NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Susan Lombaard
het buite Ogies op ’n plaas grootgeword. In 1999 voltooi sy haar B-graad in Bedryfskommunikasie aan die Potchefstroomse Universiteit, asook ’n honneursgraad in Taalpraktyk en Skryfkuns. Gedurende 1998 en 1999 het sy as assistent by die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom gewerk, waartydens sy verskeie skryfkursusse meegemaak het. Sy was in 1999 redakteur van die joernalistiek-honneursgroep se tydskrif, Greep. Tans woon sy in Centurion, en sy werk as joernalis by die ATKV se maandelikse tydskrif, Die Taalgenoot.
  Susan Lombaard

Ouderdom is ’n sierlike kroon

Susan Lombaard

Ouderdom is ’n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg lewe. (Spreuke 16: 31)

Die ou vrou skink tee. Haar hande bewe — die tee spat op aan die binnekant van die koppie.

“Ma moenie mors nie,” maan haar dogter goedig. Sy haal die koekiebord van die skinkbord af en hou dit na haar pa toe uit.

“Dankie, Andrea.” Hy vat twee koekies en sit een in sy vrou se piering neer. Sy tel dit op en bekyk dit aandagtig: dit het ’n fyn meellagie bo-op, en ’n rooi kersie in die middel. Sy byt met haar gelerige voortande; kou-kou-kou. Twee krummels bly lê op haar lip.

“Hoe vorder Pa met die stoel?” Andrea leun nader en vryf met ’n voorvinger oor die gladde hout.

Haar pa glimlag gelate. Sy oë trek plooitjies. “Ek het nog nie vanoggend veel gedoen nie.” Hy slurp ’n slukkie tee. “Ek het jou ma help legkaart bou.”

Hulle praat lank nie. Die ou man hap aan sy koekie en hou sy vrou met ’n effense glimlag dop. Sy druk-druk twee legkaartstukke inmekaar, maar dit pas nie heeltemal nie. Sy vat ’n ander stuk en probeer weer. Die teekoppie langs haar is nog vol.

Andrea eet twee koekies. Sy eet dit stadig terwyl sy diep asemhaal. Haar oë dwaal deur die tuin: dis groen en ruig ná die onlangse reën. Die voëls sing uitbundig. Die varkore in die hoek blom al. Oscar, die hond, lê langs hulle in die nat grond en kou aan ’n stingel.

“Daar’s hy!” Die ou vrou lag triomfantelik en kyk vir die eerste keer op. Haar goueraambril blits in die sonlig. “Dit pas!”

Pa en dogter leun belangstellend vorentoe. Die twee legkaartstukke pas knus inmekaar. “Kyk, Pappie,” sê die vrou weer en druk-druk met ’n kortgeknipte nael op die twee legkaartstukke. “Dit pas!”

Hy glimlag trots en gee haar hand ’n drukkie. “Mooi so, Tillie,” en sy oë is nat. “Drink nou eers jou tee.”

Teen middagete dra Andrea ’n skinkbord met toebroodjies buitentoe. Die ou man se leesbril lê opgevou op ’n grootdrukboek: Die Brief aan die Romeine: ’n Handleiding, lees sy. Hy sit met die stoel teen sy knieë geleun; sy hande is vol fyn houtskaafsels.

Die ou vrou sit en brei. Die naalde klik-klik vinnig en gesellig. Haar oë fladder oor die beweging. Die lang, rooi gebreide wurm lê opgerol op haar skoot.

“Wat brei Ma?” vra Andrea.

“’n Lappie,” antwoord die vrou sonder om op te kyk. “Hy’s amper klaar.”

Andrea sit die skinkbord op ’n hoek van die gietystertafel neer. In die middel van die tafel lê die voltooide legkaart. Die ou man stof sy hande versigtig aan sy safaripakbroek af en skuif sy stoel nader aan die tafel.

“Kom, Tillie,” sê hy en vou sy een groot hand oor sy vrou se breiwerk. “Kom ons eet eers.”

Sy wikkel die penne effens vererg uit sy greep los en brei dan onverstoord verder vir ’n rukkie — eindig die een steek ná die ander af.

“Klaar!” sê sy en hou die lang stuk breiwerk trots in die lug op. Sy bekyk dit met ’n skewe kop. Dan kyk sy bekommerd na haar man.

“Hier’s dan nou ’n gaatjie in,” sê sy en druk met ’n vinger op ’n gaatjie in die middel van die breiwerk.

“Toemaar,” sê hy en leun nader om beter te kan sien. “Ons plak ’n blommetjie oor.”

Haar gesig verhelder. “Ja, ons kan ’n blommetjie oorplak.” Sy laat sak die breiwerk.

“Dis vir jou, Andrea.”

“Dankie, Ma,” sê Andrea en soen haar ma lig op die wang. Sy vou die rooi breiwerk versigtig op en vryf liefderyk daaroor. “Dis pragtig.”

Hulle eet broodjies en gesels oor die hond wat geskeer moet word en die weer wat wil-wil opsteek. Ná ete drink hulle vars lemoensap. Andrea tel die naalde en die rooi wol op en begin nuwe steke opsit. Sy brei drie rye. Haar ma bekyk haar belangstellend. “Weet jy,” sê sy gesellig, “ ek het so lank laas gebrei — ek moet tog weer ’n bietjie brei.”

“Ja, Ma sal dit geniet.” Andrea antwoord werktuiglik. Sy sit die breiwerk neer en tel die skinkbord op; dra dit terug kombuis toe. Sy dra die breiwerk saam en bêre dit in die swart sak in die eetkamerkas. Die sak is vol stukke breiwerk, almal rooi. Daar was nog ’n sak vol breiwerk; dié het sy al losgetrek en die wol weer opgerol.

Buite trek die ou man die legkaart nader. Hy begin dit opbreek. Sy vrou kyk anderpad. Hy pak dit terug in die doos — al twaalf stukke. Hy pak dit deurmekaar.

“Wil jy ’n legkaart bou?” vra hy vir sy vrou. Sy kyk opgewonde na hom.

“Wat van dié een?” en hy hou die doos na haar toe. Buite-op is ’n helder nar wat op ’n fiets ry.

“Ja!” sê sy gretig en vat die doos by hom. “Ek het nog nie dié een gebou nie!”

Hy help haar uitpak. Dan wieg hy weer die stoel skuins teen sy knie en skuur verder.

Laataand help hy haar op kamer toe. Hy help haar trappie vir trappie. Halfpad moet altwee eers rus. In die kamer help hy haar uittrek. Dan kam hy haar hare en vee haar gesig versigtig met ’n nat waslap af. Hy tel haar voete op die bed, trek die deken oor haar en kruip aan die ander kant in.

Sy lê eers ’n rukkie stil. Dan skuifel-skuifel sy tot teen hom op die groot bed. Hulle gesigte is na mekaar toe. Hy voel die los sakke van haar borste teen sy maer ribbekas. Haar asem is warm en effens bedompig teen sy gesig. Sy arm kruip om haar rug; hy trek haar vaster.

Teen hom voel hy haar roer. Hy gly sy voorvinger oor haar verrimpelde wang. Dis nat. Hy weet haar kop is skielik helder.

“Partykeer,” sê sy en druk haar wang teen sy hand vas, “partykeer dink ek die liewe Here wil my nie hê nie. Hy kom haal my dan nie.”

Sy oë brand. “Ouderdom is ’n sierlike kroon,” sê hy, maar hy sê dit sag, dat sy nie moet hoor nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.