NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charles J. Fourie
is ’n bekroonde dramaturg en regisseur van oor die vyf en dertig toneelstukke en kabarette in Afrikaans en Engels waarvan vier tekste al by Tafelberg-Uitgewers en Jonathan Ball Publishers verskyn het. Sy toneelwerk is reeds landwyd asook in die buiteland opgevoer. Van sy kortverhale en gedigte het al in letterkunde tydskrifte verskyn. Meer onlangs is sy kortverhaal, “Nelson Geniet Zanzibar” in die Vonkfiksie publikasie van Human en Rousseau opgeneem. Hy is ook die skrywer en regisseur van ’n aantal kortfilms en dokumentêre televisieprogramme, en is onlangs aangewys as ’n finalis in die RSG / Sanlam-Radiodrama kompetisie 2000.
  Charles J. Fourie

Linus se X — (en Nobody’s Perfect Charlie Brown)

Linus se X is op pad Bonn toe, Duitsland, vir altyd.
         Sy bel hom op sy nuwe selfoon (onlangs vir homself as verjaarsdaggeskenk gekoop) en vra of hy haar kan kom groet. Sy hou vanaand drinks saam met ’n paar vriende en dit sal gaaf wees as hy kan oorkom. Sy het hom lank laas gesien - en so.
         Toe bel Linus my waar ek en Snoopy vroegoggend op ’n rots in Sandy Bay lê en bier drink en twee toplose-oliebesmeerde-middeljarige-toeriste met witter as wit velletjies met die verkyker beloer.
         “Sy’t ons genooi vir drinks by die Shack.”
         “Ons?”
         “Ja ... julle ken mekaar mos.”
         “Maar, ek’t jou X nog net een keer ontmoet?”
         “Wel, sy’t jou ook genooi.”
         “ Hoe laat?”
         “Sewe dertig ... en moet my nie op die een drop nie, Charlie Brown,” sê hy en sny my af voor ek hom kan antwoord. Ek wou nog vra ? ... toe die gegil op die strand my aandag trek. Snoopy was besig om die klappergegeurde-olie van die toeriste se deurtrekkertjie witter as wit boudjies af te lek. “Schweinen hund! ...” het die een met die groot borste gegil.
         “Heil Snoopy!” het ek van die rots af terug gegil.
         Linus en sy X het mekaar ’n jaar en ’n half gelede ook vir altyd gegroet. Met die hulp van die magistraat hul huwelik van agt jaar tot halt geroep en hul onderskeie besittings opgepak. Maar Linus kou nog aan die ding, of die ding kou aan hom. Feit is hy sukkel om oor haar te kom. Die vroumens het nog “moves” op hom. “Groot moves” — het hy dit by geleentheid gestel. “Boonop droom ek ook nog snags van haar. Weird blêddie drome. Soms kom sy na my as ’n kat met sulke geswolle tepels waaraan ek begin suig asof ek myself nie kan help nie. Ander kere is sy opgedress soos ’n porn star. Chasey Lain of Debi Diamond ... en dan smeek sy my herhalend daarvoor soos ’n regte slet ... fôk my! ... fôk my! ... yes, you beast! ... fuck mommy you animal! Eenkeer ... dis toe ek my moer afgeskrik het, het sy bo-op my gesit en ons was besig om woes te spyker en haar hare het oor haar gesig gehang en toe sy opkyk en die hare wegval van haar gesig ... toe is dit my ma wat bo op my sit! ... Ek sweer dit moet einde kry ... die drome ... alles ...!” het hy benoud gegil.
         Vier maande gelede het Linus se X skielik weer op die toneel verskyn na hy vir ’n lang ruk niks van haar gehoor het nie. Behalwe in sy drome natuurlik. Sy het kort na hul egskeiding haar werk by ’n vooraanstaande advertensie-agentskap in die stad opgegee en platteland toe gevlug. Toe Linus vir haar by die geleentheid op uitnodiging gaan kuier het sy saam met ’n Afrikaner-hippie-cum-X-weermagrecce, genaamd Bennie, in ’n kothuis in die bosse buite Wildernis gewoon.
