NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

Aankoms en landing:

II: Op soek na Tim Banjo

Hanru Niemand

Ja nee, dink Jacobus terwyl hy sit en koffie drink in die StudenteSentrum, snaaks hoe dinge uitdraai. Hy sien hoe Ryna die trappe bestyg, op na die buitewêreld toe, met die belofte dat sy wel eendag met hom sal tango (so tussen die tafels deur) wat hang soos die geur van koffie. Dit laat hom dink aan die dag toe hy vir die eerste keer van die trein afgeklim het. Die perron het toe ook geruik soos belofte.

Maar vir hom was dit anders as vir die ander aankomelinge, hulle vir wie die belofte gelê het in die avonture van onsedelikheid en vryheid wat op hulle wag in StudenteDorp. Nee, hy het gehoor Tim Banjo is hier, en die perron het geruik na iets wat sê jy gaan hom dalk kry, Jacobus. Nou goed, as hy nou vir Ryna agterna kyk, moet hy erken dat die belofte van avonture van onsedelikheid en vryheid hom nie heeltemal verbygegaan het nie; en moet hy wonder of alle beloftes nie vanself verweef is met sulke beloftes nie. Ja, dalk, maar hy het nie gebokspring en uitbundig uitgeroep “Naai! Naai! Naai!” nie.

Ja, dis ook al amper ’n jaar terug.

Bang het hy sy trommel gedra en al hoe meer bewus geword het van die feit dat sy swaar baadjie en donker hoed, en sy drie dae oue baard toe nie so in die mode was soos hy gedink het (gehoop het) dit sou wees nie. Maar hy was al gewoond aan die gevoel. Dit was net nog ’n goeie rede om sy heil te soek in Tim Banjo. Sy arm was teen dié tyd lam van sy swaar trommel dra in ’n lang tou wat nooit stilstaan nie, maar wat min of meer vorder teen die pas wat die son van oos na wes skuif. Die son was reg bo hom net toe hy onder die afdak inbeweeg om vir die BeskermingDiens-dame te sê wie hy is, wat sy pa doen, en hoekom de fok hy hier is. Hy’t haar natuurlik nie gesê van Tim Banjo nie, welwetend dat dié tien teen een die een of ander vlugtelingstatus besit, selfs hier waar hy sy heil kom soek het, weg van die vervolging wat sy lewe in die res van die land gekenmerk het.

Tim Banjo was ’n gevaar vir die regering. En hy het ’n aanhang gehad onder mense wat ewe gevaarlik was vir die regering. Tog nie juis uitgesproke nie. Dalk liewers juis nie uitgesproke nie. Inteendeel, hy was die held van ’n apatiese geslag, van ’n geslag wat geweier het om aandag te gee aan die kultuurprodukte wat die regering aan die massa wou verkoop, soos poptreffers waarvan die woorde net elke jaar verander word deur regeringsbeamptes, en telkens onder ’n nuwe jong “ster” se gesig bemark word (saam met kondoomadvertensies en ’n verklaring deur die kunstenaar oor hoekom dit so kief is om ’n inwoner van ons wonderlike land te wees). Tim Banjo was die straatadvokaat vir alles wat onheilsaam was - drank, vroue, sigarette, en om nie elke oggend mens se bed op te maak nie. Bowendien het hy onhoudbare teenstrydighede ingehou, soos byvoorbeeld dat hy glad nie banjo kon speel nie, net kitaar. Dit was natuurlik op sigself ’n sonde om nie keybord te speel nie. Hy’t ook nie gedans nie. Hoe kon die mense van hom hou? Hoe kon hy venues volpak? Hy moes geëlimineer word. Met sensorskap wat hom gevolglik verhoed het om sy brood te verdien, het hy dus koers gekies StudenteDorp toe, waar hy volgens die gerugte wat hy gehoor het, dalk ’n bestaan kon maak.

