NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Olaf van Renen
is 'n soort van 'n ouditeur met soort van vaste werk, 'n slim maar wederstrewige vrou, en drie ingewikkelde seuns. Hy woon langs die see, naby Kaapstad. Hy sukkel om kwaad en verbitterd te wees, en om sy gevoelens van geluk te onderdruk. Dus sukkel hy om te skryf.


  Olaf van Renen

Twee dae in 1652

Olaf van Renen

'n Ou dagboek is gevind onder 'n posklip in 'n grot in 'n berg in die Suide. Hier volg een interpretasie van die inhoud.

6 April 1652

Bootsman WA t' Front het vanoggend die langboot vir goewerneur Jan uitgesleep op Kaap de Goede Hoop se strand. Die eerste verrassing wat die landingsparty te beurt geval het, was om hul vas te loop in 'n vreemde skepsel op dié nuwe vasteland. Dié geagte heer was besig om te ontspan in 'n vissersnet wat tussen twee palmbome gespan was op die parade. Toe die man opstaan, blyk dit dat hy heel skaflik aangetrek was, alhoewel 'n bietjie oudmodies. Hy het 'n veer in die hoed gehad soos dit enige ware heer betaam. Sentimetergewys was sy veer inderdaad langer as goewerneur Jan s'n. (Jan se eie bemanning se vere mog nie langer as die Goewerneur s'n wees nie. Protokol.)

"Een zeer aangename dacht voor u," roep Jan uit, en buig laag terwyl sy hoed 'n swierige pad volg. Die veer het 'n beduidende rol te spele in hierdie beweging. "Ik ben Goewerneur Jan van Riebeeck. Wie heet de uwe?"

Die vreemdeling was eers heel uit die veld geslaan, maar het tog baie geïnteresseerd gelyk in Jan se doen en late. Nadat hy self opgespring het, het hy reg voor Jan gaan staan. Effens vooroor gebuk, het hy vir Jan nageboots. Presies. Sy veer het toe wel beter vertoon as Jan s'n. Toe die vent egter begin praat, was dit met die vreemdste klikgeluide.

"Wat seg de man, Kabel?" skreeu Jan, nou ook effens vooroor gebuk, met sy hand bak agter sy oor. Jan is maar dowerig. (Terloops, almal noem my Kabel vir kort. Ek was eers bekend as Kort Abel.)

Ek haal my skouers op. Dít weet ek nie, beduie ek.

"I say, old chap," sê die vreemde vent na 'n ongemaklike stilte. "You look frightfully out of place, and somewhat lost, what not?"

"Blerrie Ingelse alweder," fluister Jan kliphard agter sy hand verby, hier na my kant toe. "Ik moes het kon dink! Wat zeg hij, Kabel?"

Ek verduidelik.

"Oh fiddlesticks, I'm so sorry!" reageer die skepsel, voordat Jan iets kon terugsê. Hy loer kortsigtig in ons rigting, en tree dan vorentoe en hou sy hand uit om blad te skud. "I didn't know you had company … Welcome to Cape Town! Enjoy the sunshine! They call me Autshumato."

Almal stel hulleself voor en daar word plegtig bladgeskud.

"My Ingels is not so very good," skrou Jan. "But I tooked Ingels second language …"

Die vent het sy kop so 'n bietjie gekrap.

"I've got an idea," sê hy vir Jan. "Let's combine Khoi, English and Dutch and see how far it gets us. They use a similar concept in the north. Fanagalo seems to work very well in King Solomon's mines. Okay, here we go … Kan je my nouw verstaan?"

Jan het dadelik op sy gemak gelyk. Enigiets behalwe rou Engels.

"Wel, zolank ons nie Ingels hoef te gebruik."

"Dis reg," sê Harry, so proe-proe aan die woorde. "Maar iets is nog missing in die mix."

Jan krap kop. Ek waag my stuiwer.

"Wat van de slaaf wat ons vanuit Amsterdam gebring heb, u edele? Hy bezig ook een vreemde taal."

"De Maleier? Bring de vent hierzo!"

En toe die kêrel daar aankom …

"Praat, Maleier! Sê iets!"

Ek kan nie veel verstaan nie, maar daar kom goeters uit wat klink soos “kerrie”, “speserye”, “skoenmakers”, “kleremakers”, “koetsbouers” en “goeie winste”.

Na die man so 'n entjie gebrabbel het, vel Autshumato die oordeel. "Die perfekte ontbrekende komponent! Kan jy my nou verstaan, Meneer die Maleier?"