         “Nie ver vanwaar die Ou Krokkedil ook wegkruip nie,” het Linus gesê. “Lyk my almal wat deesdae kak aanjaag, gaan kruip daar in die Wildernis weg.”
         Linus het verder vertel hy moes die hele middag saam met die Bennie sit en rugby kyk terwyl die daggadampe swaar in die voorkamer gehang het, en Bennie half-dreigend besig was om sy vergeelde toonnaels met ’n knipmes skoon te krap. Die kothuis was armsalig-minimalisties gemeubileer. Linus se X en Bennie het al die meubels wat sy uit die egskeiding van Linus gekry het, verkoop.
         “Kyk wat het jy aan my gedoen,” het Linus se X hom voor Bennie uitgetrap.
         Arme Linus was vir weke lank bedruk na die besoek en het gesweer hy wil haar nooit weer sien nie. Boonop het die Bennie vir Linus se X op die ou end vir ’n ry van oor die vyftigduisend rand gevat. Sy het ook haar deel van die geld uit die huis wat sy en Linus saam besit het tydens die romanse met Bennie verloor.
         “Jy het my lewe verwoes jou kont, en ek sal jou nooit daarvoor vergewe nie! Mag jy ongelukkig wees tot in jou graf ...!” het sy later kru en verwytend in ’n e-pos aan arme Linus geskryf.
         “Ek haat haar!” het Linus gegil die aand na hy teruggekeer het van die besoek aan sy X in die Wildernis. Dieselfde nag het ons loshande begin drink. Twee girls by ’n kroeg in Langstraat ontmoet, en toe ook sommer ’n paar gram coke by die Nigeriërs op die hoek by die Seven Eleven gaan koop. Linus het lank met Mandy gechat en sy neus witgesnuif, en gehuil en gelag en weer gehuil. Die ander girl het my stilletjies ’n blowjob in die donker van die verlate pad onderkant die kabelkarretjie teen die berg gegee. Later toe die son begin opkom het iemand gegil — “What a view! What a lovely view, Charlie Brown!”
         “Hopelik waai sy nou vir altyd,” sê Linus as ek hom by sy woonstel in die Tuine oplaai en ons in Kloofstraat afbrul met my V8 Ford Fairlane. Agter ons in die truspieëltjie sit ’n middeljarige vrou agter die stuur van haar blou Golf Cabriolet en grynslag ongeduldig van agter haar groot donkerbril omdat ek nie my wysligte aangeskakel het toe ek voor haar indraai nie.
         “Sy weet sy’t ’n houvas op my en sy geniet dit,” mor Linus voort saam met die agt silinders onder die Fairlane se kap.
         “Bitch,” sê hy.
         Ek sê niks en hou by ’n kafee stil om ’n pakkie sigarette te koop. Die middeljarige vrou wys my ’n vinger in die verbygang, wyl Linus, ongeduldig met die radio se knop begin speel op soek na ’n stasie.
         “Wil jy iets hê?”
         “Nee dankie ...” Girts ... Girts ... Girts ... hy steeds met die knop.
         As ek terugkeer met die sigarette lyk dit asof Linus met homself sit en praat. Oor die radio kondig die nuusleser aan dat nog ’n pypbom gisteraand by ’n bekende gay nagklub in Groenpunt ontplof het, en dat — “People Against Gangsterism And Drugs” — verdink word. Linus skakel die radio af en sug swaarmoedig.
         “Sy gaan terugkom, jy sal sien,” sê hy en steek vir ons twee sigarette aan die brand as ons verby die Mount Nelson in die rigting van Zonnebloem vaar na waar die Shack geleë is.
