NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Johan van der Walt
Johan van der Walt is ’n boorling van Mokopane in die ou Verre Noord-Transvaal. Tans woon hy in Johannesburg, waar hy werk in die e-leer-bedryf.
  naam

Saad

Johan van der Walt

In die nes op die vensterbank verskyn daar êrens in die maand drie eiertjies. Gladde, wit pêrels in ’n oester. Sy kan nie onthou of sy die duif sien sit het nie. Sy onthou wel die hofmakery. Vlerksleep. ’n Raak beskrywing. Die mannetjie skuur sy vlerk oor die vensterbank en hinkepink om die wyfie. Kyk hoe bloei ek vir jou, my lief. Kyk hoe seer maak liefde. Vir haar het dit meer soos draaisiekte gelyk. Op die stadium wanneer die blaaswurm vir hom ’n lekker holte in die skaap se harsings uitgevreet het en die radelose dier in die rondte begin draai en draai totdat hy neerslaan. Die wind steek op en die lug word ’n droë verhemelte.

“Vandag,” sê Pa met ontbyt. Wanneer hy uitstap soek hy in die lug.

Op die vensterbank draai die duif haar rug na die wind en broei die dag warm. Die blare van die bamboes skuur teen die wind. Dis nie die gewone heldergroen splintering van blare wat die son tot smarag fragmenteer nie. Dis ’n droë gekraak soos mielieblare onder jou sole. Haar kleure meng tot bruin op die doek.

“Dit help nie.”

Sy staan haar kwasse in die terpentyn en gaan soek haar ma in die donker huis.

Die volgende oggend is daar drie grys bondeltjies in die plek van die pêrels. Miniatuur geslagde hoenders vol krimpvarkpenne. Kaal bolyfies en afarm-vlerkbeentjies wat lomp wieg bo groteske onderlywe. Die onderlywe is deursigtig en sy kan blou are en binnegoed onder die vel sien beweeg. Wanneer sy met haar vinger teen die ruit tik draai hulle na haar met gesperde bekke. Mank, blinde bedelaartjies. Die ma is skoonveld. “Ek neem jou nie kwalik nie,” dink sy.

Buite ruk ’n dwarrelwind die gaasdeur uit haar hande en raas deur die bamboesbos. Op die vlakte word dit ’n stofpilaar waaraan die hemel moeg hang. Die warm werf bly agter.

Ma verskyn om die hoek, haar gesig haastig. “Die wind het gedraai. Help met die vensters!” Hulle hardloop van vertrek tot vertrek en slaan vensters toe. Dan gaan wag hulle in die sitkamer terwyl die huis donkerder word. Selfs agter die toe vensters bol die gordyne. Stof stuif die vertrek binne en slaan in dik sediment neer op die meubels. Die vensters ruk en die huis verstik aan die donker. Mettertyd kom Pa die kombuis binne. Hy beur die deur toe teen die rooi wind. Terwyl sy luister hoe die huis skud word dag nag sonder dat sy die verskil sien.

Ligdag tik sy met haar vinger teen die ruit maar niks gebeur nie. Die nes is half vol sand en daar lê een potsierlike lyf met die nekkie pap onder hom ingevou.

Pa is stil aan die ontbyttafel. Hy kyk op sy bord. Wanneer hy opstaan krap sy stoel oor die rooi laag op die vloer. Soos sand tussen jou tande. By die deur draai hy om maar kyk steeds nie na hulle nie. “Die saad het oopgewaai,” sê hy en raak dan weg in die dag.

By haar esel trek sy die doek haaks en strek haar vingers in die lug. Dan sien sy die duif. Op die nes in die hoek van die vensterbank. Sy klap met haar palm teen die glas. “Fokof!” skree sy, “Fokof!” Eers wanneer die voël verskrik opvlieg begin sy verf.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.