Groot rek die man se oë – hý wat tot nou nog onverstaanbaar vir die Goewerneur se bemanning was.

"Gedoriewaar! Mapstieks! So by my kool!" sê die man. "Nou kan ons in vrede met mekaar leef!"

"Nee, daarmee stem ek saam," sê Jan tersyde aan my. Hy het nie eens nodig om sy oor te frommel nie. "En ek moet sê, ek hou van die manier wat die taal praat. Wat sal ons dit noem?"

"Die taal is so maklik soos om af 'n krans te spring," sê die Maleier. "Wat van Af-'n-krans?"

"Hoe sê jy? Áfrikááns? Praat tog harder, vriend!" sê Jan gefrustreerd. Summier, sonder om vir die antwoord te wag, gee Jan die bevel. "Van nou af praat almal Afrikaans!"

Almal knik, baie verlig en baie bly. Voorwaar, ‘n nuwe taal is gebore.

"Ek weet net nie hoekom die vent so fluister nie," brom Jan onderlangs. “Is hy skaam vir Afrikaans?”

"Dit klink goed," sê die vreemdeling. Hy stap weg terwyl hy vrolik iets sing. Dit klink iets soos “Afrikaners is plesierig …"

"Sê my, Outs … Otsjo …!" skreeu Jan in Autshumato se rigting.

"Sê maar Harry," sê die man, moedeloos. "Ek het nogal gehoop dat die tweede groep plakkers my naam sou kon regkry …"

"Het jy gesê 'tweede groep', Harry?" roep Jan verbaas uit. "Wie was eerste?"

"Die Engelse," sê Harry. "Maar hulle het padgegee. Iets gesê van iemand anders moet die land eers ontwikkel, dan sal hulle terugkom. Sê my, Jan, het jy nie dalk 'n ekstra baadjie vir my nie? Daar's vanaand 'n reif aan by my. My oudste seun word een en twintig. Julle's natuurlik uitgenooi."

"Sekerlik," glimlag Jan, in sy noppies. Hy stuur onmiddelik die bootsjonge terug na die Drommedaris toe. "Gaan sê vir Mevrou ons gasheer nooi ons uit na 'n partytjie toe. Sy moet my beste baadjie saambring! Uhh … Wat’s 'n reif, Harry?" skrou Jan toe hy terugdraai.

"Dis 'n nuwe riel. Met baie minder musiek en meer ritme, en jy hoef nie te dink nie. Maar sê my, Jan, waarvandaan kom julle dan nou oorspronklik?" vra Harry nuuskierig.

"Holland," roep Jan uit.

"Klink maar hollerig," lag Harry gemoedelik. "En waar's hierdie holte?"

"Anderkant die see."

"Mm," sê Harry stadig. "'n Holte anderkant die see, sê jy. Hoe hou julle die see uit?"

"Met walle, natuurlik," skreeu Jan geïrriteerd.

Harry kyk na Jan, en probeer nog 'n slag.

"En as daar 'n gat in die wal kom, waantoe hol julle?"

"Ons hol nie! Ons steek ons vinger in die holte."

"Hier hol ons berge toe," verander Harry die onderwerp na 'n kort stilte. "Die vinger het geen rol te speel nie." Hy beduie met sy hand in die rigting van die groot, plat berg. "En kyk hoe baie plek is hier. Dit sal ons duisende jare neem voor ons die voet van daardie plat berg bereik met ons huise."

"Ja-nee, hier's genoeg plek vir almal. Niemand hoef ooit hier te baklei oor grond nie!" skree Jan, en kyk na die berg.

Hier's my kans, besef ek skielik.

"Ek sou graag daardie berg wil klim, u edele," waag ek dit. "Ek kan 'n stoel en tafel daar bo neersit, met 'n boek vir handtekeninge vir besoekers …?"

"Mm," knik Jan ingedagte. "Die berg met die stoel en tafel. Wat sê julle ons noem hom ‘Stoel-en-tafel-berg'? Kabel, vat sommer die ou seilstoeltjie en daardie ysterhouttafel in die Dromedaris se kroeg. Ek dink nie die stoel gaan lank hou nie, maar die tafel sal lank staan. Ek stel voor dat jy 'n huisie doer aan die regterkant bou en die goed eerder daarin bêre."

Dan raak hy weer filosofies.

"Om te dink jou spoor sal die eerste Europeër s'n wees teen die berg op, Kabel. Ons kan die paadjie berg-op gerus Kabel se Spoor noem. En die huisie Kabel se Huisie."

