produk is op die vlak van Schindler's list, met 'n groot spektrum emosies wat die situasies by die karakters opwek. Sentimentaliteit word tot 'n minimum beperk, Polanksi se eie herinneringe is nooit steurend nie, en hy lewer sy beste werk sedert Chinatown.

  9. Pirates of the Caribbean: The curse of the black pearl
    Sekerlik die grootste verrassing op dié lys. In my oë die mees opwindende "big budget"-film sedert Titanic (nog 'n verrassing?). Johnny Depp en Geoffrey Rush lewer wonderlike spel, en selfs Orlando Bloom kry dit reg om nie pateties oor te kom nie. Ten spyte van die lengte van die film is dit pure vermaak sonder grense.

  10. Lantana
    'n Drama, 'n romanse, 'n moordraaisel, meer en dieper. In Sydney leef 'n web van karakters by mekaar verby en word op een of ander manier deur die moord op 'n onskuldige vrou geraak. Die fyn oog van die kamera sien alles raak en trek lyne - soms doelbewus misleidend - tussen karakters en die insidente. 'n Sensitiewe blik op die mensdom.


Kategorietoekennings


Vir hierdie afdeling is - en ek erken dit is onregverdig - slegs die films op die onderskeie Top 10-lyste in aanmerking geneem.

Akteur: Die hele rolverdeling van City of God
Aktrise: Julianne Moore, The hours
Regisseur: Fernando Mireilles, City of God; Peter Jackson, Lord of the rings: The return of the king
Draaiboek: Charlie Kaufman, Adaptation
Kamerawerk: César Charlone, City of God.


2004

  1. Kill Bill: Volume I
  2. House of sand and fog
  3. Dogville
  4. Before sunset
  5. Eternal sunshine of the spotless mind
  6. Pieces of April
  7. The dreamers
  8. Goodbye, Lenin!
  9. Girl with a pearl earring

  1. Kill Bill: Volume I
    'n Komedie as nommer een? Ja, en Kill Bill: Volume I is een van die beste (uiteraard onkonvensionele) komedies in jare. Min films gee die kyker die hoendervleisgevoel van opgewondenheid wat ek hier ervaar het. Keuses van kleure en dialoog en klein stukkies detail is alles perfek en vorm dié bloedfees tot 'n stuk kuns. Tarantino neem sy storie nie te ernstig op nie (my probleem met Kill Bill: Volume II), en is duidelik 'n regisseur van epiese formaat, totaal en al in beheer van die medium.

  2. House of sand and fog
    Dié film, wat vergelykbaar is met die ewe indrukwekkende In the bedroom twee jaar gelede, kyk na die beproewinge van twee partye: die Irannese gesin van Behrani (vertolk deur Ben Kingsley, wat nooit teleurstel nie) wat die Amerikaanse droom probeer uitleef in hul nuwe land, en Kathy (Jennifer Connelly) wat haar situasie probeer red deur petrol op die vuur te gooi. 'n Rustige film wat op uiters beheerste wyse momentum opbou en afstuur op 'n verpletterende dubbelklimaks. Dit is 'n eenvoudige storie wat diepte kry danksy die menslike kompleksiteit wat aan die karakters gegee word.

  3. Dogville
    'n Drie uur lange stuk verfilmde teater het vir my ook nie na pret geklink nie. Maar regisseur Lars von Trier se idees is uiters van pas op vandag se samelewing wat - ten spyte van gerugte - steeds fobies is vir skinder oor en saamsweer teen enigiets of enigiemand wat anders is. Nicole Kidman rys, soos die res van die rolverdeling, uit bo haar karige voorkoms en gee 'n prysenswaardige uitbeelding van die buitestaander. 'n Goeie balans van gitswart humor en karakters.

  4. Before sunset
    Sewe jaar na Before sunrise, waar die karakters vertolk deur Ethan Hawke en Julie Delpy mekaar op 'n trein naby Wenen ontmoet het en nie kon ophou praat nie, ontmoet hulle mekaar weer in Parys. Die film vind plaas gedurende die laaste 90 minute wat Hawke in die stad van ligte het voor sy vlug; die twee karakters praat oor die verlede, en ontdek hoe die noodlot rondspeel, terwyl die draaiboek nooit maklike antwoorde soek nie. 'n Pragtige film in 'n pragtige Parys.

  5. Eternal sunshine of the spotless mind
    Beïndruk nie so sterk soos skrywer Charlie Kaufman se vorige Adaptation nie, maar 'n reis deur die onderbewussyn is altyd interessant. Regisseur Michel Gondry bring 'n potensiële deurmekaarspul sonder moeite bymekaar en terwyl tyd en realiteit gedekonstrueer word, word ons meegesleur deur 'n storie wat altyd verras en waarvan die kreatiwiteit volgehou word. Al die akteurs word uitgesonder vir hul spel.

  6. Pieces of April
    'n Uitstekende onafhanklike film met Katie Holmes van Dawson's creek-faam in die hoofrol! 'n Effens onkonvensionele familie se rusies en geheime word binne een dag (die Amerikaanse Danksegging) aan die kyker ontbloot. Dié film het my onverwagte plesier verskaf en met soet herinneringe gelos.

  7. The dreamers
    'n Huldeblyk aan die wêreld van films, en veral die films van die vroeë sestigs, toe Frankryk die filmwiel herontdek het. 'n Driehoek ('n Franse broer en suster, en 'n Amerikaner - of daar van liefde gepraat kan word, is 'n uiters komplekse vraag) in Parys tydens die opstande van 1968 produseer spanning met bevredigende resultate. 'n Móét vir enige filmofiel.

  8. Goodbye, Lenin!
    'n Wonderlike storie: 'n Oos-Duitse ma, wat kommunisme ondersteun het, word uit 'n koma wakker na die val van die Berlynse muur, maar haar kinders probeer dié informasie so lank as moontlik van haar weerhou. Kapitalisme en kommunisme word met gelyke komedie benader en die eindproduk is 'n geslaagde tong-in-die-kies kykie na een van die belangrikste gebeurtenisse van die twintigste eeu.

  9. Girl with a pearl earring
    Scarlett Johansson vertolk die rol van Griet, wat in die huis van die 17de-eeuse skilder Johannes Vermeer werk. Haar spel skitter soos die prentjiemooi beelde van die film, en die aandag van die film bly op die regte besonderhede gefokus, sonder om enigiets te herhaal of banaal te onderstreep.


Kategorietoekennings

Akteur: Ben Kingsley, House of sand and fog
Aktrise: Uma Thurman, Kill Bill: Volume I
Regisseur: Quentin Tarantino, Kill Bill: Volume I
Draaiboek: Charlie Kaufman, Eternal sunshine of the spotless mind
Kamerawerk: Eduardo Serra, Girl with a pearl earring.



LitNet: 07 Januarie 2005

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.