Dalk is die regering hier ’n bietjie anders, hoop Jacobus toe hy die perron verlaat. Hopelik is hy nog nie tot ’n boemelaar of so iets verdoem nie. Hy hou sy oë oop vir sy goeie vriend. Hy wonder hoe hy deesdae sal lyk, dié man wat sy lewe darem draaglik gemaak het voor hy twee jaar tevore skielik verdwyn het. Dit was twee lang jare van uitsien en oud genoeg word om deel te wees van die begaafde, beskaafde elite wie se voorreg dit is om aan te land in StudenteDorp. Nou is die gids van die BeskermingDiens besig om ’n groep nuwe aankomelinge deur die StudenteSentrum te neem. Op grondvlak gaan daar blykbaar niks aan nie. Maar onder, in wat vir Jacobus soos ’n enorme markplein in ’n put lyk, is daar ’n warboel. Weliswaar ’n baie homogene warboel, dink Jacobus teleurgesteld, want hy sien maar weer ’n groot rugbykykende massa wat om ’n groot big screen saamdrom. Maar daar, in ’n ietwat obskure uithoek, is ’n vreemde man besig om skitterende wawiele te maak, met ’n gros vroulike toeskouers wat opgewonde hande klap. Sy aandag word afgetrek deur ’n spul stoele wat uitmekaarspat in die hoek van sy oog. Dit is blykbaar die gevolg van ’n klipharde ronde vrou met wilde hare wat skynbaar baie gedetermineerd op pad is na wat vir Jacobus soos ’n muffin-winkel lyk. Ja, elkeen het seker maar sy obsessie, dink hy, terwyl hy haar ballende vuiste en die bemoerde uitdrukking op haar gesig dophou. Die BeskermingDiens-gids maak asof sy niks sien nie, maar probeer tog ongemerk ’n aantekening maak in ’n klein BeskermingDiens-notaboekie (’n spesiale uitgawe, spesifiek ontwerp om ongemerkte aantekeninge moontlik te maak).

Toe die toer verby is, besluit Jacobus om dadelik sy soektog te begin. Hy gaan met die trappe af na die markplein in ’n put. Toe hy grondvlak bereik, kyk hy vinnig rond om te besluit waar die beste plek is om te begin rondvra. In die proses sien hy dat al die winkels óf coffeeshops is óf muffinwinkels (waarvan daar net een is). Hy gaan dus by die eerste die beste coffeeshop in, gaan tap vir hom ’n koppie koffie (al die winkels is self-serve, lyk dit hom), gaan na die toonbank om te betaal en vra sommer die kassier of sy weet wie en waar Tim Banjo is. Sy lek haar rooi lippe af en dra haar bekken op haar mou, wat vir hom baie interessant sou wees as hy nie nou eers net vir Tim Banjo wou vind nie. Met ’n rolbeweging van haar heupe sê sy dat sy nie ’n clue het nie, en dit sal R2.50 wees, dankie. Hy gaan sit toe met sy koffie by die naaste tafeltjie, op die uitkyk, en wonder wie hy volgende gaan vra. Dit lyk immers asof die talente van dié winkels se personeel nie juis by aanwysings lê nie. Dat dit wel iewers “lê” is egter seker. Dan sien hy skielik die ronde vrou, op pad terug van die muffin-winkel, en besluit om haar te gaan vra.

“Tim Banjo? Hoe lyk hy, nog nooit van hom gehoor nie, hoekom kom vra jy nou vir my sulke vrae, jou fassis! As ek nie van beter geweet het nie, sou ek gedink het jy’s dalk ’n platonis. ’n Wêreld van Vorme!* ’n Pot kak! Die feit is dat dié dorp se muffins stink! Daar is absoluut geen ontsag vir hedendaagse probleme nie, en nou kom vra jy vir my waar fokken Tim Banjo is! Tipies Afrikaner, kyk net rugby, word donnerse vegetables, en het nie die bleddie presence of mind om te gaan fokken KYK waar de fok Tim Banjo is nie!”

Jacobus draai maar om, te bang om selfs haar naam te vra. Netnou beskuldig sy hom daarvan dat hy haar “label”, en so in die hande van die “establishment” speel. Daarom gaan hy liewers na die groep vroulike bewonderaars wat die vreemde man met die rooi-en-wit broek staan en betrag.

“So jammer hy’s nie beskikbaar nie.”

“Jy bedoel hy’s -”

“Ekskuus tog, dames,” onderbreek Jacobus hul gesprek. “Ek het gewonder of julle my nie dalk kan help nie?”