"Dis 'n groot eer, Meneer," antwoord ek.

"Luitenant Sein!" skreeu Jan, en die offisier in bevel van die kanonniers tree nader. "Vat 'n kanon teen daardie heuwel uit! Elke dag presies om twaalfuur skiet jy 'n skoot af sodat ons ons horlosies kan stel! Mik na daardie klomp duiwe in die tuine. Dit lyk my die goed kan 'n lastigheid word."

"Vir hoe lank moet ons aanhou, Kommandeur?" waag die offisier dit.

"Totdat die duiwe heeltemal uitgeroei is, natuurlik!" skrou Jan vies. “Maak almal dood!”

Nadat ons afskeid geneem het van Harry, het Jan en Maria die res van die dag ontspan by Seepunt, soos Jan die een strand benoem het. Alleen, want Maria het nie haar swemtoppie saamgebring nie. Daarna is ons af na Harry se dorpie toe, waar ons met swierigheid ontvang is. Net toe ons gaan sit, dawer die kanonskoot vanuit die rigting van die heuwel.

"Sein is al by sy heuwel," mompel Jan. Hy tuur na sy sonhorlosie en maak 'n klein verstelling. "Twaalfuur!"

"Watse geraas is dit wat ek hier ons agter hoor?" vra Maria onrustig toe 'n kabaal losbars reg agter ons.

"Ontspan, Mevrou," stel Harry haar gerus. "Dis maar net die jongklomp wat koppestamp. Die eerste klompie orkeste is maar altyd die rowwe jongetjies. Sal ons gaan kyk?"

So gesê, so gedaan, en ons is almal na die dansbaan toe. Die musiek was oorverdowend, en die rukkende, jillende massa op die dansvloer was 'n gesig om te aanskou. Party stamp hulle koppe teen mekaar en ander skuifel rond.

"Wat doen hulle almal?" vra Jan, totaal oorbluf.

"Nee, jong," antwoord Harry gelate. "Sien jy die sakkies wat die vrouens oor hulle arms dra? Dis vol tiekies. By die Engelse gekry. As 'n vrou 'n tiekie op die grond gooi, moet 'n man haar gryp en om en om die tiekie draai. As sy dronk genoeg is en hy's nog oukei, kan hy probeer om die tiekie op te tel. As hy nie omval nie, kan hy dit hou."

"Sakkie? Sakkie?" skreeu Jan. "Tiekiedraai?"

"Sakkie," knik Harry.

"Valke!" skreeu iemand hard.

Almal op die dansvloer spring skielik hoog die lug in, hande hoog bokant die koppe.

"Moenie vra nie," beantwoord Harry die onuitgesproke vraag. "Dit is 'n oorgelewerde gebruik. Dit klink eenvoudig reg, maar niemand weet waar dit vandaan kom nie."

"Balke?" skree Jan. "Wat beteken 'balke'?"

"Valke!" sê Harry effens moedeloos.

"Lyk goed!" roep Jan. "Kabel! Vir die volgende bal moet ons hierdie 'balke'-storie probeer!"

Een groepie staan so effens tersyde, gebukkend krom, maak vreemde gebare en trek die allervreeslikste gesigte.

"O," gaan Harry voort. "Die klomp wat hier eenkant sulke gesigte trek, probeer die vroue se tiekiesakkies steel. Hulle noem dit 'Haak-haar-sakkie'. Maar hulle kon dit nog nooit regkry nie, so die meeste van hulle noem dié dans nou net die 'Haak-haar'."

Jan, alewig hardhorend: "Haka? Haka? Maak geen sin nie! Wat is daar om hulle voete vasgebind? En hoekom buk hulle so laag en trek hulle gesigte so as hulle 'balke'-spring?"

"Dis 'n leerbal vol sand. Hulle word gestraf vir diefstal en moet die balle die heeltyd dra. Hulle balle maak hulle seer as hulle spring, en dis hoekom hulle so gesig trek. En natuurlik, dis hoekom hulle nie kan sakkie óf tiekiedraai nie. Dis nou waar die 'Haak-haar' vandaan kom."

"Mmm," seg Jan ingedagte. "Ek kan sien daardie leerbal gaan nog baie moeilikheid veroorsaak."

"Wie loop daar?" vra Harry tersyde vir een van sy manne by hom. Die man fluister in sy oor. Harry tuur in die algemene rigting van die nuweling.

"Riempies, hoe lank is jy al uit die tronk uit?" roep hy uit.

Die vent klik-klak, klik-klak.