         Die Mount Nelson is onlangs opgedollie en almal wat belangrik is in die wêreld daarbuite gaan oornag deesdae in die “nuwe” hotel as hulle Kaap toe kom. Oorsese popsterre, staatshoofde, en Nobel-pryswenners veral. Wel, vir nou, want daar is ander groter, en meer belangriker hotelle wat deesdae by die Waterfront ontwikkel word. So miskien is die Mount Nelson se dae getel? Hopelik sal hulle darem eendag vir die mense vertel dat die stille skrywer, Karel Schoeman, gereeld by hulle kom tee drink het voor hy Trompsburg toe verhuis het. En ja, ook die heilige digteres, Sheila Cussons, laat soms haar hare daar opdollie.
         Buite begin dit liggies teen die grommende Fairlane se windskerm te reën. Dis vroeg winter, en die nat Kaapse weer nog iewers oor die Atlantiese oseaan op pad vanuit die noorde soos ’n verlore seeman met ballas vol semen.
         “Soos ’n whatalotigotasinheavensoonearth,” sê Linus ingedagte.
         “Soos ’n vaderloseverhaalsondergeheue,” sê ek.
         “Jy kroek,” sê Linus.
         Ek antwoord hom nie.
         Ek hou nie van die Kaapse winter nie — het eintlik beplan om Spanje toe te gaan maar toe raak ek en liewe Lucy (Linus se suster) deurmekaar en ek trek by haar in. Ons woon al drie maande saam, ek en liewe Lucy. Linus reken sy suster is sexy, en ’n moerse catch, maar dan het Linus nog net een verhouding met ’n girl gehad. Die een met sy X wat vir ons sit en wag by die Shack.
         “Ek sal nog Spanje toe gaan, jy sal sien,” sê ek.
         Linus antwoord my nie — sy gedagtes anderplek.
         Die Shack is ’n eietydse kroegkompleks wat geleë is net bokant die ou Distrik Ses in wat vandag as Zonnebloem bekend staan. Die eienaars (Manie en Chris) het die studente-cum-generasie-X jol so drie jaar gelede begin met slegs een kroeg, ’n pooltafel, koue pies en ’n lekker vibe. Sedertien het dit uitgebrei tot drie kroeë, twee restaurante, ’n internetkafee, en ’n live music venue waar bekende eietydse bands soos die Springbok Nude Girls gereeld speel. Jong meisies gaan veral graag Shack toe in die hoop dat hulle een van hul helde uit die kontemporêre Suid-Afrikaanse musiekwêreld by die Shack mag raakloop, en ook ’n handtekening bekom, wat hulle dan eendag vir hulle kinders in die “nuwe-nuwe” Suid-Afrika kan wys as die brats vir Ma vra — “wie was die Springbok Nude Girls, Ma?”
         “Bitch,” mompel Linus weer onderlangs.
         As ons die Shack instap sit Linus se X en gesels met haar groepie vriende by ’n tafel in die hoek waar ’n kers almal gemoedelik in die donker verskuil. Ek word aan die vriende voorgestel as Linus se vriend, Charlie Brown, en daar word vir ons plek om die tafel gemaak. Linus beland langs sy X en ek met ’n goeie uitsig op twee jonglywe met stywe broekies en moulose toppies oorkant ons. Die twee is speels besig om die gekleurde balle op die pooltafel rond te jaag.
         Linus se X kus hom op die wang.
         Almal glimlag aansteeklik vir mekaar.
         Die jonglywe giggel as een van hulle per ongeluk die wit bal sink.
         “Waarmee is jy deesdae besig, Charlie Brown,” vra Linus se X.
         “Skryf ... ek probeer my boek klaarmaak,” sê ek .
         “Wat wil jy drink, Charlie Brown,” vra Linus, en knipoog om een of ander vreemde rede heeltemal buite konteks van die situasie vir my.
         “Die gewone,” sê ek.
         “Waaroor skryf jy, Charlie Brown,” vra die girl wat oorkant my sit, ’n gekleurde bandanna om haar kop gebind. Haar boyfriend langs haar steek ’n sigaret aan die brand en wag op my antwoord.
         “Yes, Charlie Brown ... waaroor skryf jy?” vra almal.
