NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Paul Bosman is versot op kortverhale. De Maupassant, Tsjekof, Tolstoy. Hy het "Dood van Ivan Ilych" ongeveer ’n honderd keer gelees. Hy is gek oor Herman Charles Bosman en Damon Runyon. Sy kortverhaalbundel Soms mis die hart ’n slag verskyn in 1997.

Snoeker


Die twee mans het mekaar al in die eetsaal opgesom waar hulle by aangrensende tafels sit, maar dit is eers in die gimnasium dat hulle ’n gesprek aanknoop. Manne van hoë intelligensie en statuur het ’n manier om mekaar in ’n geselskap uit te snuffel. Eers verken hulle agtergronde en gesels dan oor dit en dat: die ekonomie, die politiek, die heerlike weer van die vroeë lente. Uiteindelik kom hulle uit by ’n gemeenskaplike passie: snoeker!
        In die privaatsalon staan ’n splinternuwe snoekertafel, half weggesteek in ’n hoek asof dit as ’n nagedagte by al die luukshede wat hulle verblyf aangenaam moet maak, gevoeg is. Maar geen moeite of koste is ontsien nie endie tafel is selfs toegerus met ’n kompasbeul wat die speelvlak, binne perke, waterpas hou. Dit is nou daar waar die twee bedags die meeste van hulle tyd verwyl. Hulle vaardigheid met stok en bal is skynbaar gelyk en hoe meer hulle speel hoe meer intens raak die kompetisie. Hulle speel na hartelus, want niemand anders is geïnteresseerd in die tydverdryf van konings nie. Spel word net onderbreek deur etes en kort wandelinge in die vars bries wat buite oor die promenade stoot.
        Professor Ernest Rothner, ’n vrygesel, het ’n mediese kongres in Berlyn bygewoon en geniet nou ’n paar sorgelose dae voordat hy die nuwe chirurgiese kennis wat hy opgedoen het aan die studente van die universiteit waar hy werk, moet gaan oordra. John Hudson, ’n miljoenêr, is op ’n gewone vakansie. Sy vrou en kinders moet, noudat hy ’n snoekergenoot ontdek het, hulle vakansie met ’n afwesige man en pa deurbring. Bess Hudson kom die eerste dag net een maal na die spelery. Sy verbloem nie haar ongenoeë met haar man se pre-okkupasie nie, sit net daar fronsend in ’n leunstoel met haar mooi bene gekruis in blink-wit sykouse en suig aan ’n sigaret deur ’n silwer mondstuk.
        Daar is darem vir haar die vooruitsig van elke aand se swierige bal, Soiree, wat in die groot ontvangsportaal voor die eetsaal se glasdeure aangebied word. Maar haar man het weer eens ’n ander prioriteit. Hy sit meesal by die kroegtoonbank. Rothner maak van die geleenthede gebruik om met sy snoekeropponent se vrou te dans. As dansmaat is hy nie heeltemal in haar man se klas nie, maar sy is oorbewus van die krag van sy lyf en die drukking wat hy soms op plekke toepas, wek ’n warm gloed op haar maag en in haar bekken.
        Algaande daag Bess Hudson meer gereeld by die speeltafel op. Sy moet haar bedwing om nie in openlike bewondering na Rothner te staar nie. Die professor is buitengewoon aantreklik met die silwer strepe in sy swart hare, sy smeulende oë en die sterk maar slanke hande waarmee hy die stok so gemaklik en sekuur hanteer. Intuïtief snap sy gou die innuendo’s van sy optrede. Hy speel die mees briljante skote, maar verbrou soms maklike kanse. Sy besef: Rothner speel kat en muis met haar man.
        En wanneer Hudson in groot konsentrasie aanlê, kyk Rothner haar onbevange in die oë en plooi die fynste spotlaggie sy mond. Sy weet dat hy die verhouding tussen haar en haar man opgesom het; bewus is van haar minagting vir haar miljoenêr. Sy dink aan vanaand se bal en die gloed keer terug.