"'n Maand lank!" prewel Harry.

"Amandla?" skreeu Jan in Harry se rigting. "Wat is Amandla?"

"'n Maandlank van vryheid," antwoord Harry afgetrokke.

"Amandla," mompel Jan. "Vryheid … Interessant!"

"Ja," sê Harry ontevrede. "Ek gaan hom weer eiland toe pos. Die vent hoort eintlik nog agter tralies!"

"Hoe kry jy hom op die eiland? Julle het mos nie bote nie!"

"Ons stuur hom oor op 'n donkie," sê Harry.

"Nou wat verhinder die gevangenes om met die donkie terug te kom net wanneer hulle wil?"

"Jy kan die donkie net een keer belieg. Die eiland lyk mos naby. Maar as die donkie eers daar anderkant is, kry jy hom nie terug nie," antwoord Harry geduldig.

Jan krap sy kop.

"Hoe kom die gevangenes dan ooit terug?"

"As daar 'n amnestie op die eiland is. Amnestie is 'n oerwoord vir baba-donkie. Wanneer die amnestie groot genoeg is, bring hulle die gevangenes terug. Die eiland-gebore jong donkies weet nie van beter nie."

"Almal wil dan seker op ‘n amnestie se rug ry," seg Jan.

"Niemand wil meer deesdae hulle straf uitdien nie," sug Harry.

"Nou hoekom leer die ouer donkies nie die jongeres van beter nie?" vra Jan, steeds skepties.

"Nee, jy's reg, die ouer donkies probeer hard," sê Harry. "Maar die gevangenes wag totdat die jong donkietjies tienerstadium bereik. Dan maak dit nie saak wat die ouer donkies sê nie. En die berg lyk mos maar naby van die eiland af."

"Rebellie," knik Jan. "Dis oral dieselfde."

Terwyl Harry se aandag afgetrek word, wink die oudgevangene van die eiland, Riempies, vir ons eenkant toe. Hy stop ons 'n opgerolde leervel in die hande.

"Is julle toeriste?" vra hy saggies, naby Jan se goeie oor. Ongelooflik hoe maklik Afrikaans aangeleer word, besef ek.

"Hoekom?" vra Jan agterdogtig.

"As julle my 'n boot gee, dan vat ek julle oor na die eiland toe en wys julle die onbeskryflike wreedhede wat daar plaasvind. Net twee baadjies en 'n paar skoene vir elke groep toeriste wat ek begelei. Ek sal afslag gee – ás ons 'n langtermynkontrak kan teken."

"Wat is dié leervel?" vra Jan.

"Kyk," wys Riempies. "Ek het vir julle illustrasies gemaak van die pynbanke. Daar's los dwaalgeeste ook! Hulle swerf rond in die nag. Ek sal reël dat hulle in die nag vir die besoekers skreeu en gil. En die bloedspatsels teen die mure – dis alles outentiek."

"Nie nou nie," sê Jan na 'n huiwering. "Maar miskien later, as dinge meer gevestig is hier rond. Klink na goeie toerisme-potensiaal."

Ons loop terug na Harry toe.

"Sê my, Harry, verkoop julle beeste?" vra Jan.

"Hang af van vraag en aanbod," sê Harry versigtig. "Ons hou maar ons oë op die Europese markaanwysers. Maar hoekom vra jy?"

"Kabel!" skrou Jan. "Gaan haal die kis! Maak dit oop!"

Ek sleep die kibbelkis nader en maak oop. Harry en sy trawante staan nuuskierig nader. Een vir een haal Jan die voorwerpe uit en oorhandig dit vir inspeksie.

"'n Ysterkam!"

"Nee dankie," sê Harry.

"Sonbrandolie!"

Geen reaksie by die omstanders nie.

"Sykouse met ivoor-suspendeerders!"

"Ons vroue dra nie sulke goed nie." Aldus Harry.

"Dis vir die mans," sê Jan geduldig. Harry skud sy kop. Jan probeer weer. "Nou wat van 'n paar pruike?"

"Jy kan maar vergeet van pruike," sê Harry. "Dit sal nooit as te nimmer by die inheemse volke guns vind nie. Maar wat is daai in jou baadjiesak?"

"Dit?" vra Jan. "Dis 'n pyp. Vir twak. Om te rook."

"Twak? Soos hierdie?" Harry bring 'n leersakkie vol tabak te voorskyn. Jan ruik daaraan en knik.

"'n Bietjie wild, maar seker goed genoeg."