         “Mmmmeesal ... seks, “ sê ek, “soos die Markies de Sade ... arme ou sit nou nog in die tronk ... anyway — gebruik ek seks in al sy lustige onwetendheid as ’n ritueel om valse morele waardes in ons gesalfde samelewing oop te vlek. Kyk mense, almal van ons wil spyker! Almal van ons is negentig persent van die dag net so jags soos enige vlieg in die swart kombuis van geheime! Maar meeste van ons ontken dit en staan bevrees voor ons naakte selwers. Dis miskien hoekom ons so graag trou en skei en bid en skinner en koop en verkoop en droom en lieg en vermoor en verkrag — solank ons mekaar net nie ordentlik en skaamteloos hoef te spyker nie. Maar anders as die Markies verplaas ek die hedendaagse seksuele ritueel in my boek binne ’n virtuele ruimte, waar ons seksuele belusting, veilig-onveilig-anything-goes vergestalt word. Noem dit maar die groot orgie of die grootste antiklimaks van die laaste honderd duisend jaar! WWW.COM is met ons, mense!”
         Goeiste! Almal lag aansteeklik saam in reaksie op my verbale warrelwind. Linus se X knipoog gemoedelik vir my asof sy verstaan. Die girl met die bandanna glimlag dom, en haar knorrige boyfriend druk sy sigaret dood.
         “Nou-ja, cheers almal,” sê Linus se X.
         “Cheers,” sê almal saam.
         “Op Duitsland,” sê Linus se X.
         “Op Duitsland!” sê almal weer saam.
         “Op my boek,” sê ek en verlaat die gesprek oor die bom wat gisteraand by die gay klub in Groenpunt ontplof het — “... en nie te praat van die groeiende fundamentalisme in ons samelewing nie — daar is nie meer ’n toekoms vir ons generasie jong Afrikaners nie — ja, ons ouers het alles opgefok ... en boom boom let me take you to my room ...,” blêr die musiek agterlangs.
         Ek plaas ’n tweerand muntstuk in die pooltafel as die blonde jonglyf met rave-vlegsels en ’n ringetjie deur haar neusgat die swartbal sink. Haar vriendin met die swart hare kom druk haar kaal pensie in my gesig.
         “Ons speel dubbels,” sê sy en lek oor haar lippe om my die silwer pennetjie wat haar glimmende pienk tongetjie deurboor te wys.
         “Sjoe! ... dan speel ek teen julle albei,” sê ek en begin die balle uitpak.
         “Dis onregverdig,” sê die blonde een.
         “Die lewe is onregverdig,” sê ek. “Wie gaan breek?”
         “Ons sal breek,” sê die swartkop en knipoog vir haar vriendin (weer heeltemal buite konteks van die situasie as jy my vra).
         Ja, die geheim van pool speel het my pa my geleer, “... Charlie Brown, lê nie soseer daarin om jou opponent te wen nie, maar dat jy die gekleurde balle van jou keuse so vinnig moontlik sink en die spel afrond met ’n dramatiese sink van die swartbal. Jy speel dus teen jouself en fokus glad nie op jou opponent se spel nie. Doen jy dit kan jy verstrengel raak in ’n give-and-take situasie waar jou opponent die kans kry om jou spelpatroon te ondermyn met allerhande slim skote. Fokus altyd op jou eie balle. Sink hulle so vinnig moontlik binne een of twee speelbeurte en maak die spel klaar. Los die slimmighede vir jou opponent. Terwyl hy of sy nog hul volgende snoeker beplan maak jy klaar. Dis die geheim van pool speel. Dit is as jy wil wen.”
         “Oulik, maar jy het nou drie games na mekaar verloor,” lag die swartkop.
         “Julle speel beter as ek,” sê ek. “Wat wil julle goosies drink?”
         “Koop jy?” vra die blondine.
         “Ja,” sê ek.