        Na die danspartye sit Hudson sy drinkery voort in die dubbelpraalsuite wat hy vir sy gesin bespreek het. ’n Binnedeur lei na die deel waar die twee kinders en hulle oppasster slaap. Hy maak hom in sy nagklere tuis op ’n gemakstoel; sy voete teenaan die verwarmer. So ledig hy glas na glas van die duur brandewyn, totdat hy na sy bed strompel en in ’n snorkende dronkmanslaap wegsink.
        Die tweede oggend reeds mis Hudson sy ontbyt - ’n nagevolg van sy gefuif. Die derde oggend toe hy weer afwesig is, kom Rothner na haar tafel. Sy nooi hom om te sit.
        "Jou man? Alles wel met hom?" vra hy ongeërg.
        "Ja, as mens die afslaap van ’n oorinname Chateau as normaal kan beskou. Sy eintlike fees begin wanneer ons terug is in die suite. Na ’n uur dop hy om en moet ek na sy gesnork lê en luister."
        Sy probeer nie haar verbittering verbloem nie. Wat weet Rothner, dink sy,van haar frustrasie: die effek van die vars seelug, die heerlike geregte van die meesterkokke, die bloedstuwinge as sy in die arms van die relatiewe vreemdeling oor die dansvloer gly?
        "Ek voel snags vasgekeer. By die huis drink hy matig. ’n Onkapabele man is nie juis my idee van ’n vakansie nie."
        "As hy so voel," en sy grys oë boor in hare, “is dit ’n teken van geblokkeerde energie. Dié van ’n beeldskone, gesonde vrou in haar laattwintigs – haar beste jare."
        "Nou wat stel jy voor, dokter?"
        "As medikus is my raad dat jy self ’n stywe dop sluk om te kan ontspan. As gewone man stel ek voor dat jy ’n warm jas aantrek, ’n mus opsit teen die koue en dan oor die promenade gaan wandel."
        "En sal dit help?" Sy bloos hewig.
        "Heel waarskynlik. As jy jou wandeling vannag omstreeks eenuur sal neem ..."
        Sy voel weer die blos op haar wange en verwens die verraad.
        "Dalk volg ek jou advies, dokter; jou advies as gewone man."
        "Ernest," sê hy.
        "Bess," sê sy.
        John Hudson kom eers teen tienuur die oggend van die vierde dag, ’n Sondag, te voorskyn. Hy skud sy ergste roes af deur ’n Turkse bad te neem en begewe hom dan na die eetsaal waar hy van die buffetgeregte ’n ligte ete geniet. Sy vrou is nêrens te sien nie. Seker by die kinders, dink hy, waar hulle speletjies met hulle nuutgevonde maats in die kindersalon met sy hobbelperdjies en opwentreintjies speel.
        Hy begin soek na Rothner en vind hom in die geselskapsaal, verdiep in ’n dik boek.
        "Aha, my goeie vriend," sê Hudson en loer oor Rothner se skouer. "Weer ’n heerlike, kalm dag en hier sit jy jou en vergaap aan die aakligste prente."
        "Jy kyk na afbeeldings van aangetaste menslike organe. Dit is waaroor die Berlynse Kongres gegaan het, vriend Hudson. Vroeë diagnose kon die besitters van die organe gered het. ’n Goeie dokter moet die geringste tekens van gevaar kan bespeur. Maar dit geld sekerlik vir alle beroepe – alle situasies: die ekonomie, waarvan jy ’n kenner is, die stuur van ’n skip deur die see. En wat van die huwelik? Selfs ’n blote spel soos snoeker moet mens reg kan lees, jou opponent se sterk- en swakpunte gou kan opsom."
        Rothner klap die boek toe. "Ek sien jy brand om ons toernooi voort te sit."
        "Ja, kom ons los die gefilosofeerdery vir later. Jou swakpunt in snoeker, my goeie vriend, is ’n gebrek aan konsentrasie."
        "En joune, vriend Hudson, ’n volslae onkunde van jou opponent se vermoëns – en bedoelings."