"Nou maar kom ons sit en rook so 'n ou twakkie voor ons verder besigheid doen!" sê Harry hoopvol.

"Goed," stem Jan in. "Kan seker nie skade doen nie."

7 April 1652

Jan het my vroeg vanoggend in sy kajuit ingeroep. Sy oë was bloedbelope, en die man was duidelik omgekrap.

"Wat het gisteraand gebeur, Kabel? My kop is dof, seer en vol knoppe!"

"U is amptelik as 'headbanger' ingehuldig deur Harry, u edele. En u het heel aand gesakkie-sakkie en getiekiedraai."

"Hoe lank was ek daar?" kla Jan. "Hoekom kan ek niks onthou nie? En hoekom voel my lyf so seer?"

"U was heeldag daar.”

"Heel dagga?”

“U het te veel gerook. En toe baklei …"

“Gerook? Baklei? Skryf neer, Kabel! Van nou af mag geen bemanningslid meer dagga rook nie!"

Ek skrýf toe. Ek self het lanklaas só 'n hoofpyn gehad.

"En Kabel, met wie het ek baklei?"

"Met die 'Haka'-dansers."

"Vuilgoed!" roep Jan uit. "Vandag gaan ek hulle platvee met die aarde. Hoekom het ons baklei?"

"U het die voetballe gegryp en probeer weghardloop. En u het hulle balle geskop, ook."

"Geen verskoning vir hulle om met my te baklei nie! Ek wou seer sekerlik net speel! Hulle moet gestraf word!"

"Geen probleem nie, u edele," keer ek. "Ons het hulle reeds op langbote geplaas en eiland toe gestuur."

"Pragtig, Kabel!" seg Jan tevrede. "Ek hoop jy het hulle deurgesoek vir daardie duiwelskruid!"

Ek kon maar net ongemaklik rondskuifel. Dít het ons vergeet. Dinge was maar 'n bietjie deurmekaar.

"Kabel?"

"Nee, u edele," erken ek ruiterlik. "Ons het nie. En ek is jammer om u mee te deel dat 'n sterk Westewind gisternag opgesteek het. Die langbote het nie teruggekeer nie …"

Doodse stilte. Ek wag in spanning.

"Arme goed," seg Jan nadenkend. "Dié klompie misdadigers het dit nie verdien nie. Ek hoop hulle haal êrens land. En ek hoop net hulle onthou om die voetballe terug te stuur, anders gaan ons vir ewig daaroor baklei. Dit is ons land se staatseiendom. Hulle moet tog in elk geval die balle afhaal van die enkels af, anders gaan die pyn vir altyd op hulle gesigte wys as hulle so hoog spring. Selfs al sou hulle dit probeer doodverf. As hulle dit afhaal, hoef hulle nooit weer die Haka te dans nie. Hulle sal uitvind hulle kan weer spring terwyl hulle sakkie-sakkie. Sonder om so te kla en skreeu van pyn."

Wie't kon dink Jan het 'n sagte hart!

"Kabel!"

"Ja, u edele?"

"Het Harry aan ons beeste verkoop?"

"Ja, u edele."

"Nou waar's die beeste?"

"Harry se mense het die beeste gisteraand by die fees opgeëet, u edele. Ons het saam geëet."

Jan frons diep. Toe skuif 'n salige glimlag oor sy gesig.

"Weet Harry en sy mense wat whiskey is?"

"Ek het gevra, u edele. Maar die Engelse was te suinig gewees, lyk dit vir my. Harry ken nie whiskey nie."

"Bou vir ons vanmiddag 'n kasteel met vier punte – 'n punt wat Noord, Suid, Oos en Wes wys. Maak seker die bemanningslede het nie dagga by hulle nie, anders kan hulle weer nie planne lees nie! Nooi dan vir Harry uit om vanaand by ons te kom eet. Sê vir Harry ek sien reikhalsend uit na sy besoekie! En Kabel, vir die whiskey by die eetmaal … sit vir ons vat nommer 69 voor. Die een wat swart geverf is."

"Vat 69? Goed, u edele," sê ek. Hier kom 'n ding!

"Moet nou nie te naby die branders gaan staan en bou nie, Kabel. Ek wil nie hê jy moet droogmaak daar by die foreshore nie! O, en nog 'n ding, Kabel."

"Ja, u edele?"

"Ek wil hê jy moet vir Harry 'n donker gat in die kasteel bou. Sonder enige lig. 'n Gat vir Harry. Vanaand sien hy dit!"


LitNet: 23 Mei 2006

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.