         Agterlangs neul Tom Waits. Seems like folks turn into things that they’d never want/ the only things to live for is today / ... I’m gonna put a hole in my TV set/ ... I don’t wanna grow up. (1)
         Linus en sy X sit later alleen by die tafel in gesprek. Seker oor die verlede. Die girl met die bandanna en haar boyfriend sit by die kroegtoonbank en stry. Ek en die twee jonglywe vat ons drankies en gaan buite toe om ’n joint te rook wat die swartkop aangebied het. Ek volg hulle teen die ystertrap op na die dak waar nog ’n groepie eenkant in die donker staan en giggel. Onder ons gloei die stad gehul in ’n mistigige reën.
         “Kry julle nie koud nie,” vra ek en volg hulle na die rand van die dak.
         “Hoe oud is jy?” vra die swartkop.
         “Vyf en dertig.”
         “Jy lyk jonger,” sê sy en gee die joint aan vir haar vriendin.
         “Ek is Charlie Brown ...” sê ek.
         “Emma ... en dis Judy,” sê die swartkop. “Ons is nog op skool.”
         “Ek ook,” lag ek.
         “Sure,” sê Judy en begin haar parmantige vlegsels onttooi.
         “Ek en Judy gaan volgende jaar swot. Het jy geswot?” vra Emma.
         “Ja, maar ek het nie klaargemaak nie, ek’s army toe.”
         “Watse army?” vra Judy.
         “Voor julle tyd,” lag ek.
         Hulle lag saam en gee vir my die joint aan. Die soel dampe van die dagga werk vinnig en ek leun met my rug teen die reling. Judy skud haar kop sodat haar dik bos blonde hare op haar skouers rus. Dan gee sy my ’n vuil kyk en stap weg. Sy gaan sluit aan by die groepie oorkant ons in die donker. Iemand bars uit van die lag.
         “Is jy okay?” vra klein Emma.
         “Ja, ek’s lus vir nog ’n dop.”
         “Het jy ’n girlfriend ... huh?”
         “Ja, nogal.”
         “Ek hou van jou, Charlie Brown,” sê sy en trek aan my trui se mou.
         “En ek like jou, Emma,” sê ek en trek haar teen my vas.
         “Wil jy hê?” vra sy.
         “Wat is dit?”
         “Siembamba-mamma-se-kindjie ... mmm.”
         Sy plaas die gekleurde stukkie acid op haar tong en druk haar lippe onhandig teen myne. Ons soen en sy los vir Siembamba in my mond. Dan breek sy weg uit my greep.
         “Jy weet jy is te oud vir my?”
         “Is ek?”
         “Jaaa ... mahn ...” lag sy deur haar neus en soen my vinnig weer voor sy ook wegstap en by die groepie in die donker gaan aansluit. Iemand lag weer. Ek besluit om vir Linus te gaan soek. As ek aan die onderkant van die ystertrap kom gil iemand van bo — “Gaan terug army toe, ouman!”
         Ek lag terug en begin trip ... ek was al voorheen hier. (Iewers in 1988.) Marlene Mansions, Hillbrow — ek het vir een of ander rede op daai stadium ’n woonstel met die boer in beton gedeel. Hy was selde daar, en het my sy bankbesonderhede vir die huur op ’n stuk foelie van ’n sigaretboksie aangepos vanuit die Kaap. Dis ook toe dat ek in die weermag was. Ek weet nie hoe ek in die weermag beland het nie, maar dit was my job om propagandistiese-videomateriaal vir die troepe aanmekaar te flans om hul gemoedere gemotiveerd te hou. Dit was ’n crazy tyd.
         Dit was ook die tyd toe ek vir Koos P en Andre L en Fanie V en Gerrit S en Ralph R en Casper D en Dineke V en Chris P en Dagga D en Pierre N en Harry K en Victor M en Ryk H en Solly P en Marcel V en Gys D en Sinclair B en Nicky R en Owen D en Jamie B en Lionel N en Wayne R en Blikkies van Trompie en George die Griek en Anneline Kriel en al die ander letters van my eerste alfabet leer ken het. Ek wou nog vir almal dankie sê vir die goeie tyd, maar almal is nou vaag en weggesteek in die terrible-terrible-tagtigs ... maar dankie anyway.
