NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Die afspraak

Madri Victor*

Dit is winter. Die reën het saggies begin sif. Sy staan by die venster en kyk hoe die mense met sambrele verby stap. In die verte kan sy die park sien. Sy weet dat die proteabosse en dennebome met die reën groener lyk, die omgevalle boomstompe swaarder, swarter. Dáár binne die heinings is ’n ander wêreld vol voëls en bome en die stilte van wind deur denne. Die groot bergskilpaaie sal stadig kop intrek terwyl die water blink op die spitse van hul dop. Miskien sit die kolganspaar op ’n hoë tak en roep. Miskien nie. Sy draai weg van die venster en kyk op haar horlosie. Amper tyd om te loop. Terwyl sy haar jas kry, begin die telefoon lui. Sy huiwer voordat sy haar hand uitstrek om te antwoord. Voordat sy die gehoorstuk kan optel, hou dit op met lui. Na drie luie. Die reën loop in strepe teen die ruit af. Op die vensterbank probeer die kat om die druppels van binne met die pootjie te keer. Sy loop weer tot by die venster, waar sy ’n keer of wat oor die kat vryf. Sy kan die vibrasie in die dier se lyf onder haar hand voel. Wanneer die kat afspring, vat sy haar sleutels, sluit die woonstel en loop.

Die koffiewinkel waar sy hom ontmoet, is warm binne. Sy skud die reën van haar sambreel af en gaan sit by ’n tafel naby die kaggel. Haar hande voel swaar waar dit op die tafel rus. ’n Jong meisie kom vra of sy iets wil drink. Sy bestel café latte en bekyk die meisie toe sy wegstap. Sy is van kop tot tone in swart. Haar arms is vol silwer armbande en haar rooi hare is kort en staan regop. Aan haar voete is ’n paar lang swart stewels. Die vrou trek haar hand deur haar vaalblonde hare. Die haarwortels voel seer. Sy vryf stadig oor haar nek. Haar hande voel koud op haar vel. Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe. Sy weet dit sal stil wees in die park. Op die buiterand van die park is die paadjies klipperig en oop. Daar sal nie vandag drawwers wees nie. Net die stilte van die dennesuising en die af en toe roep van voëls. Elke boom en bos se kraak sal hoorbaar wees.

Haar vriend kom die vertrek binne. Soos altyd groet hy die eienaar joviaal, kink hier en daar vir ’n paar bekendes voordat hy haar raaksien.

Darling! Hoe gaan dit?” Hy sak in die stoel neer, gooi sy swart leerbaadjie op die ander stoel en leun oor om haar op die wang te soen. “Hmmm … jy lyk radiant vandag. En die hare! Wanneer het jy geknip? Ek sê jou, is daar ’n okkasie of wat? Dit lyk baie goed. Lovely.” Hy wink die meisie nader en bestel koffie.

Die vrou draai na haar vriend. Haar gesigspiere voel styf. “Dit gaan goed, en met jou?”

“Great! Girl, jy sal nie glo wat het gebeur nie!”

“Hmm …?”

Sy lig haar hand op en vat liggies aan haar oorbel. Die geluide van die koffiewinkel pla haar. Sy onderskei moeilik tussen die klik van teelepels en koppies en die musiek oor die luidspreker. Die meisie kom sit die koffie voor hulle neer.

“Die mooiste man wat jy in jou lewe des lewens gesien het, het my pad gekruis. En nie sommer net gekrúis nie …” Daar is ’n ondeunde vonkel in haar vriend se oë.

“Vertel.”

Solank hy praat, hoef sy niks te sê nie. Sy luister na die intonasies van sy stem. Die glasbeker waarin haar koffie is, brand haar lippe. Sy sit die beker hard in die piering terug. Dit het opgehou reën. In die park sal die druppels stadig van die blare afdrup tot in die nat grond. Die grond is donkerder in die middel as teen die park se buiterande. Jy kan die nat grondreuk diep intrek, dit laat meng met protea en fynbos. Vandag sal alles skerper en varser ruik. Die koue sal uit die grond opslaan en met die reuk opkruip deur haar voete totdat dit haar hele lyf vul.

Toe die deur oopgaan, kyk sy op. Die man wat ingestap kom, is lank. Hy het jeans aan en ’n kabeltrui. Hulle oë ontmoet vir ’n oomblik voordat hy by die tafel tussen die kaggel en haar gaan sit. Só dat sy wanneer sy opkyk, sy reg in hom vaskyk. Die man bestel koffie en haal ’n koerant uit.

Iets wat haar vriend sê, dring tot haar deur. “Wag. Jy het by hom oorgeslaap?”

Hy leun vooroor en begin soos ’n samesweerder vertel. Teen haar sin sit sy effens vorentoe.

“Ons het die hele aand gesit en kuier. Saam kos gemaak – al daardie dinge. Daar was die hele tyd sparks tussen ons. Maar dit was eers na ete dat ons saam op die bank beland het. Ek het iets verduidelik en my hand was hier bo in die lug. So, sien. En toe vat hy my hand en voor ek weet wat gebeur, is dit dáár. Op hom. Nou ja, van daar af het die dinge gevloei.”

Sy glimlag.

“Ok, ok. Verkeerde woord. Gebéúr. Dinge het net gebéúr. Sy hande was oral op my lyf. Oe … ek kry sommer weer hoendervleis as ek net daaraan dink. En, girl, toe hy eers sy belt afhaal … As jy regtig mooi kyk, sal jy nog die merke op my rug sien.”

“Hy het jou tog nie geslaan nie?”

“Ja. En dis vreeslik kinky. Maar dis natuurlik nie al nie.”

Hy glimlag vir haar. Haar handpalms voel sweterig.

“Dis ’n groot ou. Mens, ek sê vir jou, dis sekerlik soos kraam!”