“Wag gou, ons kyk net gou hoe Danté sy skitterende wawiele klaarmaak.”

Jacobus moet erken dat die vent inderdaad ’n uitsonderlike tegniek het, en klap saam hande.

“So, hoe kan ons jou help?” pruil hulle, wat Jacobus laat dink dat hy ook dalk hierdie wawiel-ding moet uitprobeer.

“Julle weet nie dalk van iemand met die naam Tim Banjo nie, waar mens hom kan kry nie?”

“Nee, sorry hoor.”

“Weet hy?” en hy wys na die vent.

“Danté?” sê hulle in ’n koor, asof verontwaardig dat enige aardse sterfling nie weet wie Danté is nie.

“Sal Danté nie dalk weet wie hy is nie?”

“Natuurlik weet Danté wie hy is, net soos ek weet wie ek is, en jy weet wie jy is,” sê een, verbaas dat iemand so stupid kan wees.

“Vra hom wie hý is, hy’s nogal cute,” stamp een met ’n elmboog aan die ander.

“Are you kidding? Sy baadjie is so laas jaar!” praat ’n ander een deur haar tande.

“Wat ek bedoel, is of Danté sal weet wie Tim Banjo is.”

“Wie’s Tim Banjo?”

“Maak nie saak nie.” Jacobus hou sy kop in frustrasie vas. Met een elegante sprong bevind Danté hom egter tussen sy aanhangers en Jacobus. Terwyl hy sy gewrig in die lug rol asof hy ’n kastanjet klap, vra hy: “ Is daar iets waarmee ek julle met my behulpsaamheid kan verstom?”

“Die ou wil weet wie hy is.”

“O, dis maklik,” en hy klap weer sy kastanjet, “jy is ... wel  ... wie is jy?

“Jacobus Grimm.”

Die vroue knik instemmend. Natuurlik is sy naam Jacobus Grimm. Kyk hoe lyk hy. Dit maak alles sin.

“Maar ek wil nie weet wie ék is nie. Ek wil weet of jy iets weet van Tim Banjo.”

“’n Wonderlike haarproduk,” raai Danté, “for strength and volume.”

“Toe maar, los’t maar.”

Hy draai om en loop by die trappe op, die buitelug in. Dinge is ’n bietjie vreemd op die markplein in ’n put.

“Hy’s weird, nè?”

“Onthou net,” verklaar Danté, terwyl hy sy stance verander na dié van ’n superhero, asof hy ’n trompetgeskal verwag, “almal kan nie so normaal soos ons wees nie.”

Sy aanhangers knik instemmend.

Dit was hel, onthou hy nou. Dit was ’n bleddie sirkus sonder ’n exit. ’n Hoerhuis sonder ’n dak (wel, daaroor het hy nie sy stembande hees gekla nie). Wel, as jy mooi daaroor dink, was dit nie so sleg nie, of ten minste het dit nie so sleg uitgedraai nie. Want op die trap het hy Ryna vir die eerste keer ontmoet. Sy het oud en wys gelyk vir haar ouderdom, as dit enige sin maak. Asof dinge veronderstel is om hier sin te maak.

Dit was Ryna wat hom uiteindelik na Tim Banjo toe kon neem.

“As jy nou net hier uitstap, dan regs draai en oor die plein loop, dan sal jy hom sien speel, daar teen ’n boom,” het sy gesê en “Heel waarskynlik” presiesheidsonthalwe bygevoeg.

“Sal jy nie saam met my stap nie, asseblief? Ek is nuut hier.”

“So het ek opgemerk,” het sy gelag. “Moet sê, jy’s die eerste ou wat vrae oor Tim Banjo vra.”

“Kry jy baie vrae, ek bedoel, werk jy hier of iets?”

“Nee, ek is maar net ’n hele ruk al hier,” het sy gelieg. “Langer as die meeste.”

Hulle het maklik geloop volgens haar aanwysings, en Jacobus het simpel gevoel dat hy haar moes vra om saam te loop. Maar hy’t nie rede gehad om te kla nie: sy’s bliksems mooi.