         (Ek weet nie hoekom ek nou hier in die middel van hierdie storie oor Linus se X in die laat 90’s aan almal dink nie) ... O-ja-ek-trip-en-ek-is-Charlie Brown ... (Waar is Linus?)
          Linus sit met homself by die tafel en speel met die kers op die tafel se vlam. Sy X speel pool teen haarself. Ek gaan kry nog twee drankies by die kroeg. Die girl met die bandanna kom staan langs my. “My boyfriend is huis toe,” sê sy skelm.
         “Really ...” sê ek en betaal die akkedis agter die toonbank.
         “Wanneer kan ek jou boek lees, Charlie Brown?”
         “As ek hom eendag klaarkry,” sê ek en gaan sit by Linus.
         “Het jy gescore?” vra Linus mismoedig.
         “Nee, en jy?”
         Ons lag vir geen rede nie, behalwe dat ons albei iewers gelees het, the art of our time is noisy with appeals for silence, (2) (en dit het sin gemaak).
         “Sy gaan terugkom, jy sal sien. Hierdie Bonn-toe-ganery is net om my te spite,” sê Linus en roer die ys in sy glas met sy vinger om wyl hy sy X dophou. Sy X gil opgewonde as sy een van die gekleurde balle sink. Buite begin dit skielik hard te reën en die twee jonglywe, Emma en Judy, verskyn weer in die kroeg. Hulle hare hang in nat slierte. Die res van die dakgroep volg hulle met groot pikkewyn-oë. Ek herken die stem van die een pikkewyn as hy hardop lag, en sy arms om my Klein Warmsoet Lemoen (3) — (waar is jy, Theunis E? Ek wil jou hande soen!) — gooi. Klein Emma stamp die jagse pikkewyn weg en verdwyn saam met Judy na die toilette.
         “Wil jy gaan?” bied ek aan om Linus uit sy somberheid te verlos.
         “Nee, dit sal weird lyk as ek nou gaan,” sê hy bedag, en smelt ’n stuk kerswas terug in die gloeiende vlam — waar ek toevallig vir Daniël en sy vriende, Saalsak, Meelsak en Appeleenoog in voortrekkerdrag op hul knieë sien. Hulle bid hardop en die vlamme brand oranje-blanje-blou om hulle — “Ag, Vader laat die beker ons nie verbygaan nie!”
         “Hoesê?” vra Linus ingedagte.
         “Ek sê ... sy lyk goed.”
         “Jy lyk nie so goed nie,” sê Linus.
         “Ek voel nie so goed nie.”
         “Wat het jy gevat?”
         “Acid ... dink ek.”
         “Wie lyk so goed?”
         “Jou X ... se vriendin.”
         “Jy’t ’n girlfriend,” probeer Linus my herinner.
         “Ja, en jy’t ’n X,” sê ek en stap wankelrig terug kroegtoonbank toe waar die girl met die bandanna besig is om dronker en aantrekliker vir haarself te word. Ek bestel vir haar nog ’n tequila by die akkedis. Sy sluk die tequila sonder om iets te sê. Linus se X gil weer as sy uiteindelik die swartbal sink en die poolgame teen haarself wen.
         “Ek het gedink jy sal terugkom,” sê die girl met die bandanna en plaas haar hand speels op my been . “Ek en my boyfriend het vanaand opgebreek,” lag sy.
         “Ek is jammer,” sê ek.
         “Dit moes gebeur”, sê sy, “die liefde is ook maar net ’n afskeid en ’n vertrek van ’n een of ander soort, Charlie Brown.”
          “Ja ...” sê ek, “jy’s reg. Kom ons gaan spyker, Charlie Brown het inspirasie nodig.”
         “Ek naai net as ek kan lees wat jy geskryf het.”
         “Natuurlik ... anything goes.”
         Die kers op die tafel waar Linus sit het gevrek en hy bly in die donker sit, en teug aan sy brandewyn en coke, sonder om op te kyk as ek hom groet.