        Hudson lag hartlik. Hulle klim die wye trap op na die privaatsalon, die miljoenêr se arm gemeensaam om die professor se skouers.
        Bess sluit ’n bietjie later by hulle aan. Dié keer swig sy nie voor Rothner se blik nie; kyk uitdagend terug. Vannag, so het hulle afgespreek, sal sy direk na sy bed kom. Die wandeling oor die koue promenade is tyd mors. Sy weet sy het hom met haar woeste hartstog verower. Sy grootste bekommernis is nou dat hy haar na die tydjie saam, nie weer sal sien nie. Sy het hom verseker dat ’n plan gemaak kan word. Hudson is lang tye weg op sakereise en hulle tuistes, Washington en New York, is nie so ver van mekaar nie.
        Sy nooi hom om die middagete aan hulle tafel te kom geniet en Hudson knik goedkeurend:
        "Ja, van nou af eet jy saam met ons. Dit hinder my al lankal. Jy daar eenkant by ’n eenmanstafeltjie."
        Na die ete verskoon Bess haarself. Sy wil ’n middagslapie gaan neem. Die mans hervat hulle spel, soos ook na die aandete, want op Sondae word nie gedans nie. Daar is net ’n kort kerkdiens in die geselskapsaal.
        Die vierde aand na hulle ontmoeting, trek die twee spelers kop aan kop – veertig spelle elk. Hulle speel na hartelus. Die enkele besoekers wat in die privaatsalon opdaag, kom net daar om in die ekstra sagtheid van die leerbeklede stoele te sit en ’n drankie te geniet, of om die vaardigheid van die spelers te bewonder. Sedert die koue ingetree het, soek die meeste mense elders warmte en geselligheid.
        So duur die stryd dan voort; twee mans alleen, skerp gefokus op die posisie van die balle versprei oor die groen blad in die vloed van die ligte wat laag oor die tafel hang. Die verwarmers in die salon verdryf die ergste koue, maar tog voel die spelers ’n ysigheid in hulle bene en voete. Dit is Hudson se beurt om vanaand vir die drank te betaal. Hy self verkies sy geliefde Franse brandewyn op ys, terwyl die dokter by sy onverdunde whisky hou.
        Teen halfelf is dit vier-en-veertig spelle elk en Hudson raak sigbaar gespanne. Al minder word sy "Netjiese skoot, my vriend", of "Die een is joune, maar die volgende spel behoort aan my." Sy gesig verstrak en die tussenin geskerts droog heeltemal op. Hy bestel nog ’n rondte drank; die laaste, sê hy, want sy vrou het elfuur as die tyd vir sy terugkoms gestel. Hy mor oor die beperking: om een of ander rede wil sy hom vanaand vroeër in sy bed sien.
        Rothner is ontspanne. Dit is vir hom ’n kwessie van die tyd omkry – die tyd totdat ’n ligte klop aan sy deur die pragtige vrou van die miljoenêr se koms sal aankondig. Hy wen drie spelle na mekaar. Dit maak Hudson nog meer vasbeslote, want hy is ’n swak verloorder.
        Die volgende spel is lank uitgerek. Elkeen beskou en bereken sy skote tydsaam en met groot konsentrasie. Hulle is skaars bewus van hulle omgewing: die eikehoutpanele van die salon, die vlonkerende kristalle van die kandelaarligte teen die mure en les bes die swart hemel met sterrebeelde wat stadig verbyskuif agter die glas van ’n oop gordyn.
        Hudson wen die volgende twee spelle. Dit is twintig minute oor elf, maar na die duiwel met sy vrou se versoek. Haar protes sal hy met die tyd saam trotseer. ’n Laaste spel moet hy speel en as hy wen is hulle weer gelyk – aan die einde van die Sondagaand, die halfpadmerk van hulle tydjie saam.