“Ag, kom nou! Jy sou nie so geglimlag het as dit só afskuwelik was nie!”

Hy sit sy hand op hare en lag.

“Nee, die poppers het gehelp. Ek was so hoog op daai goed jy kon enige iets met my aanvang!”

Sy glimlag. Wanneer sy die laaste van haar koffie sluk, vang haar oog weer die man by die oorkantste tafel. Hulle kyk ’n oomblik vir mekaar voordat sy wegkyk. Daar was nie die vaagste trekkie van ’n glimlag op sy gesig nie. Hy het haar net vas in die oë gekyk. Soos iemand sonder skuld of ongemak.

Die plante is digter aan die een kant van die park. As sy daar loop, krap die takke haar bene en arms. Daar tel mens tarentaalvere en gevrete dennebolle op. Sy word weer bewus van die man se oë op haar. Sy kan voel hoe hy haar opsom. Sy kyk op. Hulle kyk vir mekaar voordat hy afkyk. Haar vriend kyk skielik skerp na haar. “Wat kyk jy so?” fluister hy. “Is daar ’n dish?”
Hy kyk om.

“Oe, toggie. Dis nou regtig nie iemand wat ek sal huis toe neem nie! Die man lyk onversorg! Sy hande lyk vuil, hy het twee dae laas geskeer te oordeel aan daardie stoppel, en kyk net sy neus! Lyk nie juis of hy ’n groot plesier sal wees nie.”

Sy kyk weer na die man. Sy weet sy moet iets sê. Hy sal dit nie daar laat gaan nie. Hy is vandag in ’n bui vir die seksuele.

“Ja, hy het nogals ’n groot neus. Sal dalk net in die pad wees met die vryery.”

Hy glimlag tevrede. Sy vryf oor haar oë. Die man se oë is groen en diep soos ’n sementdam in die veld. Sy een hand rus liggies op die tafel. Met die ander hand hou hy die koerant vas waarin hy elke nou en dan lees.

“Hemel vrou, sal jy ophou staar! Mens sou sweer …”

Sy maak hom stil voordat hy verder kan gaan. Aan die manier waarop haar vriend vir haar kyk, kan sy sien dat hy iets wil vra. “Daar’s iets wat ek by jou moet uitvind. Ons het nou die dag by die werk so gepraat oor … wel, blow jobs.”

Voor hy kan verder, val sy hom in die rede. “Hemel! Watse tipe werk ís dit? Die goeters wat daar uitbroei, is regtig onheilig. As dit nie blow jobs is nie, moet ek hoor van naweke wat op ’n orgie uitdraai!”

Hy lag senuagtig. “Ek weet die klomp op kantoor haak soms uit. Maar ek sê jou girl, jy sal verbaas wees oor wat die high en mighty op hierdie dorp aanvang. In elk geval. Om terug te kom tot die storie. Ons het gepraat oor of mens sluk of nie. En toe wonder ek hoe dit nou eintlik by vrouens is. Jy weet, as die arme man dit moet doen.”

Sy bloos effens. Uit die hoek van haar oog kan sy sien dat die man na haar kant toe kyk.

“Miskien is dit nie heeltemal die regte plek …” Die jong meisie kom tot haar redding en vra of hulle nog iets wil drink. Hulle albei bedank.

“Ok dan, as jy nou so wil wees,” gaan hy voort, “sê eers of daar iets in jou liefdeslewe aangaan.”

Sy rem aan die polonek van haar truitjie en vee haar sweterige hand aan haar romp af. Voordat sy kan antwoord, gryp haar vriend na sy belt.
“My selfoon. Ek het dit op ‘vibrate’ gesit. Nogal oulik nè?”

Sy kyk weer na die man by die oorkantste tafel. Hy kyk op sy horlosie en dan op in haar oë. Daar speel ’n glimlag om sy mondhoeke.

“Hoor hier, darling, ek moet waai. Hy het gebel – die ou van wie ek jou vertel het. En, ja wel, jy sal verstaan of hoe?”

Sy is bly dat hy moet gaan.

“Natuurlik. Ons kuier later weer.”

Hy soengroet haar. By die deur waai hy vir oulaas voordat die strate hom insluk. Sy sit terug en kyk na die lae grys lug buite. Die meisie kom sit die rekening voor haar neer. Na ’n rukkie betaal sy en staan op om te loop.

Dit is koud buite. Die vrou trek haar jas stywer om haar lyf. Die wind ruk aan haar jaspunte. Skielik, in die dowwe weerkaatsing van die winkelvenster, is hy daar. Die man van die koffiewinkel. Sy kyk nie om nie, stap net aan. In die vensters kan sy haarself sien. En altyd kort agter haar die man. Hy wend geen poging aan om haar in te haal nie. Sy kan voel hoe haar asemhaling dieper raak. As sy uitasem, hang dit vir ’n oomblik wolkerig wit voor haar. Wanneer sy die straat oorsteek, kyk sy vinnig om na die man. Hy kyk nie na haar nie.
 
Die hek van die park is nat en yskoud in haar hand. Sy stoot dit vasberade oop en stap in. Amper in die middel van die park is daar ’n bankie tussen proteabosse. Sy stap met die dowwe paadjie daarheen. Agter haar hoor sy hoe die hek skree en dan toeklap. Sy gaan staan. Wanneer hy by haar kom, glimlag sy huiwerig en stap voor hom uit tussen die fynbos en proteas deur.

*Madri Victor
Madri Victor het in die Karoo grootgeword en beskou dit steeds as haar wegkom-plek. Sy hou van boeke en boekemense, wil graag meer reis, sou eendag by die see wou woon en besit 'n halwe aandeel in 'n Claerhout skildery.
 



LitNet: 12 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.