         “Waarheen is julle op pad?” vra Linus se X as ek en die girl met die bandanna, hangend aan mekaar, verby haar stap waar sy die balle op die tafel begin uitpak vir ’n tweede rondte teen haarself.
         “Niks met jou uit te waai nie,” mompel ek vir Linus se X.
         “Niks met jou uit te waai nie,” sê die girl met die bandanna.
         Buite in die straat verskyn die vrou in die blou Golf Cabriolet skielik vanuit die reën as ons die straat wil oorsteek. Sy blaas haar toeter ongeduldig van agter haar groot donkerbril, en vir ’n oomblik lyk sy vir my soos liewe Lucy, as sy verby jaag en vir my ’n vinger wys voor sy oor die rooilig van die robot op die hoek verdwyn — (Ai, liewe Lucy, moet jy my altyd oor die vingers raps net as ek myself begin geniet?)
         “Wie’s liewe Lucy?” vra die girl met die bandanna en gryp my aan die hand.
          “My girlfriend,” antwoord ek, en hardloop saam met haar oor die nat straat, na waar my Fairlane in die parkeerruimte staan. Dit sous nou en ons is nat. Veraf hoor ek die verlore seeman met die ballas vol semen vir my lag. Van sy duisend en een name is Harry Haller, Stephen Dedalus, Nicholas Urfe, Albion Moonlight en Henry van Eeden ... en ek wens ek kon hom ontmoet, en sy hand vir ’n oomblik vashou sodat hy die onbeskryflike chaos van die oomblik vir my kan beskryf.
         “So?”
         “So ...”
         “... vertel my meer van die boek,” sê die girl met die bandanna en lag vir my as ek agter die stuur van die Fairlane inskuif en op my kiestande begin kners, vasgevang in ’n koue sweet asof ek geboorte aan iets moet gee, maar nie weet waaraan nie.
         “Musiek?”
         “Nee, vertel meer van jou boek ...”
         “Waar sal ek begin? Sien dit werk so ... die 1971 Ford Fairlane waarin jy nou sit het ’n 302 V8 enjin onder haar kap! Sy is oorspronklik in Australië aanmekaar gesit, en het in Suid-Afrika beland via Zimbabwe in die dae toe dit nog Rhodesië onder leiding van Minister Ian Smith was! Suid-Afrika was toe onder leiding van sy edele B.J. Voster wat oorgeneem het by sy edele H.F. Verwoerd, na dié met ’n mes deur die mal Griek, Tsafendas, in die borskas gelem is! Die Fairlane is op haar dag beskou as ’n grand motor, veral onder boere, en was jeens haar kragtige 196 kw uitsetting ook gewild om ’n karavaan mee op vakansie te sleep! In die tagtigs is daar egter na die Ford Fairlane verwys as ’n ‘kafferkar’ omdat dit ’n gewilde motor by swartes in die buurstate was, wat hulle dan as taxi’s sou gebruik! Vandag staan die Ford Fairlane op die drumpel van antieke motor status, en menige verbyganger sal graag ’n oomblik voor die kap kom staan en vra dat ek haar rev — dan sal hulle met heimwee vertel van die een wat hulle, of hul pa besit het! Die Ford Fairlane is na my mening ’n bekende motor oor kleur en sosiale grense heen! Dis ’n ware reënboognasie motor! Dis ’n motor vir die nuwe Suid-Afrika! Dis net jammer dat petrol nou so duur geword het want teen R3,51 p/liter kom jy nie ver nie!” gil ek vir die girl met die bandanna terwyl ek verwoed sukkel om die sleutel in sy sleutelgat te kry.
         “Jy’s stapelgek!” gil die girl met die bandanna.
         “Wag nou,” sê ek, “ek’s nie klaar nie! Ek wil hê jy moet dringend vir Linus gaan roep!”
         “Wat moet ek vir hom sê?”
         “Sê vir hom Charlie Brown wil hom ’n blowjob gee, terwyl ek jou op die agterseat spyker!”
         “Jou fôkken pervert!” gil die girl met die bandanna en hardloop weg.