Daar oorkant het hy toe vir Tim Banjo sien leun teen ’n boom. En hy het niks verander nie. Die maer arms was dalk bruiner as ooit, en die moerse bruin beret dalk ’n bietjie meer verweer, maar die joint was vars gerol, daarvan was hy seker.

“Hier’s my nommer,” het Ryna vir hom gesê, voor sy atleties teruggestap het. En hy was so oorbluf dat hy niks kon uitkry nie. Waar hy vandaan kom, is dit hý wat veronderstel is om met sy toon in die grond te krap en laag en binnensmonds haar nommer te vra. Wel, hy was besig om van dié plek te begin hou.

Met ’n hart wat opgewonde klop, het hy gedraf na Tim Banjo, wat sing: “We lived by the river, where we were free.”

“But that was the river, this is the sea,” het Jacobus hom by die boom aangemeld.

“Dis reg, pis op my parade!” het Tim Banjo gelag en hom omhels.

“Ja, that was the river, this is the sea,” mompel Jacobus by homself terwyl hy sy koppie leegmaak. Snaaks hoe koffie en belofte anders ruik met verloop van tyd. Be careful what you wish for, jy mag dalk net gatvol raak daarvoor teen die tyd dat jy klaar verslaaf is.

“Kom nou, Jacobus, moenie so donners melodramaties wees nie,” kondig Tim Banjo sy geheime aankoms by Jacobus se tafel aan.

“Nie? Erken dit: Dorothy aint in Kansas no more.”

“Jy met jou allewige metafore.”

“Koffie?”

“Asseblief.”

Terwyl hulle stap om dit gaan skink, sê Jacobus, wat homself intussen oortuig het dat Tim Banjo se kritiek nie heeltemal van pas is nie: “ Ek het gedink dit gaan anders wees, OK?”

“Dit ís anders. Vir my in elk geval. Ek kan weer in venues speel, soos in die ou dae. In die Buiteland.”

“Ja, seker. Maar dis vir my all the same. Hel, jou gigs maak dit darem nog draaglik, maar ek wil nie net na bleddie draaglikheid streef nie. Net soos in die Buiteland. Net, daar het ek darem nog nie ’n misdaadrekord gehad saam met die freaks en outcasts van society nie!”

“As ek jy was, sou ek my nie veel bekommer oor die BeskermingDiens nie. Hulle’s useless. Besides, jy hou van die freaks en outcasts van society. Jy wil dit net nie altyd erken nie.”

Danté split formidabel in die paadjie na die muffin-winkel, op die presiese oomblik toe Marlene verbygeloop kom, sodat Danté haar formidabel pootjie en sy met haar gesig in ’n Afrikaner se take-away pasta val. Die vroulike bewonderaars klap ondanks die skokkende gebeure vurig hande. Dit was immers ’n skitterende split.

“Binne perke,” sê Jacobus.

“Glo maar jouself.” Tim Banjo neem ’n sluk koffie. “So, hoe gaan dit met jou en die Agent Roux?”

“Ek kom mos nou net agter dat sy vir my gelieg het, die teef. En hier staan ek en versondig my siel oordat ek so stupid was om haar nooit na haar werk te vra nie. Meanwhile, back at the ranch sou sy my in elk geval nie gesê het nie.”

“Sy’s ’n ágent, Jacobus. Natuurlik gaan sy jou nie sê nie. Besides, sy’s bleddie mooi.”

“Ja, ek weet. Dis hoekom ek nog met haar gaan tango, so tussen die tafels deur.”

“Freak.”

“Ek weet,” lag Jacobus.

Hier kom groot kak, dink Tim Banjo.


* Plato het ’n Wêreld van Vorme gepostuleer, waar Vorme die volmaakte patrone is van hul onvolmaakte manifestasies in hierdie, die materiële wêreld. Hulle is so ook die enigste objekte van ware kennis, en kan net deur nadenke geken word. Plato word dikwels daarvan beskuldig dat hy, in sy postulering van ’n Wêreld van Vorme, die kontingente, die hier en nou, ignoreer.

Aankoms en landing:
I: Botsing met die gereg
III: Die verbanning van die blues
IV: Die blues underground
epilog

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.