        Hy druk die knoppie wat die kelner ontbied en bestel weer ’n rondte drank. "Beslis die laaste maal wat ons jou pla," sê hy vir die kelner toe dié slaperig opdaag. "Jy kan gerus maar gaan inkruip." Die kelner vou amper dubbel toe hy die vyfdollarnoot tussen sy vingers vasknyp. Nee, hy bly aan diens totdat die salon finaal ontruim is.
        Die laaste spel is ’n stukkie teater van die absurde. Hudson se gespanne konsentrasie, Rothner wat soos ’n poppespeler die toutjies trek. So gelykop laat hy die spel verloop dat daar uiteindelik net die swart en natuurlik die wit slagbal oorbly. Dit is die miljoenêr se beurt. Hy kan kwalik sy genoegdoening verberg, want die uitdaging is nie moeilik nie. Pot hy die swart bal wen hy die spel en het hy geen agterstand vir die res van die klein, maar vir hom doodernstige toernooi nie. Nietemin peil hy die posisie van die balle uit alle hoeke. Die slagbal lê teenaan die kussing en die skoot is tog nie so maklik nie. Dis kwart voor twaalf. Hy skommel die laaste van sy brandewyn oor sy tong en verhemelte en voel hoe dit behaaglik na die warm kol van sy maag afgly.
        Die professor staan rustig en teug aan sy whisky, skud die as van sy sigaar af in die koperasbak op sy kunstig gekerfde houtstaander. Op die laaste dag van die toernooi sal hy die skyngeveg laat vaar en sy teenstander verpletter. Miskien, dink hy, is die mense reg wat sê dat daar iets sadisties in elke chirurg skuil.
        Weer buk Hudson, maar aarsel op die nippertjie. Hy loop stadig om die tafel en bestudeer nogmaals die situasie. Dan neem hy met beslistheid posisie in. Hy tref die swart bal perfek, maar tog wyk dit af van die berekende trajek en rol met ’n skaars merkbare boog na die geteikende gat, tref die kussing liggies en kom tot rus reg voor die gat, skaars ses duim weg. Agter hom gooi Rothner sy laaste whisky in sy keel af. Die res is ’n blote formaliteit.
        Tydsaam draai die dokter die blou kalksteentjie om die viltpunt van sy stok – ’n onnodige gebaar. Hy kan die swart bal en die uitnodigende teiken daaragter nie mis nie, al speel hy ook met ’n stok sonder vilt. Hudson se maag kook van brandewyn, woede en frustrasie. Rothner buk tergend stadig, gemaklik, die stomp sigaar in ’n hoek van sy mond.
        Dan rek sy oë. Verbeel hy hom of beweeg die swart bal? Ja, dit begin stadig maar seker te rol en verdwyn dan met ’n dowwe klap teen die ander balle in die sak. Hudson het gewen! Hy blik na sy sakhorlosie: tien minute voor twaalf.
        "Jammer, my goeie vriend", sê hy met die gulheid van ’n oorwinnaar. "Jy moes nie so getalm het nie."
        Ernest Rothner haal net sy skouers op. Snaakse dinge gebeur soms in snoeker. John Hudson dink nou eers aan sy vrou en die kilheid wat op hom wag. Vannag sal hy die nadrink ekstra geniet. Reeds oorheers die brandewyn en die soet smaak van oorwinning sy gemoed.
        Toe hulle die salon verlaat sien die professor uit die hoek van sy oog hoe die eensame wit bal langsaam, spokerig, oor die groen fluweel van die speelblad rol. Verbeel hy hom of loop die vloer na die deur opdraand?
        Met die wye trap af kom die kelner hulle haastig tegemoet. "Menere, niks om oor bekommerd te wees nie. U moet tog maar asseblief na u kwartiere gaan en daar vir verdere instruksies wag."
        "Wat op aarde bedoel jy?" vra Hudson en raak terselfdertyd bewus van ’n stilte. Die polsing en ligte vibrasie van die stoomturbines het gestaak.
        "Die Titanic het ys getref", sê die kelner en haas hom verder na onder. Sy bleek hand gly oor die bruin glimmende hout van die reling.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.