          Na ’n rukkie verskyn Linus en sy X en die girl nou sonder haar bandanna in die reën voor die Fairlane se windskerm. Ek verblind hulle doelbewus met die kopligte.
         “Wat gaan met jou aan?” vra Linus.
         “Hy’s dronk,” sê sy X.
         “Hy wou my aanrand,” sê die girl sonder haar bandanna.
         Die pikkewyne en klein Emma en haar vriendin Judy het nou ook om die Fairlane vergader. (Miskien was die eienaars, Chris en Manie, ook daar. Miskien was die hele kroeg daar.) Ek sluit die deure as Linus poog om die passasiersdeur oop te ruk.
         “Hey ... dis okay,” kom fluister klein Emma aan my kant.
         “Ek het jou gesê, die ou is af,” sê haar vriendin Judy.
         “Jy’s af, ouman!” lag die pikkewyne agter hulle en begin die Fairlane heen en weer te skud.
         “Fôk julle,” lag ek, “fôk julle almal! Los my ...! Ek ly aan armed vision!”
         Vir ’n oomblik is almal stil. Ook die pikkewyne, en dan begin hulle een vir een wegstap asof hulle nooit daar was nie. Asof iemand besluit het om hulle almal uit te teken. Net Linus bly agter. Ek sluit die pasassiersdeur vir hom oop en hy klim langs my in.
         “Jy’s ’n moerskont,” sê hy ontsteld. “Ek nooi jou saam om my X te kom groet en jy maak ’n vark van jouself. Wat’s jou probleem man?”
         “Jy is die een wat sukkel om van jou X ontslae te raak, Linus, nie ek nie.”
         “Wel, nobody’s perfect, Charlie Brown.” sê Linus ...

Twee maande later daag Linus een middag na werk by my en liewe Lucy se huis in Tamboerskloof op. Hy stap voetslepend reguit deur na die buitekamer in die agterplaas wat ek as ’n studeerkamer aanwend. Hy groet nie eers vir liewe Lucy nie. Ook nie vir Snoopy wat in die sitkamer sit en soaps kyk nie. Lucy bied aan om vir ons koffie te maak.
         
          “Wat gaan met hom aan?” wil sy weet.
         “Ek weet nie, maak die koffie asseblief, Lucy.”
         Ek volg vir Linus na buite waar hy agter my lessenaar ingeskuif het en strak voor hom uitstaar. Sy arms is oor sy borskas gevou en hy kou aan die punt van sy kombersie.
         “Sy’s terug van Bonn af,” sê Linus.
         “Wie?”
         “My X.”
         “Wanneer?”
         “Vanoggend. Sy’t ons genooi vir drinks vanaand by die Shack.”
         “Ons?”
         “Ja, jy ken haar mos.”

(’n Mens sou egter ook ’n ander dimensie in hierdie komplekse tekenprent kon raaksien. Is Schulz nie besig om verskillende lees/skryfpostulate voor te stel nie? So beskou, kan ’n mens Snoopy as parodiese leser/skrywer sien. Of Linus — met sy kombersie — as die soort leser wat immer van buite bronne of geleerde teorieë gesbruik maak om ’n teks te kan lees. Lucy, met haar skerp tong, is die geniepsige kritikus en Charlie Brown die vergestalting van die ideale leser; die soort leser wat elke skrywer begeer juis omdat hy/sy altyd begryp. Andersyds is dit ook die soort leser wat buite modes of voorskrifte lees — en miskien as “outyds” of “ouwêrelds” afgemaak kan word.) (4)


1 “I don’t Wanna grow up”, Tom Waits/K. Brennan, Island Records Inc,1992.

2 The Aesthetics of Silence, Susan Sontag, (Styles of Radical Will),1967.

3 “Warmsoet Lemoen”, Die Naaimasjiene (Die Saai Lewe), Wildebeest, 1997.

4 Post-Modernisme (p. 60), Joan Hambidge, J.P. van der Walt, Pretoria ,1995.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.